BOSPOS – SÊ JOU SÊ
WENBRIEF
MOENIE ANDER JAGMETODES KRITISEER NIE
Met verwysing na Francois van Emmenes se artikel in die September-uitgawe, Ver skiet: Jag jy of skiet jy?
Ek is nie ’n langafstandjagter nie, maar ek volg die plasings daaroor op sosiale media. Ek doen meestal stap-en-bekruipjag en ek geniet dit baie. Ek sien egter nie neer op ander se jagmetodes nie. Ek is teleurgesteld dat SA JAGTER/HUNTER so ’n artikel gepubliseer het.
Ek verstaan die uitgangspunt van die skrywer in die sin dat ons (lang- en kortafstandjagters) in die veld verantwoordelik moet optree. Dit is egter na my mening uiters onverantwoordelik en ongevraagd om so in die publiek modder te gooi na medejagters (se metode en karakter) wanneer hulle verkose metode van jag nie met jou persoonlike siening van “wat jag eintlik behoort te wees” ooreenstem nie. Ek vind selfs die trant van die artikel verkleinerend. As ons mekaar as mede- jagters op so ’n manier gaan aanspreek, gaan ons binnekort almal se jagbootjie sink. As jy nie saamstem met, of hou van ’n sekere jagmetode nie, moet dan nie só jag nie.
Gee eerder krediet aan langafstandjagters wat bereid is om die tyd en werk in te sit om hul vermoë en toerusting te ken en te verstaan om sodoende sukses in die jagveld te behaal. Die langafstandjagters wat ek volg, neem hul tyd met ’n skoot, hulle versamel al die atmosferiese en ander inligting wat benodig word en hulle maak seker hulle is reg om die bladskoot te neem.
Ek dink ook daar kan ewe veel fout gaan op kort en lang afstande wanneer jy die twee tegnieke in hul geheel oordeel: Korter afstand met minder tyd, winkelpatrone en ’n minder stabiele skietposisie vs. langafstand, meer tyd, pasmaak-ammunisie en ’n stabiele skietposisie.
As jy die maatstaf van die skrywer gebruik en jy maak die aanname dat ’n dier op 50 meter teen ’n draffie gaan wegspring, want die dier hoor jou, ruik jou, of weet alreeds van jou, is selfs daardie skoot, volgens die skrywer se maatstaf, oneties. Gaan doen gerus daardie wiskunde ook. Daar hang dalk nie vlae in die veld nie, maar daardie gadgets wat windmeters genoem word, is heel bekostigbaar, omtrent so groot soos ’n selfoon en werk nogal goed.
In enige jagsituasie lê die besluit om die skoot te neem by die jagter, en hy/sy moet omstandighede, eie ervaring, vermoë en toerusting in ag neem.
Na my mening is ’n etiese skoot enige skoot waarvan die jagter seker is sy/haar projektiel (koeël of pyl) gaan die dier tref en ’n vinnige dood tot gevolg hê, ongeag sy gekose jagtegniek/ metode. As daar jagters is wat, op kort- of langafstand, duidelik onverantwoordelik optree, spreek die individu aan, nie die metode nie. Veroordeel gedrag soos skote tussen takke deur, skote in ’n trop in, of skote wat duidelik buite die bereik is van die toerusting wat gebruik word.
Ek dink ook ons moet ophou om ons gewetens te probeer sus met die idee dat daar met sekere jagmetodes aan die dier ’n gelyke of beter kans gegun word. As jy die bok ’n gelyke kans wil gee, gaan jag kaalvoet met ’n mes of ’n spies. Die oomblik wat jy ’n geweer en in sekere gevalle ’n boog optel, het jy as jagter die oorhand. Maak vrede daarmee.
Solank dit ’n wettige metode is, jag op jóú manier. Geniet dit, maar doen dit verantwoordelik. JANUS WESTRAAT
* Janus wen twee Salty Safari Wear-kortmouhemde van Promark.
BALISTIX-PRYSE
Ek verwys graag na Pierre Jordaan se brief ( Prys op aanvraag) in die Augustus-uitgawe van SA JAGTER/HUNTER.
Pierre, baie dankie dat jy jou ervaring met ons gedeel het. Dit stel Balistix in staat om regstellende aksie te neem. Hierdie aangeleentheid is met beide ons verspreider (Rapala) asook met die handelaar ter sprake opgeneem.
As relatief nuwe vervaardiger is ons tans nog in die proses om ons verspreidingsnetwerk te vestig en dit veroorsaak dat voornemende kliënte nie altyd die diens kry waarop hulle geregtig is nie. Hiervoor vra ons verskoning en ons wil graag die saak regstel. Die rede hoekom ons nie die pryslys as vervaardiger publiseer nie is omdat verskillende handelaars verskillende marges toepas en daarom verskil die prys van handelaar tot handelaar.
Skakel of e-pos my gerus by 082-4427-261 of chris@balistixbullets.com vir meer inligting oor Balistix-koeëls. CHRIS STRYDOM
JAG JY OF SKIET JY?
Ek het waardering vir Francois van Emmenes se artikel Jag jy of skiet jy? in die September-uitgawe van SA JAGTER/HUNTER. Mag ek hom net waarsku dat hy onaangename reaksie kan verwag.
Daar was heelwat kommentaar op my brief in ’n vorige uitgawe rakende my afkeur van onnodige (let op die klem) lang skote op diere en in jaggeweerkompetisies (weereens die klem) waartydens sommige deelnemers bevoordeel word deur baie duur optiese en ander toerusting. Ongelukkig was die reaksie meestal negatief en die beledigings kru. Dit het egter die nodige debat uitgelok onder skietsportliefhebbers en jagters.
Natuurlik is daar ’n plek vir langafstandskiet; dit is die onnodige langafstandskiet op diere wat die probleem is. Die meeste jagorganisasies het credo’s wat aandui dat ons respek vir die prooi moet hê. Daarom moet ek hom kan uitoorlê met my natuurlike vermoë en nie met my bankrekening nie.
My weerstand teen skieters (let wel: ek noem hulle nie jagters nie) wat koedoe-grootte diere aandurf op afstande van 500 meter en meer, het onder meer tot beskuldigings gelei dat ek nie kan skiet nie en dat ek sekere kalibers nie verstaan nie. Daar was ook mense wat kon spog en presies kon sê waarmee en met watter toerusting hulle oor watter (lang) afstande kop- en nekskote geskiet het die afgelope seisoen.
My oupagrootjie kon self ook bokke in die hardloop met legendariese kopskote plattrek op driehonderd jaarts. (Dit is terwyl Oupagrootjie gehardloop het en nie die bok nie!)
’n Gevoel van kwasi-depressiwiteit wou-wou van my besit neem omdat die meerderheid kommentare pro-langafstand (en teen my ouskool-jagmetodes) was. Daarmee saam moes ek ook vrede maak met die feit dat sommige Amerikaanse gebruike en metodes altyd hierheen oorspoel. (Ek vind dit egter steeds moei- »
Sê jou sê
» lik om my pet agterstevoor te dra of my broek baie laag en onderkant my onderklere te laat hang. Miskien, eendag...)
Soos Van Emmenes was my idee nie om vyande in die jagveld of op die skietbaan te maak met my opinie oor (onnodige) langafstandskote en onbehoorlike bevoordeling tydens kompetisies nie. Daarmee erken ek ook dat elke ou sy pet en sy broek kan dra soos hy wil, terwyl ek die keuse het om aan te pas (of nie).
In ’n ander jagtydskrif het ek die volgende juweel raakgelees van iemand wat blykbaar in dieselfde kamp as ek is: “Skiet as jy wil, maar jag net as jy kan”. Tien uit tien.
DIAGNOSE
JOHAN VILJOEN Ek wil graag repliek lewer op die artikel Diagnose deur Tuba van der Walt: Dié dokters dryf jou na drank.
In hierdie artikel kritiseer hy alle dokters (duidelik betrek hy nie net enkeles nie) o.a. omdat hulle nie drank en jag meng nie, hulle hul “dom” vrouens saambring om die plaas te kom ontwrig en dat die inskiet van hul gewere “ontaard in ’n Babelse ballistiese bombardement”. Hy maak asof elke skoot ’n kwes-, mis- of skramsskoot is en dat elke jagtog in chaos eindig! Boonop kritiseer hy omdat jy kyk waar die trajek van die koeël deur die bok is, asof dit nou verkeerd is! Ek wil presies weet waar ek geskiet het!
Hy insinueer dat dokters lekkerkry as jy op die teatertafel lê, die verkeerde operasies op hul pasiënte uitvoer en dat een konsultasie betaal kan word met die prys van ’n elandbul, vier koedoes, twee gemsbokke (gekwes) en agt rooibokke – sowat R47 000 sonder dag- en jagfooie.
Dokters is uiters bekwame en gevoelvolle mense in ’n etiese beroep wat omgee vir pasiënte en elkeen met empatie in nood hanteer. Ek kry die skrywer jammer, want hy vertrou nie dokters nie en moet maar na ’n kwaksalwer gaan as hy mangelontsteking het. Om ’n beskuldiging rond te gooi van ’n dokter wat ’n vasektomie uitvoer op ’n man wat eintlik vir ’n mangelprosedure opgeneem is, en dit dan op die jagveld toepas, is absurd!
Ek en my seun het die vorige naweek gaan jag, elkeen het twee skote geneem om in te skiet (al die skote binne 2 tot 3cm van die kol) en elkeen twee skote op twee bokke. Ek het in my 76 jaar nog nooit ’n bok misgeskiet of gekwes nie.
Hierdie artikel was nie bedoel as ’n grap nie. Dit is nie net gelees deur ’n paar grapjasse nie – dis ’n blatante belediging van die mediese beroep. Ek hoop hy verstik in sy sooibrand! NICO GROBBELAAR TUBA VAN DER WALT ANTWOORD: Geagte Dokter, die oorsprong van die storie het ontstaan by ’n groep dokters en hul professionele vriende wat al die afgelope 18 jaar elke winter hier by my in die Bosveld kom jag. Ek is verwaand genoeg om hulle my vriende te noem.
Die humoristiese skets, Diagnose, het toevallig in die tydskrif verskyn op dieselfde tyd wat hulle vanjaar op die plaas was om te jag. Hulle het die geskerts geniet en die humor dadelik gesnap. Hulle is beslis nie ’n klomp “grapjasse” nie, maar van die land se topspesialiste vir wie ek die grootste respek het.
U moedswillige verdraaiing dat ek kwansuis dokters “kritiseer wat nie jag en drink nie”, dat dokters hulle “dom” vrouens saambring, “verkeerde operasies uitvoer”, “lekkerkry as jy op die operasietafel lê” is onvanpas vir ’n man van u statuur.
Ek is self nie heeltemal ongeletterd nie, bykans u eie ouderdom en handhaaf ook hoë etiese waardes en standaarde (maar ek het al gekwes en mis geskiet.) Dié dat net jagters met soortgelyke beginsels uitgenooi word om die plaas te besoek.
Die “blatante belediging” van die mediese beroep word juis deur u eie “repliek” veroorsaak en u ondeurdagte kommentaar kan dalk ’n verleentheid vir “alle dokters” wees.
Baie dankie in elk geval vir u gratis mediese advies en u gevoelvolle empatie met my keelen sooibrandprobleme. (U spaar my R47 000 plus BTW). U verwys my egter na ’n “kwaksalwer”, ginekoloë haal mos nie mangels uit nie, of sit ek nou ook die bedpan heeltemal mis?
GOEDKOPER PRODUKTE
Baie dankie vir soveel genotvolle skrywes wat julle plaas in die SA JAGTER/HUNTER, ek geniet dit en waardeer die insette.
Ek stem egter heelhartig saam met Anton Coleman ( Duur produkte pla, Julie 2018). Ons armgatjagters (soos ek wat 78 jaar oud is) kyk liewer na ou en lojale verskaffers (soos Leupold en Howa) wat produkte lewer wat minder as R10 000 kos (ook in die Julie-uitgawe). Dit is hierdie verskaffers wat ons moet ondersteun. FRITZ BEYER
DIE OU DAE SE ONWETTIGHEDE
In die eerste dekades van die 1900’s was die Smitte die groot jagters in ons kontrei. Hulle was veldkenners en knap skuts. Elke Desember is die oudste seun op die plaas gelos (Remhoogte naby Baardskeerdersbos) terwyl die res met die ossewa na Uilenkraalsmond getrek het, so 15km weg. Daar het hulle uitgekamp en gekuier tot ná Nuwejaar.
Die Smitte het my vertel van een so ’n uitspan by Die Mond. Oupa Jakob (my oupagrootjie) en sy seun Japie het vroeg die eerste oggend tussen die duine in verdwyn waar duikers gewoonlik gewei het. ’n Duikerram het geval toe die skoot klap en hy is vinnig afgeslag en opgesny. Die res van die karkas is in die duinsand begrawe.
Op pad terug is daar vanaf die laaste duin bespied of die veldwagter nie by die kampterrein is nie, want die omgewing was goewermentsgrond. Terug by die kamp het ouma Annie die wildsvleis opgesny, dit in die groot driebeenpot gepak en op die vuur gesit. Na ’n ruk loop die riemtelegram, “Die veldwagter is hier!” Ouma het die swartpot van die vuur af gegryp, daarop gaan sit en haar wye sisrok om die pot uitgeklok. Net toe stap die veldwagter die kamp binne en begin rondkyk. Die pot het Ouma se boude gebrand, maar sy het haar sit gesit. Nadat hy oor ditjies en datjies gesels het, het die wagter koers gekies.
Ouma het opgevlieg, ’n emmer water gegryp en haarself in die tent gaan lawe. Die familie se ete is gered en haar man ’n stywe boete gespaar, maar kortkort het iemand gevra: “Annie, hoe gaan dit met die blase op die boude?”
’n Paar oggende later is Oupa en Japie weer die duine in. Toe die skoot klap, trek ouma Annie ’n mansbroek aan en gaan leen ’n jas en breërandhoed. Sy stap toe met die jas se kraag opgeslaan en met lang treë in die kamp rond. Bo-op die naaste duin het Oupa-hulle gelê en kyk. “Wie’s dit Pa?” het Japie gevra. “Weet nie, dis nie onse mense nie,” het Oupa geantwoord.
Agter Avila se koppe het die somerson hoër geklim en neergebrand op pa en seun (waar hulle lê en sweet het). Na ’n uur het Ouma haar mansklere gaan uittrek. Uitasem en natgesweet kom die twee manne later met die vleis daar aan. “Ons kon lankal hier gewees het,” sê Oupa, “maar hier het ’n vreemde man rondgeloop en ons moes op die duin in die hitte lê en wag dat die blikskottel loop.” Ouma Annie se wraak was soet.
Die Smitte het my geleer dat jy bosbokke in die kuswoude moet jag as die wind stormsterk waai. Die gesuis van die wind en geritsel van die takke en blare gee jou ’n beter kans om naby aan die bok te kom. Hulle het gemaan: “Boetie, maak seker jou eerste skoot is ’n doodskoot, want ’n gekweste bosbokram is ’n bogger, en Boetie, hou dinge maar wettig.” NICO GROENEWALD