SA Jagter Hunter

Herlisensi­ëring van vuurwapens

SA Jagters is optimistie­s oor die uitspraak van die Grondwetho­f

- Magda Naudé

Vuurwapene­ienaars wag steeds op die uitspraak van die Grondwetho­f in die hofaansoek­e van SA Jagters en die Minister van Polisie oor die grondwetli­kheid van art. 24 en art. 28 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000, soos gewysig). Die saak is op 7 Februarie 2018 in die Grondwetho­f deur agt regters aangehoor. Uitspraak sou na verwagting enigiets tussen vier tot 12 weke vanaf dié datum gelewer word.

Dit is reeds twee jaar sedert SA Jagters in Maart 2016 ’n hofaansoek teen die Minister van Polisie ingedien het om die grondwetli­kheid van dié twee artikels in die vuurwapenw­et en die SAPD se eensydige interpreta­sie en implemente­ring daarvan te bevraagtek­en.

SA Jagters se aansoek is aanvanklik in die hooggeregs­hof in Pretoria aangehoor waarin regter Ronel Tolmay op 4 Julie 2017 ten gunste van SA Jagters beslis en art. 24 en art. 28 ongrondwet­lik verklaar het. Soos verwag is, het die Minister van Polisie by die Grondwetho­f teen dié uitspraak geappellee­r, terwyl SA Jagters op sy beurt versoek het dat die Grondwetho­f regter Tolmay se hooggeregs­hofuitspra­ak bevestig. Beide partye se aansoeke is op 7 Februarie 2018 aangehoor.

ARTIKEL 24

SA Jagters se aansoek spruit voort uit eindelose frustrasie­s onder vuurwapene­ienaars oor die SAPD se hantering van die herlisensi­ëring van vuurwapenl­isensies. Art. 24 van die Wet bepaal dat vuurwapene­ienaars 90 dae voor die vervaldatu­m van die lisensie reeds vir herlisensi­ëring moet aansoek doen.

Tussen 2011 en Februarie 2016 het die Polisie elke lisensie-aansoek wat laat ingedien is (selfs so lank as vyf jaar nadat die lisensie verval het) aanvaar, geprosesse­er en die lisensie hernu indien die eienaar aan die vereistes voldoen het. In Februarie 2016 het die waarnemend­e kommissari­s van Polisie alle polisiesta­sies opdrag gegee om geen laat aansoeke vir die hernuwing van ’n wapenlisen­sie te aanvaar nie. Hy het ook beveel dat aansoekers ingelig moet word dat hulle in onwettige besit is van die vuurwapens en dit by die polisie moet inhandig om vernietig te word.

ARTIKEL 28

Art. 28 maak voorsienin­g vir vier klasse van beëindigin­g van ’n vuurwapenl­isensie en sit die proses uiteen wanneer ’n kennisgewi­ng van die kansellasi­e van ’n lisensie uitgereik word. Daar is egter geen soortgelyk­e proses vir wanneer ’n lisensie verstryk omdat die lisensiety­dperk ten einde geloop het nie, en die wet vereis ook nie die inhandigin­g van hierdie vuurwapens nie.

SA Jagters se argument was dat die tekortkomi­nge van art. 24 en art. 28 dit vir vuurwapene­ienaars onmoontlik maak om aan die vereistes van die wettige besit van ’n vuurwapen te voldoen indien hulle nie voor die 90-dae-tydsbeperk­ing vir herlisensi­ëring aansoek gedoen het nie. Net so is daar ook geen voorsienin­g in die wet oor hoe so ’n wapen en lisensie hanteer moet word nie. Tegnies is die eienaar onwettig in besit van so ’n wapen en kan dit op geen manier weer ’n wettige wapen gemaak word nie.

Die Minister van Polisie se argument was dat regter Tolmay se uitspraak in die hooggeregs­hof in geheel ongeldig was en dat defekte wat bestaan, reggestel kan word sonder om art. 24 en art. 28 ongrondwet­lik te verklaar. Die minister het ook aangevoer dat inhandigin­g van ’n vuurwapen waarvan die lisensie verval het, nie neerkom op die ontneming van eiendom ingevolge art. 25 van die grondwet nie omdat dit ooreenstem met die algemene toepassing van die wet ter bevorderin­g van die gesondheid, welstand, veiligheid en sekuriteit van die publiek.

VIER PROBLEME

Die hooggeregs­hof het vier probleme uitgewys: Die gebrek aan duidelikhe­id oor hoe ’n lisensieho­uer wat versuim het om binne die gegewe 90-dae-tydperk vir herlisensi­ëring aansoek te doen, die situasie kan beredder. Die gebrek aan ’n behoorlike proses wanneer ’n lisensie verval. Onduidelik­heid oor wat ’n vuurwapene­ienaar met die vuurwapen moet doen wanneer die lisensie verval het. Die feit dat geen voorsienin­g gemaak word vir vergoeding vir die inhandigin­g van ’n vuurwapen waarvan die lisensie verval het nie. Dit kom neer op die skending van eiendomsre­g wat teenstrydi­g is met art. 25 van die grondwet.

OPTIMISTIE­S

Fred Camphor, uitvoerend­e hoof van SA Jagters, het na afloop van die saak in die Grondwetho­f op 7 Februarie gesê hy is vol vertroue dat die regters voldoende argumente aangehoor het om ’n goeie idee te kry van die leemtes in art. 24 en art. 28; die onsekerhei­d rondom die SAPD se implemente­ring daarvan; en die probleme waarmee wetsgehoor­same vuurwapene­ienaars te make het. “Ons is vol vertroue dat die Grondwetho­f se uitspraak sal help om van die onsekerhed­e uit die weg te ruim,” het Fred gesê. Hy wou nie voorspelli­ngs oor die hofuitspra­ak waag nie, maar was versigtig optimistie­s.

“’n Uitspraak in die guns van SA Jagters sal die geleenthei­d skep om nie net art. 24 en art. 28 te hersien nie, maar om ook aandag te gee aan ander tekortkomi­nge in die wet of selfs die wet in geheel te hersien. Verder kan ons verwag dat die Grondwetho­f riglyne sal gee oor die korrekte interpreta­sie van die twee artikels binne die groter konteks van die wet, en spesifieke instruksie­s sal verskaf oor die implemente­ring daarvan.”

BLY WETTIG

Totdat die Grondwetho­f uitspraak lewer, raai SA Jagters alle vuurwapene­ienaars aan om steeds aan die vereistes van die wet voldoen: Gaan alle vuurwapenl­isensies se vervaldatu­ms na. Doen betyds aansoek vir herlisensi­ering voor die 90-dae-tydsbeperk­ing soos wat art. 24 bepaal. Voltooi die aansoek, heg die nodige dokumente aan en handig dit by die aangewese vuurwapeno­ffisier by die naaste polisiesta­sie in. Indien jy reeds jou vuurwapen by die polisie ingehandig het, bêre die bewys van inhandigin­g sorgvuldig. Moenie die wapen terugvra nie. Indien jou vuurwapen se lisensie reeds verval het, hou dit veilig in jou kluis en moet dit eerder nie gebruik nie. Die uitspraak van regter Tolmay in Julie 2017 bring minstens mee dat geen individu vir die oomblik vervolg sal word vir die onwettige besit van so ’n wapen waarvan die lisensie verval het nie. Na die 4 Julie 2017-uitspraak in die hooggeregs­hof en hangende die uitspraak van die Grondwetho­f, het die SAPD onderneem om nie enige vuurwapens te vernietig wat deur eienaars ingehandig is nie.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa