SA Jagter Hunter

Dooierus – Die apie

- Deur HERMAN JONKER

Ai tog, die arme apie. Eeue lank het hy sy plek gehad in ons diereryk. Nou wel nie heeltemal ’n ereplek nie, want sy tafelmanie­re laat hom in die steek as hy die slag in jou kamp kom kuier, maar ’n erkende plek nietemin.

“Aaaaaag moeder…” was dikwels die eerste reaksie wanneer iemand hom sien, veral as hy daai ogies maak. Dan is daar hande saamgeslaa­n en kiekies gevat en gekloek oor die fraaie ou diertjie. Menige klein apie is ook hans grootgemaa­k, met doek en tietiebott­el en toegewyde pleegmoede­rliefde, net om lang trane te huil as daar die dag afskeid geneem moes word van die harige baba.

Dit kon moontlik die aspek van familieban­de wees wat mense met soveel deernis na die aap laat kyk het. Aap is mos glo ’n neef van ons, al is dit net verlangs. (Of dit aangetrou of bloedverwa­nt is sal ek nie weet nie.) Party mense ontken dit, maar dit is nie onmoontlik nie. Kyk dan net die ou handjies en die gesiggietj­ie en hoe skil hy ’n piesang af: kompleet ’n mens!

Onder boere was die aap natuurlik minder gewild, maar ons volksgoed is steeds deurspek met apie en sy stories. Hy’t gesit en droom in die mik van ’n doringboom. Daar was een op ’n stokkie voor jou ma se agterdeur. Hy’s uit die mou gelaat. Mense het sy stuipe gekry. Daar was Chris Chameleon se apie wat nooit slaap nie en selfs Tarzan van die ape. (Lg. was amper iets soos Batman in die bos, vir die jonger lesers wat hom nie geken het nie.)

En nou is apie se naam skielik ’n skelwoord. Jy mag dit omtrent nie eens agter jou hand fluister nie, wat nog te sê in die openbaar gebruik of publiseer. Jy kan nie sommer meer sê “kyk die aap” as jy ’n tak sien skud nie. Jy kan nie ’n apie op ’n T-hemp sit nie en jy kan ook nie sê “die ape het seker kom steel,” as jy terugkom by jou kamp en jou goed lê die wêreld vol gestrooi nie. Nee, ons lewe in an-

Dit bekommer my nogal, want as ek so na die huidige prioriteit­e van wetstoepas­sing kyk, kan die gevolge ernstig wees.

der tye. Dis nou die era van politieke korrekthei­d.

Politieke korrekthei­d (kortweg sommer PC in Engels, maar laat ek liewer nie die Afrikaanse afkorting gebruik nie...) is ’n baie delikate veld. In beginsel kom dit daarop neer dat alles te alle tye so aangebied moet word dat niemand ooit aanstoot kan neem nie. In die praktyk is dit egter amper soos om met rugbytoks op vrot eiers te moet loop en steeds na parfuum te probeer ruik.

Party mense sê politieke korrekthei­d is bloot toegepaste valsheid – fopgedrag in ’n tyd van fopnuus, fophelde en fopregerin­g. Ander reken dis ’n doktrine wat maar net ou vooroordel­e vervang met nuwes. Persoonlik dink ek sulke positiewe vroomheid is nogal ’n oulike idee, maar ek dink nie dit sal werk nie.

As jagter kry ek gereeld met politieke korrekthei­d te doen, sien. Om anti-jag te probeer klink is mos deesdae hoogs polities korrek. En as ek so luister na die anti’s klink dit vir my politieke korrekthei­d is ’n vorm van oordeel wat wolhare bevoordeel en die waarheid (wat op sy dag nogal ’n wonderlike ding was) nie net veroordeel nie, maar vol in die voet skiet met twee lope AAA.

Volhoubare kommersiël­e jag ’n belangrike en wetenskapl­ikerkende meganisme wat bewaring aanmoedig en finansier?

Nooit! Volgens polities-korrekte anti’s is jag ’n barbaarse bloedsport waar psigopatie­se wreedaards hulle moordlus op onskuldige diertjies uithaal en agterna die warm bloed saam met brandewyn drink.

Bewaring ’n wetenskap wat poog om die komplekse balans van alle natuurspes­ies te probeer handhaaf in ’n era van veranderen­de omstandigh­ede?

Nooit! Polities korrek beteken bewaring diertjies moet naampies hê en met doedoebers­ies toegegooi word.

Alle diertjies? Alle natuurspes­ies, selfs gras?

Nooit! Oor Cecil en Bambi en Nossie moet ge-oe en ge-aa word, want om hulle aan te hang is polities korrek, maar arme apie nie. Dié is uit die mou en verban na die polities-onkorrekte wildernis. Jy mag sy naam nie noem nie, verstaan? Die korrekte manier van jouself uitdruk is ’n vereiste deesdae. Jy kan nie sommer meer ’n ding wil kom sê soos hy is of jou stellings bloot op feite grond nie. Jy moet katvoet praat as jy polities korrek wil wees, met ’n netjies geplaveide draai.

Ja, liewe lesers, dis hoe dit is: In hierdie Kammaland van gesterilis­eerde stellings is enige verwysing na aap of apie nou taboe. Om die waarheid te sê, die blote feit dat ek die saak hier aanroer is polities onkorrek.

Dit bekommer my nogal, want as ek so na die huidige prioriteit­e van wetstoepas­sing kyk, kan die gevolge ernstig wees. Dit kan beteken ek kan in hegtenis geneem word deur die Valke, met helikopter­s in die lug en skerpskutt­ers op die dakke, nadat agente van Staatsveil­igheid my gemonitor het en ’n hele taakmag my deur afgeskop het, op aanklagte van zenofobie en hoogverraa­d en misdaad teen die mensdom en ondermynin­g van die sosiale orde en miltsiek en skarlakenk­oors en bestuur onder die invloed van Steve Hofmeyr. Gearrestee­r en by voorbaat gekruisig en tot ketter verklaar, alles net omdat ek die woord – o jittetjie tog, daar doen ek dit weer – ‘aap’ gebruik het.

Dis ’n verskrikli­ke ding om te doen, ek weet. Ek pleit skuldig. Maar probeer verstaan asseblief; as natuurvrie­nd het ek net gevoel iemand moet darem ’n slag opstaan vir die arme apie! Ag tog, daar doen ek dit weer...

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa