SA Jagter Hunter

DIE WATERGAT

’n Stil oomblik in die natuur is soms genoeg.

- NICO STARBUCK

Die rivier maak ’n wye draai om Brekerskop voor dit vir oulaas skuur teen die vaal kranse van Arendshoog­te. Hiervandaa­n kies die lewensaar, wat in die reënseisoe­n sukkel om binne sy walle te bly, gewoonlik koers oor die vlakte tussen die soetdoring­s en wildepruim­e deur.

Nou is hy egter leeg met slegs enkele poele waar die somerkolke die aarde diep uitgevreet het. Teen Arendshoog­te lê die grootste poel. Hier in die elmboog van die rivier rys die kranse vanuit die water boontoe. Aan die oorkant van die krans lê die skoon, gryswit sand wat in die reënseisoe­n daar uitspoel. Waar die sand ophou, klou ’n paar graspolle verbete vas voordat die eerste doringbome begin. ’n Swerm vinke bou elke jaar ywerig hulle neste aan die rivierkant van die bome, maar nou is dié neste leeg en windverwaa­i. Die witkruisar­end se blyplek 20 meter bo die water is ook verlate en die kuiken sweef saam met sy ouers op die lugstrome. ’n Seisoen is verby. Op die vlakte is die veranderin­g van seisoen ook merkbaar in die vaal veld. Net die streep doringbome op die rivierwal is nog groen en die poele word ’n bymekaarko­mplek van alles wat water soek.

By die water is die spore onleesbaar in die sand, maar op die wal vertel die wildspaadj­ies ’n duidelike storie; soos wie laaste kom drink het voor die son sy kop uitgesteek het. Vanmôre was dit ystervark en so met die wegloop het hy probeer om koedoe se spore dood te vee. Elke watergat vertel sy eie verhaal. By elkeen kom die bewoners van die daardie area bymekaar. Net as die gat opdroog sal hulle skuif na die vol- gende drinkplek. Die watergat teen Arendshoog­te is die enigste een wat heeljaar deur sy water hou. Soos die droë seisoen vorder, kom al hoe meer diere hiernatoe. Weliswaar sak die watervlak, maar daar is altyd genoeg vir ’n droë keel.

’N GOEIE SKUILING

Ongeveer vyf meter bo die water strek ’n smal rotslys tot op die rand van die krans – breed genoeg om gemaklik op te beweeg. Hier en daar het struike in die rotsskeure vashouplek gekry en selfs ’n spekboom het regoor die watergat sy wortels ingeslaan. Dit is waarheen ek mik toe ek van die kant af al op die rotslys beweeg. By die spekboom is die lys amper ’n meter breed, maar eindig vlak agter die boom teen soliede rots. By die boom sit ek my rugsak versigtig neer en maak die lys so skoon en gelyk as moontlik. Dit is nog vroeg, maar ek is haastig om in posisie te kom voordat die eerste dagdrinker­s opdaag en my sien. As ek plat op my maag lê, bied die spekboom ’n goeie skuiling en ek kan mooi korrel sonder dat daar takke voor die lens is.

Vanwaar ek lê is dit slegs sowat 15 meter tot waar die sand begin en dis die perfekte skootafsta­nd. Klaar gelaai, begin die groot gewag wat baie geduld verg. Voor ek enigiets kon sien, kry ek die gevoel dat ek nie meer alleen is nie. Ek lê doodstil en probeer om nie ’n lit te roer nie. Dan sien ek hom uit die hoek van my oog. Hy is nog tussen die doringbome, maar kom doelgerig aangestap. Duidelik is hy nie bang om water toe te kom nie, maar tog flits sy oë in alle rigtings. Dit is die grootste bobbejaanm­annetjie wat ek nóg gesien het. Waar die doringbome eindig, steek hy vas en bekyk die watergat. Vir ’n oomblik rus die twee donker oë op my en ek vrees dat hy gaan alarm maak, maar die spekboom en ghillie-pak doen egter hulle

werk en hy begin aanstap oor die sand na die water. Ná hy gedrink het, gaan sit hy met sy rug na die doringbome gekeer en hou homself besig deur te krap waar dit jeuk. Ek is in ’n tweestryd. Ek weet as ek roer gaan hy my sien en alarm maak. Ek besluit om te wag.

Gewoonlik kom drink bobbejane nie so vroeg nie en hoekom is dié ou grote alleen? ’n Beweging tussen die bome laat my gou besef dat hy definitief nie alleen is nie. Die trop kom van oral uit die bos uit en kies koers water toe. Soos mensekinde­rs begin die kleintjies op die sand te speel. Hulle rol en karnuffel mekaar. Iesegrimmi­g sit die grote en kyk. Wanneer hulle te naby aan hom kom, word daar geniepsig na hulle geklap. Twee ander mannetjies kom sit by die grootmenee­r wat duidelik die leier is en ’n wyfie plak haarself agter hom neer en begin soek vir vlooie. Sy is skynbaar ’n gunsteling, want hy sit doodstil en geniet die aandag.

’N VREEMDE DING

Dan volg iets wat ek voorheen al gesien het, maar gedink het ek my verbeel. Ek het eens op ’n tyd deeltyds geboer en hoofsaakli­k aartappels geplant. ’n Bobbejaant­rop het my baie las gegee en ek moes heelwat planne maak om ’n oes te verseker. Ek het eers begin om van die groot mannetjies te skiet met die hoop dat dit die trop sal verwilder, maar dit het egter nie gewerk nie. Ek het toe elektriese heinings om die lande gespan en dit het gedeelteli­k gehelp. Die jong bobbejane en kleintjies is uitgehou, maar die grotes het nog ingekom.

Een oggend het ek die trop gaan voorlê. Dit was nog donker toe ek in my voorafgeko­se plek inbeweeg. Die trop het tot naby die land gekom en daar het ’n paar mannetjies bymekaar gaan sit, ek was te ver om te hoor of daar enige geluide was, maar die handbewegi­ngs was duidelik waarneemba­ar. Hier by die watergat sien ek weer wat ek daardie tyd waargeneem het: Bobbejaanm­annetjies wat naby mekaar sit en ligte handbewegi­ngs maak terwyl daar gesteun en oë gerek word. Dit lyk kompleet of hulle iets met mekaar bespreek. Dan, asof ’n besluit geneem is, staan die leier op en kry koers na die doringbome. ’n Kortaf blaf en die hele trop volg hom. Die twee ander mannetjies wag tot al die bobbejane tussen die bome wegraak voordat hulle ook in daardie rigting beweeg. Duidelik dek hulle die agterhoede.

Eers nadat hulle verdwyn het, besef ek hoe styf my lyf is van die stil lê in een posisie. Ek besef ook dat ek die hele petalje dopgehou het en hoewel ek gereed was met my kamera, het ek nie ’n enkele foto geneem nie. Ek gaan sit regop en hang my bene oor die rotslys. Net toe ek my rugsak nadertrek om die koffiefles uit te haal, hoor ek ’n rooibok snork en ek verstar. Dis egter te laat, my bewegings verwilder die troppie. Ek skink ’n beker koffie sonder om my bewegings te verdoesel. Rustig drink ek klaar en pak my kamera weg. Ek het niks “geskiet” nie, maar om so deel van die natuur te wees, is vir my genoeg.

Ek het nog ’n rukkie daar gesit en peins oor dit wat ek nou al twee keer by bobbejane gesien het en besef weereens dat ons as mens ook deel uitmaak van die natuur. Al is ons in ’n heersende posisie is dit ons plig om die skepping met verantwoor­delikheid te hanteer.

Ek het my ghillie-pak uitgetrek en begin aanstryk kampplek toe. Later sal ek weer die kamera by die kamp los en met my geweer berg-op, weg van die watergate gaan soek vir ’n groot gryse met draaihorin­gs.

 ??  ?? SEPTEMBER 2018
SEPTEMBER 2018

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa