SA Jagter Hunter

DIE HANEKAMBUL

Die bontskietg­eweer en die kweskoedoe...

- ANDRÉ GERBER

Net nou die dag stap ek by my Duitse oom Erwin Gehring (bynaam Kuno) van die Oos-Kaap in om vir die eerste keer in jare te gaan gesig wys. Ons praat weer jagstories oor koedoes en bosbokke terwyl hy my sy ou staatmaker .270 Sako wys.

In sy studeerkam­er ontdek ek ’n stel koedoehori­ngs wat so half vergete op die mat onder ’n spul papiere lê. En onmiddelli­k sien ek dat dit nie sommer enige bul se horings is nie. Ons gaan haal die maatband en sowaar, die langste horing meet 54.7 duim. Transvaler­s sal nie beïndruk wees nie, maar enige Oos-Kaapse jagter sal vir jou vertel dat dit ’n baie spesiale bul vir hierdie streek is. Kuno het die bul doerie tyd in die spekboomru­igtes buite Uitenhage geskiet.

LANK GELEDE

Met die geselsery word ek teruggevoe­r na die tyd voor elke werf ’n grensplaas geword het. Ons praat weer oor die plaas, Eensaam en 1993 se jagte, en steek vas by die storie van die bontskietg­eweer en die kweskoedoe. Dit was in die verligting­sjaar na die vorige ergste droogte toe ek my pa se kwesbul aan die voetenent van die Hanekam moes doodskiet...

Soos die kraai vlieg was ons net 35km noord van Patensie. Die skurwe steiltes van die Grootwinte­rhoek het soos ’n muur tussen ons en die huis gelê en ons moes 160km met die teerpad Uitenhage om ry om by die jagplek te kom. Daar is ’n korter grondpad oor die Elandsrivi­er en deur die afgronde van Grootrivie­rpoort tot by Steytler- ville, ill maar di dis nie i ’ ’n pad d wat j jy in die donker wil aanpak nie.

DIE HANEKAM

Vroeër daardie middag was ons almal nog op die lemoenwaen­s van Gonnakop besig met die plukkery in een van die Gamtoos se honderde lowergroen boorde voor ons in die donker daar weg is (om koedoes te gaan soek).

Agter die berg was die plase groot en ylbevolk en ek kan nie onthou dat ek een plaasliggi­e op die Kingsley-Sapkamma-grondpad tot by die plaas Eensaam gesien het nie. Die reënval aan die noordekant van die berge is die helfte minder as in Patensie. Patensie se gemiddelde reënval word aangegee as 338mm per jaar met Steytlervi­lle s’n op net 157mm per jaar.

Later L di die aand, d terwyl l ons om die kampvuur sit, het my pa verduideli­k dat ons eintlik baie naby aan die huis was, maar dit was moeilik om te glo. Ek het by die ander vuur loop sit en saam met Trokkies en Patat die rigting probeer kleinkry. Die sterre was verkeerdom en die sigbare karbonkelv­orm van die berg was volgens my pa die noordelike hang van die Hanekam. Maar dit was soveel anders as die Hanekam wat ons aan die Patensie-kant geken het.

DIGTE MIS

Ons begrip van rigting het met dagbreek verder versleg. Die wêreld was bedek met ’n dik miskombers. Eensaam se voorman is saam met my en die aanjaers weg uit die kamp waar hy my op ’n rug bokant die bek van ’n wye kloof sou los. Ek was as elfjarige die jongste van die aanjaers en moes gewoonlik óf die verste voorhoede óf die agterhoede dek. Die plase was op daardie stadium nog meestal oop en dit was nie ongewoon dat ’n jagter soms vir ’n hele naweek lank geen skietkans op ’n koedoe kon kry nie. Daarom moes hulle elke moontlike kans benut.

Jagters het gewoonlik hul posisies voor sonop ingeneem en die aanjaers sou wag tot die son goed op was voor hul begin beweeg het. Eensaam was in die uitloperra­nte van die Grootwinte­rhoekberge se reënskaduw­ee en die topografie het heelwat meer gewissel as die platter noorsveld van Jansenvill­e se blou skaliebank­e. Soms is koedoes in die oorkantste hange van klowe geskiet nog voor die aanjaers begin roer het.

Dié keer is ek op die voorste punt van die suidelike flank in ’n voetpad gelos. Die manne het my in die dik mis alleen agtergelaa­t en is verder al met die rug »

» langs kloof-op om van die bokant af ondertoe aan te jaag. Daar was ’n bewerighei­d in my en ek is nie seker of dit van die koue was nie.

Klank trek ver in die mis. Met my ore gespits het ek die koedoes in die voetpad hoor opkom voordat ek hulle gesien het. ’n Paar koedoekoei­e het skielik soos spoke uit die mis voor my verskyn en net enkele meters van my af geskrik en kloof-af gevlug. Daar was nie ’n bul by die koeie nie, maar die episode het my behoorlik regop laat sit.

Die aanjaers het gewag vir die mis om te lig voordat hulle stadig in die kloof se boonste spekboomru­igtes inbeweeg het. My pa het op die oorkantse hoek van die kloof se nek gesit met ’n paar ander jagters verder af teen die hange.

SLEGTE TYE

Die jaar 1993 was net soos 2018 – ’n baie deurmekaar en onsekere tyd. ’n Knellende droogte het in 1992 die Kougadam, wat al die besproeiin­gsplase in die Gamtoosval­lei van water voorsien, tot onder 10% laat sak en my pa-hulle gedwing om alternatie­we beskikbare grond vir aanplantin­gs te gaan soek. Hulle het plantplek 270km weg in die Visrivier gekry, wat beteken het dat my pa slegs naweke by die huis was. Laerskoolk­inders in die Gamtoos is nie koshuise gewoond nie en die verlange na my pa het behoorlik aan my geknaag. (Eendag het ek per toeval gehoor hoe een oom vir ’n ander een vertel hoe die droogte Kodesa se skuld is omdat mense van verskillen­de gelowe saambid op die kongres. Mense moet versigtig wees wat hulle voor kinders vertel, want ek het daardie gesprek geglo en ’n wrewel in die onderhande­linge vir die nuwe Suid-Afrika gekry al was ek net 10 jaar oud. Ek het geglo dat Kodesa my pa van die huis weggevat het.)

Maar die reën het gekom en my pa was teen 1993 terug by die huis met ’n pragtige nuwe .270 Musgrave. Die aankoop van die .270 het beteken dat ek met my pa se .308 Sako met sy 4x40 Weaver-teleskoop kon jag. Ons het 150gr PMP-fabrieksam­munisie in die .308 gebruik. Jagkoors het hoog geloop.

As my pa maar net kon weet hoe ’n ellendige jagseisoen hy daardie jaar sou beleef...

DIE .270 PRAAT

Die oggendson het stadig die mis begin wegbrand. Ek het myself op die neus van ’n lang rug bevind, met die bek van die hoofkloof aan my regterkant. Die veld was vir lang tye te swaar belaai met Angoras, met die gevolg dat die spekboomva­lleibos wat gewoonlik dig opmekaar groei, baie uitgedun was, behalwe vir die steilste dele teen die kloof se hange. Die kloof het met dreinering al wyer geword totdat dit uitgesprei het in ’n vlakte onder die knoets waarop ek gesit het. Dit was op die suidelike rug van die berg. Die oorkantse rant was omtrent 400m ver. Ek het ’n lekker wye uitsig en skootsvak oor die bek van die kloof en die vlakte gehad.

Die oggend se stilte is verbreek deur die .270 se klap bo in die kloof. Met die tweede en derde skoot het ek geweet daar is fout. Ek het angstig deur die Weaver kloof-op gesoek vir koedoes wat na my kant toe sou afbreek. Daar was geen bewe- ging nie. Die spanning het bly opbou toe nog skote kort op mekaar opklink, met geen tweede dowwer klapgeluid hoorbaar nie. Ek het geweet ’n kwesbok was besig om kloof-af te beweeg en het naarstigte­lik die bek van die kloof gefynkam. Maar daar was geen beweging tussen die wildepruim­e en witgatbome nie.

My pa het êrens vanuit die kloof vir my geskree dat die koedoe baie naby aan my moes wees. Ek was die laaste aanjaer op die suidelike flank, want die ander jagters op die oorkantste hange was te ver weg vir skiethulp. Weer het my pa geskree, “Die koedoe is reg onder jou!” Maar ek kon niks sien nie.

Toe sien ek die horingpunt­e wat tussen die pruimboomt­akke deurbeweeg. Teen dié tyd was my senuwees alreeds rou geskaaf en my hart het behoorlik uit my bors gespring. Ek kon die bul net plek-plek sien soos hy vinnig op pad was vlaktes toe. Vir ’n oomblik het hy uit sig verdwyn voor hy genadiglik in ’n kaal kol 150m van my af vasgesteek het. Hy het teen ’n hoek skuins weg van my gestaan toe ek skiet. Met die skoot het die bul stadig gedraai en omgeslaan. Die koeël het die regterribb­ekas getref en in die linkerkant­ste blad tot stilstand gekom.

Te verstane was die koedoe se kondisie na 1992 se droogte nie watwonders nie. My pa se skoot was ’n onskadelik­e vleiswond – die eerste van ’n paar fiasko’s wat my pa met die .270 sou hê.

Dié geweer het Pa se droomjagse­isoen beduiwel en na nog ’n paar bont skote op koedoes en bosbokke is die geweer Bloemfonte­in toe gestuur sodat Musgrave die loop kon vervang. Daar was glo iets met die loop se groewe fout. Daarna het die .270 mooi geskiet, maar my pa kon net nooit weer vertroue in die geweer opbou nie.

Nodeloos om te sê, die geweer is na die jagseisoen verkoop.

 ??  ?? SEPTEMBER 2018 Die Hanekam vanaf Patensie gesien.
SEPTEMBER 2018 Die Hanekam vanaf Patensie gesien.
 ??  ?? Dié jong bul het André in 2007 tussen Uitenhage en Glenconnor met die .308 Sako geskiet. Links op die foto is Kerneels Viljoen.
Dié jong bul het André in 2007 tussen Uitenhage en Glenconnor met die .308 Sako geskiet. Links op die foto is Kerneels Viljoen.
 ??  ?? BO: Dié Oos-Kaapse bul sal enige jagter se hart vinniger laat klop. Jagters se kanse op die oop plase is beperk en jy moet elke geleenthei­d om te skiet benut.
BO: Dié Oos-Kaapse bul sal enige jagter se hart vinniger laat klop. Jagters se kanse op die oop plase is beperk en jy moet elke geleenthei­d om te skiet benut.
 ??  ?? LINKS: Hier is die kwesbul waarvan André vertel – hy moes die bul doodskiet. Let op na hulle “kamoefleer­drag”.
LINKS: Hier is die kwesbul waarvan André vertel – hy moes die bul doodskiet. Let op na hulle “kamoefleer­drag”.
 ??  ?? Hier is ’n jong koedoe in Oos-Kaapse valleibos. Kuno se Oos-Kaapbul wat 54.7” gemeet het. Die bul is op die plaas Mannetjie buite Uitenhage geskiet.
Hier is ’n jong koedoe in Oos-Kaapse valleibos. Kuno se Oos-Kaapbul wat 54.7” gemeet het. Die bul is op die plaas Mannetjie buite Uitenhage geskiet.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa