IN MY VISIER
Ivo Vegter skryf onlangs in die Daily Maverick hoedat ’n verbod op jag wildbewaring negatief sal beïnvloed. Volgens inligting wat hy versamel het, was daar in 2015 ongeveer 11 600 wildplase in Suid-Afrika (dit sluit in ekotoerismeplase, teelplase en jagplase). Die totale hoeveelheid grond wat hierdie plase beslaan, is sowat 22 miljoen hektaar of 18% van die land se oppervlakte. Op hierdie plase word ongeveer 22 miljoen stuks wild aangetref.
Daarenteen beslaan ons nasionale parke ’n area van sowat 4.1 miljoen hektaar en word nog so 2 miljoen hektaar as regeringsparke bestuur. Daar is ’n geskatte ses miljoen diere op hierdie gronde.
Wildboere besit nie net meer grond en hou nie net meer wild aan as ons nasionale bewaringsinstansies nie, maar hulle is ook in besit van en bewaar veel meer van ons skaars wildsoorte as wat in ons nasionale parke gedoen word.
Private wildboere in Suid-Afrika byvoorbeeld, besit 15 000 swartwitpense, 4 500 bastergemsbokke en 7 000 bontebokke teenoor die nasionale parke se 500 swartwitpense, 380 bastergemsbokke en 1 000 bontebokke.
Jag verdien rondom R7.5 biljoen jaarliks en ontleed jy die wildboere se inkomste, sien jy dat 5% daarvan van eko-toerisme verkry word, 7% van vleisproduksie, 16% van lewendige wildverkope en 72% van jag. Om volhoubaar te kan jag, moet die boer dus sorg dat hy na sy kuddes omsien. Daar is geen waarheid daarin dat jag wild uitroei soos die groenes so lief is om te lieg nie.
Ek gaan nie die argumente hier aanvoer nie, maar dis oor en oor bewys dat jag in ons huidige moderne lewe die beste manier van bewaring is. Wild wat nie waarde het nie word sum- mier vervang deur iets wat geld kan inbring. Daarom kan ons maar net met groot dankbaarheid na ons wildboere kyk en applous gee vir wat hulle doen.
Maar ten spyte van al die goeie werk is die wild- en jagbedryf ook deurspek met kontroversie. Belanghebbendes verskil van mekaar oor plaasbestuur, wildteel, kleurvariante, jagmetodes, geteelde leeujag, langafstandjag, die sogenaamde put and take- tendens, misleidende bemarking, gewaarborgde trofeë vir buitelandse jagters, jag op posseël-grootte plase en nog vele meer.
Daar word voortdurend gevra wat moreel aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. Sommige mense is van mening dat ’n wettige jag nie noodwendig altyd moreel aanvaarbaar is nie en dat enige moreel onaanvaarbare jag of gedrag, jag erg in gevaar stel en die groenes nóg meer skietgoed gee.
Belanghebbendes vra gereeld dat jagters en wildboere nie hul vuil wasgoed in die openbaar moet was nie en eerder verskille en geskille agter die skerms moet oplos. Saamstaan en saamwerk is die antwoord, sê hulle, want so word ons sterker teen die groenes.
Ander voel weer dat hulle nie kan swyg oor die kontroversies in die jag- en wildbedryf nie. Saamstaan en saamwerk ten alle koste en openbare swye kan te veel lyk na ’n toesmeerdery – wat jag en die hele bedryf veel groter skade kan berokken.
Wie is reg, dié wat swyg en saamstaan bepleit, of dié wat soos die opposisie in die parlement m opstaanpstaan en ‘wolf, wolf’ sk kree? Oordeel maar self.
Mooi loop!