SA Jagter Hunter

Ouman en die koedoe

As jy herinnerin­ge wil maak, is tyd in die veld saam met ’n ou vriend net die regte medisyne.

- Nico Starbuck

Die son was al op toe ek die Isuzu se neus in lyn bring met die teerpad. Ek is nie haastig nie, ek het die hele dag tyd. Ek en die “ouman” se afspraak is eers die volgende dag en ek het maar sowat twee en ’n half ure se ry voor my. My eindbestem­ming is Fritz se plaas so 20km buite Steytlervi­lle. Dis net ek en die ouman in die bakkie en ek het baie om oor te dink. Die stilte pas my. Jare gelede het ’n ou omie vir my hierdie wyse woorde gesê: “Life is made of memories. Make them while you can, one day it will be all you have”. Ek hoop om nog ’n memory by te voeg met hierdie rit.

’N OU VRIEND GEVIND

In elke huis waar ’n wapenkluis is, kom daar mos dae wat jy dit net oopsluit en die gewere uitpak. Dan word daar gevryf met ’n lappie en denkbeeldi­ge stoffies afgeblaas, al is alles silwerskoo­n. So beland ek ook voor my kluis en haal half teensinnig die ouman heel laaste uit. Blinkskoon, maar met ’n paar letsels aan die kolf, staan hy soms vergete in die donkerste hoekie van die kluis. Ek kyk weer na die datum op die metaal en besef dat hierdie ouman vanjaar 117 jaar oud is. Ek sit en wonder oor sy lewe. Wie het hom eerste hanteer? Was hy ooit betrokke in konflik? Hoeveel wild het voor hom geval?

Net daar besluit ek om die ouman weer jagveld toe te vat. Net ek en hy. Sonder enige luukses, waar ons nog die veld kan ervaar. Makliker gesê as gedaan. Deesdae is wildplase ingestel op jaggroepe en alles geskied volgens streng reëls. Niks verkeerd daarmee nie, almal moet ’n lewe maak. ’n Paar oproepe later kry ek wel vir Fritz in die hande. Nee, hy bly nie meer op die plaas nie. Boer maar van die dorp af en ja daar is nog heelwat koedoes in die berg al is dit een van die laaste “oop” plase in die omgewing. Nadat ek aan hom verduideli­k het wat ek wil doen, stem hy dadelik in. Hy verkies ook nog om te jag soos in die ou dae en ek is welkom om ’n dag of twee in die veld te bly.

Fritz is op die plaas toe ek daar arriveer en is sy hartlike self. Ons drink koffie en gesels oor die tye wat verby is. Laatmiddag vat ek die tweespoorp­aadjie wat afloop na die rivier. Die rivier loop net in die reënseisoe­n en die spoelgruis protesteer onder my skoene toe ek uitklim in die rivierbedd­ing om te kyk vir spore. Daar is heelwat en dis duidelik dat die koedoes snags kom wei tussen die digte doringbome wat op die oewer staan. Ek kry ook ’n wildspaadj­ie wat uit die berg kom en duidelik baie gebruik word. My kampplek kies ek so ’n kilome- ter weg van die rivier af teen ’n voorheuwel. Ek wil nie hê my reuk moet die koedoes steur in hulle nagtelike wandelinge nie.

Met die bakkie aan die voet van die heuwel geparkeer sit ek my rugsak op my rug. Met die ouman oor my skouer begin ek stap na ’n paar groot rotse wat ek met my aankoms raakgesien het. Dit blyk die ideale plek te wees. Langs die een klip is die grond mooi gelyk en ’n wildepruim, wat neffens die klip uit die grond beur, maak ’n mooi dakkie wat die dou sal keer. Ek slaan nie ’n tent op nie. ’n Goeie slaapsak en ligte grondseilt­jie is meer as genoeg.

Terwyl daar nog genoeg lig is, haal ek die ouman uit die geweersak en trek die loop deur. Daar is geen moderne teleskoop op sy rug nie. Nog dieselfde oop visiere wat met sy geboorte opgesit is. Verbeel ek my of geniet die oumens die hantering?

Ek haal die pakkie patrone uit die rugsak en maak dit oop – daar is nie meer baie van hierdie patrone beskikbaar nie... oorspronkl­ike Kynochs gelaai met volmantelk­oeëls. Dieselfde patrone wat menige diere in Afrika laat sneuwel het. Ek het net gevoel dit sal gepas »

» wees om die ouman te vereer deur hierdie Kynoch-patrone te gebruik. Met die ouman weer terug in die geweersak gaan sit ek met my rug teen die klip en kyk oor die veld voor my. Die son is besig om reg te maak vir slaap en mik vinnig na die horison.

Dis vir my die mooiste tyd van die dag en ek geniet dit om te sien hoe die veld regmaak vir die nag. Die dagvoëltji­es soek hulle slaapplekk­e uit. Ek besluit om nie ’n vuur te maak nie. Daar is gelukkig nog warm koffie in die fles. ’n Vuur sal net ’n steurnis wees hier waar ek deel van die natuur wil wees.

Die donker kom vinnig toe die son sy kop wegtrek en die naglewe begin in alle erns. ’n Naguiltjie roep “jaag weg die wewenaar” en kondig so aan dat die nag amptelik begin het. Ek rol my slaapsak oop en kry myself gemaklik langs die rotse. My gedagtes begin koers kry. Terug op die ver paaie en die herinnerin­ge wat opgestapel lê soos klippe langs ’n braakland. ’n Jakkals se veraf roep bring my terug na die hede. Sy maat antwoord nader aan my slaapplek. Ek weet dit gee skaapboere koue rillings, maar vir my is dit een van die mooiste naggeluide. In die donker skink ek ’n koffietjie en lê en luister na die nag terwyl ek drink. Koffie hou my nie wakker nie, dit is my slaapdrank­ie. Ek sit die leë beker neer en skuif my heup na ’n gemakliker posisie. Slaap kom vinnig.

Telkens deur die nag word ek wakker van die geskarrel van klein diertjies in die droë blare en gras. Die gemurmel van bakoorjakk­alsies wat verby beweeg maak my teen voordag wakker. Daar is al kleur in die ooste wat beteken die dag is naby. Die koffie in die fles is nog louwarm en smaak soos manna. Ek besluit om net die ouman, die patrone en my jagmes te vat en die res daar te los, want dalk sal ek nog ’n nag moet bly. Toe dit lig genoeg is om te sien, begin ek stadig in die rigting van die rivier te stap. My plan is om so 400m van die rivier af by die wildspaadj­ie uit te kom en te kyk vir vars spore.

OP DIE SPOOR

By die wildspaadj­ie aangekom is dit lig genoeg om spore te identifise­er en soos verwag is daar duidelikes wat berg-op loop. Ek sien egter geen groot spore nie. Dis duidelik koeie en jong diere wat hier verby is. Uit ondervindi­ng weet ek dat die groot bulle baie keer deur die dag tussen die doringbome op die rivieroewe­rs skuil. Moontlik kan ek dalk ’n ou groot gryse by die rivier raakloop.

Ek stap baie versigtig aan – twee treë, staan vyf tellings. Dis verbasend om te sien hoe jou omgewing verander as jy net twee treë op ’n keer gee. Jy sien alles elke keer uit ’n ander hoek. Waar die doringbome begin, laat gly ek ’n rondeneus in die kamer, maar hou die slot oop. Die ander rondeneuse lê knus in die magasyn. Tussen die doringbome is die paadjie sanderig en ek beweeg absoluut geruisloos. Op die rivierbank sak ek op my hurke en bespied die rivier, ek kan ongeveer 150m na beide kante toe sien. ’n Beweging trek my aandag, maar dis ’n blouapie wat ’n sitplek uitsoek vanwaar hy die oggendson kan geniet.

Ek was op die punt om op te staan toe ’n klein beweging ongeveer 70m rivier-af my aandag trek. Ek snak na my asem toe ek registreer wat ek sien. Twee koedoebull­e staan doodstil onder ’n doringboom en kyk in die rigting van die blouapies. Hulle staan skuins weg van my af en is duidelik onbewus van my en die ouman.

Ek skuifel af in ’n sittende posisie en laat rus die ouman op my knie. Die bulle staan langs mekaar met die jonger een die naaste aan my. Om te verhoed dat ek die agterste een kwes, besluit ek om die jonger bul in die nek te skiet, net onder sy kop. Met so ’n skoot kan ek nie die ander bul ook raak nie.

Ek druk die slot so saggies as moontlik toe maar verwag steeds dat die bulle dit gaan hoor en hardloop. Dit gebeur egter nie. Die apies se manewales interessee­r hulle te veel. Ek laat die korrel vassuig op die regte plek en druk die sneller. Die ouman se blaf is skerp en dodelik in die stil oggend. Die koedoebul sak op die plek neer terwyl sy maat spore maak berg toe. Ek sit eers ’n rukkie stil met die ouman op my skoot en staan toe op. Die rondeneus het sy werk perfek gedoen. Die koedoe se nek is gebreek net onder sy kop. Ek doen die nodige en stap met ’n ligte tred na my slaapplek om my rugsak te kry. Dan bakkie toe om die koedoe te laai.

Verbeel ek my of glimlag die ouman? Dalk is dit net ek wat loop en glimlag. Another memory made!

 ??  ?? Die ou .303 is nog dodelik akkuraat met die oorspronkl­ike Kynoch-patrone van weleer, gelaai met “soliede” koeëls.
Die ou .303 is nog dodelik akkuraat met die oorspronkl­ike Kynoch-patrone van weleer, gelaai met “soliede” koeëls.
 ??  ??
 ??  ?? Soos julle hier kan sien, is my ou Lee Enfield Merk I in 1901 vervaardig. Ek kan maar net wonder hoeveel bokke hy laat val het.
Soos julle hier kan sien, is my ou Lee Enfield Merk I in 1901 vervaardig. Ek kan maar net wonder hoeveel bokke hy laat val het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa