SA Jagter Hunter

SOMERSUKSE­S MET DIE .300 THOMPSON

Soms is daar onverwags meer op die spyskaart...

-

JACQUES DE BEER

Ek het reeds in ’n vorige artikel verwys na my .300 Thompson Contender-pistool waarmee ek my kameelperd gejag het. Die wapen skiet ’ n .30- kaliber, 180gr-koeël teen so ongeveer 2 600vps. Kort nadat ek my pistool gekry het en net voor ek die kameelperd gejag het, het ek en my vrou besluit om oor Desember ’n bietjie bos toe te gaan vir ’n paar dae.

Ek gaan nie sommer bos toe sonder ’n plan om te jag nie en ek het afgespreek met die eienaar dat ek ’n draaitjie wil gaan stap met die .300 TC, met die plan om ’n rooihartbe­es plat te trek. Omdat ek reeds ’n paar keer op dié plaas gejag het, was ek redelik goed vertroud met die reëlings en jagsituasi­e daar.

Ek het die eienaar al ’n hele paar jaar geken omdat hy my huisdokter was en hy het my daarom goedgunsti­glik toegelaat om sonder ’n gids te jag. Dit was nog altyd die wonderliks­te ervaring om alleen daar te jag – deesdae ’n besondere voorreg, want dit is heeltemal te verstane dat ’n eienaar gidse vereis. Nietemin, as jy so ’n geleenthei­d kry, gryp jy dit dankbaar aan en sorg dat jy nie droogmaak nie. Volgende jaar is daar mos nog ’n jagseisoen...

Vertroue en respek tussen die jagter en die wildplaase­ienaar word met tyd opgebou en word oor jare met opeenvolge­nde besoeke versterk. Ek waardeer altyd ’n eienaar se vertroue en dit is my plig as jagter om dit so te hou. ’n Jagplaas is nie ’n plek vir streke nie – dis ’n besigheid met reëls en regulasies wat jy moet respekteer. Ek is self ’n beesstoett­eler en net soos op ’n jagplaas, verwag ek en my kliënte wedersydse respek van mekaar.

DIE JAG SKOP AF

Om myle en tyd te spaar het ek (ouder gewoonte) die aand voor my jag sou begin, ’n draai gaan ry om te sien waar die wild se gunsteling-uithangple­kke dié jaar was.

Vroeg die volgende oggend, met sonop, is ek en my .300pistool die vlaktes in. Ek het ’n kleinerige, maar redelik hoë koppie geklim vir ’n beter uitsig oor die plaas en om met die verkyker die vlaktes te fynkam. Ek was op soek na ’n rooihartbe­es. Na ’n rukkie se kyk het ek ’n trop op ’n oop grasvlakte gewaar, nie te ver van ’n rivier af nie. Hulle het waarskynli­k die nag daar deurgebrin­g. Dit het gelyk of hulle skuins na my kant toe aan die wei was.

Ek besluit toe om daar te wag en te kyk wat hulle plan was. Ver onder my in die leegte, aan die voet van die volgende kop, het ’n trop gemsbokke in die eerste flou sonstrale die oggend-

koue probeer afskud.

Ek het begin wonder of ek nie solank teen die kop moet afbeweeg nie, maar die gemsbokke sou my planne beslis in die wiele ry. Die wind was ook nie juis in my guns nie. Na ’n rukkie het die hartbeeste heelwat nader aan die gemsbokke beweeg en ek het besluit om ’n kans te vat en skuins teen die kop af te beweeg, weg van die gemsbokke af.

Eens onder, het ek in ’n kol lang gras beland wat dinge vergemakli­k het. Die gras het goeie dekking gebied en boonop was die wind ook heelwat beter. Stadig het ek deur die gras beweeg om veld te wen sodat ek by ’n klomp bome kon uitkom om daar die hartbeeste in te wag.

MY POGING GEFNUIK

Ek het skaars ’n ent gevorder of daar spring ’n trop waterbokko­eie op uit die lang gras naby aan die rivier. Eers het ek my in ’n ander bloedgroep in geskrik vir die groot goed wat onder my voete uitbars. Toe laat spat die gemsbokke ook en hulle vertel op hulle beurt weer, so in die hardloop, vir die hartbeeste van die gevaar in die gras.

Nou moes ’n ander plan gemaak word. Ek besluit toe om aan te stap in die rigting waarheen die hartbeeste gehardloop het – agterom die kop. Hopelik sou ek hulle redelik maklik weer kon opspoor. Die hartbeeste en gemsbokke kon my gelukkig nie ruik nie en het bloot gehardloop omdat hulle die waterbokke sien hardloop het. Moontlik sou hulle gou uit nuuskierig­heid stop om rond te kyk.

Ek het stadig teen die koppie uitgeklim om te kyk waar die hartbeeste is en het hulle so 300m ver onder ’n klompie groterige doringbome gewaar. Hulle het heel rustig gelyk.

Die lang gras was weereens my beste opsie. Ek het stadig in die gras inbeweeg om teen die wind in te bekruip. Die waterbokke het ek nêrens gewaar nie, en ek kon op die hartbeeste konsentree­r. Ek het vinnig gevorder en die hartbeeste was gou weer in sig, ongeveer 150m ver. Ek kan normaalweg ’n 200m-skoot oor my skietraam gemaklik skiet met die .300, maar die gras was hier net te lank. Toe ek my pistool oor die raam laat rus, kon ek niks deur die gras sien nie. Daar was net een plan – ek moes uit die lang gras uitkom. ’n Groot boom vorentoe het my aandag getrek. Ek het toe net op die boom gefokus, gesorg dat ek reg agter sy stam bly en sodoende tot by hom gevorder. Van daar af sou ek hopelik ’n skoot kon neem.

Ek het net begin moed kry, toe bars die verduiwels­e waterbokke weer uit die gras voor my. En die hartbeeste spring weer op volle vaart weg. Van frustrasie het ek sommer lus gevoel om een van die waterbokke plat te trek!

Met dié gedagte het ek skielik besef dat ek juis nog in die toekoms ’n waterbok met die .300 wou skiet. Nét daar gaan hurk ek toe, skakel my foon aan en stuur ’n WhatsApp na die eienaar om te hoor of waterbok op die spyskaart is. Hy het die groen lig gegee: waterbokke was nou deel van my jag...

DIE SPYSKAART BREI UIT

Ek het probeer vasstel waarheen die waterbokke gehardloop het, maar kon niks gewaar nie. En dis mos hoe dinge werk in die bos: Hang ’n jag- tag aan ’n bok se oor en jy sien hom nie weer nie. Skoonveld. As jy hom nie wil skiet nie, val jy om elke hoek en draai oor hom.

Al was ek raadop, was ek ook opgewonde omdat daar ’n moontlikhe­id van twee diere was wat moes koelkas toe. Met my verkyker het ek weer die bos gefynkam. Die hartbeeste was baie ver. Ek kon sien die gras was hoog daar rondom hulle en ek het geweet al vorder ek tot by hulle, sou ek nie kon skiet nie.

Uit vorige ervarings op die plaas het ek al gesien dat die hartbeeste tot bo-op die koppie hardloop of tot teen die hang om beter te kan sien as dinge begin warm raak. Ek besluit toe om met ’n draai om die trop te beweeg in die hoop dat hulle my sou gewaar en dan teen die koppie sou gaan staan. As hulle begin beweeg, wou ek agter hulle aanbeweeg om sodoende tot op skietafsta­nd te vorder en, sodra ek ’n kans kry, te skiet. Ek het gesien met die lang gras gaan dinge nie uitwerk op die gewone bekruipman­ier nie.

Ek het stadig nader beweeg en dit lyk toe of my plan wil werk. Hartbees se kind het »

» genoeg van die lang gras gehad en stadig teen die kop begin uitstap tot bo-op ’n klein plato. Die wind was gelukkig in my guns, asook ’n digte klomp doringbome aan die voet van die rantjie waar die hartbeeste gaan staan het.

Tot by die doringboom­bos het ek gebukkend deur die gras geloop en toe baie stadig nader beweeg. Die hartbeeste het nog gestaan en kyk na die plek waar hulle my laaste gewaar het. ’n Mooi koei het met haar borskant reg na my toe gestaan en na links gekyk (na my vorige posisie). Ek het plat op die grond gaan sit en oor my skietraam gemik, onderdeur ’n lae doringtak. Die afstandmet­er het ek 110m aangedui en die kruishaar het in haar kuiltjie tot stilstand gekom... Ek het die sneller stadig gedruk en toe bulder die .300 en lanseer die 180gr Hornady InterLock. Toe die koeël tref, knak haar voorbene effe en sy raak weg agter die rantjie. Die .300 het sy werk gedoen.

Bo-op die rantjie kon ek haar sien lê toe ek nader stap – skaars 20m van waar sy gestaan het. ’n Mooi koei met ’n perfekte borsskoot. Dit het my ’n oomblik geneem om asem te skep na al die aksie en toe het ek begin terugstap kamp toe om die sleepwa te gaan haal en die hartbees te laai sodat sy so gou moontlik geslag kon word. Tydens ’n Desemberja­g moet jy vinnig speel om die vleis te behou. Die slagters het die slagwerk vinnig afgehandel terwyl ek gou ontbyt geëet het – ek het mos nog ’n afspraak gehad met die waterbok wat my lewe hel gemaak het...

WATERBOK AAN DIE BEURT

Nadat ek seker gemaak het dat die vleis veilig in die koelkamer was, is ek terug kamp toe. Met die terugry gewaar ek toe daardie einste waterbokke wat pas gaan water drink het by ’n groot gronddam. Dit het gelyk of hulle pad se kant toe beweeg. Ek is kamp toe om my pistool te kry en het my vrou gevra om die bakkie te bestuur sodat ek agterop kon sit en so in die ry ongesiens afglip om hulle te bekruip. Toe ons om die draai kom, kon ek die waterbokke onder ’n boom sien staan. Dit was bitter warm.

My vrou het stadig gery sodat ek ongeveer 100m van die bokke af kon afklim, waarna sy verder gery het. Die waterbokke se aandag was by die bakkie en ek kon tot op 80m vorder voordat hulle my gewaar het. Toe ’n groot koei onder die boom uitgestap kom, kon ek sien die res begin onrustig raak. Vinnig het ek my raam staangemaa­k en my Thompson Contender daarop laat rus. Daar was geen tyd vir stories nie – elke sekonde het nou getel. Met die teleskoop se kruishaar op die bok geplant vir ’n skuins-van-voor hartskoot, het ek die sneller gedruk. Toe die .300 bulder en die 180grkoeël tref, steier die koei op haar agterpote. Ek kon sien haar blus is uit toe sy vorentoe strompel en na skaars 10m inmekaarsa­k. Ons het haar ook so gou moontlik gelaai om geslag te word.

Ek het hierdie jag baie geniet, veral die jag op die spesie wat sommer so ongenooid deel geraak het van die ervaring. Ek wou mos al lankal ’n waterbok met die handwapen jag.

Om in die hartjie van die somer groterige wild te jag is nie aan te beveel nie, want ’n mens kan baie vinnig die vleis verloor. As jy so ’n jag beplan, moet jou koelgeriew­e in goeie werkende toestand wees en wild moet onmiddelli­k geslag word. Dis ook raadsaam om die karkas uitmekaar te sny in boude en blaaie en selfs die rugbiltong­e uit te sny sodat die koeler die karkas so gou moontlik kan afkoel. Sny die twee boude heel los van mekaar en sny ook die dikvleis op die boud op die nate oop vir nog vinniger afkoeling. Wildsvleis is duur en dit neem nie baie tyd in beslag om die karkas op te sny nie. Vleis (veral grootwild s’n) kan in die somer selfs in ’n koeler bederf raak. Doen jou huiswerk goed en beplan deeglik as jy graag ’n somerjag wil aandurf.

Lekker jag!

 ??  ??
 ??  ?? Jacques met die rooihartbe­es waarvan hy in die storie vertel.
Jacques met die rooihartbe­es waarvan hy in die storie vertel.
 ??  ?? Foto’s bo en links: Nic de Bruine.
Foto’s bo en links: Nic de Bruine.
 ??  ?? Hier poseer Jacques by die waterbok wat hy geskiet het.
Hier poseer Jacques by die waterbok wat hy geskiet het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa