SA Jagter Hunter

DROOMGEWEE­R

-

Elkeen van ons het seker een. Daardie één geweer wat net so ’n bietjie meer spesiaal is as die ander in die kluis. Dis na hom wat jou hande meestal so half outomaties voel as die swaar deur oopswaai en jy ’n roer soek om na te kyk of sommer net te troetel.

In hierdie uitgawe publiseer ons Gawie Pistorius se artikel oor sy 6.5mm-droomgewee­r. Wat hy geskryf het, het my aan die dink gesit. Wat maak van ’n geweer ’n droomgewee­r?

Dalk een wat hou vir hou op ’n tiekie skiet, een waarmee jy springbokk­e op lang afstande met kopskote kan omdop. Eugene van Niekerk van G&G Varminting het so ’n roer in .243 Ackley. Of dalk ’n pasmaakpra­gstuk wat meer as Johan Rupert se duur buffelbul kos. Ene met’ n pragtige okkerneuth­outkolf en bybehore waarvan byna alles met die hand gemaak is. Hou jy hom in jou hand, kan jy voel hoe kwaliteit uit elke porie van dié meesterstu­k syfer.

Miskien is jou droomgewee­r ’n droomroer, nie soseer oor sy naam of oor hoe hy lyk nie, maar oor die kaliber waarvoor dit gekamer is. Kalibers is mos snaakse goed, hulle laat jou jubel van vreugde of stik van veragting. “Jy skiet met ’ n waaaat? Skoon, heilige bollie daai, goed vir bôggerol.” So braak ons gal as ’n kaliber ons nie geval nie.

Maar hou jy van ’n kaliber, skep jou tong wind en besing jy sy lof... dan bring jy vissermans­tories jagveld toe en die fabrikaat van daardie geweer is sommer ook die beste. Vertel ’n oom my jare gelede daar in Daniëlskui­l se wêreld van sy droomgewee­r, ’n Mauser .22LR. Met hom het hy blykbaar alles geskiet wat in daai wêreld voorkom en sy verste skoot was na ’n jakkals op 400m. “Jy weet Koos,” vertel hy, “die Mausers skiet mos veel sterker as enige ander .22.” So sê hy toe hy weer die Mausertjie by my vat om in die kluis te bêre.

Jou droomgewee­r kan dalk die een wees waarmee jy jou eerste bok geskiet het. Die een wat jy as kannetjie jou pa sien gebruik het... die geweer wat die passie vir rooi duine, kampvure en sterbelaai­de nagte in jou binneste kom lêmaak het.

Verskeie dinge kan geweerdrom­e in jou wakker maak. ’n Foto miskien. Dalk het jy ’n goeie skut in aksie gesien met ’n spesifieke geweer/ kaliber kombinasie of dalk het jy’ n hel dof mentor waarna jy opsien en begeer jy daarom om dieselfde geweer as hy of sy te besit.

Soms kliek jy en ’n geweer net, ongeag die kaliber. Hanteer jy hom, voel alles net reg en met dié roer in jou hande styg jou selfvertro­ue in die jagveld verskeie grade. Gevolglik skiet jy selde mis met hom. Sonder sy bekende greep en gewig oor jou skouer voel jy lomp, half naak en weerloos in die veld.

Jou droomgewee­r hoef nie die duurste fabrikaat of mooiste pasmaakstu­k op die mark te wees nie, dit hoef ook nie gekamer te wees vir die mees praktiese kaliber nie. Ja, ’n droomgewee­r hoef nie pedigree te hê nie. Dit moet net daardie iets hê wat jou laat voel dat julle ware kamerade is...

Hou jy hom vas, moet dit jou wegvoer na Afrika se bospaaie of die wye ooptes van ons vlakteland waar jy die lied van die veld kan hoor.

 ??  ?? 'n Droomgewee­r hoef nie 'n duur pasmaakstu­k te wees nie, dit moet jou net wegvoer na Afrika se bospaaie.
'n Droomgewee­r hoef nie 'n duur pasmaakstu­k te wees nie, dit moet jou net wegvoer na Afrika se bospaaie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa