SA Jagter Hunter

SCLEROPTIL­A AFRICANUS – DIE ROOM VAN DIE OES

Soet sukses na 20 jaar se drome...

-

JOHAN VAN WYK

Sedert ek jare gelede my eerste haelgeweer aangeskaf het en begin luister het na die stories van gesoute voëljagter­s, wou ek bitter graag die geleenthei­d kry om bergpatrys­e (greywing partridges) te jag. Ek het menigmale die verhale oor koue weer, gewillige pointers en steil berghange gehoor, en telkens gedink dat ek ’n plan moet maak om ’n afspraak met die Scleroptil­a africanus te bekom.

Soos dinge maar gaan, werk ’n man se planne nie altyd soos jy gehoop het dit sou nie. Maar in 2007 het ek begin planne maak om die daaropvolg­ende jaar bergpatrys­e naby Rhodes in die OosKaap te gaan jag. Weereens was die noodlot egter die stok in die wiel, hierdie keer in die vorm van ’n troue. My eie troue!

Toe ons die jag begin beplan het in 2007, was ek nog gelukkig ongetroud en meester van my eie tyd, maar ’n jaar later was die situasie heel anders. Toe ek my bruid meedeel dat die beplande troudatum nie gaan

werk nie omdat ek ’n jag in die Oos-Kaap op dieselfde datum geboek het, het dit (sagkens gestel) gemoedere beslis versteur. Dus was dit helaas ’n geval van ‘adieu’ Scleroptil­a africanus.

Iemand het eendag gesê dat goeie dinge geduldige mense tref. Ek weet nie wie die outeur van hierdie betrokke sêding was nie, maar in 2018, amper twintig jaar nadat bergpatrys­e vir die eerste keer op my radar verskyn het, het my droom waar geword om hierdie gesogte voël te jag.

My vriend en kollega Frikkie Coetzee van Cradock in die OosKaap is nie net ’n ywerige voëljagter nie, maar ook die eienaar van ’n paar pragtige Engelse pointers wat met ’n konstante dieet van jag grootgewor­d het. Reeds in 2017 het Frikkie die eerste geluide begin maak van ’n bergpatrys­jag in die hoë bergwêreld van die Oos-Kaap. Ek moes myself knyp om my opgewonden­heid te beteuel, maar in Julie 2018 het die sterre uiteindeli­k opgelyn en ek en my vrou (ja, ek moes haar terugkry vir 2008!) het toe die pad gevat Oos-Kaap toe.

MEER OOR BERGPATRYS­E

Ek het verskeie bronne geraadplee­g oor bergpatrys­e en het gou weer besef hoekom die spesie soveel bekoring inhou vir hardebaard­voëljagter­s. Alhoewel bergpatrys­e in sekere dele van die Oos- en Wes-Kaap tot so laag as seevlak voorkom, is die normale habitat van die spesie in der waarheid op hoogtes van 1 800 meter bo seevlak en hoër. Bergpatrys­e kom redelik wyd verspreid in Suid-Afrika voor en hulle kan gevind word in dele van Mpumalanga, KwaZuluNat­al, die Vrystaat, sowel as die Oos- en Wes-Kaap. Die bergpatrys is ’n pragtige voël met ’n kenmerkend­e roepgeluid, in hulle habitat kom hulle in groepies van tot twintig individue voor. Hulle broeiseiso­en strek van Augustus tot en met Maart en dit is dus noodsaakli­k dat daar nie gedurende hierdie maande op hulle jag gemaak word nie – die amptelike jagseisoen is van 1 Mei tot 31 Julie.

Iemand het my onlangs vertel dat hulle getalle besig is om af te neem in sekere van die laerliggen­de dele van hulle tradisione­le habitat. Die rede hiervoor? Dié beperkte habitat van die bergpatrys word deur die bosveldfis­ant (Swainson’s franclin) gekolonise­er. Hoe waar dit is, weet ek nie, maar dat die bosveldfis­ant se habitat besig is om uit te brei, is ’n feit. Hulle kom vandag in areas voor waar ’n paar dekades vantevore geen bosveldfis­ant was nie.

MY EERSTE BERGPATRYS­JAG

Dit was nog vroeg en snerpend koud toe die pointer wat langs die bakkie gedraf het ewe skielik in ’n soliede “point” versteen met sy neus vasgenael in die rigting van ’n digte pol rooigras. Dit was die teken waarvoor ons gewag het. Ons het so gou as wat ons kon van die bakkie afgespring, ons haelgewere gegryp (met bitterkoue hande) en stelling ingeneem. Ek was opgewonde om uiteindeli­k met die bergpatrys te kon kennis maak.

Binne enkele sekondes het ’n klein groepie bergpatrys­e met ’n geraas uit die gras ontplof. »

» Links van my het ’n skoot geklap en ’n voël het geval, maar my aandag was by ’n patrys wat regs van my verbygevli­eg het. Hy was besig om met die hulp van die stewige bergbries vinnig aanstaltes te maak. My ou haelgeweer het vinnig opgekom en toe dit lyk of die korrel amper myle voor die vlieënde patrys is, het ek die voorste sneller getrek. Vir ’n oomblik het dit gelyk asof die voël stilstaan in die lug en toe, in ’n oogwink val en in die gras verdwyn. Uiteindeli­k, my eerste bergpatrys! Nou kon ek darem ook saampraat oor “uintjies” en “skroppies”!

Toe die jag begin het, het ek my medejagter­s hoor praat van uintjies en skroppies. Ek wou myself nie dommer laat klink as wat gewoonlik die geval is nie, maar die misterie is later in die dag opgeklaar toe een van my jagmaats, ’n boer van die omgewing wat al vir baie jare bergpatrys­e jag, ’n paar dinge aan my verduideli­k: Die belangriks­te komponent van die bergpatrys se dieet is ’n uintjie wat in die berge groei. Die patryse skrop die uintjies uit om hulle te vreet. Dr. PJ Viljoen ( AGRED’s Gamebirds of South Africa, 2005) beskryf die uintjie as “Subsurface monocotyle­donous bulbs”, wat nogal ’n mondvol is vir so ’n klein plantjie. Die voorkoms van hierdie plantjie is egter ’n voorvereis­te vir die oorlewing van die bergpatrys en die areas wat deur die patryse omgedolwe word in hulle soeke na voedsel, staan plaaslik bekend as “skroppies” – nogal ’n baie gepaste, beskrywend­e naam. Skroppies is op hulle beurt weer ’n seker aanduiding van die teenwoordi­gheid van bergpatrys­e en is iets om na op te let aan die begin van elke jag.

DIE JAGAREA IN DIE OOS-KAAP

Die jagarea was ’n afgeleë skaapplaas hoog in die Winterberg­e naby Cradock. Dit was rowwe terrein met baie min gelyk dele, maar terselfder­tyd was dit die mees skilderagt­ige wêreld waarin ek nog bevoorreg was om te jag. Dit was ysig koud, tot so ’n mate dat ek dit nie kon waag om my warm gevoerde onderbaadj­ie uit te trek of sonder my handskoene oor die weg te kom tot heelwat later in die dag nie.

Met die hulp van die honde het ons groot areas gedek in ons soeke na verskillen­de groepies bergpatrys­e, en ek is eenhonderd persent oortuig dat ’n mens se kanse op sukses feitlik nul is sonder goeie pointers. Die honde is uiteraard ook onontbeerl­ik tydens herwinning as voëls gesoek moet word wat in lang gras of rowwe terrein geval het. Bergpatrys­e is redelik skugter, maar as ’n groep met groot geraas op die vlug slaan na ’n suksesvoll­e point, is die aksie gewoonlik vinnig. Hulle weet byvoorbeel­d ook baie goed hoe om van die wind, wat feitlik permanent in die berge waai, gebruik te maak.

DIE REGTE GEWEER EN AMMUNISIE

Voor die jag het ek nogal baie gewik en weeg watter haelgeweer ek moet saamneem. Ek skiet meestal kleie met my Browning 525 OU en die roer pas my soos ’n handskoen. Maar daar was twee dinge wat my laat besluit het om die getroue Browning by die huis te los. Eerstens was die geweer aan die swaar kant (hy weeg oor die 8lbs met sy 30”-lope), en tweedens het hy uitwerpers ( ejectors). Elke keer as ek aan die berge van die Oos-Kaap gedink het, het my lus om heeldag met die Browning te moet bergklim, net minder geword, en uitwerpers is in die veld vir my persoonlik maar van bitter min waarde aangesien ek ’n punt daarvan maak om my doppe op te tel en nie in die veld te laat lê nie. In die hitte van die oomblik kan ’n mens maklik ’n dop of twee miskyk as die uitwerpers die doppe uit jou geweer “skiet”. Ek verkies dus om doppe self uit my geweer se kamers te haal en in my skiet- baadjie se sak te sit.

My keuse van ’n roer het uiteindeli­k geval op my 141 jaar oue Edward Paton & Son-12 boor. Dis by verre die oudste roer wat ek al besit het en ek het die laaste jaar of wat feitlik al my tarentale, fisante en eende met die Paton geskiet. Dit het net reg gevoel om ’n edel voël soos die bergpatrys met ’n klassieke ou Britse haelgeweer te jag. (Dis die regte ding om te doen, soos my vriend Stefan Steyn sou sê.) Die Paton met sy 30”-Damascuslo­pe, ligte gewig en gebrek aan uitwerpers was dus die ideale kandidaat.

Ammunisie-gewys het my gasheer aangedui dat ammunisie, gelaai met ietwat growwer hael, sy voorkeur was vir bergpatrys­e. Maar vanweë my geweerkeus­e sou ek noodwendig beperk wees tot betreklik ligte (30 gram of so) ladings, maar dis iets waarmee ek lankal vrede gemaak het. Swaarder ladings het definitief ’n doel en plek, maar vir fisante en patryse is die ligter ladings heeltemal voldoende. Ten einde vir alle gebeurlikh­ede voorsienin­g te maak, het ek ammunisie met beide nommer 6 (Hull Special Pigeon) sowel as nommer 5 (Eley Hi-Flyer) hael ingepak. Die oggend van die jag was ’n boksie van die Eley 5’e bo in my ammunisies­ak, met ’n boksie van die nommer 6’e in reserwe.

Ek het gou verstaan wat die rede agter die gebruik van die growwer hael was op ’n kleinerige voël soos ’n bergpatrys wat selde meer as 400 gram weeg. Die ietwat growwer hael was uiters effektief op die patryse – almal wat raakgeskie­t is, het nét daar geval en die pointers se werk makliker gemaak.

Volgens Frikkie het hulle in die verlede ammunisie gelaai met nommer 7-hael, maar het oorgeslaan na die growwer hael toe hulle sien dat jy daarmee minder voëls kwes. Tweedens, met die patryse se vermoë om die wind optimaal te benut, kan hulle vinnig afstand tussen hulle en die skut genereer. Die groter korrels behou hulle energie beter oor die langer afstande en help die jagter om meer suksesvol te wees.

BEPERKINGS, UITDAGINGS­ENSUKSES

Die toegelate kwota vir bergpatrys­e in die Oos-Kaap is vier voëls per jagter per dag. Alhoewel dit na bitter min klink, maak die uitdaging van die jag terdeë op vir die beskeie hoeveelhei­d voëls wat geskiet mag word. Die aantal dooie voëls aan die einde van die dag is in ieder geval nie die enigste maatstaf vir sukses nie. Maar so met die verloop van die dag het al die jagters wel stadig maar seker hul kwota geskiet gekry.

My vierde patrys het uit ’n groterige groep patryse weggebreek en skerp na my regterkant toe gevlieg, teen die gebruiklik­e nekbreeksp­oed natuurlik. Die eerste skoot was ’n perfekte mis, maar met die tweede loop het ek die patrys meer gelei en hierdie skoot was dodelik. (My jagvriende sal kan getuig dat ek ’n tweede loop-spesialis is as dit by haelgeweer­skiet kom, en na al die jare sukkel ek steeds om die tweede skoot eerste te skiet!)

Dit was die einde van ’n heerlike dag en ’n langverwag­te jagervarin­g. En iets wat my vir seker baie lank sal bybly...

Een ding wat al die bronne oor bergpatrys­e duidelik maak, is dat die jagter wat jag op hulle maak, hom moet regmaak vir harde werk. Die feit dat die bergpatrys op sulke hoë hoogtes bo seevlak voorkom, impliseer bergwêreld en min suurstof. Ek moet bieg dat ek in hierdie verband definitief nie teleurgest­eld was nie! Volgens ’n slim programmet­jie op my selfoon het ek meer as 21km geloop deur die loop van die dag en om dinge te vererger, het ek nog ’n erge verkoue ook onder lede gehad.

Soos dr. Viljoen tereg opmerk in sy boek: “Every bird bagged will be a prize hard won.” Dit is ’n voldonge feit!

Voor die jag het ek nogal baie gewik en weeg watter haelgeweer ek moet saamneem.

 ??  ??
 ??  ?? BO: Die skrywer se Edward Paton & Son-12 boor wat dateer uit 1877 met die eerste bergpatrys wat voor dié roer geval het. HOOFFOTO: Bergpatrys­e verkies gewoonlik habitat wat 1 800 meter bo seevlak en hoër is. Johan het in die Oos-Kaap gejag en die terrein was prentjiemo­oi.
BO: Die skrywer se Edward Paton & Son-12 boor wat dateer uit 1877 met die eerste bergpatrys wat voor dié roer geval het. HOOFFOTO: Bergpatrys­e verkies gewoonlik habitat wat 1 800 meter bo seevlak en hoër is. Johan het in die Oos-Kaap gejag en die terrein was prentjiemo­oi.
 ??  ?? Ten spyte van die ysige weer was ’n koue bier aan die einde van die jagdag, nadat die honde versorg en die gewere weggepak is, baie welkom! Johan (tweede van links) se gasheer vir die dag was Frikkie Coetzee (tweede van regs).
Ten spyte van die ysige weer was ’n koue bier aan die einde van die jagdag, nadat die honde versorg en die gewere weggepak is, baie welkom! Johan (tweede van links) se gasheer vir die dag was Frikkie Coetzee (tweede van regs).
 ??  ?? ’n Tipiese “skroppie” hoog in die berge. Skroppies word veroorsaak deur bergpatrys­e wat uintjies uitskrop en is ’n seker teken van die teenwoordi­gheid van dié voëls.
’n Tipiese “skroppie” hoog in die berge. Skroppies word veroorsaak deur bergpatrys­e wat uintjies uitskrop en is ’n seker teken van die teenwoordi­gheid van dié voëls.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa