In my visier
So vra iemand my onlangs toe ek vertel hoe ek alleen en te voet in die Moordenaarskaroo gaan jag het. Dis ruwe klipwêreld met min paaie, so wat jy skiet moet na die naaste pad gedra word. Die springbokram wat voor my .243 Strasser geval het, moes ek 760m ver dra. Ek het vroegoggend my bakkie aan die voet van ’n berg geparkeer en is toe te voet teen dié steilte uit. Drie ure later, bo-op die plato, het ek op die ram aangelê.
Met die bok in die skadu van ’n kareeboom gebêre, moes ek 7km ver stap om my bakkie te gaan haal.
Maar hoekom? Dié vraag het my ook aan die storie van Rudi Gous se bighorn-skaapjag laat dink wat ons in hierdie uitgawe publiseer. Dit het Rudi in totaal 58 dae oor vyf jaar in die Kanadese berge geneem om daardie skaap geskiet te kry. In die proses het hy herinneringe bymekaar gemaak wat hom sy hele lewe sal bybly.
Sommiges sal moontlik dink dis omdat ’n mens eties wil jag dat jy bereid is om so te swoeg en te sweet. Maar dis nie waar nie, etiek het niks daarmee te doen nie. Dit gaan oor die jagervaring. In ons moderne wêreld het jag volgens my mening ’n afgewaterde affêre geraak. ’n Mak oefening waartydens jy met die minste inspanning en oor die kortste moontlike tyd in die veld jou wild moet oes. Dan keer jy terug na die luukse lodge toe waar jy alles byderhand het wat die groot stad jou bied, DStv ingesluit (behalwe miskien KFC).
Ongelukkig is daar in SuidAfrika nie meer ware wildernisgebiede oor waarin jy kan gaan ronddwaal nie. Jagplase is ons enigste opsie en ek is dankbaar dat hulle bestaan. Ek wil egter iets anders ervaar as bloot ’n vinnige koop-en-loop-ervaring. Daarom skiet ek minder en “jag” ek meer.
Hoe meer jy “jag”, hoe meer beleef jy en leer jy van die veld. Stapjag laat my juwele raaksien wat ek sou mis as ek in of agterop ’n voertuig ry... soos die twee goudgeel gousblommetjies in die Moordenaarskaroo.
Vir honderde meters rondom dié twee was daar net klip... die aarde geskroei deur die driejaardroogte en somerhitte. Maar ten spyte van die swaarkry het die twee se goue glimlaggies my daaraan herinner dat die lewe altyd ’n mooi kant het, jy moet net soek daarvoor.
Dis eers wanneer jy die veld op voetsoolvlak deurkruis, dat jy die swoeg en sweet en die bymekaarmaak y van herinneringe inge sal verstaan. Dán sal jy ophou vra, “Maar hoekom?”
Mooi loop!