SA Jagter Hunter

KOEDOEJAG 'n Bul in die ruigtes

- Deur KOOS BARNARD

Ek het nog nie baie in die verre noorde van ons land gejag nie en toe die geleenthei­d hom vroeg in die jaar voordoen, het ek die uitnodigin­g sonder skroom aanvaar.

My bestemming was die Limpopo Valley Conservanc­y, ’n bewaar-area van sowat 4 700ha groot wat oos van Musina lê. In die noorde word dit begrens deur die Limpopo, in die weste die Nzhelele-rivier en aan die suide- en oostekante deur die Maremani Natuurrese­rvaat.

Die terrein is heuwelagti­g en die plantegroe­i bestaan hoofsaakli­k uit ruie, gemengde bos- veld met wildeserin­g-, maroela-, njala-, koors- en die ikoniese kremetartb­ome. Groot dele word ook bedek met digte mopanievel­d waar sig dikwels beperk is tot minder as 30 meter. ’n Groot aantal droë sandlope deurkruis ook die gebied.

Hierdie reservaat is meer as 50 jaar gelede gestig en word bestuur deur ’n paar van die aandeelhou­ers wat as direksiegr­oep funksionee­r. Een van die aandeelhou­ers, Herman Ackermann, bedryf Mashatu Hunting Safaris wat verantwoor­delik is vir die bestuur van die wild in die reservaat. Die profession­ele jagter daar is Wayne van der Westhuizen. Herman se seun,

In dié ruie bos werk jy vir jou bok.

Dirk, hanteer die bespreking­s.

Kameelperd­e, sebras, koedoes, rooibokke, elande, waterbokke en njalas kom in goeie getalle voor. Daar is ook ’n klompie gemsbokke, ’n klein getal blouwildeb­eeste asook bosbokke en duikers. Roofdiere soos die rooijakkal­s, bruin hiënas en luiperds kom algemeen voor. Wildehonde word soms waargeneem en daar is ook sivette (sivetkat) en rooikatte.

Soos te verwagte, is voëls volop en sowat 250 spesies is al aangeteken, waarvan die skaars kuifkoptar­entaal een is.

GEWEERKEUS­E

Die doel van my besoek was om ’n koedoebul, ’n sebra en ’n rooibok te skiet. Weens die ruie veld is skietafsta­nde selde verder as 150m met die oorgrote meerderhei­d skote wat tussen 25 en 100m geneem word. Ek het dus besluit om my Remington .30-06 te gebruik en dit met 180gr Norma Oryx-koeëls te laai. Die Oryx is ’n loodkernko­eël waarvan die kern en die mantel deur ’n chemiese proses gebind is. Hierdie koeëls klink dus baie mooi om, breek nie sommer op nie en penetreer goed. Gelaai voor 46.5gr S355 verlaat die Oryx-koeëls die kort loop van my .30-06 teen so ’n bietjie vinniger as 2 400vps.

Mashatu Safaris se skietbaan is in ’n droë rivierloop geleë en met die inskiet het ek gevind dat die koeëls omtrent 25mm hoog skiet op 100m, wat perfek is vir die korter afstande in die ruie bos. Ek het my Mauser in .375 H&H ook saamgeneem, waarvoor ek 300gr PMP-koeëls teen sowat 2 250vps gelaai het. Die .375 het egter meestal in die kamp gebly en ek het toe niks daarmee geskiet nie.

UITDAGENDE JAG

Wanneer jy met Mashatu Safaris in die Limpopo Valley Conservanc­y jag, moet jy jou klaarmaak vir ’n uitdagende jag. Die klipperige, heuwelagti­ge terrein en die digte bosveld bemoeilik dinge. Ernstige jagters wat bereid is om lang ure op hul voete deur te bring sal sukses behaal. Jy moet bereid wees om letterlik vir ure teen ’n slakkepas deur die bos te sluip en die hele tyd gereed wees om te skiet. Dit verg konsentras­ie want in die dele waar die mopanies so dig soos hare op ’n hond staan, is sig baie dikwels beperk tot net ’n paar meter. Hierdie bestemming is nie bedoel vir iemand wat gou-gou ’n paar bokke wil skiet nie.

Wil jy hier jag, beveel ek skoene met speksole aan. Enige skoen met ’n harderige sool maak te veel geraas op die hoofsaakli­k gruiserige grond.

Ek en Wayne het die eerste namiddag na ons aankoms ’n draai gaan stap, maar behalwe vir ’n paar rooibokke wat ons net in die bos hoor blaas het, het ons niks gesien nie.

Die volgende oggend het ek saam met Boesman Voloo gestap, ’n veteraan-gids van Mashatu Safaris. Blouwildeb­eeste was nie op die spyskaart nie, maar soos Murphy dikwels maak, het ons deur die loop van die oggend drie maal van dié diere teengekom en ek sou maklik een kon skiet.

KOEDOEBUL

Dis warm in die Limpopoval­lei in Januarie en oor die middaguur het ons ’n ruskansie geneem. Vir die namiddagse­ssie het Wayne ons na ’n ander deel van die plaas geneem en dis hier waar ons geluk gedraai het. Terwyl ons ry, het ek ’n koedoebul aan die linkerkant van die pad tussen die bosse opgemerk. Hy is op ’n lui galop ’n bietjie dieper die bosse in en ek het vir Wayne beduie om ’n hele ent aan te ry en dan te stop.

Toe ons afklim, het ek ’n 180gr Oryx in die Remington se keel gestoot en toe is ek en Boesman terug al met die tweespoorp­ad langs. Vir die eerste ent kon ons lekker gemaklik »

» stap, maar toe ons min of meer 200m van die plek af was waar ek die bul gesien het, het ons oorgeslaan na ’n slakkepas en voetjie vir voetjie vorentoe beweeg.

Soos die afstand krimp, het ek al meer bewus begin raak van die geknars van ons skoensole op die gruis. Beide van ons het die regte skoene gedra, maar ’n koedoe se gehoor is so goed dat ek steeds bevrees was die bul gaan ons hoor. Die laaste 50m of so het ons letterlik tree vir tree vorentoe beweeg en fyn geluister of ons nie enige geluid hoor nie. Die bos was stil... net hier en daar het groenvlekd­uifies se doee, doee, doee, doedoe-doe-doe... deur die warm lug gebeur.

Regoor die plek waar ons die bul gesien het, het ons die pad verlaat. Na elke paar meter het ons stil gaan staan om te luister. Toe ons weer stop, het ’n tak skuins voor ons in die ruigtes sag geklap. Het die bul ons gewaar en gehardloop of was hy besig om aan blare te peusel? Ons het vir lang rukke botstil gestaan, ons oë soekend. Toe hoor ons dit weer... iewers in die ruigtes skuins links van ons het ’n horing weer teen ’n tak geklap.

Nog ’n paar treë vorentoe... voor ons het ’n skaduwee in die ruigtes na links beweeg. Horingpunt­e het skielik bo ’n bos sigbaar geraak. Die bul het twee, drie treë vorentoe gegee en nou kon ons sy voorbene ook sien. Voor ons kon beweeg, het hy skielik na links gestap, maar na sowat 20 treë weer onder ’n boom vasgesteek. Hy was effens laer as ons en ons kon net die boonste helfte van sy horings sien beweeg soos hy wei.

Voetjie vir voetjie het ons nader beweeg... my hart het in my keel geklop, want al het ons so sag as moontlik beweeg, het dit steeds vir my geklink of ons skoensole te veel geraas maak. Na ongeveer 25 treë het ons die bul se kop in sig gekry. Hy het met ’n uitgerekte nek aan die boomblare bo sy kop geknibbel. Met die .30-06 oor die skietstok het ek deur die teleskoop gekyk, maar daar was net eenvoudig te veel takke voor die koedoe.

Ons het hom vir ’n minuut of drie staan en dophou. En toe maak die bul ’n fout... hy gee so vyf treë vorentoe en begin aan ’n ander boom vreet. Sy hele lyf was nog agter takke, maar sy kop was mooi oop. Ek moes net vir die regte oomblik wag. Die afstand was ongeveer 70m. Nadat hy weer ’n plukseltji­e blare afgebyt het, het die bul sy kop vir ’n paar oomblikke stil gehou. Met die kruishaar geanker tussen die bul se oog en oor, het ek die sneller gedruk. Toe die .30-06 bulder, het ek in daardie splitsekon­de voordat die terugskop my te veel affekteer, die koedoe sien verdwyn.

Ek en Boesman het na die plek gestaar waar die bok gestaan het. “Het hy geval?” het Boesman gevra. “Ek dink so,” het ek geantwoord. Ons het nader gestap en na so 40m die bul onder die boom sien lê, daar waar hy staan en wei het. Dit was lekker om ’n koedoe te kon skiet sonder dat hy van ons bewus was, want dis ’n geluk wat jou nie aldag beskore is nie. Later by die slagplek sou ons die horings meet en vind dat die langste een 49.5” was.

BOSKAMP

Bouwerk aan Mashatu Safaris se boskamp is eers die week na ons besoek voltooi en daarom het ek en my vrou in ’n ander boskamp gebly wat deur die aandeelhou­ers gebruik word. Hierdie kamp word bestuur deur ’n Zimbabwiër, Edson, wat ook die sjef is. Hy is ’n joviale man met baie staaltjies oor Zimbabwe en hy kan baie lekker kos maak. Toe ons daardie aand aansit vir ete, vertel Edson ons van Anna, sy mak sivet.

Blykbaar het Anna (Edson weet eintlik glad nie of sy werklik ’n sy is nie) uit haar eie al nader aan Edson se huis begin beweeg en na ’n paar maande het hy haar een aand op die tafel voor sy voordeur aangetref. Anna het mettertyd só mak geword dat sy/hy nie meer weggehardl­oop het as Edson uit sy huis kom nie. Hy het toe vir haar kos begin uitsit en nou kom eet sy uit sy hand en laat sy toe dat hy haar streel.

Wanneer Edson vir gaste sorg, kom Anna na die eetvertrek toe om haar aandete te kom haal. Ons het gewonder of die storie waar is, maar kort voor lank daag Anna toe wel »

» op. Sy was baie skugter vir ons, maar toe sy eers die kos gewaar, het sy tot reg by ons gekom om te eet terwyl Edson haar streel. Wat ’n pragtige dier is dit nie!

DAG DRIE

Die volgende oggend het ek en Boesman baie vroeg begin stap, maar die wild het ons ontwyk. ’n Paar rooibokram­me het kat en muis met ons gespeel in die digte bos op ’n rantjie. Die gruiserige grond en die warrelende wind het ons telkens weggegee of as ons die bokke kon sien, was daar soveel takke in die pad dat ek nie kon skiet nie. Ek het die .375 gedra en die versoeking was partymaal groot om deur ’n bos te skiet.

Wayne het my die middag by ’n drinkplek afgelaai en ek het van daar af alleen gejag. Ons het afgespreek dat ek hom en Boesman by ’n volgende drinkplek so ’n paar kilometer verder sou ontmoet. Dankie tog vir tegnologie – ek het my GPS gebruik. Omdat ek dikwels alleen op vreemde plekke jag is dit een apparaat waarsonder ek nooit die kamp verlaat nie. Sommer naby aan die drinkplek het ek die vars spoor van ’n luiperd gekry.

Behalwe vir ’n gemsbok waarin ek my byna vasgeloop het in ’n kol digte mopanies, het die eerste twee ure van my jag niks opgelewer nie. Later is ek met ’n sandlopie af en was gelukkig om twee koedoebull­e te verras wat glad nie van my geweet het nie. Die een se regterhori­ng was halfpad afgebreek en die ander bul was ’n reus. Hy sou maklik kwalifisee­r vir Rowland Ward. Ek wou sien hoe naby ek aan hulle kon kom, en het seker tot by 40m gevorder voor die groot bul my gewaar het.

LAASTE DAG

Op die laaste jagdag het ons vroegmôre die omringende veld van ’n koppie af bespied, maar die ruie veld maak dit baie moeilik om diere op te spoor. Ons het wel ’n paar blouwildeb­eeste, sebras en rooibokke gewaar en het probeer om die sebras te bekruip. Ongelukkig het ’n paar kameelperd­e ons gewaar en alarm gemaak. Dit was die einde van ons sebrajag.

Ek en Boesman het toe letterlik weer vir ure aaneen gestap. Dit was baie warm en ek moes hard konsentree­r om nie oor te slaan in ’n kop-in-diegrond-strompel nie. Toe Boesman later vassteek, sweet afvee en sê: “Meneer, dis darem nou vreeslik warm,” het dit my goed gedoen om te weet ek is nie die enigste een wat besig was om te suffer nie.

Net voor twaalfuur het ons ’n drinkplek genader en ’n troppie rooibokke opgemerk wat aan’t wegbeweeg was van die water af. Ons is versigtig agter hulle aan en het hulle gewaar waar hulle aan die oorkant van ’n vlak lopie ’n effense hoogte klim. ’n Klomp ooie het deur ’n opening in die bos getou. Met die geweer op die skietstokk­e het ek byna hardop gebid dat daar ’n ram in die troppie moet wees. Daar was een en hy het heel laaste deur die opening beweeg.

Toe die ram in die opening inbeweeg, het ek hard na hom geroep. Hy het vasgesteek en skuins oor sy skouer in ons rigting gekyk. Met die hoek waarteen hy gestaan het, moes ek ver agter die blad mik om die hart/ longarea te tref. Die koeël het met ’n luide plofslag getref en die ram het in sy spore neergeslaa­n. My afstandmet­er het aangedui die bok was 116m ver.

Daarmee was my jag in die Limpopo Valley Conservanc­y afgehandel. Ek het die jag geniet, want 4 700 hektaar is lekker groot (in terme van die grootte van baie wildplase in Suid-Afrika) en jy kry die gevoel dat jy in ’n wildernis is. * Ernstige jagters wat nie bang is om hard te werk vir hul bokke nie en belangstel om onder leiding van Mashatu Hunting Safaris in die bewaararea te jag, kan vir Dirk Ackermann per e-pos kontak by dirk@mashatuhun­tingsafari­s. co.za of skakel hom by 082445-1725. Besoek ook Mashatu Safaris se webblad by www. mashatuhun­tingsafari­s.co.za

 ??  ?? Wayne en Boesman by die rooibok wat ek kort voor twaalfuur die oggend geskiet het.
Wayne en Boesman by die rooibok wat ek kort voor twaalfuur die oggend geskiet het.
 ??  ?? Anna, die mak sivet wat vir Edson (die sjef) as vriend gekies het.
Anna, die mak sivet wat vir Edson (die sjef) as vriend gekies het.
 ??  ?? Wayne van der Westhuizen soek met die verkyker na wild in die ruie veld onder ‘n koppie.
Wayne van der Westhuizen soek met die verkyker na wild in die ruie veld onder ‘n koppie.
 ??  ?? Mashatu Safaris se skietbaan is in ‘n droë sandloop.
Mashatu Safaris se skietbaan is in ‘n droë sandloop.
 ??  ??
 ??  ?? Die koedoebul waarvan ek in die storie vertel. By my sit die gids, Boesman Voloo.
Die koedoebul waarvan ek in die storie vertel. By my sit die gids, Boesman Voloo.
 ??  ?? Aandete by Mashatu Safaris se jagkamp. Jerry Mollema stook die pot.
Aandete by Mashatu Safaris se jagkamp. Jerry Mollema stook die pot.
 ??  ?? Edson, die sjef, het goed na ons omgesien.
Edson, die sjef, het goed na ons omgesien.
 ??  ?? So lyk die braai- en ontspannin­gsarea van die jagkamp.
So lyk die braai- en ontspannin­gsarea van die jagkamp.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa