SA Jagter Hunter

Bospos – Sê jou sê

E-pos na marisa.beeton@media24.com

-

WENBRIEF VROUENS IN DIE JAGVELD

Ek is ’n vrouejagte­r wat die afgelope 30 jaar verskeie spesies gejag het – van ’n springbok tot ’n eland. My ervaring met manlike medejagter­s was egter nie altyd positief nie.

Met die skiet van my eerste bok het die gids (nadat ek die skoot afgetrek het) aanbeveel dat die bok nie gesoek hoef te word nie, want “the madam took the shot”. Ongelukkig vir die gids het my bok nét daar geval, met die skoot presies waar ek gemik het. Van toe af was ek ’n kranige jagter.

My vraag: Waar is daar plek in die jagtersgel­edere vir vrouens wat jag? As jy nie saam met jou man gaan jag nie, kry jy die meeste van die tyd nie werklik geleenthed­e nie. Tydens sosiale jagte is mans meestal onwillig om vrouens saam te neem. My man jag saam met sy medejagter­s, maar ek word nie saamgenooi nie, doodeenvou­dig omdat hulle nie vrouens in die jagveld wil hê nie.

Dit gaan immers om jag. En vrouens wat bekwaam is, behoort nie as gevolg van hulle geslag uitgesluit te word nie. Ons vrouejagte­rs werk net so hard in die veld vir ons bokke, ons bring in alle opsigte ons kant met die kosmaak in die kamp, sny spoor wanneer nodig en gesels net so lekker oor die dag se jagervarin­g om die kampvuur. Ook bewerk ons net so bekwaam as enige man die vleis wat terugkom huis toe.

Die tyd toe mans die jagters was en vrouens net veldkos bymekaar gemaak het, is verby.

ANDREA BUCKLEY

* Andrea wen die Safari Outdoorges­kenkbewys van R500.

GRONDWET

Die artikel rakende die herlisensi­ëring van vuurwapens in die April-uitgawe van SA JAGTER/ HUNTER maak my bang as ek dink dat hierdie wetgewing sommer goedsmoeds verander kan word. Die hooggeregs­hof het daarop gewys dat geen voorsienin­g gemaak word vir die vergoeding van ’n ingehandig­de vuurwapen (waarvan die lisensie verval het) nie. Dit kom neer op die skending van eiendomsre­g wat teenstrydi­g is met art. 25 van die Grondwet.

Wat keer die owerhede om hierdie wet te verander? Daar word hard gewerk om die Grondwet aan te pas om die veelbespro­ke aangeleent­heid van onteiening van grond sonder vergoeding te wettig.

Nou is my vraag: Wat is die wet werd? As dit so maklik is om die Grondwet te verander om sekeres te pas, dan maak dit die Grondwet mos niksseggen­d en waardeloos. As die regering die grondwet so kan verander, kan hulle mos ook die vuurwapenw­et aanpas en verander.

En wat van die wet op selfverded­iging? Verander dié wet wat bepaal dat wanneer daar ’n ongewensde persoon op ’n ongewensde tyd jou eiendom betree, jy nie op hom/haar mag skiet nie. Skiet jy iemand wat in die middel van die nag ongemagtig in jou huis is, sal jy sien hoeveel moeilikhei­d jy jouself op die hals haal.

THEUNS ELOFF

DUUR PRODUKTE PLA

Ek sit vanoggend die SA JAGTER/HUNTER-tydskrif van Mei 2018 en lees. Alhoewel ek elke maand met afwagting uitsien na die nuwe tydskrif, kry ek dikwels so ’n suur smaak in my mond dat ek na ’n groot pak Rennies verlang.

Ek glo daar is baie armgatjagt­ers (soos ek) wat sal saamstem. Op elke voorblad pronk die mooiste geweer met ’n teleskoop wat deur Koos Barnard getoets word. Hy vertel dan hoe lieflik die geweer of die teleskoop is sodat dit partykeer klink of hy vir vroulief wil inruil vir so ’n geweer of teleskoop. Dis seker goed om al die mooi dinge oor die teleskoop of geweer te sê, maar dan kom ’n mens by die einde van die lofbetuigi­ng... die prys! Tussen R50 000 en R54 000? (Dan is daai sooibrand soveel erger!)

Dink ons redakteur dan dat net ryk mense die tydskrif lees? Kan goeie cheepy teleskope en gewere wat die arm man kan bekostig, nie ook getoets word nie? Ek glo dat die oorgrote meerderhei­d lesers salaristre­kkers is wat nie onuitputli­ke geldelike bronne het nie.

ANTON COLEMAN Die redakteur antwoord: Anton, ons toets darem nie net duur gewere en duur teleskope nie. Gaan lees weer die Apriluitga­we. Daarin verskyn ’n artikel oor Leupold se nuwe teleskoop, die VX-Freedom wat vir net R5 000 verkoop. Ons het ook die CZ 557-geweer getoets wat regtig bekostigba­ar is. In die Januarie-uitgawe het ons die veldtoets bespreek van ’n Howageweer (6.5 Grendel) en hulle kos deesdae rondom R10 000. Ek glo daar word genoeg produkte getoets wat by die “armgatjagt­ers” byval sal vind.

LOS PATRONE

Ek stem saam met Jaco van der Mescht (April-uitgawe) dat pa- trone los te koop aangebied behoort te word. Ek gaan jag een keer per jaar en dink nie dis die moeite werd om ’n herlaaiste­l te koop nie. Ek besit ’n .308 Sako Forester en het al die jare met 168gr PMP’s gejag.

Die laaste jaar of drie was die ammunisie nie meer dieselfde nie. Dit skiet vreeslik rond en bont. Ek sal ook daarvan hou om verskillen­de los koeëls te kan koop, sodat ek kan sien watter ammunisie die beste in my vuurwapen sal werk. Ek sal verseker dan teruggaan na die vuurwapenh­andelaar om twee of selfs drie bokse ammunisie te gaan koop. (En sodoende sal die handelaar steeds sy wins maak.)

ZAINE SWIFT

GEWEERMENE­RE

As jong geweerlief­hebber (30 jaar gelede) het ek my verstom oor die deursneege­weerman se gebrek aan tegniese kennis. Amper almal het gemeen as die koeël uit die loop is, begin dit eers mooi spoed optel...

Toe doen die nuwe regering ons die guns en begin met belaglike wetgewing en opleiding (wat ’n goeie idee was indien dit korrek toegepas sou word) en dit laat die manne besef dat wapeneiena­arskap ’n belangrike voorreg is. Die manne sluit aan by vereniging­s en klubs. Die gebruik van elektronie­se kommunikas­ie bring talle nuwe oulike wapens, messe, optiese toerusting en jagtersnui­sterye onder almal se aandag. Artikels oor nuwe tegnologie laat jagters elke jaar na beter produkte soek en wapenwinke­ls verander van ’n hoekie in die koöperasie na ’n luukse-geweersupe­rmark.

Die wildbedryf ontwikkel en almal wil jag! Die een jagter weet nou meer as die ander. Die manne skiet só ver dat iemand moet bel en sê of dit raak is. Dikloopgew­ere met groot, kragtige teleskope is ook nou aan die orde van die dag.

Dankie vir elektronie­se kommunikas­ie en dankie aan die owerhede vir hulle wapenwette. Saam het julle gesorg vir ’n nuwe generasie wapenkenne­rs en -entoesiast­e.

DAAN GROBLER

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa