KLEILATGOOI EN KETTIESKIET
Dit was die dae toe seuns speel-speel leer jag het.
JOKL LE ROUX
In my kleintyd het baie jong seuns, veral dié wat in die platteland grootgeword het, van ongeveer elfjarige ouderdom af begin kleilatgooi. Teen daardie tyd was ’n seun se hand-oog-koördinasie al redelik goed ontwikkel en die arm sterk genoeg vir ’n goeie gooislag uit die skouer uit. Vir kleilatgooi is ’n deurswaai, soos by ’n sethou in gholf of met sommige krieketkolfhoue, ongewens. Die truuk is juis om die lat so vinnig as moontlik vorentoe te laat versnel en dan skielik te stop. Sodoende sal die klei wat aan die punt vasgebrei is, losglip en teen dieselfde momentum as waarteen die lat geswaai is, in die verlangde rigting trek.
KWEPERLANINGS SE DOEL
Tydens my kinderjare was kweperlanings tipies van baie plaaswerwe waar ek grootgeword het. Ek het toe vas geglo die doel van dié lanings was tweeledig van aard. Eerstens om kleilatte te verskaf, weens kweperboomlatte se soepelheid en sterkte. Slegs soepel, sterk latte is geskik vir kleilatgooi. Die lat aan die handgreepkant moet dik genoeg wees om goeie beheer daaroor uit te oefen. Ek het altyd my kleilatte se bas met my Best-sakmes afgestroop, want ek was oortuig dat die bas die lat se soepelheid benadeel. Neef Boesman (eintlik Dirk) het egter weer verkies om die bas aan te los.
Die tweede (minder aangename) doel van ’n kweperboom was die verskaffing van ’n kweperlat as Pa of Oupa rede gehad het om hul jongdae se kleilatswaaie op ons sitvlakke te laat
herleef. ’n Kweperlat was gewoonlik effens dikker en heelwat langer as ’n kleilat – om beter te kan slaan, my kind!
Daar was myns insiens geen verdere doel vir ’n kweperboom nie, want die kwepers wat dit dra, het altyd ons kinderkiewe op ’n knop laat trek – amper so erg soos wanneer ’n mens ’n suurlemoen probeer eet. In later jare het ek egter ’n smaak vir kwepers ontwikkel, veral as ’n knypie sout daaroor gesprinkel word. Ouma se kweperjellie op ’n snytjie koue steenbok- of springbokboud was natuurlik ook ’n lekkerny. As ’n mens deesdae kwepers soek, is dit skaars en duur. Lanings wat lei na hedendaagse plaashuise word met uitheemse sipres, Brasiliaanse peperbome of iets dergeliks en onbruikbaar begrens.
GOOI SÓ RAAK
Om sekuur met ’n kleilat te kan gooi, hoef jy nie te mik of aan te lê nie. Jy gee die teiken een kyk en laat waai. Jou instink en hand-oog-koördinasie sal die deurslag gee net soos met die skiet van tradisionele boë. Dit kom natuurlik met baie oefening. Neef Boesman het feitlik nooit gemis nie en menige tortel- of bosduiwe het in ons vyfpond-jêmblikkastrol beland as gevolg van sy goeie slag met die kleilat. Met ’n ui of twee, vars uit Ouma se tuin, ’n knypie growwesout, ’n paar naeltjies en ’n skeutjie asyn was daar min veldvleisies wat by saggestoomde duiweborsies gekom het. Ek kry vandag nog heimwee na daardie spesifieke aroma wat ontsnap het wanneer ons die stuk nat goiingsak, wat as deksel vir die jêmblik gedien het, opgelig het om ’n steekproef te doen. As ’n voorhoutjiestokkie maklik in die borsvleis ingesteek kon word, was die vleis gaar.
Kleilatgevegte is gereeld tussen ons en die arbeiders se kinders gehou. Ons was oor die algemeen goeie maats en het saam donkiemis agter die kraalmuur in ’n tuisgemaakte pyp gerook, wippe vir tarentale gestel en albaster en tolgooi ge- speel. Maar van tyd tot tyd het ons in “oorloë” betrokke geraak. Vars klei was altyd verkrygbaar by die dammetjie naby die plaashuis. Ons het dan soos die soldate tydens die Amerikaanse burgeroorlog stelling ingeneem in twee linies sowat 30 treë uitmekaar en dan was dit ’n free for all. ’n Stuk klei teen die arm, been of bors het ’n gevoelige blou kol gelaat. Dawid, die skaapwagter Mintoor se seun, was veral ’n yster met ’n kleilat. Hy kón gooi!
Na ’n paar ongevalle, waar ons gesig- en kopskote uitgedeel en ontvang het, het Oupa die kweperlat ingelê en ons die leviete voorgelees. Ek en my kamerade het gevolglik by ’n soort van Geneefse Konvensie probeer hou, met slegs skote onder skouerhoogte toelaatbaar. So dan en wan het ons teenstanders, veral as hulle begin swaar trek, gerieflikheidshalwe van die konvensie vergeet en dan het die kleipille om ons ore gezoem. Ons kon nie anders as om wraak te neem nie. Die feit dat niemand ooit in die oog getref is nie, was net ’n wonderwerk.
Ek het op ’n keer agt-van-diebestes by Oupa gekry nadat ek in ’n onbesonne oomblik van die systoep af ’n lang gooi na Mintoor-hulle se huis probeer het. Dit was vroegoggend in die winter en my doel met dié 100 meter-gooi na die huis se sinkdak was slegs om Dawid se aandag te trek. Ek en hy wou dié dag dassies in die bergkamp met behulp van Biltong, die foksterriër, gaan jag. Ou Mintoor het toe pas met sy beker vol stoomwarm koffie op die stoep gaan sit. Ongelukkig het my kleipil binne-in Mintoor se koppie beland, wat natuurlik die warm koffie in sy gesig laat spat het. Die res het hy van skrik op sy skoot omgekeer. Gevoelige brandwonde is opgedoen, maar nie so gevoelig soos myne op ’n koue wintersoggend nie. Oupa het my eie kleilat op my sitvlak gebruik en by die agtste hou gestop bloot omdat die lat gebreek het! Ek het daar en dan besluit om kleilatte (met verdrag) af te sweer.
TYD VIR KETTIES
Soos dit maar met seunskinders gaan, het ons later kleilatte ontgroei en na ketties oorgeskakel. Kleilat- ammunisie was nie geskik vir enige prooi groter as bosduiwe nie. Ketties wat met stroke trekkerbinneband gemaak was, was goed genoeg vir duiwe en met die regte projektiel, selfs ’n fisant. Maar sogenaamde haasrekke was ’n moet vir ’n lyfskoot op ’n tarentaal, dassie of haas, selfs al gebruik jy ’n aainie (’n albastergroottestaalkoeëllaer). Met ’n haasrekkettie was ’n lyfskoot ook net goed genoeg om ’n haas of dassie vir ’n halfminuut lank bewusteloos te slaan, maar dit het die foksie tyd gegee om die finale nekslag toe te dien.
Haasrekke kon net by sekere hardewarewinkels in die groter dorpe gekoop word en was duur. Ons moes ons swaarverdiende sakgeld gebruik, wat ons gemaak het deur aalwynsap en klipsweet (gekristalliseerde dassie-urine – ook by apteke in die handel bekend as “Hyrax”) te verkoop. Oupa wou niks weet van haasrekke nie en ons het dus skelmpies ’n “order” opgedra aan ’n werker wat een keer ’n maand kon dorp toe gaan vir inkope. Ek wonder nou nog of die koffiebeker-episode Oupa »