'N MOOI ROOIBOKRAM
Mooi is soms ook nie só mooi nie...
SCHALK VERMEULEN
Die beskrywing “mooi rooibokram” het my oor die jare al baie skoolgeld laat betaal, want ek is nie van vandag af op soek na ’n mooi ram nie. Na my eerste rooibokram was ek maar altyd op die uitkyk na ’n boekebok. Boeke soos in Rowland Ward se rekordboek. Sy minimum vereiste is 23⅝”.
SOEK BOEKMENEER
Wanneer jy ’n plaaseienaar vra na sy rooibokke, is die antwoord meestal dat hulle regtig “baie mooi” rooibokramme het. Met tyd het ek agtergekom dat hierdie “mooi” in elkeen van ons se koppe ’n ander betekenis het – ’n relatiewe begrip as ramme met mekaar vergelyk word... ’n Agtienduim-rammetjie is mos ’n “mooi” ram wanneer dit met die ooie en knypkoppies rondom hom vergelyk word, maar hy
verdwyn in die niet wanneer ’n regerende grootmeneer deel van die vergelyking word.
Na my eerste rooibokram van 20⅛” was ek vasbeslote om ’n boekebok te probeer jag. Al is rooibokke vir baie jagters ’n brood-en-botter-bok, is dit vir my altyd lekker en ’n hengse voorreg om hulle te mag jag. Seker omdat ek ’n Vrystater is en rooibokke hier maar relatief skaars was toe ek begin het om na ’n trofeeram te soek.
Rooibokke, ongeag die geslag, is vir my van die mooiste bokke wat daar is. Die mooi fyn gesigte van die ooie en die ramme se relatief groot horings in vergelyking met die grootte van hulle lywe en dan ook hulle mooi dieprooi kleur, maak hierdie bokke vir my iets besonders. Onthou, Vrystaters sien die meeste van die tyd net blesbokke en swartwildebeeste.
MY EERSTE RAMME
In Junie 1990 jag ek my eerste rooibokram by Tussen-die-Riviere naby Bethulie in die Vrystaat. My gids se naam was Sello en sy presiese woorde toe ons die rooibokke onder skoot het, was: “Die agterste een is ’n mooi ram.” Ek was op dieselfde bladsy, want van die drie ramme was hy die “mooiste”. Ek vermoed dit is hier waar die begrip “mooi rooibokram” sy kloue in my geslaan het, want sedertdien het ek al ’n klompie “mooi” ramme geskiet. Feitlik die lot van hulle tussen 22 en 23”, maar “mooi” genoeg vir die boeke was nie een van hulle nie.
In 1995 is ek kamtig amptelik op my eerste rooiboktrofeejag. Nou was die rooibokram nie meer iets wat ek probeer jag saam met my biltongbokke nie. Ek was doelbewus op soek na ’n groot rooibokram, want daar was ’n plaas met “mooi” rooibokramme sommer binne 70km van Bloemfontein af in die Thaba Nchu-omgewing. Dit was ’n lekker voetejag. Ek kry die ramtrop eers teen laatmiddag bo-op een van die rantjies toe ’n stewige dwarswind van my linkerkant af waai. Behalwe dat hulle my nie kan ruik nie, veroorsaak die geruis van die wind (veral deur die besembosse) dat die rooibokke my ook nie kan hoor nie. Hulle is dus rustig, salig onbewus van my, en ek is later binne 50m van hulle af. Die meeste lê terwyl die res om hulle wei. Die “mooiste” ram lê egter ook.
Dit is die eerste keer dat ek met ’n 7x57 jag – ’n Musgrave K98 Light. Destyds sommer hier plaaslik aangeskaf by die Musgrave-fabriek, juis omdat die kaliber bekend is vir die min vleisskade wat dit veroorsaak as jy jou ladings ’n bietjie ligter maak en lekker swaar koeëls van 170gr gebruik om die spoed af te bring.
Onder ’n bos met ’n gawe dooierustak sit ek en wag dat »
» die “mooi” ram moet opstaan. Dit raak later ’n halfuur, maar die ram het geen begeerte om te beweeg nie. Toe van die ander ramme begin om onder die wind in te beweeg, weet ek dat hulle my enige oomblik gaan ruik en besluit om die “mooi” ram te skiet terwyl hy lê. Dit is ’n relatief maklike skoot, want die ram is naby en ek het ’n goeie dooierus. Ek besluit om ’n bietjie laer af teen sy nek te mik om nie die vel naby die gesig te beskadig nie. Toe die skoot loop, bly die ram net daar op die plek lê. Die res van die trop verdwyn egter binne sekondes in alle rigtings die bosse in.
Toe alles weer rustig raak, stap ek nader. Die nekskoot is presies waar ek gemik het, maar ek het ’n klein berekeningsfoutjie gemaak. Die koeël is deur die nek, toe voor by een van die rugstringe in en agter, net voor die boud, aan die bokant uit. Die vleisskade was dus aansienlik, maar dit was my eie skuld. So leer ’n mens. Behalwe vir genadeskote het ek tot vandag toe nog nooit weer na enige dier wat lê, geskiet nie.
Die bok se horings, aan die ander kant, lyk toe vir my of hulle dalk Die Boek kan maak. Na ’n goeie gesukkel om die ram tot by die naaste pad te kry sonder om dit te sleep, daag die bakkie op. Toe ek die horings meet, is die langste een net 22⅝”. Ek was teleurgesteld, want ek was so seker hierdie een gaan die boeke maak. Die troos was darem dat dit my grootste rooibok tot dusver toe was.
EK SOEK VERDER
Daarna is ek ’n hele klompie kere agter “mooi” ramme aan, maar ongelukkig het nie een Rowland Ward se minimum gehaal nie. Ek het vooraf geweet hulle gaan nie die boeke maak nie, maar ek het steeds besluit om te skiet. Skiet jy nie, voel jy soos ’n vleuel in ’n rugbyspan wat die bal met ’n oop doellyn ontvang – jy hoef maar net oor te draf en te druk. Baie gidse se houding en gesigte wys dat hulle nie kan verstaan waarom jy nie wil skiet nie, want vir hulle is dit ’n baie “mooi” ram. Ek verstaan dit tot ’n mate, want almal het hard gewerk om jou te laat aanlê op ’n “mooi” ram en nou wil jy nie skiet nie...
Soms kon ek eers na ’n kwartier besluit om wel te skiet ten spyte van my beterwete. Die hoofrede was dan om ’n baie lekker jag op ’n gepaste manier af te sluit. Magtig, die manne het mos hulle kant gebring.
UITNODIGING
Een oggend bel Karl Stumpfe my. Hy jag professioneel in Namibië, maar woon in Bloemfontein. Hy wou hoor of ek al die rooibokram gekry het waarna ek nou al my lewe lank soek. Tot sy verbasing beduie ek “nog steeds nie” en tot mý verbasing beduie hy dat hy van een weet
en dit sommer naby aan Bloemfontein! Maar ons moes dieselfde dag nog jag, want hy was die volgende dag alweer op pad Namibië toe.
Op daardie stadium is ek op pad werk toe, maar sorteer toe sommer die dag se afsprake telefonies met my sekretaresse uit. Net voor ek groet, herinner my sekretaresse my so terloops daaraan dat dit Sekretaressedag ook is en vra of sy ons afspraak moet kanselleer. Om my verleentheid weg te steek, vra ek haar om vir die volgende dag presies dieselfde bespreking te maak maar om nie daardie dag se bespreking te kanselleer nie. Net ingeval.
BY DIE JAGPLEK
Op die plaas aangekom, is dit nie moeilik om die “mooi” ram tussen die ander raak te sien nie, maar ek vermoed ek is nie die enigste jagter wat hier jag nie. Die kamp is so ’n lang maer kamp met ’n baie prominente sloot al in sy lengte af. So asof iemand die sloot wou afspan. Die bokke kan egter enige plek deur die sloot maar ’n voertuig het net ’n enkele bruggie om aan die anderkant uit te kom. Einde ten laaste skiet ek toe ’n baie-te-ver-na-my-vermoë-skoot, maar met die genade van Bo is dit raak. Die ram draf ’n entjie saam met die trop, maar draai toe af die bosse in, waar ons hom later kry.
Die skoot is ’n bietjie laag ten spyte van die feit dat ek vir die afstand toegegee het. Hierdie is ook my enigste bokfoto in my werksklere. Ek en Karl meet, en sowaar as vet, hy maak dit netnet. (Na die vereiste uitdroogperiode maak die horings dit steeds met slegs ’n ⅛”). Op pad terug vra die taksidermis of ek nie die karkas aan hom sal verkoop nie. Dit vergemaklik sake heelwat, want ek lewer die bok toe binne 40 minute net so by hom af sodat hy dit vir ’n kop-en-skouermontering kan slag.
Nadat ek die nodige dokumentasie ontvang het en my geweer gaan bêre het, word my sekretaresse stiptelik om 12h30 uitgeneem vir sekretaressedag!
Ek was aanvanklik baie bly oor hierdie ram wat uiteindelik die boeke gehaal het (en ek wil nie ondankbaar klink nie) maar my soektog na ’n mooi ram het nie hier opgehou nie – dit was glad nie soos ek my voorgestel het ek my “mooi” ram sou jag nie. Daar was geen voorafbeplanning, inskiet, uitsien na die jag, of enige van daardie belangrike goed wat jag lekker maak nie. Boonop was dit sommer ’n oorhaastige bakkieskiet. Die horings dan? Hulle maak wel die boeke, maar is sulke bleek, dun ranklote sonder die kenmerkende dik riwwe van ’n “mooi” ram. So ek is steeds soekende, maar na ’n “mooi” wat effens verskil...
SPOGFOTO’S
Net om vars sout in rou wonde te vryf, stuur Heinz Krause, ook ’n PH, vir my onlangs twee foto’s van ’n rooibokrammetjie (sy beskrywing) wat hyself die oggend gejag het. Om alles te kroon, binne 150km van my voorstoep af. My eerste gedagte is dat sommige mense nie ’n hart het nie. ’n Mens wys mos nie vir iemand wat baie honger is, hoe jy ’n kilogram steak alleen verorber nie!
Later het ek self die horings kon meet toe dit as ’n trofeeinskrywing by die Bloemfonteintak van die SAJWV ’n allemintige 26⅝” haal. En net daar skuif my “mooi” van 23⅝” na 25”+. (Julle sien, “mooi” hang af van waarmee “mooi” vergelyk word.)
Die voordeel van dié twee foto’s op my selfoon is dat ek nou presies aan die eienaar van ’n potensiële jagbestemming kan wys hoe die “mooi” ram lyk waarna ek op soek is. Die foto’s het egter die hoeveelheid “mooi” ramme in Suid-Afrika ’n groter slag toegedien as die destydse runderpes.
Ter versagting moet ek darem byvoeg dat Heinz se laaste woorde aan my, rakende die foto’s, was: “Oom Schalla, wees net rustig. Ek sal vir jou ook ’n “mooi” een kry.” As hy nie hierdie belofte nakom nie, vermoed ek, dit gaan letterlik sy laaste woorde aan my wees.
EERSTE TIEN WOORDE
Rooibokramme is eintlik mos almal mooi, maar die beste raad wat ek nog ooit ontvang het oor hoe jy bepaal of ’n rooibokram die boeke gaan maak, het van ’n gesoute jagter gekom. Volgens hom word dit bepaal deur die eerste tien woorde wat deur jou gedagtes gaan wanneer jy die ram vir die eerste keer sien. As jy jou eie moeder al enige van hierdie tien woorde hoor gebruik het, los maar, die horings sal dit nie maak nie.
Of my ou hart dit sal kan vat om langs my eie Heinz-kaliberram op ’n foto te sit, sal die tyd moet leer, maar ek gaan nie ophou probeer nie.
Intussen maak ek doodseker dat ek oor ’n groot genoeg woordeskat beskik indien daardie dag sou aanbreek.