VRA VIR KASSIE
DEEL 17
Dis die klein jakkalsies wat die wingerd verniel, lui die spreekwoord. Netso is daar gewoontetjies of toepassings in die herlaaiwêreld wat oënskynlik skadeloos is, al is dit strydig met die fundamentele proses en prosedures vir die handlaai van ammunisie. Hierdie klein afwykings kan ongelukkig lei tot ongewenste gevolge. Ons kyk gou na ’n paar sulkes.
VRAAG:
Ek besit ’n magdom klein handwapenslagdoppies, maar het nie klein slagdoppies vir geweerammunisie nie. Kan ek die handwapenslagdoppies vir die laai van .222 Remington-patrone gebruik?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Die deursnee van die klein handwapenslagdoppie is dieselfde as dié van klein geweerslagdoppies. Dié slagdoppies pas dus in beide klein handwapen- of klein geweerdoppies. Die handwapenslagdoppie is egter platter (in hoogte) as dié van sy eweknie vir die geweer. Wanneer ’n handwapenslagdoppie gevolglik in die geweer se slagdophuls ingepas word, sal hy dieper versink wees. Onthou dat ’n slagdoppie tussen .004” en .008” onder die oppervlakte van die doppie se kopvlak moet wees om betroubaar te funksioneer. Dit mag dus gebeur dat ’n slag- doppie wat te diep versink is kan kets (weier) omdat die slagpen nie genoeg lengte of momentum het om die slagdoppie hard genoeg te tref om ontsteking te bewerkstellig nie.
Verder is die handwapenslagdoppie “koeler” (die vonk is nie so groot of sterk nie) as sy eweknie vir die geweer. Dit kan veroorsaak dat die dryfmiddel nie effektief aan die brand gesteek word nie en dus wisselvallige prestasie veroorsaak. Vir die ernstige herlaaier is so ’n opsie nie aanvaarbaar nie. Dit is myns insiens nie ’n gevaarlike praktyk om te volg nie.
Wees egter versigtig om nie klein slagdopruimers ( uniformers) wat vir geweerslagdophulse bedoel is op handwapendoppies te gebruik nie, omdat geweerslagdopruimers vir die spesifieke diepte van klein geweerslagdoppies gestel is en die slagdoppie dan ook te diep geplaas sal word in die dop. Slagdoppies wat te diep in slagdophulse insak, mag, soos wat ek reeds genoem het, weier. Alhoewel klein handwapenslagdoppies dus gebruik kan word in geweerdoppe, sou ek liewer aanbeveel dat herlaaiers die regte komponent gebruik.
VRAAG:
Is dit nodig om doppies se lengtes elke keer nadat dit geskiet is, te sny wanneer van die sogenaamde bushing- matryse gebruik gemaak word?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Dit is nie noodwendig nodig om die doppies te sny nie, maar dit is in die skut se ego en sy prestasie se belang dat hulle lengtes minstens nagegaan word. Daar is dopmeters hiervoor beskikbaar, of skuifliniale kan ook gebruik word. Wat van groot belang is uit ’n prestasie-oogpunt, is dat die doppie se bek haaks moet wees. Hierdie lengtemeters of skuifliniale kan nie die haaksheid lees nie. Met ’n goeie dopsnyer beheer jy nie net die lengte van die doppie nie maar ook sy haaksheid (as jy dit sny). Klein dingetjies maak die verskil tussen wen of verloor. Onthou, dit is altyd beter om liewer die regte ding reg te doen en “veilige” kortpaadjies net in noodgevalle te neem.
VRAAG:
Wanneer koeëls getrek word en dieselfde doppie dan gebruik word om met ander tipe koeëls te laai, ervaar ek nie dieselfde konstante akkuraatheid as wanneer ek die doppies herlaai het nadat die doppie voorberei was nie. Ek het presies dieselfde lading as tevore gebruik. Is daar ’n verklaring hiervoor, of verbeel ek my dat akkuraatheid swakker is?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Nee dis nie jou verbeelding nie, net goeie waarnemingsvermoë. Wanneer ’n koeël in ’n doppie se nek ingedruk word, rek die doppie se nek effens omdat die koeël ongeveer .002” wyer as die doppie se nekopening is. Wanneer die koeël dan getrek word, keer die doppie se nek nie terug tot sy oorspronklike deursnit voordat die koeël daarin geplaas was nie. Wanneer die nuwe koeël dan ingedruk word, oefen die doppie se nek ’n swakker greep op die nuwe koeël uit, omdat die nekopening nou effens groter is. Die ligter greep veroorsaak dan dat die koeël makliker uitglip wanneer die skoot gevuur word. Dit kan lei tot laer trompsnelhede, asook groter wisselings in trompsnelhede wat swakker akkuraatheid tot gevolge kan hê.
Nadat ’n koeël getrek is, gooi die kruit uit die doppie en sit die doppie weer deur die vormmatrys om te verseker dat die oorspronklike nekspanning weer aanwesig sal wees. Onthou egter om die pennetjie wat die slagdoppie uitdruk, eers te verwyder uit die strekknoop.
VRAAG:
Ek sukkel om die koeëls tot eweredige dieptes in die doppie in te druk. Ek sny die koeëls se punte tot presiese eweredige lengtes met ’n platvlaksnyer ( meplat trimmer) en maak dan verder seker wanneer ek van die ogiewe af meet met ’n vergelykingsmeter ( comparator gauge), dat die koeëls almal presies ewe lank is. Dit voel asof sommige van die koeëls meer weerstand as ander bied wanneer ek hulle in die doppie indruk. Desnieteenstaande die gebruik van kompetisiematryse, varieer die totale lengte van die patrone steeds tot ’n mindere of meerdere mate. Wat veroorsaak dié probleem? Is daar matryse wat hierdie probleem sal verminder?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Dis moeilik om kommentaar te lewer sonder al die inligting. Ek gaan die kommentaar dus op ’n paar veronderstellings moet baseer. Ek twyfel sterk of die gebruik van nog meer gespesialiseerde matryse die probleem sal oplos. Kompetisiematryse maak gewoonlik van bussies gebruik, waarvan die grootte bereken word ooreenkomstig die doppie se nekmates en die operasionele behoefte wat met die patroon bevredig moet word. Die feit dat die vraagsteller opmerk dat sommige koeëls meer weerstand bied wanneer hulle in die dop geplaas word, dui vir my daarop dat die probleem eer-
der met die grootte van die bussie te make het, of dat die doppie se bek nie voorberei is om kompetisiekoeëls met prominente bootsterte te akkommodeer nie. Hier veronderstel ek dat die persoon wat die vraag stel wel kompetisiekoeëls met bootsterte gebruik, vandaar sy behoefte om van kompetisiematryse gebruik te maak. Hoe nouer die doppie se nek, hoe meer weerstand gaan hy teen die koeëlplasing bied.
Die hele konsep van die bussie se gebruik is om die nekopening van die doppie tot ’n deursnee van tussen .001” en .003” minder as die kaliberdeursnee van die koeël te vorm. As die bussie die doppie se nek nouer as dit druk, raak dit baie moeilik om ’n konstante diepteplasing moontlik te maak. Hulpmiddels soos grafiet of ander preparate verminder die glyweerstand van die koeël in die doppie se nek en kan bydra tot meer konstante diepteplasing, maar dan moet dit baie eweredig aangewend word. Dis egter beter om liewer die nekspanning van die doppie rondom die koeël te verminder, om steeds die konstante loslaatkrag van die doppie se nek met die afvuur van die skoot te verseker.
’n Ander oorsaak mag ook wees dat die doppie se bek nie voldoende aan die binnerand ontbraam is met ’n laesleurontbramer nie. Ek het al hieroor kommentaar gelewer en gaan nie hierdie aspek in detail hier behandel nie. In kort kom dit daarop neer dat die binnerand van die doppie se bek teen ’n skuins hoek geskraap moet word om die bootstert van die koeël te ontvang en in die nek in te lei. Dit help om die koeël se ingly gladder te maak. ’n Laaste praktiese wenk is om tydens die koeëlplasingsaksie die pers se handvatsel ’n positiewe, ligte stampie te gee wan- neer die hefboom sy stopposisie bereik. Hiermee word verseker dat die koeël tot die volle beoogde diepte teen die doppie se nekweerstand insak.
VRAAG:
Wat behoort die eerste ding te wees wat ek moet doen as ek ’n nuwe geweer in besit neem?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Die natuurlike ding wat ’n mens maar altyd wil doen, is om ’n paar skote te skiet om die “gevoel” van die geweer te kry. Dis immers waarom die geweer gekoop is, amper soos die passie om met ’n bruid te verbind! Voordat ernstige ladingontwikkeling gedoen word, moet die geweer egter eers deur ’n bevoegde geweersmid “geakkuratiseer” word. Sonder die gerusstelling dat die geweer inherent akkuraat is, is dit tyd- en geldmors om ’n akkuraat gelaaide patroon uit ’n geweer akku- raat te skiet as daar nie die versekering is dat die geweer wel akkuraat is nie.
Die vervaardiger bemark die geweer natuurlik as “akkuraat”. Hierdie akkuraatheid is gewoonlik volgens ’n industriestandaard om ’n bepaalde toets te slaag. Die vraag is of daardie standaard goed genoeg is vir jou behoefte? Elke eienaar het die verantwoordelikheid, en die lus, om die fynere verstellings vir sy doel aan die geweer te doen. Neem dus die geweer na iemand wat daarvoor bekend is dat hy ’n geweer akkuraat kan maak en behoorlik in die kolf kan stabiliseer, indien jy dit nie self kan doen nie.
HOU BY DIE FUNDAMENTELE PROSEDURE... STEELPAADJIES SE DORINKIES KAN SEER STEEK * Kassie kan gekontak word by Dave Sheer Guns in Montana, Pretoria, Tel 010-300-1222, of kassie@davesheer.com