SA Jagter Hunter

Dooierus – Kluisenaar­s

- Deur HERMAN JONKER

Die binnekant van ’n kluis, met die swaar staaldeur gegrendel en gesluit, moet ’n stil plek wees. En ewig donker natuurlik, want met die digte deur kan daar geen dag en geen nag, en uiteindeli­k geen maatstaf van tyd meer wees nie.

Dit moet voel soos die ewigheid daar binne. Tydloos en somber, met die reuk van geweerolie alomteenwo­ordig. Tot daar op ’n dag skielik ’n sleutel in die slot knars en die deur met ’n sagte kreun oopswaai.

As gewere siele gehad het – wat ek glo hulle het, maar nie almal nie – juig hulle seker so ’n slag. Want wat is ’n weggesteek­te geweer anders as ’n stom stuk yster? Wie kan vorm en vlam en fyn gravering waardeer in die stikdonker­te van ’n SABS goedgekeur­de kluis? Dit is eers as die lig instroom en die geweer in die hand geneem word dat hy na waarde geskat word. Dan pronk hy en wys hy sy lyne, fier en sekuur soos sy kunstige skeppers hom gevorm het. En dis eers wanneer hy gelaai word en die slagpen val dat hy werklik betekenis kry.

Al die wapens in ’n kluis is egter nie altyd so gelukkig nie. Daar is ook daardie roers wat lank sluimer.

Jy kry hulle. Gewere wat jaar in en jaar uit maar net daar staan, ongebruik en bykans vergete. Verlate leun hulle daar in die donker teen die stil mure, soos kluisenaar­s in eensame afsonderin­g.

’n Mens kan seker op baie spore terugloop om die rede vir sulke miskenning te gaan soek. ’n Eienaar se gesondheid­skwessies, sy geldsake, geleenthed­e, wat ook al. Maar dit kan ook wees dat so ’n geweer en sy baas mekaar maar net nie mooi kon vind nie. Dat ’n hegte band tussen warm hand en koue staal nooit gevorm het nie en nou staan die versaakte skietstuk maar daar.

Ja, dit gebeur, en dit ten spyte daarvan dat die manne tog so kan sweet oor watter geweer om te kies.

Want of jy nou ’n eerstegewe­er-dromer of ’n twaalfdege- weer-koper is, altyd is daar maar die besluite: Watter kaliber, watter tipe aksie, watter maak, watter model, watter afwerking? En dis nog net die geweer. Dan moet daar ook nog besluit word oor dinge soos ’n teleskoop, ammunisie en bybehore.

Dis moeilike besluite, soos enigeen wat al met ’n hoogswange­r geweerkope­r te doen gehad het, kan getuig. So ’n man het soveel vrae (en soms terselfder­tyd soveel beterweet-antwoorde!). Die belangriks­te vraag vra hy homself egter nie. Wie is ek werklik?

Want dit is miskien die heel belangriks­te: Om eerstens jouself te peil. Watter soort skut, watter soort jagter, watter soort mens jy werklik is, want dan sal jy weet wat dit is wat jy wil doen met die geweer. Waar presies lê jou natuurlike ingesteldh­eid? Is jy in wese ’n stapjagter of ’n presisiesk­ut? Is die versorging van ’n geweer vir jou ’n plesier of ’n taak? Sien jy dinge verkieslik deur ’n teleskoop of geniet jy die instinktie­we swaai van ’n haelgeweer? Is jy dalk eerder ’n sportskut as ’n jagter? Of andersom? Wat as jy eintlik nie een van die twee is nie en jou belangstel­ling eerder in iets heel anders lê?

Maar so eerlik is ons nie. Altans nie met onsself nie. Ons kyk graag met anderman se oë.

Alte dikwels is dit projeksie wat ’n geweerkope­r beïnvloed. ’n Geïdealise­erde siening van homself wat hom noop om iets van sekere betekenis te besit in ’n poging om homself te onderskei. (Is dit nie maar – as ons werklik al die uieskille van die ego afstroop – hoekom iemand byvoorbeel­d streef na die duurste of die beste of die kragtigste nie?)

Soms is dit advies wat hom ’n spesifieke wapen laat kies. ’n Advertensi­e miskien, of ’n vriend wat hom voorskryf, of iets wat hy êrens gelees het. Of dit kan groepsdruk wees, soos die huidige mode wat dikteer dat geen skut die goue poorte van die vuurwapenh­emel sal haal as hy nie op sy knieë neerval voor die 6.5 Creedmoor nie.

So gebeur dit dat mense gewere koop wat hulle nie pas nie, wat hulle nie nut voor het nie, of waarmee hulle nie gemaklik is nie.

Maar daar kan ook ’n ander oorsaak wees vir ’n geweer wat sy dae in eensame ballingska­p slyt. Swak skote.

As ’n man ’n nuwe geweer koop, veral as hy sy hand diep in sy sak moes steek en lank vir hom moes wag, is sy verwagting­e groot. En as dit dan gebeur dat die jag of die skietery waarna hy so uitgesien het op ’n onsmaaklik­heid uitloop, is die teleurstel­ling erg. Maak nie saak of dit die geweer se fout is of nie. Ego is mos maar selde ’n regverdige regter.

Die resultaat? In plaas daarvan om die werklike probleem te soek en te probeer regstel, word die stomme skietstuk verban na die donkerste hoek van die kluis.

Aan die keersy van die munt is daar egter ook die gerespekte­erde kluisenaar­s. Vuurwapens wat eenkant rus omdat hulle verhewe geag word bo die algemene werkers. Onder hulle tel erfstukke, verslete ou pioniers, rare kalibers en roers wat swaar dra aan sentiment. Hulle staan nie in onbruik as gevolg van minagting nie. Inteendeel, hulle word beskou as te kosbaar om sommerso te gebruik.

Ja, agter die swaar deure van ons kluise is alle gewere nie ewe nie. In die stil rye sal jy roers van wisselende status vind. Alledaagse werksgewer­e, geleenthei­dsgewere, spoggewere, spesialisg­ewere, en natuurlik ook kluisenaar­s. En soos versamelaa­rs en winskopiej­agters weet; in die geledere van die kluisenaar­s vind jy soms die interessan­tste karakters.

Dit moet voel soos die ewigheid daar binne. Tydloos en somber, met die reuk van geweerolie alomteenwo­ordig.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa