SÓ PAK EK MY GEWEER
HANS ROOTMAN
Ek het vir my ’n Howa in .204 Ruger gekoop wat toegerus is met ’n Hogue-kolf. Hierdie sintetiese kolwe is egter nie baie stabiel nie en veral die voorlaai is geneig om te fleks. Dit veroorsaak dat sommige gewere nie so goed groepeer as waartoe hulle in staat is nie. Daarom het ek besluit om die kolf te pak en terselfdertyd die voorlaai te versterk sodat dit meer stabiel is.
PROFIEL VIR DIE VOORLAAI
My wegspringpunt was om ’n geskikte kanaalvormige profiel van aluminium in die hande te kry en dit in die voorlaai te bed. Toe ek so ’n profiel by ’n teëlwinkel sien, het ek besef dis net die regte ding. Dis sterk, stewig genoeg en het amper perfek in die Howa se loopkanaal gepas – so al asof dit bedoel was vir die Hogue-kolf in plaas van vir teëlafronding.
Ek het dit met ’n hoekslyper grof gemaak sodat die beddingsmateriaal (epoksie) goed daaraan kan kleef. Dit, nadat ek die profiel aan die voorkant ’n bietjie toegebuig en aan die agterkant (naby waar die geweer se aksie is) oper gebuig het. Dis gedoen om die profiel mooi presies in die loopkanaal te laat pas. Ek het genoeg spasie gelaat, so ongeveer 1 tot 3mm vir die beddingsmateriaal om reg rondom die aluminiumprofiel te kan vloei. Verder het ek ’n paar gate in die profiel geboor sodat die epoksie ook daardeur kon druk.
Die Hogue-kolf word verskaf met aluminium-pilare, maar die binnediameter daarvan is nogal groot en laat ’n speling tussen die aksieskroewe en die pilare.
Ek het toe op ’n draaibank my eie “inserts” gemaak wat binnein die Hogue se pilare pas. Hoe korrek dit is in terme van wapensmid-riglyne, weet ek nie, maar vir my het dit sin gemaak.
Om ’n redelike dik stuk beddingsmateriaal te verseker in die kolf het ek die inserts ’n skouertjie gegee wat die aksie en loop met 0.8mm uit die kolf sou lig. Dit beteken teoreties dat die aksieskroewe nou 0.8mm korter sou indraai, maar ek het geglo dat dit op ’n ligte kaliber soos die .204 nie sou saak maak nie.
Die buitemaat van die inserts het ek 0.2mm kleiner gedraai as die binnekant van die Hoguepilare. Dis gedoen sodat ek die inserts voor die tyd kon vasgom sodat dit nie uitval en inmeng as die beddinggedeelte gedoen word nie. Ek het sommer Cassie Nienaber se VASVAT-tweedeelepoksie hiervoor gebruik.
BEREI DIE KOLF VOOR
Tydens die voorbereidingsfase het ek die staaldele kort-kort in die kolf gepas en vasgeskroef om seker te maak dat dit perfek pas en dat daar genoeg spasie sou wees vir die beddingsmateriaal.
Die binnekant van die Hoguekolf is ook grof gemaak met ’n Dremel sodat die beddingsmateriaal ’n beter greep op die kolf sou hê. Moet net nie dieselfde fout as ek maak nie. Ek het so gefokus op die snyer/skuurder/ lem van die Dremel dat ek nie opgelet het na die gedeelte wat die snyer vashou ( chuck) nie. Die chuck draai mos ook teen ’n massiewe spoed en is skurf en waar dit aan die kolf raak, kan dit die kolf beskadig. (Soos op een deel van my kolf.)
Ek het nie mooi geweet hoe om ’n geweer te pak nie en het my kennis hoofsaaklik op die Jaracal-forum opgedoen toe ek opgelees het hoe ’n geweer gepak behoort te word. Sommige mense gom twee 8mmmetaalstafies in die voorlaai vas, maar om dit te kan doen moet hulle van die skotte wat aan die binnekant van die voorlaai aangebring is, verwyder. Ek voel dit verswak die kolf en vandaar my keuse om die aluminium-profiel te gebruik.
Die doel van hierdie hele oefening was om die voorlaai te verstewig, maar steeds die loop te laat vry hang. Dít het ek ook »
» op Jaracal geleer. Verskeie lae maskeerband is om die staaldele (loop) gedraai. Dit vorm ’n buffer wat, nadat dit weer verwyder is as die geweer klaar gepak is, sal verseker dat die loop vry hang.
BOU TOE EN SMEER MILDELIK AAN
Iets wat my baie van die Hoguekolf gepla het, was dat die speling aan weerskante van die loop nie ewe groot was nie – daar was byna geen spasie aan die linkerkant tussen die loop en die kolf nie. Die lae maskeerband “verdik” die loop mos eweredig en sou sorg dat die voorlaai reguit geforseer sou word om eweredige speling tussen die loop en kolf te laat. Om te verhoed dat die epoksie (beddingsmateriaal) op verkeerde plekke beland, het ek daardie dele met speelgoedklei “toegebou” en afgesper.
Tydens jou voorbereiding moet jy ook onthou om iets soos politoer of ’n ander release agent op al die dele aan te wend waar die beddingsmateriaal nie moet klou nie.
Vir beddingsmateriaal het ek op STEENVAS besluit, want dit is wat die meeste mense aanbeveel het. Om die regte kleur te verkry het ek die beddingsmateriaal met oksiedpoeier, wat in die boubedryf gebruik word, gemeng – ook iets wat ek op Jaracal geleer het. My nuwe goue reël is : MENG ALTYD DIE REGTE HOEVEELHEID, OF TE VEEL, MAAR NOOIT TE MIN NIE!
Ek het eers die aluminiumprofiel in die loopkanaal vasgegom met STEENVAS en daarna weer die epoksie bo-op die aluminium-profiel gesmeer en toe die hele loopkanaal en aksiegedeelte gepak. Dit neem ongeveer 10 ure vir die STEENVAS om droog te word. Ek het skoenpolitoer aan die kolf gesmeer waar ek nie wou hê die epoksie moes klou nie. Maar ek sal met ’n volgende keer eerder maskeerband gebruik, want die politoer klou nogal aan die skurwe plekke op die kolf en is moeilik om te verwyder. Na die tyd het ek die oortollige STEENVAS met behulp van ’n Dremel en skuurpapier verwyder.
BALANS MOES HERSTEL WORD
Met die geweer gepak soos hierbo genoem, was die voorlaai nou mooi stewig, maar met die bykomende gewig in die voorlaai het die geweer ongebalanseerd gevoel. Ek sou gewig in die kolf agter die pistoolgreep moes byvoeg om die balans te herstel.
Met die terugskopkussing afgeskroef, het ek die agterste gedeelte van die kolf voorberei. Sommige mense pomp die Hogue-kolwe vol met silikon, maar ’n goeie vriend het egter voorgestel dat ek eerder ’n elektriese kabel-las (medium) se hars ( resin) hiervoor gebruik. Vir gewig het ek besluit op twee loodstawe wat ek by ’n hardewarewinkel gekoop het.
Die twee loodstawe is in die vorm van die kolf se agterkant gebuig (sien foto) en met aluminiumdraad aanmekaar vasgebind. Let op die twee drade wat spesifiek nie afgeknip is nie. Die stawe is ook so gebuig sodat hulle kleiner is as die binnekant van die holte in die kolf sodat die hars weereens reg rondom die stawe sou kon vloei.
Met die stawe lood in die kolf geposisioneer het ek die hars in die holte begin giet. Ek het kortkort die kolf liggies getik met ’n rubberhamer om te verseker dat daar nie lugblasies in die kolf ontstaan nie.
Toe die hars droog was, het ek die skopkussing teruggeskroef. Nou was die balans reg. Die geweer was ’n bietjie swaarder, maar nie te erg nie en het steeds gemaklik hanteer.
OP DIE SKIETBAAN
Ek kon nie wag om die Howa skietbaan toe te neem nie. Sou my plan werk? Oordeel maar self. Ek het ’n groepering op 200m geskiet. Die eerste twee skote (wat soos een gat lyk) is die skote regs op die foto. Toe stel ek een kliek na links en skiet nog drie skote. Ek glo so ’n vyfskootgroepering is glad nie te versmaai nie.