In my visier
Dis wat baie buitelandse jagters blykbaar van ons jagbedryf dink. Dis moeilik om ’n ander afleiding te maak, want die getal buitelandse jagters wat Suid-Afrika besoek, het sedert 2008 drasties afgeneem.
Vroeër jare het tot 16 000 buitelanders hul skote hier kom aftrek, maar daardie getal het gekrimp tot 7 366 in 2015 en 6 537 in 2016. Daar word baie redes voorgehou vir hierdie daling waarvan die droogte en persoonlike veiligheid twee is. Daar is egter verskeie ander dinge wat die bedryf kwel en intensiewe wildboerdery is een daarvan.
Natuurlik het hierdie tipe boerdery wat op ’n wetenskaplike wyse beoefen word nie net ’n baie belangrike plek in ons wildbedryf nie, dis eintlik broodnodig vir die volhoubaarheid van die wild- en jagbedryf. En tog blyk dit ook tot ’n mate die Achilleshiel van dié bedryf te wees.
Intensiewe wildboerdery het vir ons piepklein jagplase gebring; geteelde leeujag; kleurvariante; mak diere wat in klein kampies geteel is en jagters grootoog staan en aankyk sonder om te probeer vlug; wild me toorplaatjies in en luukse boog skuilings by watergate( om maar net ’n paar dinge te noem).
Ek het onlangs ’n skuiling op ’n “jagvideo” gesien wat ’n bed, toilet en ander luukshede in het. Dis so groot, ’n hele gesin kan met gemak daarin rondstap.
Ons laat skiet ook buffels en ander wild by voerplekke. Daar was onlangs ’n video in omloop van iemand wat ’n buffel by ’n voerplek uit ’n skuiling met ’n grootkaliber-windbuks geskiet het. Dis dié tipe dinge wat ons as “jag” bemark en waarmee baie jagters nie saamstem nie. Dis die dinge wat ons naam beswadder. Die leeujagsage en PHASA se standpunt het natuurlik nóg troebel water veroorsaak.
Natuurlik gebeur sulke dinge in ander lande ook. In Brittanje en Amerika (om maar net twee te noem) word wild op groot skaal intensief geteel en veral Amerika is bekend daarvoor dat boog- en geweerjagters daar diere uit skuilings skiet. Om egter die vinger na ander te wys gaan nie jagters na Suid-Afrika toe lok nie.
Onlangs lees ek ook ’n stuk op Facebook van ’n gerespekteerde beroepsjagter wat by sy kollegas pleit om op te hou om vir jagters te lieg as hulle bemarking gaan doen. Soos die Engelse sê: “Enough said.”
Die wildborrel het toe gebars of genoegsaam gebars dat baie wildboere nou skarrel om hul wild verkoop te kry. Waar daar voorheen hoofsaaklik beroepsjagters was wat oorsee gaan kliënte werf het, besoek ’n toenemende getal wildboere nou self die buitelandse jagskoue. Hulle teelbedryf moes vinnig omskakel na ’n jagbedryf toe. Hierdie boe- re omseil dus die beroepsjagters/jagondernemers wat reeds in die mark is en so word die druk op hierdie poel mense al groter om maniere te vind om hul ondernemings te bemark. ’n Ooraanbod van wild, beroepsjagters en wildboere op die oorsese mark kan net moeilikheid voorspel vir ons plaaslike bedryf.
Daar is volgens sommige mense se mening te veel beroepsjagters in die land, mense wat prysgewys nie kan meeding met die wildboer wat sy eie wild bemark nie. Baie van hierdie ondernemers het geen ander inkomste nie. Wat sal hulle moet doen om steeds kliënte te lok na ’n land wat vir baie mense ’n onaanvaarbare jagbestemming geraak het? Wildboere en beroepsjagters knor nou vir mekaar en so ook beroepsjagters vir mekaar. Suid-Afrikaanse en Namibiese beroepsjagters slinger lekker modder heen en weer.
Selfs vir plaaslike jagters is daar nou ’n nóg meer gesonde aanbod van wild. Nog nooit vantevore is SA JAGTER/HUNTER se Koop en Verkoopblad op Faceboek so oorval soos hierdie jaar met mense wat wild en jagplek probeer verkwansel nie.
Jag vir die pot of biltong het die afgelope paar jaar baie duur geraak, want skaarswildboere het vroulike diere gesoek (wat gewild is onder biltongjagters) vir die teel van hul gekleurde bokke. Daardie prentjie is nou besig om te verander. Kleurvari- ante en ander sogenaamde eksotiese wildsoorte se pryse het sodanig gedaal dat dié diere nou teen veel meer bekostigbare pryse gejag kan word. Trouens sommige pryse het so geval dat sommige wildboere baie groot verliese gely het en nou moet bontstaan om verdere skade te probeer voorkom.
Jag in Suid-Afrika het oor die afgelope twee dekades of so onherroeplik verander. Gierigheid en kortsigtigheid het ons laat beland waar ons nou is. Ons ís ongelukkig bo blink maar onder stink. Ek moet egter byvoeg dat ons huidige politieke klimaat dit vir mense moeilik maak om nie “vandag” soveel as moontlik te wil probeer skep terwyl hulle kan nie, want môre is hulle dalk hul grond of hul ondernemings kwyt.
Daar is baie mense wat glo dat ons ons jagbedryf kan omdraai. Dat ons weer die kroonjuweel kan raak wat ons eens was. Maar dit sal nugter denke verg en ’n terugkeer na sekere ou waardes en gebruike. SuidAfrika is ’n wildparadys en ons kan dit weer ’n ware jagparadys ook maak. ’n Plek waar mense tou voor sal staan om te kom jag. Alle betrokkenes sal net moet handevat en saamwerk.