SA Jagter Hunter

Diagnose

Dié dokters dryf jou na drank...

- Deur TUBA VAN DER WALT

Tuba van der Walt

Waar twee of drie wildboere bymekaar is, gaan die gesprek gewoonlik oor sommige jagters wat net plaas toe kom om uit die vuis uit in te gooi en die jagkamp op horings te neem. Nee, sê die jagters, hulle kom plaas toe om die Bosveld se stilte te geniet, dis net sommige wildboere wat dooierus by die jagkamp kom dop en hulle rus versteur.

Dan is daar natuurlik ook jagters – ordentlike, profession­ele mense en hul vriende wat net mineraalwa­ter drink, maar jou na ’n bottel laat gryp.

Sê maar hulle is almal dokters, want jy weet nie wat die verskil is tussen ’n kardioloog, neuroloog, uroloog of enige ander -loog nie, behalwe dat dié groep jou teenliggaa­mpies laat ontwikkel wat jou toleransie verlaag.

Afgesien van die jag, het die sekondêre moeilikhei­d sommer met die intrapslag begin, toe Mevrou Dokter wou gaan fietsry. Haar man, die internis, het met behulp van die plaaskaart vir haar verduideli­k hoe om weer by die jagkamp terug te kom.

Twee dinge is vir jou onverklaar­baar, nee drie: die weg van ’n man by sy vrou op ’n bicycle wat vir haar die verborge weë wil openbaar, terwyl hy self in die donker rondtas (nie letterlik bedoel nie).

“Lovey, you turn left here onto this tar road.” Die blou strepie op die kaart is ’n sandsloot en nie ’n tar road nie, en draai sy daar links, gaan sy laatmiddag ’n onwettige immigrant in Zimbabwe wees.

Laat dit ver van jou wees om in te meng waar ’n man, hoe onbeholpe ook al, met sy vrou besig is. Maar die R-teken op die kaart dui ’n reservoir met suiping aan en nie ’n railway crossing, waar “Sweetie pie” moet regs draai, nie. Hier is nie treinspore, teerpaaie of traffic lights op die plaas nie.

Jy het gevoel soos ’n teater- »

» suster wat woordeloos moet toekyk hoe ’n dokter ’n perfekte vasektomie uitvoer op ’n man wat eintlik vir ’n mangelpros­edure opgeneem is.

Jy het maar stilgebly, omgedraai en al die plaaswerke­rs op Red Alert geplaas. “Mayday, Mayday...” het jy op die noodkanaal die boere langs die Limpoporiv­ier gevra om op die uitkyk te wees vir ’n mooierige bruinkopvr­ou met ’n pienk bloesie op ’n rooi fiets.

Nee, rapporteer die jaggids, die spore het by die pad teen die kalkrantji­e weggeraak. Nee, daar is nie bloed, ’n gebuigde bicycle of ’n leë pepper spray- blikkie nie. Ja, hy het gekyk in die kremetart se mik waar die luiperd altyd sy vleis bêre, daar’s niks.

Jy was heeltemal oorbluf toe Vietsie met haar fiets later rustig die kamp binnery. Duidelik het sy haar man se voorskrift­e en aanwysings bloot net as ’n tweede opinie geïgnoreer en haar eie kop gevolg. Vrouens doen dit, joune ook.

INSKIET-OPERASIE

Intussen is die dokters besig met nesskrop en inskrop vir operasie inskiet, wat vir jou meer pynlik is as die geboorte van ’n brugbaba. Want dié medisynema­nne herlaai self, wat gewoonlik in ’n Babelse ballisties­e bombardeme­nt ontaard. Die gram en greintjie van elke lading word behoorlik gedissekte­er en geanalisee­r en so probeer hulle maar weer en weer.

Citius, Altius, Fortius, vinniger, hoër, sterker, meer slaankrag, om kwes- en misskote, soos vorige jare, te voorkom.

Soos met antibiotik­a, het die gemsbokke hier op die plaas ook al ’n natuurlike weerstand opgebou teen die artse se skrams skote – ’n immuniteit teen skuins standaard .300-koeëls. Dié dat jy ’n .458 Lott, .404 Jeffrey en .505 Gibbs by die skietbaan opmerk.

“Cometh the hour, cometh the man.”

Die tweede onverklaar­bare verskynsel vir jou is hoe dié dokters die mees komplekse en delikate operasies op mense kan uitvoer en dan ’n elandbul op 40 meter kan mis skiet. Heeltemal mis, verseker die jaggids jou. Die stof het bo teen die berg uitgeslaan. Eerder dit, dink jy, as nog ’n bok wat in ICU ingeskiet word. Die roofdiere op die plaas baklei al onder mekaar wie agter watter dokter aanstap. Volgens die spore bly die internis die gewildste takeaway- voorsiener.

ANALISE

Jy is normaalweg nie ’n kwaadaardi­ge man nie, maar met die laai van die vleis Saterdae tree daar gewoonlik komplikasi­es in. Elke karkas word deeglik deur die spesialist­e ontleed om die oorsaak van dood vas te stel.

“Die post mortem op die koedoekoei toon dat die eksogene vergruisin­g van die tweede vertebrae, beensplint­ers veroorsaak het, wat die wande van die aorta binnegedri­ng het en dus op fatale inwendige bloeding dui.”

Die manier waarop die jaggidse wat die vleis moet laai, vir mekaar staan en kyk, laat jou dink hulle wonder ook hoekom die mense wil uitvind waaraan die bokke dood is. Hulle is mos almal doodgeskie­t, die mense was dan daar!

BETAALSLAG

Met die betaling is daar nooit probleme nie. Die dokters weet mos, met net een besoek van jou aan sy spreekkame­r betaal jy vir sy elandbul, vier koedoes, twee kwes-gemsbokke en agt rooibokke.

Dis net “Treffer” se vrou wat ’n wenkbrou lig oor die rooibokooi op die rekening, tot sy besef: “Oh you got one, well done Honey, my hunter.” Met die “well done” kan jy saamstem, sommer met “Honey” ook, maar “hunter” – só ver sal jy darem nie gaan nie.

En dan kla sommige wildboere oor jagters wat te veel drink! Hulle moet dankbaar wees dis nie so ’n sobere sooibrandg­eval soos met dié jaggroep nie.

Jy wou nog ’n paar van die geneeshere se generiese gewoontes uitlig, toe Vrou die neweeffekt­e en prognose van jou storie in jou oor kom fluister.

Okay, miskien het jy met die mediese misskote en doktorale dwaalkoeël­s jou dryfmiddel ’n paar milligram “te warm” gelaai. Maar onthou dis immers nie jy wat die eed van Hippokrate­s afgelê het nie.

As jy nou ’n nugtere diagnose oor die groep moet maak (veral as hulle nie jag nie), hou jy van hulle, eintlik baie. Dis nie dat jy kouekoors of koue voete kry nie, maar jy kan al klaar die grinnik agter die gesigsmask­er sien, daar waar jy weerloos op die operasieta­fel in Pretoria lê.

Gelukkig is dit darem nog net in jagtyd, as jy soggens vroeg in die koue moet uit, dat jou mangels pla.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa