Forging is pret!
Wag nou kêrels, julle het die titel verkeerd gelees, ons gaan nie geldnote vervals nie, ons praat van mesmaak!
Die outydse manier van mesmaak deur ’n stuk metaal in die kole met ’n blaasbalk só warm te maak dat dit gesmee en gevorm kan word, bestaan reeds eeue lank. Die Engelse term is forging en dié is by almal bekend as daar oor mesmaak gesels word.
Voorbeelde van gesmede bronsswaarde en -messe van honderde jare gelede het behoue gebly en word in museums bewaar. Reg oor Europa is Uhlfberht-swaarde van die negende eeu gevind, gemaak met lemme van Damaskusstaal. Baie navorsing is al oor hierdie swaarde gedoen en dit is ’n interessante onderwerp om verder oor na te lees – Google het baie bronne daaroor. Daar is selfs ’n dolk in Tutankhamun se graf gevind waarvan die lem van ’n stuk meteoriet gesmee is!
VERHITTING EN AFKOELING
Vroeër jare is die staal warm gemaak deur kole met ’n blaasbalk aan te jaag om die regte temperatuur te bereik. Sodra die staal dan warm genoeg was, is dit met ’n hamer op ’n aambeeld gekap of gesmee tot die regte vorm en ook om dit te spits van agter na voor (distal taper). Al die gekappery op die koue aambeeld koel natuurlik die staal af en dan moet dit weer warm gemaak word... so gaan die siklus aan tot die lem reg is. Die staal word dan genormaliseer deur dit ’n paar keer te verhit en af te koel voordat dit verhard word.
Normalisering is nodig om al
die strespunte (spanningsvlakke) uit die staal te verwyder sodat die lem reguit bly tydens verharding en ook om seker te maak dat dit lank sal hou. Die staal word verhard deur dit só warm te maak dat dit nie meer magneties is nie. Dan word die mes of swaard vinnig afgekoel deur dit in spesiale olie te dompel. Laastens word die verharde staal getemper deur dit teen laer temperature te bak sodat dit ’n bietjie van die hardheid prysgee in ruil vir taaiheid en buigsaamheid (flexibility).
Forging het ook nie die industriële rewolusie ontsnap nie en vandag gebruik messmede (bladesmiths) eerder gasvlamme en elektriese waaiers vir hitte, asook kraghamers en hidroliese perse. Die basiese beginsels bly egter nog steeds dieselfde om die staal warm te maak en dan te bewerk of te smee tot die regte vorm.
Ek het so ’n bietjie by Kevin Harvey van Heavin Forge in Mpumalamga gaan kers opsteek om te hoor waarom forging so gewild is. Heavin Forge is die enigste opleidingsentrum in Suid-Afrika wat deur die American Bladesmiths Association (ABS) erken word. Heavin Forge is een van twee skole buite die VSA wat geakkrediteer is deur die ABS om hul twee weke lange Introduction to Bladesmithing- kursus aan te bied. Die ander skool is in België. Daar is in totaal maar slegs ses sulke skole, waarvan vier in die VSA is.
PRET
Kevin som forging op in een woord: pret. Hy sê dis gróót pret om voor ’n warm vuur te sweet en ’n gloeiende stuk staal met ’n hamer te klits tot dit soos ’n mes lyk. Dis boonop terapeuties, old school en tradisioneel rég. Sekere messe soos Bowies, tomahawks en selfs swaarde wat tradisioneel gesmee is, lyk net reg as dit gesmee is met plat snyvlakke en outydse brons, koper of gietyster-wawielvellings as afwerking. Moderne materiale soos vlekvrye staal, koolstofvesel en blinkgepoleerde afwerkings lyk gewoonlik net nie reg op ’n lem wat gesmee is nie. Daarby gesê, ’n gesmede Bowie met ’n spieëlblink afwerking deur Jack Connan, is tydens die afgelope Suid-Afrikaanse Mesmakersgilde-skou as die beste gevegsmes bekroon.
Ons gesels ’n bietjie oor stock removal (mesmaak deur die staal weg te skuur totdat dit in ’n mesvorm is) en Kevin meen dat daar ’n plek is vir altwee metodes en dat die een metode nie slegter of beter is as die ander nie. Vir smeewerk word daar meestal van hoë-koolstofstaal soos 52100, 5160, K510 (silwer staal) en nog andere gebruik gemaak terwyl vlekvrye lemstaal meestal met die stock removal- metode benut word. Om vlekvrye staal te verhit en te smee, hou geen voordele in nie, terwyl die greinstruktuur van hoë-koolstofstale verfyn en die staal taaier gemaak word deur die smeeproses waar die staal herhaaldelik verhit, gekap en afgekoel word.
Vlekvrye messtaal het ’n resep waarvolgens dit verhard word, wat deur die vervaardiger opgestel word. By forging lê die kuns daarin om die regte staal vir die werk te kies en dit te verhard en te temper om die beste daaruit na vore te bring. Swaarde moet byvoorbeeld baie meer buigsaam wees as messe en dit word anders verhard en getemper as messe wat hoofsaaklik van dieselfde staal gemaak word. Messmede kan daarom nie hulle messe wegstuur om te laat verhard nie, maar moet self dié vaardigheid bemeester.
OPLEIDING
Groter messe word meestal deur middel van die forging- metode gemaak omdat die lemme selektief verhard kan word sodat die rugkant taai bly, terwyl die snyvlak verhard word om lank skerp te kan bly. Hierdie lemme kan gewoonlik uitgeken word aan ’n hamon- lyn in die lem waar die verharde en nie-verharde staal bymekaar kom. Een van die toetse wat ’n ABS-vakleerling moet slaag, is om ’n mes te maak wat skerp genoeg is om deur ’n houtbalk en ’n loshangende sissaltou te kap. Daarna moet dit nog hare van jou arm af kan skeer en die buigtoets slaag wat vereis dat die lem 90 grade moet kan buig sonder om te breek. Vlekvrye staal doen nie so goed in die kaptoetse nie en kan nie die buigtoets deurstaan nie.
Terwyl ons oor die ABS gesels... Nadat iemand sy driejaarvakleerlingperiode voltooi het, moet hy of sy vyf voltooide messe voorlê vir beoordeling om ’n Journeyman te kan word. Indien die messe kwalifiseer, is daar ’n verdere twee jaar praktiese ervaring nodig waarna die Journeyman vyf Damaskusmesse suksesvol moet voorlê vir beoordeling om as ’n Master Bladesmith geklassifiseer te kan word. Die Suid-Afrikaanse Mesmakersgilde het ook ’n spesiale kategorie vir messmede en hul kriteria vir toelating is soortgelyk aan dié van die ABS se vereistes.
Van die meer bekende plekke wat nog forging- opleiding aanbied, is Black Dragon Forge van Neels van den Berg, Stuart Smith en Hylton Rutherford wat almal lede is van die South African Bladesmith’s Association (SABA). SABA se leuse is Forging is Cool en hulle bied gereeld ope dae aan waartydens mense vir minimale kostes kan ervaar hoe dit voel om ’n stuk staal te smee, of selfs ’n eie stuk Damaskusstaal te maak. Kyk gerus op hulle Facebook-blad na hul jaarprogram vir die volgende ope dag en kom speel saam met die manne van staal.
Dit is onverklaarbaar hoe iemand, wat al voor daardie warm vuur gestaan het, die woorde cool en forging in dieselfde sin kan gebruik, want dit is uiters warm, fisiese werk en hitte-uitputting is ’n groot risiko vir ons ou ooms.
Cool bly en lekker forge!