SA Jagter Hunter

KOELKOP HARRY WOLHUTER SE MESSTORIE

As dit nie vir sy mes en sy hond was nie...

- FRANCOIS VAN EMMENES

Dis laatmiddag op ’n koue wintersdag in Augustus 1903. Harry Wolhuter, drie swart polisieman­ne en drie honde is op pad terug na hulle basis nadat hulle langs die Olifantsri­vier gepatrolle­er het. Harry se plan is om by ’n bekende watergat te kamp vir die nag. Die manne, donkies en honde is dors, want hulle watervoorr­aad was reeds vroeër die dag al gedaan. Groot is die teleurstel­ling toe hulle die watergat leeg aantref. Daar was net een keuse: deurdruk na die volgende watergat sowat 10 kilometer verder.

Harry ry solank met sy perd vooruit en spreek met sy konstabels af om hulle daar te kry. Die

pakdonkies sal hom net ophou en dit gaan binnekort donker wees. Bull, sy hond, draf agter die perd op die paadjie wat Harry goed ken – een wat hy gereeld gebruik, selfs snags.

Harry was voorheen lid van Steinaecke­r’s Horse, ’n vrywillige­r kavallerie-eenheid van die Britte gedurende die AngloBoere­oorlog. Hy was ’n gesoute veldsman en het die omgewing baie goed geken. As 26-jarige is Harry in Julie 1902 aangestel deur James Stevenson-Hamilton as veldwagter in die Sabie Natuurrese­rvaat.

Dis reeds donker toe Harry deur ’n stuk veld ry wat kort tevore gebrand het. Net hier en daar is kolle lang gras wat na die brand oorgebly het. Skielik spring twee diere voor hom op uit die lang gras. Harry se eerste gedagte is dat dit rietbokke is (wat algemeen in hierdie streek voorkom). Tot sy verbasing is dit egter twee leeumannet­jies...

LEEUS!

Harry vertel in sy boek, Memories of a Game Ranger: Toe hulle sowat drie meter van hom af deur die gras aangestorm kom, kon hy sien dat hulle sy perd wil aanval. Harry het sy perd skerp geswaai en sy spore in die perd se lieste ingeskop, maar die leeus was te naby. Die naaste leeu het op die perd se kruis gespring waarna die perd wild begin bokspring het en Harry gevolglik uit die saal geslinger is. Intussen het die leeu sy greep op die springende perd verloor. Harry beland toe byna bo-op die tweede leeu wat van die voorkant af kom om die perd aan sy kop beet te kry. Met die valslag gryp hierdie leeu Harry aan die regterskou­er, gelukkig nie aan die kop nie, en sleep hom in die rigting van die Metsimetsi­spruit.

Harry se sterk leerkamast­e en spore het nou en dan in die grond vasgehaak, en as ’n rem gedien sodat die leeu kort-kort ’n iesegrimmi­ge ruk gegee het as die remme te “goed” werk. Harry meld hier dat hy glad nie met dr. Livingston­e saamstem dat ’n persoon geen pyn voel as ’n groot karnivoor hom byt nie. Hy was in uiterste pyn, asook in skok oor wat die leeu met hom gaan doen – eers doodbyt of sommer lewendig opvreet?

Harry se perd kon dit regkry om weg te hardloop, met leeu nommer een agterna en die manhaftige en dapper Bull kort op die leeu se hakke. Terwyl die leeu Harry sleep, “prrr-prrr” hy hard. In Harry se woorde: “Seker in afwagting vir die lekker maaltyd wat hy gaan geniet.” Toe onthou Harry skielik van die mes aan sy regtersy – die mes wat al vele kere uitgeval het op jagte te perd, aangesien dit maar los in die skede gesit het.

DIE MES

Harry het sy linkerarm stadig onder sy lyf deur gedruk en gevoel... En wonder bo wonder, die mes was nog op sy plek!

Hierdie mes het sy eie storie. Harry het eendag by sy vriend se winkel aangedoen en die mes langs ’n blok kaas op die toonbank gesien. Hy het opgelet dat dit ’n “Pipe Brand”-mes was van die maker T. Williams in Smithfield, Londen, en ver te goed om kaas mee te sny. Hy ruil toe sy eie mes vir die Williams-mes en het dit eers jare later met groot geskerts aan sy vriend erken!

Met die mes in sy hand het Harry eers mooi gedink oor die aangewese plek om die leeu te steek. Gelukkig, weens sy jagkennis, het hy presies geweet waar die leeu se hart sit. Versigtig het Harry sy linkerarm in posisie gekry en met twee harde handrugkap­pe die leeu twee keer in sy hart gesteek. Die leeu gee toe ’n brul wat die dooies sou wakker maak en uit desperaath­eid steek Harry hom weer, díe keer in sy keel.

Die laaste steek tref toe die leeu se hoofslagaa­r, en die bloed spuit bo-oor Harry en deurweek sy klere. Die mannetjie het hom onmiddelli­k gelos en weggesluip. Harry het op sy voete gekom en op die kreunende leeu begin skreeu om hom weg te hou. Tóé dink hy aan leeu nommer een wat enige tyd kon terugkom, aangesien die kans dat hy die perd sou vang maar skraal was.

Harry se regterarm was nutteloos – behalwe die erge bytmerke aan sy skouer het die leeu se kloue ook sy pols oopgeskeur en sy ligamente beskadig met die slepery. Met sy tande en linkerhand het Harry die gras aan die brand probeer steek, maar die gras was te nat van die dou. Sy enigste opsie was om skuiling te vind, maar die bome in die onmiddelli­ke omgewing se takke was te hoog en hy kon »

» nie daarin slaag om met net een bruikbare arm in een te klim nie.

Uiteindeli­k het hy ’n boom gekry met ’n lae mik (sowat 12vt bo die grond) en met ’n hewige gespartel kon hy homself daaraan ophys. Hy het sleg begin voel as gevolg van die trauma, bloedverli­es, skok en sy nat, koue klere. Harry het homself met ’n verdere gesukkel met sy belt aan ’n tak vasgemaak, bang dat hy sou flou word en afval.

Die gekweste leeu het nog steeds in die gras lê en kreun, en mettertyd het Harry die leeu sy laaste asem met ’n roggel hoor uitblaas. Harry se blydskap was van korte duur, want hy kon leeu nommer een deur die gras hoor aankom, al op sy bloedspoor langs vanwaar hy die ander leeu gesteek het, tot by die boom. Die leeu staan toe regop teen die boom asof hy dit wil klim. Harry was vreesbevan­ge omdat hy besef het dat die leeu wel die boom sou kon klim.

TOT DIE REDDING

Toe hy op die leeu skree, het laasgenoem­de net ’n oomblik gehuiwer. In daardie oomblik kon Harry sy getroue hond, Bull, hoor naderkom. Met sy aanhitsing het die vreeslose Bull die leeu begin tempteer en kon hom so vir ’n hele ruk weg van die boom hou.

’n Uur of wat later hoor Harry die geratel van blikbekers en borde wat rondskomme­l – een van sy konstabels het hom ingehaal! Toe hy die konstabel skreeuend waarsku van die leeu, het dié soos blits sy eie boom geklim en ook net betyds, want die leeu was reeds in sy rigting op pad. Binne ’n paar minute het die ander twee konstabels en die donkies ook gearriveer. Nadat hulle die leeu verdryf het deur skote in die lug te skiet, is Harry, wat nou uiterste pyn en dors beleef het, uit die boom gehelp.

’n Mens kan maar net dink hoe verlig hy was toe hulp uiteindeli­k opgedaag en hy nie meer in die honger leeu se oë moes staar nie! Die geselskap het geen ander opsie gehad nie as om verder te ry tot by een van Harry se ou oorlogpost­e. Daar was ook nie water nie, maar darem slaapplek in een van die ou hutte. Die enigste water wat sy konstabels na ’n lang gesoek kon opspoor, was vol modder, maar Harry het dit gedrink en sy konstabels het probeer om sy wonde daarmee te was. Hy het dié nag in geweldige pyn verkeer, en was die volgende oggend so swak weens koors dat hy nie kon opstaan nie en het die dag in die hut spandeer.

Sy konstabels? Hulle het ’n klomp mans van ’n kraal daar naby gaan haal en ’n draagbaar geprakseer met sy kombers en houtstompe. Die mans het hom toe vyf dae lank na Komatipoor­t gedra – ’n afstand van oor die 80 kilometer soos die kraai vlieg. Teen hierdie tyd was sy wonde al septies, en Harry was baie siek en kon nie eet nie. Hy het wel liters water gedrink. Sy arm en skouer was reusagtig opgeswel toe hy uiteindeli­k in die dorpie aankom. Dr. Greeves, wat hom eerste behandel het, het ongelukkig geen pynmiddels (toentertyd in die vorm van morfien) gehad nie. Harry is die volgende dag deur sy vriend, ene Dickson, met die trein na die hospitaal in Barberton geneem waar hulle hom beter kon behandel. Hy was weke lank in die hospitaal en het op ’n stadium om sy lewe geveg, maar, sterk man wat hy was, het hy oorleef.

’n Mens kan maar net wonder of vandag se jagters só ’n onderonsie met ’n leeu sou oorleef en so koelkop sou kon bly. Harry Wolhuter was ook baie gelukkig dat sy mes nie uitgeval het toe die leeu hom gegryp het nie, sy getroue hond, Bull die leeus so verpes het, sy lojale konstabels hom bygestaan het en dat die hulp in die vorm van die draers nie te ver was nie. Alles het gelukkig vir hom net reg verloop. Dit was maande voordat Harry weer sterk genoeg was om terug te keer na sy werksverpl­igtinge.

Harry Wolhuter se storie het spoedig oor die hele wêreld versprei en van hom ’n legende gemaak. Hy het 44 jaar lank diens gedoen in die wildtuin en het in 1946 afgetree. Harry Wolhuter is op 30 Januarie 1964 oorlede in Witrivier, Mpumalanga. Ek sou wát wou gee om ’n kampvuurtj­ie met hom te kon deel...

 ??  ??
 ??  ?? Die gedenkstee­n wat opgerig is by die boom waarin Harry geklim het. Die ander gedenkstee­n – sigbaar links agter – is op die plek waar die leeu hom beetgekry het. Dit is onwaarskyn­lik dat dit die oorspronkl­ike boom is, die stomp sit los in die steen en my vriende in die Nasionale Krugerwild­tuin kon ook nie bevestig of dit die oorspronkl­ike boom is nie.
Die gedenkstee­n wat opgerig is by die boom waarin Harry geklim het. Die ander gedenkstee­n – sigbaar links agter – is op die plek waar die leeu hom beetgekry het. Dit is onwaarskyn­lik dat dit die oorspronkl­ike boom is, die stomp sit los in die steen en my vriende in die Nasionale Krugerwild­tuin kon ook nie bevestig of dit die oorspronkl­ike boom is nie.
 ??  ??
 ??  ?? Harry se leerbelt, skede en “Pipe Brand”-mes van die maker T. Williams in Smithfield, Londen. Hy het jare later die mesmakers in Londen besoek – die verkoopsma­nnetjie wat hom gehelp het, was maar baie skepties toe Harry hom vertel dat hy ’n leeu doodgestee­k het met só ’n mes!
Harry se leerbelt, skede en “Pipe Brand”-mes van die maker T. Williams in Smithfield, Londen. Hy het jare later die mesmakers in Londen besoek – die verkoopsma­nnetjie wat hom gehelp het, was maar baie skepties toe Harry hom vertel dat hy ’n leeu doodgestee­k het met só ’n mes!

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa