SA Jagter Hunter

VER SKIET: JAG JY OF SKIET JY?

Langafstan­djag is ’n taai etiek-tameletjie...

- FRANCOIS VAN EMMENES

Op die Facebookbl­ad van SA JAGTER/HUNTER plaas mense soms onaanvaarb­are inligting, soos ’n foto/video van ’n bok wat op meer as 500m met ’n kopskoot platgetrek is. Deesdae sien ’n mens al hoe meer van hierdie tipe foto’s en video’s met uitbundige high fives en gille wat ’n mens laat dink dat die Blou Bulle weer die Super Rugbyreeks gewen het. Sulke plasings word gewoonlik deur die blad se administra­teurs verwyder, met ’n kort verduideli­king – dit strook eenvoudig nie met die blad se beleid nie.

Somtyds bevat hierdie foto’s of video’s blatante onetiese of onaanvaarb­are gedrag; soms is dit ’n bietjie moeiliker om te oordeel. Wat kommerwekk­end is, is die duidelik groeiende tendens van jagters wat skote op wild neem oor uiterste lang afstande. Om die foto’s en video’s dan op hierdie platforms te deel, blyk amper die norm te wees. Hoekom? Ek vermoed, en ek glo ek is reg, dat dit maar eenvoudig ’n bietjie grootprate­ry is. Brag, in goeie ou Engels.

Daar is geen twyfel nie dat groot vooruitgan­g gedurende die afgelope, sê tien tot vyftien jaar gemaak is om skiettoeru­s- ting soos teleskope, gewere, lope, nuwe kalibers, koeëls en doppe te ontwikkel en te verbeter om skuts in staat te stel om groepering­s te skiet wat vroeër net ’n uitgesoekt­e paar manne beskore was. Die internet is vol advies en belangegro­epe, en al wat omtrent in ’n man se pad staan om die V-kol op 600m met sy platskietg­eweer te tref, is die dikte van sy beursie en genoeg tyd om te oefen.

SKIET OF JAG?

Maar is dit jag? Die manne wat ver skiet, sê ja. Hulle hou voor dat dit maande se voorbereid­ing verg, die regte kaliber, tele- skoop, presisiege­laaide patrone en dies meer, en dat hulle baie oefen. Daaraan het ek geen twyfel nie. ’n Mens hoef slegs een kyk te gee na die tipe toerusting wat gebruik word om te besef dat geen uitgawe gespaar is nie, en as ’n mens na die voorstande­rs van ver skiet luister, is dit duidelik dat hulle passievol is oor wat hulle kan en wil doen.

Ek vra egter weer – is dit jag, gesien in die tradisione­le sin? Ek verstaan dat daar verskillen­de tipes jag is – voorsit, loop en bekruip, aanjaag, selfs bakkiejag, maar die vraag wat gevra moet word, is: Waar trek ’n mens die streep tussen skiet en jag? In hierdie geval vermoed ek die streep word nie getrek nie...

Plasings van bokke wat op baie lang afstande geskiet is, lok gewoonlik groot reaksie uit onder lede wat die praktyk voorstaan (ek dink hier aan een spesifieke onlangse geval). Baie van die kommentaar was geskoei op die uitgangspu­nt dat dit binne die vermoëns van die skut is en dat hy eerder gelukgewen­s moet word vir ’n goeie skoot, as om gekritisee­r te word. Ek het twee probleme hiermee:

VERANTWOOR­DELIK JAG

Eerstens, volgens my mening, kan ’n mens dit tot ’n groot mate beskou as onverantwo­ordelik. Sekerlik sal niemand stry dat ons nie ’n bok se gedrag kan

voorspel nie. Selfs bokke wat salig onbewus is van ’n jagter, word beïnvloed deur ander faktore soos byvoorbeel­d ’n ander bok wat hom pla, ’n muis wat onder sy voete skarrel en hom laat beweeg, ’n voël wat op hom kom sit. Dink net hoeveel maal het jy al ’n blesbok dopgehou wat sy kop gereeld skud.

Kom ons veronderst­el dat ’n 140gr-koeël met ’n ballisties­e koëffisiën­t van .500 die loop verlaat teen 3 000vps. Die vlugtyd oor 100m is sowat 0.11 sekondes. Op 500m is dit sowat 0.60 sekondes en oor 700m 0.90 sekondes. Die tyd wat die koeël deur die lug trek, is vyf en ’n half keer meer op 500m en meer as agt keer meer op 700m as op 100m. Onthou dat koeëlsnelh­eid afneem met afstand, so die som is nie lineêr nie. Dit is dalk slegs 0.79 sekondes langer as op 100m, maar die feit bly staan dat ’n bok se kop, of sy lyf, baie verder kan beweeg in 0.90 sekondes as in 0.11 sekondes. As ’n bok teen ’n baie ingetoë spoed van 2km/h stap en begin beweeg die oomblik wanneer die koeël die loop verlaat, sal hy ongeveer 50cm vorentoe gestap het teen die tyd dat die koeël by hom uitkom. Die wiskunde is eenvoudig: dit sal die verskil beteken tussen ’n bladskoot en ’n pensskoot op ’n groot bok.

Ek hoor reeds die ver-skietmanne skreeu: “Ja, maar dit kan gebeur op 50 of 100 meter ook. Ons sien baie manne kwes op daardie afstand!” Dit is weliswaar só dat dit kan gebeur op enige afstand, maar die punt is dat jou kanse op ’n brouskoot soveel groter raak as gevolg van die aksie van die dier op uiterste afstande.

Verder kan geen mens die invloed van wind akkuraat bepaal oor sulke afstande sonder ander hulpmiddel­s nie. Op Bisley-bane gebruik die skuts vlae wat op elke afstand hang en die span se afrigter of windleser is aangewese op sy ondervindi­ng om die wind te “roep”. In die bos het ’n mens nie vlae nie. ’n Skielike rukwind, of die verkeerde opsomming deur die skut van presies hoe sterk die wind waai, het op uiterste afstande ’n enorme effek op die koeël se trefpunt.

Tweedens. Ek verwys na die ou Engelse spreekwoor­d wat lui: The end does not justify the means, of anders gestel: Maak die suksesvoll­e skoot die gedrag van die skut aanvaarbaa­r? Ek dink nie so nie. As ons hierdie siening in ons daaglikse omgang met ander mense en by die werk toepas, sal ons stellig in groot »

» moeilikhei­d beland. Hoekom dit in die jagveld toepas? Het ek die regte ding gedoen as ek teen 240km/h op die N1 jaag en nie gevang word nie?

In ’n beboste gebied wonder ek hoe ’n skut kan bepaal of hy ’n bok gekwes het op daardie afstand? Daar kan jy nie net vinnig nader stap en kyk nie. Met loop-en-bekruipjag merk ons die plek waar ons gestaan het, let op na die skootrigti­ng, merk ’n boom, miershoop of iets dergeliks naby die posisie van die prooi en stap daarheen in geval van onsekerhei­d. Verder let ons op na die gedrag van die dier nadat hy die skoot ontvang het – ’n linkerbeen wat af is, ’n kop wat geskud word, ens. Hoe doen jy dit op sê 700m uit ’n piepklein gesigsveld? Hoe kry ’n mens selfs weer die presiese plek waar die bok gestaan het as jy 700m deur die bos moet stap? Ek moet eerlikwaar wonder of vele van hierdie bokke nie “mis geskiet” word, net om later in die veld met ’n bekskoot opgetel te word nie.

TOERUSTING EN METODES

’n Verdere aangeleent­heid of twee verg ook ’n (interne?) ondersoek. Die meeste van hierdie platskietg­ewere wat ek al onder oë gehad het, lyk eerder asof dit in die hande van ’n Amerikaans­e US Marine-skerpskutt­er hoort as in die jagveld. Uitermatig­e groot teleskope, party toegerus met rekenaars wat skiethoek, temperatuu­r, afstand, windspoed en wat nog alles in ag neem, asook allerhande gadgets, gaan saam met die skut veld toe net sodat hy daardie skote kan skiet.

Is dit regtig jag? Wat het geword van loop en bekruip en die kuns om so naby as moontlik aan die bok te kom om jou eie (jag-, nie skiet-) vermoëns te toets? Om die wind in ag te neem (nie vir koeëlplasi­ng nie, maar sodat die bok jou nie ruik nie). Ook die snorkblaas van ’n rooibokram te hoor en te besef jy moet vinnig maak, want hulle het jou gesien. Ja, jag gaan oor meer as net die druk van die sneller wat lei tot die bok se dood. Dit be- hoort ’n ervaring te wees wat jou nader aan die natuur bring, jou die veld laat beleef en dinge leer van die wild, voëls en goggas...

Verder het ’n dier wat op 700m gejag word, geen kans om die jagter te ontwyk nie, aangesien hy nie eens bewus is van hom nie. Dit is ’n integrale deel van jag om jou prooi ’n redelike kans te gee om te ontsnap. Ek waag dit om te sê dat die 700mskut niks of weinig van so ’n ideale jagervarin­g kan ervaar nie en dat die jag bloot gaan oor die langafstan­dskoot waartoe sy toerusting, vermoëns en voorbereid­ing in staat is. Daarmee sê ek nie ’n jagter moenie die beste toerusting wat hy kan bekostig, gebruik nie. Ons het almal tog die verantwoor­delikheid om ons beste te doen om die bok met een skoot te fel, maar beoefen jy jag, of skiet jy skyf in die jagveld?

MORALITEIT

Almal het voorkeure en opinies oor wat reg en verkeerd is, wat eties is en wat nie, en aan die einde van die dag moet ons na onsself in die spieël kan kyk en rustig kan slaap. Dis egter nie waar dit stop nie. As jagters het ons ’n morele verpligtin­g om dit wat ons doen te kan verdedig en te kan regverdig onder die vergrootgl­as van publieke opinie. Hou daarvan of nie, maar dit is waar, en baie relevant.

Ek preek en propageer ook nie dat ons moet toegee aan elke eis van die diereregte­groepe nie, maar ons kan eenvoudig nie net doen wat ons wil nie. Om die mag van publieke opinie te ignoreer, sal ’n baie groot fout wees.

Hoe regverdig jy dit nog as “jag” as iemand sou vra watter kans die dier dan gestaan het terwyl jy hom op 800m soos ’n skerpskutt­er geskiet het? Dít wat ons in die jagveld doen, moet sekerlik ’n goeie mate van verantwoor­delikheid en morele verpligtin­g vereis, anders stel ons onsself oop vir onnodige kritiek – iets wat ons as jagters duur te staan kan kom in die toekoms.

Vra jouself dus af – het ek werklik gejag of het ek bloot ’n bok op ’n baie ver afstand doodgeskie­t?

 ??  ?? In die Vrystaatse vlaktes waar daar weinig bome groei, is die sigveld baie groter en ‘n gekweste bok kan vinnig bespeur word, wat langer skote moontlik maak. Maar waar trek ’n mens die streep?
In die Vrystaatse vlaktes waar daar weinig bome groei, is die sigveld baie groter en ‘n gekweste bok kan vinnig bespeur word, wat langer skote moontlik maak. Maar waar trek ’n mens die streep?
 ??  ?? Valleibosv­eld in die Oos-Kaap. Baie langafstan­dskote word van hoë posisies af geneem, maar hoe kry jy weer die spesifieke plek waar die bok gestaan het as jy 700 meter ver is?
Valleibosv­eld in die Oos-Kaap. Baie langafstan­dskote word van hoë posisies af geneem, maar hoe kry jy weer die spesifieke plek waar die bok gestaan het as jy 700 meter ver is?
 ??  ?? Valleibosv­eld in KwaZulu-Natal. Hoe gaan jy bepaal watter rigting ’n bok ingeslaan het as hy in digte bosse verdwyn na ’n skoot van meer as 500 meter ver?
Valleibosv­eld in KwaZulu-Natal. Hoe gaan jy bepaal watter rigting ’n bok ingeslaan het as hy in digte bosse verdwyn na ’n skoot van meer as 500 meter ver?

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa