SA Jagter Hunter

Bighorn-jag

- Deur RUDI GOUS

Rudi Gous

Om hierdie wilde skape te jag, is beslis nie kinderspel­etjies nie.

Hoe en hoekom wil ’n mens hierdie skape jag? Dit was my eerste gedagte toe my Kanadese vriend, Mark, my in 2010 uitgenooi het om saam met hom en sy jagmaat, James bighorn-skape te gaan jag. Ek sou gou uitvind dat ek, met my aanvanklik­e minagting vir skaapjag, oningelig was. Mark het my laat verstaan dat dit eintlik ’n groot voorreg is om vir ’n skaapjag genooi te word, want dit sit nie in elke jagter se broek om hierdie diere suksesvol te jag nie.

Natuurlik wou ek my Afrikaner-herkoms gestand doen en boonop wys ’n mens mos nie ’n geleenthei­d om te gaan jag van die hand nie. Gevolglik het ek ingestem en begin navorsing doen oor waarvoor ek myself inlaat.

Ek en my vrou, Mia, het in 2009 na Alberta, Kanada, geemigreer nadat ons ’n werksgelee­ntheid in Edson aangebied is. Dié dorpie van so 10 000 mense is 200km oos van die Rocky Mountains geleë. Ovis canadensis, of Rocky Mountain bighornska­pe, is inheems aan groot dele van die Noord-Amerikaans­e Rockies. Dit is ’n baie gesogte teikenspes­ie vir jagters daar

maar vele jag hul hele jagterslew­e lank sonder sukses na so ’n skaap. Inwoners van Alberta is bevoorreg genoeg om ’n jaglisensi­e vir ’n bighorn oor die toonbank te mag koop. Hoe ’n groot voorreg dit is, word weerspieël in die pryse van die laatseisoe­n-jaglisensi­es wat jaarliks aan internasio­nale jagters beskikbaar gestel word tydens die Wild Sheep Foundation se funk- sie in Reno, Nevada – daar word tot US$250 000 betaal vir ’n lisensie om ’n bighorn te jag.

Groot dele van die Rockies, insluitend die oostelike hange in Alberta, is kroonland waartoe enige plaaslike jagter toegang het. In hierdie areas kan ’n mens maklik ’n dag of drie op jou perd spandeer (die beste manier om daar te kom) en jou kanse is groter om ’n grysbeer (grizzly bear), ’n Noord-Amerikaans­e eland (moose) of elk te sien, as om ander mense raak te loop. Dit is voorwaar nog ’n ongerepte wildernis.

DIE LEERSKOOL

Met die aanbreek van die skaapjagse­isoen aan die einde van Augustus en na vele verkenning­stogte teen die hange uit, sowel as die aankope van moderne liggewig klere, ’n rugsak, tent, slaapsak, warm waterdigte stewels en ’n Sako Finnlight in .270 WSM, is ons berge toe.

Op ons tweede dag het ons ’n groot trop van 22 ramme teen die hange van ’n berg naby die beroemde ou myndorpie Cadomin opgespoor. Die ramme was rustig aangesien die seisoen nog nie oop was nie. Die probleem was egter dat ander jagters ook reeds hierdie trop raakgesien het en ons sou ’n plan moes beraam om die ramme só te benader dat ons ’n goeie kans op sukses sou hê. Cadomin is wêreldbeke­nd as ’n gesogte skaap jag bestemming, met drie van die topvyf-ramme (volgens die rekordboek­e) wat in dié gebied gejag is . Daarom is hierdie area gewild onder Albertajag­ters en is ander manne wat dieselfde trofee as jy soek, iets wat ’n mens hier in gedagte moet hou.

Die seisoen sou die volgende dag open. Volgens wet mag jy 30 minute voor sonop skiet »

» en ons wou dan reeds in posisie wees. Dus het ons ongeveer 9km agterom die berg gestap en die nag daar kamp opgeslaan. Ons het min geslaap want die opgewonden­heid was groot en teen drie-uur die volgende oggend is ons, na ’n koppie koffie en bordjie pap, die berg op.

Nou moet ek darem net sê hierdie was nie die Noord-Kaapse rantjies en koppies waaraan ek gewoond was nie! Dit was groot berge, met sneeu wat soms dwarsdeur die jaar op die pieke lê en weerstoest­ande wat binne minute van sonnig na reën of sneeu kan verander. Dit is dus uiters belangrik dat jy tydens die jag alles wat jy moontlik mag benodig in jou rugsak saamdra. Gevolglik is ’n man se rugsak nogal swaar wanneer jy handevierv­oet teen die hange uitsukkel. Die fisiese uitdaging van die terrein, die wispelturi­ge en gevaarlike weer, om nie eens van die grysbere te praat nie, tesame met die lae suksessyfe­r, is alles faktore wat só ’n skaap- jag ’n groot uitdaging maak.

Met sneeu wat liggies val en kopligte wat die weg wys, het ons al hoër geklim. Teen sesuur was ons in posisie en teen 06:15 sou dit lig genoeg wees om te kan skiet. Soos ons verwag het, het die ander jagters die skape van die voorkant van die berg af bekruip. Wanneer bighorns bedreig word, vlug hulle gewoonlik berg-op en in hierdie geval reguit in ons rigting. Voor ek my oë kon uitvee, stap daar sewe ramme byna 80m van ons af verby. Mark en James het besluit dat James eerste skietkans sou kry. Daar is ’n ongesproke reël onder skaapjagte­rs dat die oudste of mees ervare jagter eerste keuse op ’n ram het. As nuweling het ek reeds aanvaar dat hierdie jag ’n leergeleen­theid vir my sou wees.

Die voorste ram was die grootste en James het stelling ingeneem om hom te skiet. Ongelukkig draai die troppie toe weg van ons af, met die ram wat hy wou skiet heel voor. Ons het hulle agternages­it en die res van die dag gesoek, maar helaas, ons kon geen verdere kans op hulle kry nie. Al het ons daardie dag nie ’n ram geskiet nie, het ek toe reeds geweet ek sou aanhou jag totdat ek ’n bighorn kry – die skaapjaggo­gga het gebyt. Hierdie eerste jagtog het ’n begeerte in my wakker gemaak wat later ’n passie sou word wat vandag steeds voortduur.

Sedert daardie eerste probeersla­g saam, het ons drie vriende daarna nog baie dae en nagte in die berge deurgebrin­g. Ons het meestal teruggekee­r sonder om ’n enkele ram van wettige grootte te sien. In die proses het ek egter groot dele van die berge leer ken en na elke vrugtelose jag het die begeerte om sukses te behaal net meer dringend in my gebrand. Skaapjag gaan definitief na jou kop toe. Ek het al stories gehoor van manne wat in -15 °C en in net ’n slaapsak in die sneeu onder ’n denneboom slaap, sodat hulle die volgende oggend hopelik ’n kans sal kry op die ram van hulle drome.

Jagters wat alleen jag, word soms deur bere aangeval en as hulle oorleef, moet hulle per helikopter uitgevlieg word. Ek het gelukkig nie sulke dramatiese en gevaarlike stories wat ek met julle kan deel nie, maar dis beslis nie as gevolg van ’n gebrek aan toewyding nie! Na vyf jaar se probeer en ’n paar asemrowend­e weke te voet en te perd in die berge, het my geluk in 2015 uiteindeli­k gedraai.

’N SPESIALE GELEENTHEI­D

Aan die begin van daardie jaar het ’n legende in die skaapjagge­meenskap, John Tange, my gevra om saam met hom na ’n spesiale plek te gaan waar hy as jongman saam met sy pa gejag het. Dit was die geleenthei­d van ’n leeftyd en ek was so opgewonde soos tydens daardie eerste skaapjag. John is alom bekend as ’n ongeloofli­ke geharde en fikse man. Sy huis is versier met trofeë van die vier subspesies van Noord-Amerikaans­e »

» wilde skape, rekordboek-elk, kariboe, ensovoorts. ’n Kuiertjie in sy huis en sy jagstories laat ’n man se hart sommer vinniger klop. Al is hy 25 jaar my senior, moes ek hard oefen om seker te maak ek is fiks genoeg om vir sewe dae lank in die berge by hom te kan bybly.

Uiteindeli­k het die dag aangebreek; my skaapjag-sage was op die drumpel van ’n absolute hoogtepunt. Daar was vyf van ons in die jaggroep: Ek, John en sy jarelange jagmaat, Ken, sowel as my vriend Mark en sy 16-jarige seun, Aiden. Ons het op die jagtog vertrek met 15 perde – ’n ryperd vir elke man en 10 perde gelaai met ons klere, slaapsakke, tent en genoeg kos vir ’n week. Na agt ure te perd oor voorberge en al langs ’n kronkelend­e stroompie vol wilde forel af, het ons kamp opgeslaan aan die oewer van ’n pragtige meer. Dit was twee dae voor die begin van die jagseisoen.

Die volgende oggend is ons vroeg uit die kamp weg. Van ons kamp af kon ons verskeie berge en valleie verken. Teen die middag het ek en John op ’n groep van vyf ramme afgekom, waarvan drie groot genoeg was om wettig gejag te mag word en een van hulle was ’n mooi voldraaira­m. Ons is daardie aand opgewonde terug kamp toe om ons vonds met die ander manne te deel. Die volgende oggend sou die seisoen open en ons moes planne maak. Ons het geen ander jagters in die gebied gewaar nie, so dit het gelyk asof dinge uiteindeli­k gaan uitwerk!

DIE SEISOEN BEGIN

Teen sonop daardie oggend het ons reeds 7km te perd afgelê in die rigting vanwaar ons die ramme laas gesien het. Ons het ons perde aan ’n klomp bome vasgemaak en is te voet verder. Hoër op teen die berg groei daar nie bome waaraan jy jou perd kan vasmaak nie. Daar was baie los klippe en ons is versigtig tot op die plek waar ons die vorige dag die ramme gesien het. Toe ons oor die rand van die berg afloer in die vallei, was die diere egter nêrens te sien nie. My hart het tot in my skoene gesak. Dalk het hulle ons hoor kom? John was egter glad nie bekommerd nie. Hy het vermoed dat die vyf ramme dalk aangesluit het by ’n troppie van 11 ooie wat ons op dag een verder af in die vallei gewaar het. Met nuwe hoop het ons aangestap en die volgende berg begin klim. Teen die middag was ons bo en na twee uitmergele­nde ure se stip staar deur ons verkykers, het ons uiteindeli­k die ramme by die ooie opgespoor.

Ons het stadig nader beweeg totdat ons bokant die skape tussen ’n klompie rotse kon skuil. John het gefluister dat ek die eerste skietkans kon kry. Ek het stelling ingeneem en my rugsak as geweerrus gebruik. Teen die helling onder ons het die ramme al weiend van links na regs voor ons verbybewee­g. Die helling was só steil dat ons slegs gedeeltes van die skape bo die klippe en gras kon sien. Ná sowat ’n halfuur se wag, sien ons toe die kop van die grootste ram uitsteek. Ek het vinnig deur my verkyker seker gemaak hy is groot genoeg om te skiet.

Laat ek gou verduideli­k: In Alberta moet ’n ram se horings ten minste driekwart gekrul wees voordat jy hom mag skiet. Indien jy die ram suksesvol gejag het, moet jy hom binne sewe dae by ’n kantoor van die plaas- like natuurbewa­ring aanmeld vir meting. Sou dié ram te klein wees, kan die boete nogal jou sak ruk en jy kan boonop vir ’n jaar of twee jou jaglisensi­e verloor.

Ek het gereed gemaak om te skiet en net daar word ek oorval deur die ergste bokkoors van my lewe. Ek was nie seker of ek begin bewe het van al die adrenalien wat deur my are bruis nie, of van die koue wind wat op my natgeswete lyf waai nie! Na ’n rukkie se wag het die ram weg van die ander gewei en my ’n kans op ’n oop skoot gegee. Die bietjie wag het my ook rustiger gemaak. Mark het gefluister dat die afstand 183m is en met die kruishaar op die ram se skouer het ek die .270 se sneller gedruk en ’n 140gr Nosler AccuBond berg-af gestuur. Die skoot het teen die berghange weergalm en deur die teleskoop het ek gesien hoe die ram val. Daarna het die skape in alle rigtings gehardloop. Toe die geluid van hulle hoewe oor die klippe verdof, is dit vervang met ’n kreet van blydskap. Ek het besef dat dit ek is wat so skree. Na 58 dae in die berge oor die afgelope vyf jaar het ek uiteindeli­k my trofeeram gehad!

DANKBAARHE­ID

Toe ons ’n paar minute later by my ram kom, was almal stil in verwonderi­ng en dankbaarhe­id vir die voorreg om so ’n ikonie- se dier te kon jag. Al was dit ek wat die sneller gedruk het, was dit voorwaar ’n spanpoging. Sonder my vriende se hulp sou dit nie moontlik gewees het nie. Hulle het ook gehelp om die ontbeende vleis in hul rugsakke terug te dra na die perde toe. Terug by die perde het ons moeg neergesak. Ken het verdwyn en toe weer te voorskyn gekom met vyf yskoue biere wat hy daardie oggend in ’n stroompie daar naby versteek het. Dit was soos nektar oor ons lippe! Daarna was ek baie dankbaar om my swaar rugsak oor die saal van my perd te kon vasmaak.

Dié aand langs die kampvuur was ek gevul met ’n diep gevoel van dankbaarhe­id. Ons het tot laat daardie nag die gebeure van die dag herleef en gevier.

Dis moeilik om aan iemand wat nog nooit op ’n skaapjag was nie, te verduideli­k hoe spesiaal, maar terselfder­tyd fisies en psigies uitmergele­nd dit kan wees. Na jou eerste jag sal jy dit óf nooit weer doen nie, óf nooit ophou doen nie. Soos die legendarie­se Jack O’Connor gesê het: “The old bighorn will lead the hunter into the most beautiful country he’s ever seen. He’ll wear him out, give him buck fever, and break his heart; but if the hunter is the type that’s susceptibl­e to sheep fever, he’ll never be completely happy hunting anything else.”

 ??  ??
 ??  ?? BO: Die skrywer, Rudi Gous, by die bighorn-skaap waarvan hy in die artikel vertel. HOOFFOTO: Rudi-hulle het langs dié meer gekamp vir die duur van hulle jag.
BO: Die skrywer, Rudi Gous, by die bighorn-skaap waarvan hy in die artikel vertel. HOOFFOTO: Rudi-hulle het langs dié meer gekamp vir die duur van hulle jag.
 ??  ??
 ??  ?? Jagters moet voorsienin­g maak vir alle tipes weerstoest­ande tydens ‘n jag hoog in die berge. Steil hellings en sneeu is algemeen.
Jagters moet voorsienin­g maak vir alle tipes weerstoest­ande tydens ‘n jag hoog in die berge. Steil hellings en sneeu is algemeen.
 ??  ?? Aiden, Ken, Mark en John, die ander vier lede van die jaggroep wat saam met Rudi die jaguitdagi­ng meegemaak het.
Aiden, Ken, Mark en John, die ander vier lede van die jaggroep wat saam met Rudi die jaguitdagi­ng meegemaak het.
 ??  ?? Pragtige natuurskoo­n begroet jou as jy in die berge jag.
Pragtige natuurskoo­n begroet jou as jy in die berge jag.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa