Die 9.3’s – handige medium-kalibers
Johan van Wyk
Met ’n 9.3 in jou hand is jy reg vir Afrika.
My eerste kennismaking met ’n 9.3mm-kaliber was in die vroeë 1980’s toe my pa ’n gebruikte B-Tipe Oberndorf Mauser in 9.3x62 by iemand in Pietersburg (vandag Polokwane) gekoop het. Uiteraard was ek as geweermal-seuntjie baie opgewonde oor dié aankoop, maar die omstandighede waaronder die geweer aangeskaf is, is in retrospek ook nogal interessant.
Ons het die verkoper by sy werksplek ontmoet om die nodige papierwerk te doen – ’n aansoekvorm en ’n handgeskrewe toestemmingsbrief aan my pa om die geweer te kon stoor. (Destyds was dié informele manier wettig). Hierna het ons na die verkoper se huis gery om die geweer te gaan haal – sonder die verkoper. Hy het doodluiters beduie in watter hangkas in sy huis sy gewere gestoor word en ons was welkom om die geweer op ons eie te gaan haal, aangesien sy huis nie gesluit was nie!
Alhoewel die vorige eienaar die geweer baie gebruik het, was dit steeds in ’n goeie diensbare kondisie. My pa het oor die volgende paar jaar heelwat wild met dié Mauser geskiet, insluitende ’n seekoei in die Lundirivier in Zimbabwe. Wat ek ook op hierdie stadium geweet het, is dat my pa se goeie vriend, Gerrie Minnaar, vir baie jare ’n beesboer van Tsholotsho (noord van Bulawayo), ook ’n stoere 9.3x62-man was wat deur die jare heen dosyne leeus, buffels en ander diere met sy getroue FN 9.3 gejag het. My pa se stories van sy jagte saam met Gerrie Minnaar was genoeg aansporing om my te oortuig dat ek ook eendag ’n 9.3 sal moet besit. Maar die storie van my eie 9.3 sal eers tot later moet wag.
9.3X62-GESKIEDENIS
Die 9.3x62 is deur ’n Berlynse geweersmid, Otto Bock, in 1905 bekendgestel. Verskeie bronne maak melding van die feit dat Herr Bock die 9.3x62 spesifiek vir setlaars in Duitsland se destydse Afrika-kolonies soos Tanganjika ontwikkel het, maar of dit wel so was weet ek nie. Wat soos ’n paal bo water staan, is dat die Mauser-fabriek die 9.3x62 feitlik onmiddellik aangeneem het en bekostigbare en betroubare gewere begin uitvoer het na al die uithoeke van die aarde waar destyds grootwild gejag is. Ammunisie was ook beskikbaar, nie net van Duitse bronne nie, maar ook van Brittanje waar dit deur Imperial Chemical Industries (Kynoch) gelaai is.
Ballisties is die 9.3x62 nie noodwendig die vuurwarm
nommer wat ’n mens sou verwag van so ’n legendariese kaliber nie. Die brood-en-botterlading vir dié kaliber was nog altyd ’n 286gr-koeël teen ’n geadverteerde 2 360vps wat ongeveer 3 500vt/lb se energie ontwikkel. Met die oog op gevaarlike wild is ammunisie ook gelaai met volmantelkoeëls (solids), ten einde voldoende penetrasie op diere soos olifante te verseker. Mettertyd het ammunisie met ligter en swaarder koeëls beskikbaar geword, maar dit was die 286grkoeël wat Herr Bock se uitvinding se reputasie gevestig het. Die relatief lae trompsnelheid het goeie koeëlprestasie verseker met die destydse loodkernkoeëls. Die terugskop was ook heeltemal aanvaarbaar.
Met die 9.3x62 se wye blootstelling is dit vanselfsprekend dat die kaliber van die begin af op groot- en kleinwild gebruik sou word. Op diere soos buffels en olifante het jagters gou uitgevind dat die 9.3x62 voldoende slaankrag het as die skut sy deel doen en die koeël op die regte plek plaas. Ook die feit dat vyf van die slanke 9.3-patrone in ’n standaard Mauser-magasyn kon inpas, het in die kaliber se guns getel.
’n Vriend van my het in die 1990’s in Mosambiek ’n man ontmoet wat ’n storie vertel het van hoe hy sy eie lewe gered het met ’n 9.3x62 toe ’n trop leeus hom wou opvreet. Die feit dat hy vyf patrone in die magasyn gehad het, plus een in die kamer, was die deurslaggewende faktor want hy het al die patrone nodig gehad om die leeus te skiet.
Behalwe Mauser, het Europese vervaardigers soos Brno, Fabrique Nationale, Mannlicher en Husqvarna ook groot getalle gewere in 9.3x62 vervaardig. Dit is versprei in Afrika en gedeeltes van Asië in die era tot en met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Die 9.3x62 het dus voortgeleef op ’n reputasie van betroubaarheid en bekostigbaarheid, faktore wat selfs vandag nog vir skuts baie tel.
NITRO-OORSPRONG
Alhoewel die 9.3x62 by verre die mees populêre 9.3mm-kaliber was, was dit egter nie die enigste of die eerste 9.3 nie. Die oorsprong van die 9.3mm-kalibers kan in der waarheid na Engeland teruggespoor word. Die Britte het tussen 1875 en 1880 ’n hele spul bekendgestel vir gebruik in enkelskootgewere. Van hierdie kalibers was redelik aan die flou kant en bestem vir gebruik in sogenaamde rook rifles – ligte, klein geweertjies bedoel vir ongediertes en kleinwild soos hase.
Toe die nitro-era aanbreek, het Purdey en Westley Richards elk weergawes van die .400/360 bekendgestel maar die ballistiek was weereens niks om oor huis toe te skryf nie: ’n 300 of 314grkoeël teen 1 900vps. In dieselfde jaar wat die 9.3x62 bekendgestel is, het die .360 Nr 2 Nitro Express ook die lig gesien, maar hierdie was ’n perd van ’n ander kleur. Die .360 Nr 2 het gebruik gemaak van ’n afgenekte .450/400 NE-dop en het ’n 320gr-koeël teen 2 200vps geskiet, danksy ’n lading van 55gr kordiet.
Uiteraard het die 320gr, 9.3koeël uitstekende seksionele digtheid gehad en alhoewel die kaliber maar altyd redelik skaars was, het die .360 Nr 2 ’n uitstekende reputasie in die jagveld opgebou omdat dit goed gevaar het op omtrent alle soorte wild. ’n Kennis in Australië wat vir baie jare waterbuffels uitgedun het, het letterlik honderde van hulle geskiet met ’n .360 Nr 2 Manton dubbel, gelaai met die uitstekende Woodleigh-koeëls. Hy het net lof vir dié kaliber.
DIE R-KALIBER
Die 9.3mm het ook aan die ander kant van die kanaal aanklank gevind en die 9.3x72R is bekendgestel in 1890. Hierdie kaliber se dop het ’n rand of rim. Soos die “R” in die kaliber se benaming aandui, is dit vervaardig vir dubbel- en kombinasiegewere. Ballisties was die 9.3x72R (en van sy ander karperde soos die feitlik onbekende 9.3x70R, 9.3x80R en nog so ’n paar ander stiefkinders) egter redelik gekniehalter. Die vernaamste koeëlkeuse was ’n 192-greiner teen ’n besadigde 2 000vps, wat meer bedoel was vir kleiner wild in die Duitse woude as Afrika se groter en taaier diere.
Die 9.3x72R is baie gebruik in sogenaamde drillings, wat meestal twee 12 of 16 boor-lope gehad het met ’n geweerloop onder. Omdat dit ’n baie slanke patroon is, kon die geweerloop redelik dun afgevyl word om sodoende gewig te spaar. Alhoewel ’n redelike klompie 9.3x72R-gewere vervaardig is, het dié kaliber vir alle praktiese redes na die Tweede Wêreldoorlog in onbruik geraak. Na wat ek kon vasstel, is dit net Sellier & Bellot in die Tsjeggiese Republiek wat vandag nog 9.3x72Rammunisie vervaardig.
Die 9.3x72R is in 1900 deur die 9.3x74R opgevolg. Die 9.3x74R was insgelyks bedoel vir gebruik in dubbel- en kombinasiegewere, maar dit was ballisties identies aan die 9.3x62. Die 9.3x74R is tot vandag ’n populêre kaliber en bykans al die Europese vervaardigers van dubbelgewere, goedkoop of duur, bou gewere in dié kaliber. Selfs Ruger het vir ’n tyd hulle No 1enkelskootgeweer in 9.3x74R vervaardig, maar dit blyk tans iets van die verlede te wees.
Een van die 9.3x74R se grootste voordele is dat die lang, slanke patroon hom daartoe leen dat gewere in hierdie kaliber lekker lig gemaak kan word. Die resultaat is dat baie jagters die 9.3x74R gebruik op gevaarlike wild juis omdat dit in lekker ligte en handige dubbelgewere (wat in baie gevalle met teleskope toegerus is) beskikbaar is. Soos genoem, kan alles wat oor die 9.3x62 gesê word net so oor die 9.3x74R herhaal word, aangesien hulle, ballisties gesproke, voëls van eenderse vere is. Verskeie vervaardigers, onder wie Hornady in die VSA, maak 9.3x74R-ammunisie. »
ANDER 9.3’S
» In Skandinawië het die 9.3x57 in vroeë jare ’n mate van gewildheid bereik. Dit is ontwikkel deur die 8x57-dop op te nek na 9.3mm toe en die laaste verwysing wat ek kon vind wat Norma-fabrieksammunisie aanbetref, dui aan dat dit ’n 286grkoeël teen ’n beskeie 2 065vps gelanseer het. ’n Mens loop jou van tyd tot tyd in Husqvarna 9.3x57’s vas wat op M95 Mauser-aksies vervaardig is. Dis nie ’n goeie idee om hierdie ouer Mauser-gewere na 9.3x62 te laat herkamer nie, aangesien die ouer aksies nie die drukvlakke van moderne 9.3x62-ammunisie kan hanteer nie. Norma laai nog soms ammunisie vir die 9.3x57 en doppe is ook beskikbaar, so alhoewel die kaliber se vuur vir alle praktiese redes dood is, is daar nog lewe in ’n kooltjie of twee.
Die 9.3x64 Brenneke is ’n goeie bewys dat die lewe nie aldag regverdig is nie. Soos die kaliber se naam aandui, is dié uitstekende kaliber deur Wilhelm Brenneke ontwikkel, in alle waarskynlikheid as kompetisie vir die .375 H&H Magnum. Brenneke het hom uitstekend van sy taak gekwyt en die 9.3x64 is ballisties ’n swaargewig. Fabrieksammunisie was beskikbaar in ’n hele rits koeëlgewigte, van 232gr teen ’n stewige 2 770vps tot 293gr teen ’n ewe indrukwekkende 2 570vps. Die 9.3x64 is ook ontwerp om goed deur ’n standaard-lengte M98 Mauser-aksie te funksioneer en benewens Brenneke self, het selfs Mauser klein hoeveelhede gewere in 9.3x64 gekamer.
So ’n goeie idee soos wat die 9.3x64 was, het die kaliber histories egter nooit kommersieel naastenby so populêr soos die 9.3x62 geword nie. Nóg ammunisie, nóg gewere vir die Brenneke was vrylik beskikbaar en om dinge te vererger, het die ammunisievervaardigers 9.3x64ammunisie gelaai met koeëls wat ontwerp is om teen snelhede van 2 400vps of stadiger te funksioneer. Die resultaat was dat die 9.3x64 histories ’n onverdiende swak reputasie in die jagveld opgebou het as gevolg van swak koeëlprestasie. Ongelukkig het hierdie toestand nie verbeter tot redelik onlangs nie en selfs ammunisie wat in die 1980’s gelaai is deur RWS in Duitsland, was steeds nie heeltemal mans genoeg om die 9.3x64 sy verdiende plek langs die .375 H&H te gee nie.
Vandag is die situasie uiteraard baie anders en die herlaaier kan met behulp van verskeie premiumkoeëls op die mark die warm Brenneke-swaarkaliber se sterretjie baie helder laat skyn. Een verwysing na die 9.3x64, wat ek raakgelees het noem dié kaliber “hell on wheels” as dit met die regte koeëls gelaai word. So, dat die 9.3x64 beter verdien en tot uitstekende prestasie in staat is, is nie altemit nie.
In ’n verrassende skuif het die Finse vervaardiger, Sako in 2003 die 9.3x66 (oftewel .370 Sako Magnum) bekendgestel. Dit was om die beweerde ballistiese gaping tussen die 9.3x62 en 9.3x64 te vul. Alhoewel dit ’n goeie idee op papier was, het probleme ontstaan toe dit geblyk het dat die aanvanklik geadverteerde ballistiese gegewens van die nuwe kaliber ietwat optimisties was en afwaarts aangepas moes word. Die 9.3x66 bly egter ’n baie handige kaliber en dit is al met groot vrug op alles tot en met olifante gebruik. Ammunisie in Suid-Afrika is egter skaars en duur en alhoewel ek ’n paar 9.3x66-eienaars ken, moet ek bieg dat ek nog nooit ’n nuwe geweer in hierdie kaliber op die rakke gesien het nie. Dis steeds net Sako wat nog gewere in 9.3x66 vervaardig.
BAIE GEWILD
Na alles gesê en gedoen is, is dit egter steeds die 9.3x62 wat kop en skouers bo die ander karperde in die 9.3mm-stal uitstaan. Alhoewel die kaliber se populariteit in die laat 1970’s en vroeg 1980’s afgeneem het, was die 9.3x62 teen die begin van die 1990’s weer baie gewild en het meer en meer vervaardigers weer gewere en ammunisie begin vervaardig vir Otto Bock se staatmaker.
In Suid-Afrika geniet die 9.3x62 feitlik legendariese status, tot so ’n mate dat ek al gewonder het of die mense wat dié kaliber se lof besing, die vermoë verloor het om ballistiese tabelle te ontleed of selfs net helder te kan dink. Ek is die eerste een wat sal erken dat die 9.3x62 ’n uitstekende kaliber is, maar soos met alles in die lewe, het dié kaliber sy beperkinge. Ek moes eendag luister hoe ’n oom my vertel dat my .375 “Holland” maar ’n redelike krom trajek het maar dat sy 9.3x62 se koeël “weer begin optel” na 200 meter! Ek wonder wat Isaac Newton hiervan sou gedink het! ’n Ander verstommende ding wat ek oor die 9.3 moes aanhoor, was die dag toe ’n bekende professionele jagter van Zimbabwe vertel het dat sy 9.3, gelaai met ’n bepaalde solid, ’n groter wondkanaal maak deur ’n olifant as ’n .500 NE. Jammer, maar ’n koeël met ’n deursnee van .366” sal net nooit gelyk wees aan een met ’n deursnee van .510” nie!
Onsin praat ter syde, die 9.3mm-familie bestaan uit ’n paar interessante en hoogs bruikbare lede wat baie diep spore in Afrika getrap het. Desnieteenstaande terugslae en oorloë, is hulle steeds met ons – net té goed om te verdwyn.