Skerp messe
André Erasmus
’n Praktiese oplossing wat verseker dat jou messe skerp sal bly in die jagveld...
Stomp messe is ’n frustrasie en ’n gevaar vir enigiemand wat daarmee werk, en nog meer so vir ’n jagter wat deur taai vel, senings en vleis moet sny. Sodra ’n mens krag moet gebruik om te sny, word die kans dat die mes gaan gly en iemand gaan seerkry, al hoe groter. Ek het ’n bietjie by Jaco de Kock, meestermesmaker van NW Knives & Supplies in Klerksdorp, gaan kers opsteek oor hoe om messe skerp te maak.
Daar is ’n verskeidenheid masjiene, stene en “goeters” op die mark, maar die doel van die artikel is nie om daardie toestelle te evalueer nie. ’n Mens moet net wegbly van die goedkoop goeters met staalwieletjies wat stroke staal uit meslemme krap en dit beskadig.
Ons mesmakers gebruik groot bandskuurders om die messe wat ons maak op fyn 800gr-skuurbande te slyp. Die belde skuur staal aan weerskante van die lem weg, totdat daar ’n braam sigbaar is. Die braam ontstaan wanneer die staal so dun is, dat dit wegbuig van die skuurband af en nie afgeskuur word nie. Die maklike manier om die braam te verwyder, is om dit op ’n poleerder ( buff) af te poets, of om dit op ’n leerband te strop. Nie almal beskik oor sulke skuurmasjiene nie en jou messe sal ook nie lank hou as jy dit elke keer as dit begin stomp raak, op so ’n masjien slyp nie.
Die antwoord waarna ons soek, is ’n praktiese oplossing wat sal verseker dat jou messe skerp bly as jy in die jagveld is, sonder dat jy die hele werkswinkel saam hoef te karwei. Voor ons egter daar kan uitkom, moet ons eers ’n paar ander faktore in ag neem, soos die hoek waarteen ons slyp, die materiaal wat ons wil skerp maak, en die materiaal wat ons wil sny.
SLYPHOEK
Volgens Jaco is die ideale hoek waarteen kombuismesse geslyp word sowat 17 tot 20 grade, jagmesse teen 20 tot 25 grade en 25+ grade vir kapmesse en byle. Hierdie hoeke bied die ideale kombinasie van minimum weerstand teen die materiaal wat gesny word en die langdurigheid van die snyvlak. ’n Kombuismes met ’n 25 grade-hoek gaan die tamaties plat druk voordat dit deurgesny is en ’n kapmes met ’n 17 grade-hoek se snyvlak gaan sommer met die eerste kaphou uitbreek. Wanneer jy ’n jagmes slyp wat deur taai vel, senings en vleis moet sny, moet jy die goeie middeweg volg tussen die twee ekstreme hoeke vir kombuismesse en kapmesse.
Byna enige rigiede materiaal kan skerpgemaak word, soos wat menige kantoorwerker kan getuig wat al daardie irriterende papiersnye opgedoen het. Insgelyks kan messe met lemme van goedkoop staal net so skerp gemaak word soos messe waarvan die lemme van hoëkwaliteitstaal gemaak is. Die verskil kom ter sprake by hoe lank die messe skerp gaan bly.
HARDHEID
Die hardheid van messtaal word gemeet op Rockwell se C-skaal (Rc) deur ’n masjien wat ’n skerppuntdiamant in die staal inslaan met die krag gelykstaande aan ’n 150kg-gewig. Met goeie messtaal (soos N690 vir ’n jagmes) mik ons gewoonlik na ’n hardheid van 58Rc wat beteken dat die snyvlak lank sal hou, maar ook redelik maklik in die veld skerp gemaak kan word. Poeierstaal soos RWL »
» behaal tot 63Rc – dis baie hard en moeilik om met die hand skerp te maak. As verwysing kan ek noem dat die maksimum lesing wat die Rockwell C-skaal kan behaal, 65Rc is.
STROP JOU STAAL
Die ideaal is dan om eerder jou messe altyd skerp te hou deur dit oor ’n leerstrop te trek voor en na gebruik. Manshaarkappers se skeermesse word van baie dun staal gemaak en word skerp gehou deur dit net gereeld te strop. Die gedagte kom dadelik op dat daar darem ’n baie groot verskil is tussen menshare en ’n koedoevel, maar Donald McNicol, ’n goudsmid van Klerksdorp, wys daarop dat menshare dieselfde weerstand teen ’n snyvlak bied as koperdraad van dieselfde dikte. Die plan werk met ander woorde baie goed en so ’n strop kan van enige stuk plat harde leer ( veg tan) gemaak word en opgerol word om in jou messetas te bly. Anders kan jy dit ook op ’n plankie vasplak. ’n Dun lagie poleerseep ( buff soap) op die leer verseker dat die strop effektief werk.
Dit gebeur wel dat ’n mes té stomp word om net te strop. Jaco sê die beste is dan om dit op ’n goeie kwaliteit-oliesteen, wat deeglik geolie is, te slyp deur ’n paar hale te roteer tussen die twee kante van die lem. Dit is ’n kuns wat ingeoefen moet word om die regte hoeke te kry, maar dit is baie bevredigend as jy eers die tegniek onder die knie het.
Die steentjies met die stokkie aan wat in ’n rus met voorafgemerkte grade inskuif, is oulik as jy baie tyd het soos byvoorbeeld wanneer jy voor die TV sit, maar dit bied nie dieselfde effektiwiteit as ’n volgrootte oliesteen nie. Dit het heelwat kleiner oppervlaktes en die proses is baie stadig en tydrowend.
INSTANDHOUDING
Dit mag selfs nodig wees om messe van hoëkwaliteit-staal soos RWL na iemand te neem wat dit weer liggies op ’n bandskuurder kan slyp, of jy kan jou eie bandskuurder aanskaf. Die kleiner bandskuurders is baie effektief, maar Jaco waarsku teen oormatige gebruik omdat dit baie van die staal kan wegskuur.
My aksieplan is om, voordat ons jagveld toe gaan, seker te maak dat my messe skerp is deur dit na te gaan en te strop. Terwyl daar geslag word, word die messe dan kort-kort gestrop om die snyvlak in stand te hou. Aan die einde van die dag kan die messe wat stomp geword het, dan vinnig op ’n oliesteen geslyp word. Nadat die jag verby is, sal ek dan my messe (slegs dié wat stomperig is) met die bandskuurder opknap.
Die groot geheim is natuurlik om ’n klompie goedkoop messe saam te neem waarvoor jy nie jammer is nie. Dis ideaal vir die plaas se slagters se gebruik, want hulle hou daarvan om messe op klippe te slyp en sommige van hierdie slypklippe kan ’n lem lelik beskadig.
Bly skerp!