RIEMLAND SE BLESBOKKE
Ons jagvelde sal armer wees sonder dié staatmaker van die vlaktes.
FRANCOIS VAN EMMENES
Dit was vroegoggend, Julie 2007 en bibberkoud in die Vrystaat. Ek en vriend Schalk was besig om (met brandende longe en asems wat wit wolkies blaas) teen ’n steil berg uit te klim. Na 10 minute was ons amper bo. Ons het geweet ons moet versigtig wees, want die alleenloper blesbok ram waarna ons opsoek was, was lief vir daardie stuk veld en die laaste ding wat ons wou hê, was om daar op hom af te kom, maar dan die skoot te verbrou omdat ons gejaagd is.
Ten spyte van my dik handskoene was my hande blou van die koue, soveel so dat ek fisiek sleg gevoel het en ek eers ’n bietjie moes stop. Ek het my hande vinnig teen mekaar gevryf en na ’n paar minute het die bloedsomloop verbeter, maar toe pyn hulle éérs!
Daarna is ons voetjie vir voetjie, versigtig verder met die bergpaadjie op. Ons wou die ram opspoor voordat hy ons sien maar op Schalk se plaas, wat so 15km noordoos van Warden geleë is, is daar weinig bome en struike om agter te skuil.
’n Rukkie later het ons ver voor ons die ram se horings bo-
kant langerige gras sien uitsteek, presies in die omgewing waar Schalk die vorige aand gesê het hy sou wees. Salig onbewus van ons het die bok in ’n ander rigting staan en kyk en ons sodoende die kans gegee om gebukkend nader te beweeg. Hy was steeds te ver vir ’n skoot en ons moes die afstand nog meer laat krimp. Die windjie, wat gewoonlik eers teen tienuur optel, het vroeg al begin waai en was in ons guns sodat ons tot baie naby aan die blesbok kon kom. Toe die ram mooi in sig was, het ek my driepootskietstokke versigtig oopgeslaan en myself reggeskuif vir die skoot. Met Schalk wat my regterarm ondersteun, het ek ’n baie stabiele rus- en skietposisie gehad, maar toe verander die situasie skielik.
Die ram het onraad vermoed en in ons rigting gedraai. Ek was reg om te skiet, maar kon nie deur die lang gras sy lyf mooi sien nie. Met my .243 Ackley oorgehaal, het ek gewag vir ’n oop skoot. Die ram het reguit na my toe gestaan. Ek het geweet dis nou of nooit en ’n sekonde later het die 100gr Hornadykoeël die bok in die voorkop getref. Hy het in sy spore neergeslaan, maar ons het hom ’n paar minute gegee voordat ons rustig nadergestap het. Nadat ek foto’s geneem het, het ek sy pens uitgehaal en was dankbaar vir die warm binnegoed op my koue hande. Daarna is ek en Schalk berg-af om die bakkie te kry. Terug by die voertuig moes ons ’n lang ompad ry tot bo-op die berg om die blesbok te laai.
Dis nie net omdat ek hard gewerk het vir daardie blesbok dat dié jag uitstaan in my herinneringe nie, maar ook omdat dit my eerste bokjag saam met Schalk was. Sedertdien jag ek en hy byna elke jaar op sy plaas in die Riemland. Hierdie streek in die Oos-Vrystaat se naam verwys na die derduisende velle, veral van blesbokke, wat in die 19de eeu vanaf dié gebied uitgevoer is. Dis ’n ontnugterende greep uit die verlede, maar tye was toe anders en boere het wild geëlimineer omdat hulle om weiding met skaap en bees gekompeteer het. Vandag, natuurlik, weet ons van beter en hierdie gebied is weer propvol spesies wat histories daar voorgekom het, insluitende massiewe troppe blesbokke.
MEER OOR BLESBOKKE
Blesbokke is endemies tot SuidAfrika en in sy klassieke boek Five Years of a Hunter’s Life in the Far Interior of South Africa skryf Roualeyn Gordon-Cumming van blesbokke wat só volop is dat hulle van horison tot horison strek. In die hedendaagse Riemland is daar omtrent nie ’n plaas wat nié blesbokke op het nie en hulle is ’n spesie wat redelik gewild is onder plaaslike jagters. Blesbokpryse, alhoewel nie immuun teen stygings nie, is nog billik en baie plase vra ’n fooi per kilogram, eerder as ’n fooi per dier. Volgens my is dit ’n baie goeie manier om jou groot ramme teen oormatige jagdruk te beskerm. Dis nou maar die menslike natuur om soveel moontlik te wil kry vir wat hy betaal en ’n vaste fooi vir ramme nooi eintlik net die jagter uit om die grootste een te skiet, veral onder tropdiere soos blesbokke en springbokke. Deur ’n fooi per kilogram te vra, word die speelveld gelyk gemaak vir die jagter wat eintlik net ’n vleisie wil hê en nie gepla is oor trofeë nie. Ek verkies ook om eerder jong diere te skiet vir die kwaliteitvleis wat hulle lewer en so word die boer se teelramme ook gespaar.
Blesbokke se gewildheid onder wildboere is ook in ’n sekere mate daaraan te danke dat hulle nie sommer oor drade spring nie en dus maklik is om in kampe aan te hou met gewone veeheinings. Hulle sal wel nie skroom om onderdeur ’n draad te kruip nie, veral as daar nuwe gras aan die ander kant groei. Blesbokke raak ook baie »