Dooierus – Koerantstories
Vroegoggend. Die belofte van ’n nuwe dag glim al agter die kam van die Roggeveldberge, maar hier op die kaaltes van die Tankwa lê die Karoo nog in diep skemer. Dis stil. ’n Jakkals het gisteraand suidekant toe geroep, maar nou is dit net die fluister van ’n enkele voëltjie se vlerke wat af en toe die stilte kreukel. Rondom strek ’n leë gruisvlakte met karige bossies, bykans woestyn. Kan hier hoegenaamd iets leef in hierdie dorheid?
Wel, daar’s net een manier om uit te vind: Raadpleeg die koerant.
Wanneer die son se eerste strale oor die horison loer, verander die landskap. Die bossies kry kleur en die skittering van die klippiesvloer raak ’n doek wat die tafel dek vir nog ’n brandende dag. Ek trek my stewelveters vas, sit my leesbrilletjie in my hempsak en buk by my tent uit om die Sondagkoerant te loop soek.
In ’n sandlopie skaars tweehonderd treë van my tent af kry ek die eerste nuus. Springbok, so ’n dag of twee gelede hierlangs deur. Ek loop ’n ent op die spoor en kry sy stryk en koers oor die gruis, maar dan verlei ’n ander beriggie my. Smal, fyntjies getrap, drentel-drentel in ’n lopie op, van een bossie na ’n ander. Steenbokkie het tyd gehad toe hy gisteraand hier geloop het, lees ek.
En dan, net ’n entjie verder – ai toggie, ’n mens kom ook nie daarvan weg nie – ’n misdaadberig. Inbraak by miershoop, staan daar in vet letters. Erdvark steeds op vrye voet.
Tree vir tree word almal se doen en late blootgelê. En natuurlik ook hulle skandes. By die windpomp lê dit in diepdruk uitgespel: Twee vooraanstaande gemsbokbulle in kroeggeveg.
O, hoe heerlik om so te loop en dwaal in die groot katedraal van die natuur op ’n Sondagoggend! En hoe boeiend die koerant!
Identifikasie is eerste op die agenda wanneer jy op ’n nuusbrokkie afkom. Wat was dit? Dier, voël, insek, reptiel of tweebeenmens? Jy kyk vir vorm, patroon, grootte en ritme. Dan korreleer jy met spesies wat jy weet in die omgewing voorkom, en natuurlik hulle gedrag. Rib- bok? Hier op die vlakte? Nie sommer nie.
Jy probeer die ouderdom van die spoor skat en die gebeure rekonstrueer soos wat ’n speurder dit sou doen. Wie? Wanneer? Hoekom? Wat presies?
Die antwoorde is almal daar in die koerant, maar dikwels is dit in vreemde skrif. Jy kyk van alle kante om te probeer ontsyfer; teen die son, saam met die son, van naby en van ver. Jy herkou aan ’n paar teorieë, waag miskien ’n raaiskoot, en dan skielik: Eureka! Jy het dit! Daar en daar en daar is die bewyse, mooitjies uitgespel noudat jy weet waarvoor om te kyk.
Soms word jy met geheime gekonfronteer. Tekens wat jy net nie kan verklaar nie. Dan kos dit kreatief spekuleer. Was dit nie miskien ’n tak of ’n halm wat in die wind gewaai het wat die ‘spoor’ gelaat het nie? ’n Galoppende rolbos dalk? ’n Voël wat iets laat val het?
Dis pret, so ’n gesnuffel in die oggendkoerant, maar dit is ook belangrike oefening vir wat seker die suiwerste vorm van jag is. Om op spore te jag is heeltemal ’n ander saak as loop (of ry) en soek tot jy ’n bok gewaar. Jy jag ’n ongesiene dier en al wat jy het om op te gaan is die tekens wat hy agtergelaat het. Daarvolgens moet jy hom takseer en dan probeer opspoor. Dit raak ’n boeiende spel van vertolking, voorspelling, afwagting, deursetting en verrassing.
Spoorloop is egter hoogs afhanklik van die aard van die terrein. In harde veld kan dit ’n gesukkel en ’n gesoek afgee, maar in sandwêreld raak dit louter sintuiglike avontuur.
Ek het al die voorreg gehad om saam met ’n spannetjie Ju/’hoansi San in die sanderige wildernis van Namibië se Boesmanland spoor te loop. Wat ’n belewenis is dit nie om saam met sulke meesters deur die koerant te blaai nie!
Volgens literêre standaarde is hulle waarskynlik tegnies onge- letterd. Hulle woordeskat, veral wat vreemde items betref, is ook beperk vergeleke met ons s’n. Hulle praat byvoorbeeld van ’n huis se deur as sy mond en van die vensters as oë. Maar wanneer dit by die veldkoerant kom is hulle bekwame lesers. Hulle vertolk ’n spoor so seker en vlot soos wat jy hierdie gedrukte letters interpreteer. Dit is ongelooflik wat hulle alles uit ’n enkele berig wys raak.
Die olifant wat hier geloop het is nie reg nie, sal hulle byvoorbeeld lees. Hy’s oud – kyk hoe dik is die eelte onder sy sole – en hy’s groot, maar sy tande is klein. Kyk hoe het hy getrap hier waar hy tussen die bome deur is. Hulle hurk by sy mis, krap dit oop, voel die temperatuur en beoordeel die grootte en tekstuur. Sulke leidrade is maar enkeles van talle letters in hulle alfabet. (Temperatuur gee ’n aanduiding van die ouderdom van die spoor. Baie growwe vesels wys dis ’n ou dier met verslete tande. Voginhoud en die graad van kompaksie kan sê of die bul rustig of gestres was.)
Selfs die kleinste nuusbrokkies in fynskrif is vir hulle leesbaar. Sò lyk toktokkie se spoortjies, wys hulle uit, en sò lyk skerpioen s’n. Maar hierdie ry stippeltjies in die droë sand is nie een van die twee nie. Dit was ’n boskriek wat hier geloop het. En daardie sleepsel daar: Dis ’n sebraslang s’n, nie mamba nie. Mamba loop anders, hy gooi wyer draaie.
Dis dán wanneer ’n mens skaam kry voor die leeskringetjie wat daar in die sand hurk: Wanneer jy besef die ongeletterde een is eerder jyself.
En daardie sleepsel daar: Dis ’n sebraslang s’n, nie mamba nie. Mamba loop anders, hy gooi wyer draaie.