SA Jagter Hunter

Bospos – Sê jou sê

E-pos na marisa.beeton@media24.com

-

TAKEAWAY- JAGTERS

Die jagseisoen is op hande en daar is baie manne wat graag wil gaan “jag”. Jy sien nou gereeld plasings op Facebook van mense wat jagplek soek binne ’n sekere radius van die stad waar hulle woon. Hulle dui ook die spesies aan wat gejag moet word. Dit het my laat dink aan ’n takeaway- restaurant – jy besluit waarvoor jy lus het, kyk waar die naaste takeaway is, ry daarheen en koop iets deur ’n venster.

Het die jagbedryf in Suid-Afrika ’n takeaway- besigheid geword? Wildboere in die Bosveld veral (ek mag verkeerd wees) begin spesies op plase aanhou wat nie natuurlik daar voorkom nie en dan eers moet aanpas voordat hulle gejag kan word. Wildplase raak net soos die wegneemete-restaurant­e met ’n verskeiden­heid op die spyskaart. Die rede hiervoor is heel ekonomies: Daar is ’n groot mark, veral in Gauteng. Ja, ek weet ons omstandigh­ede is vandag van so ’n aard dat tyd geld is en geld skaars is. Dit baan die weg vir boere om ’n groot verskeiden­heid wild aan te bied vir die takeaway- jagter wat gou sy bokspesie binne ’n dag wil skiet.

Maar waarin lê die genot as jy ’n Kalahari-gemsbok buite sy natuurlike habitat van rooi sandduine jag, of ’n buffel net ’n uur se ry uit Kaapstad? Die uittog na ’n spesifieke streek om ’n bok te gaan jag wat net dáár natuurlik voorkom, maak die ervaring mos soveel meer spesiaal. En wat is een of twee ekstra dae weg van die kantoor dan nou?

Ek is dalk ook ’n takeawayja­gter, maar kom, laat ons ons leefstyl verander. Kom ons begin “organies” jag. HEIN HANEKOM * Hein wen die R500-geskenkbew­ys van Safari Outdoor.

BENUTTING IS BEWARING

Op pad na ’n troue in die Kaap, en met die voorneme om rustig te ry tot daar, het ek besluit om tydens die rit soveel as moontlik wildreserv­ate (waar daar gejag word) te besoek. Nodeloos om te sê, die rit het vier dae geduur!

Tussen-die-Riviere se wildreserv­aat was eerste aan die beurt. Op die oog af het alles goed en gesond gelyk. Die behulpsame personeel was baie vriendelik en kort voor lank was ons land en sand aan die gesels met hulle.

So met die geselsery hoor ek dat die betrokke minister se kantoor die afgelope drie jagseisoen­e geen jagpakkett­e goedgekeur het vir hierdie, sowel as die Sandveld-wildreserv­aat nie. Nou waarom nie? Dit is die Departemen­t van Omgewingsa­ke se geheim, kom die antwoord.

Na my mening is selektiewe uitdunning van wild die behoud van volhoubare wildboerde­ry (ook in reservate) en die suksesvoll­e oordraging van die dominante gene. As wildgetall­e in hierdie reservate handuitruk, sal die wanbalans nagevolge hê wat lank sal neem om te herstel.

Indien daar ’n finansiële ant- woord op die departemen­t se “geheim” is, waar kom die fondse nou vandaan om die nodige herstelwer­k aan die geboue te doen? (By die ingang lê ’n gedeelte van die dak op die grond.)

As ons nie benut nie, kan ons ook nie bewaar nie. JOHAN REYNEKE

DIE VERGETE .303

In 1974 was my pa besig met sy laaste weermagkam­p toe hy besluit om ’n .303-geweer by die Weermag te koop. Die wapen was nuut, nog in sy “oliesak”. Dit beteken die geweer was nog vol ghries en is nog nooit gebruik nie. Waar my pa op daardie stadium die geweer gebêre het, weet ek nie.

In 1980 het my pa se broer, oom Willie, ’n plaas in die Naboomspru­it-area gekoop en besluit om ’n huis daar te bou. Dit het hy stuk-stuk gedoen en oor baie jare. Met die bouery en ander werk op die plaas het ons elke vakansie gaan help en elke beskikbare geleenthei­d wat ons gehad het, is ons gesin na oom Willie se plaas toe. My pa moes op een of ander stadium die ou .303 daar by oom Willie “gestoor” het.

Ek en my neefs (wat baie ouer as ek was) het graag gaan vlakvarke skiet met die .22 – geen korrel en geen teleskoop was op die geweer nie, ons het sommer so uit die heup uit geskiet! Lekker dae.

Toe ek 13 was, het ons Vrystaat toe getrek en ons is nie weer plaas toe nie. Na skool het ek in Pretoria gewoon. Ek en my gesinnetji­e is een naweek Naboom toe en dit was wonderlik om my tannie Annetjie en oom Willie na jare weer te sien. Hulle het op die plaas afgetree. Na hulle op pensioen gegaan het, het hulle nog 20 jaar op die plaas gewoon. Daarna is die plaas verkoop.

Die nuwe eienaar het een dag uit die bloute gebel en laat weet dat hy ’n wapen in die plaashuis se dak gekry het. Ou mense het mos als van waarde bo-op die plafon weggesteek. Dit is natuurlik waar my pa toe die geweer weggesteek het nadat oom Willie se huis klaar gebou was! My pa het heeltemal vergeet van sy .303 in die “kluis”!

Ek het die wapen gaan haal. Die wit wapensak was vuil en daar was los stukke in die sak. Die kolf was los en gekraak, die res van die hout was gebreek en daar het skroewe gekort. Dit was ’n 1916 SMLE (Small Magazine Lee Enfield) MK III. Gelukkig was die aksie nog pragtig en die loop roesvry.

Die .303 het sedert 1983 (ongeveer vir 34 jaar) daar in die dak van die huis gelê. Die hout het natuurlik nat geword en geswel. Met die hout van twee ou gedeaktive­erde wapens het ek die kolf na die beste van my vermoë herstel. Ek het amper op my rug geval toe ek by die SAP uitvind dat die ou .303 toe nog steeds op my pa se naam was. (My pa het in die 1980’s sy paspoort verloor waarin sy vergete .303-lisensie was.)

En vandag staan dié ou krygsman trots by my in ’n regte wapenkluis. OPPIES OPPERMAN

PERFEKTE DIENS

Ek het in 2015 vir my een van Mauritz Bosman se Perfect Bullet Pullers gekoop. Dit het uitstekend gewerk. Toe het ek ’n klompie ou herlaaide ammunisie in die hande gekry en wou die koeëls trek om die doppe te gebruik.

Die koeëls wou net nie uit nie en in die gestoei het die Bullet Puller Holder tot teenaan die pers gedraai en die ekstra krag wat daarop uitgeoefen is, het veroorsaak dat die metaal gekraak het. (My fout!)

Ek het Mauritz geskakel en vertel wat gebeur het en wou ’n nuwe Holder koop. Sy reaksie het my stomgeslaa­n: “Al wat jy moet doen, is om vir my jou naam en adres te SMS. My Perfect Buller Puller het ’n onvoorwaar­delike waarborg. Ek stuur vir jou ’n nuwe een.”

In ’n wêreld waarin daar min te kies is tussen produkte, is dit dikwels die diens en veral naverkoopd­iens wat die keuse bepaal. Die diens en waarborg van Mauritz Bosman was eersteklas. Nogmaals dankie, Mauritz. ETIENNE MARE

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa