As pa’s en seuns saam jag
Geoff Crewe-Brown
“Daar’s hy!” fluister ons gids en beduie na die klompie bosse ongeveer halfpad teen die hang. Ons loer versigtig oor die hang en sien ’n pragrooibokram wat niksvermoedend staan en wei in die flou Karoo-sonnetjie. Dis ’n snerpendkoue wintersoggend en die son het net-net sy pad oor die koppies van Steytlerville gewoel.
Llewellyn haal die .270 saggies oor terwyl hy vra, “Pa, waar moet ek mik?” Die afstand is sowat 150m en ek weet hy jeuk om ’n kopskoot te skiet, maar ek sien dat die bok reg staan vir ’n veilige bladskoot (sonder ’n moontlik- heid van te veel vleisskade).
“Die blad lyk reg,” fluister ek en hy skuifel oor die rantjie om beter aan te lê...
VOORBEREIDING
Ons jagavontuur het, soos die meeste sulke ervarings, maande gelede begin toe ons ’n groep kliënte en kollegas van ons maatskappy genooi het vir ons jaarlikse jag. Dié keer het ons besluit om ons seuns ook saam te neem, min wetend dat die besluit sou lei tot meer opwinding en afwagting as ooit tevore.
Byna daagliks het ons seuns die gewere gediens, patrone getel en verkykers skoongemaak. Sommer vinnig is daar ook ’n WhatsApp-groep gestig om die groot groep van agt pa’s en ses seuns op hoogte te hou van nuus en reëlings. Die skietbane in Pretoria was bedrywig, want die seuns het ons elke naweek uitgesleep daarheen om te oefen.
Ons jag jaarliks in die Karoo naby Steytlerville by Hartbees Safari’s wat aan Paul Berg behoort. Hy het oor die jare heen ’n goeie vriend geword. Dit was droog, maar gelukkig het dit wel gereën voor ons koms en die veld was in ’n beter toestand as ’n paar maande tevore.
Na ’n 11 uur lange rit en effense teenspoed – ’n pap wiel en ’n sleepwaentjie se as wat opgepak het – het ons veilig op die plaas gearriveer.
BLYPLEK
Hartbees Safari’s se luukse-akkommodasie, voorsien aan almal ’n eie kamer of rondawel. Met drie braaiplekke wat beskikbaar is kon ons ook elke aand op ’n ander plek braai en
Dis ’n maatskappyjag met ’n verskil...
kuier; tog bly die boma maar steeds die gunsteling-kuierplek.
Die eerste middag na die groot afpak is ons vinnig skietbaan toe om seker te maak dat al die roere nog op die regte plek skiet. Tevrede, het ons die tienerseuns gelos om nog ’n paar blikkies met die .22’s te skiet terwyl ons manne ’n lafenis nuttig in die kroegarea. Daarna was dit braaityd, met Karoolamtjops op die spyskaart. Die stilte en rustigheid van die Karoonag het die sorge van die gejaagde stadslewe sommer dadelik laat wegsmelt.
JAGPLEK
Hartbees Safari’s bestaan uit twee reusekampe (natuurlik ten volle omhein) met verstommend baie wild. Koedoes, springbokke, rooibokke, ’n blouwildebees, gemsbok en ’n eland was op die jagspyskaart. Paul is ’n tradisionele jagter wat vereis dat alle wild te voet geskiet moet word. En dit is ook so dat stap en bekruip ’n baie meer bevredigende jagervaring bied as om bloot bok- ke van agter op ’n bakkie te jaag en te skiet.
Die plaas het hope rante en dan ook lekker vlaktes wat beide vlakte- sowel as ruigtewild huisves. Die vlaktes vereis soms lang skote, maar die wild is redelik rustig en met geduld sal ’n jagter elke keer ’n kans kry.
Die eerste oggend was ons douvoordag wakker en met ’n stomende beker boeretroos en Ouma-beskuit is die laaste slaap weggedryf. Paul gebruik twee gidse en hyself gaan ook elke dag saam met jagters uit. Ons het in drie groepe verdeel, Danie, Jaco en hul seuns is vlaktes toe saam met Paul, met springbok op die spyskaart. Johann en Coenie en dié se seuns is agterste rante toe saam met Eben, op soek na koedoes, en ek en my seun is saam met Henco, Juan en Willem voorste rante toe op soek na rooibokke. Terug na die rooibok...
DIE ROOIBOKRAM
’n Groterige klip bo-op die rant- jie bied ’n gemaklike dooierus waaroor Llewellyn aanlê. Die ram is steeds onbewus van ons. Maar op die laaste oomblik, net voor Llewellyn die sneller druk, beweeg ’n ooi agter die ram in en ek sien hoe hy sy vinger van die sneller afhaal. Dis koud en ek wonder of die bok die wasem wat ons asems uitblaas, kan sien. Die ooitjie het reeds daardie kenmerkende agterdogtige houding, die ore wakker gespits en die nek so half uitgerek om beter te kan sien. Ons versteen almal en mettertyd raak die troppie weer rustig.
Daar is nog ramme wat ongeveer dieselfde grootte is en ek kyk hulle een vir een deur om te sien of een van hulle nie dalk ’n beter skietkans bied nie. Hulle wei egter tussen die spekbome en dus bly die eerste ram die beste opsie. Hy is besig om verder weg van ons af te wei en die enigste oop teiken is nou ’n agter-die-kop-skoot.
“As jy ’n kopskoot kry, vat hom,” fluister ek. Dis stil... en toe praat die Ruger. Die bok val in sy spore, sy bek nog vol gras.
SPRINGBOK
Ons span is op die bord! Tevrede klim ons weer die rant uit om die bakkie te gaan haal sodat ons die bok kan laai, maar toe ons bo kom, merk Henco ’n paar springbokramme op wat net aan die ander kant van die rant op die vlakte wei. Hulle het seker nooit die skoot gehoor nie (as gevolg van die knaldemper).
Juan val plat en lê onmiddellik aan, maar die afstand is te ver en ons besluit om nader te kruip. Van boom tot boom beweeg ons twee stadig teen die helling af terwyl die res van ons groep ons bekruipery sit en dophou (hulle het dit baie vermaaklik gevind). Boude in die lug kruip ek en Juan versigtig tot agter die laaste yl boompies vanwaar ons kan uitloer. Tot ons verligting sien ons dat die springbokke nog glad nie van ons bewus is nie.
Stilletjies en versigtig maak »
» Juan die skietstokke oop en skuifel kniel-kniel agter die stokke in om aan te lê. Vir die tweede keer die oggend blaf die Ruger en vir die tweede keer is ’n pragram plat.
Later, by die huis, weeg ons die ramme – die springbokram slaan die skaal op 32kg met sy binnegoed uit en kop af – voorwaar ’n lekker swaar bok en tipies van die groot springbokke op Paul se plaas.
Die ander spanne het nie so ’n suksesvolle oggend nie en ons herdoop met leedvermaak die spanne sommer na die A-span (dis nou ons wat bokke aan die haak het) die B-span (die span wat nie die blesbokke op die vlakte kon raakskiet nie) en die C-span wat klaarblyklik nie kom jag het nie maar net gaan stap het deur die Karooveld.
MEER SUKSES
Na ’n lekker groot brunch gaan Johann en sy seun, Dandré saam met Paul om blouwildebeeste te soek. Spoedig hoor ons oor die radio’s dat ons kan kom help laai. Op pad na die jagkamp het Johann-hulle die blouwildebeestrop naby aan die pad gewaar en vinnig afgeklim.
Alle jagters weet dat daar selde ’n maklike skoot op blouwildebeeste is en ook in hierdie geval was die blouwilles knaend voor mekaar. Uiteindelik, na baie kere se aanlê, kry Dandré ’n oop skoot en boonop ’n mooi bladskoot. ’n Blouwildebees is mos ’n taai dier en dié ene het berg-op gehol om hoog tussen ruie spekbome te gaan staan. Johann en Paul moes die bloedspoor volg en die bul met ’n kopskoot van kant maak. Dit was beslis ’n reusetaak om die groot bul deur die ruigtes af te dra, maar met almal se hulp het ons uiteindelik geslaag.
Die C-span was ook nou op die bord. Later die middag het Danie en Jaco ’n blesbok ingebring, al drie die spanne was dus aan die gang. Oor die volgende twee dae het die weer warmer geword en die jag meer suksesvol. Henco het ’n jong rooibokram en springbokram platgetrek, Danie ’n pragtige gemsbok en Johann kon ’n groot rooi- bokooi in die rante skiet.
Brendan, Danie se seun, het ’n groot rooibok bekruip en geskiet nadat sy pa gefluit het om die bok te laat stop. Nog ’n paar blesbokke was plat en Jaco kon ’n alleenloperkoedoebul lêmaak. Coenie se seun, Anrich het uiteindelik ook met ’n reusespringbok teruggekom uit die veld.
Paul Berg het beslis ’n slag met kinders – hy maak hulle baie rustig en gemaklik voordat hulle skiet. Sy eie seun, Ferdi is ook ’n behendige jagter wat baie lekker by die klomp seuns inpas. Die seuns het na elke dag se jag rugby gespeel, springhase gejaag of teiken geskiet met die .22’s. Dat daar nie sein op die plaas is nie, help beslis om die manne van hulle fone af te kry. Selfs die TV met DStv-kanale het min aandag gekry.
LAASTE KANS
Coenie het op die laaste oggend van die jag weer probeer om sy eland te skiet. Hy het gedurende die vorige paar dae wel kanse gehad, maar dit is telkens op die laaste oomblik belemmer. Ons het almal saamgespan om hom te help, en teen laatmiddag was daar ’n mooi trop met ’n paar groot bulle naby aan hom. Die vraag is mos, “Waar skiet jy ’n eland?” en die antwoord is altyd, “In die pad!” Nou ja, Coenie het nie daardie raad gevolg nie, maar dit was darem in die vlakte waar die bul geval het en ons kon die Land Cruiser gelukkig tot naby kry. ’n Eland laai nie so maklik soos ’n springbok nie, maar met baie gewillige hande het hy uiteindelik op die Cruiser gekom.
Ons het ons jag op ’n hoogtepunt afgesluit. Die seuns het ’n onvergeetlike ervaring gehad, almal het dit geniet en langs my lê ’n bakkie met biltong en droëwors... In my geestesoog sien ek die lodge, die vlaktes en die klowe. Ek sien ook daardie reusekoedoebul waarop ek aangelê het, maar nie kon skiet nie omdat hy net té mooi was.
Volgende jaar sal die jonger bul wat saam met hom geloop het dalk ook so groot en trots wees en sal ek weer ’n kans kry om ’n Karookoedoe op my kerfstok te kry.