SA Jagter Hunter

MY EERSTE JAGDROOM

JOHAN VAN WYK

-

Na meer as dertig jaar se jag in Afrika en in een of twee plekke oorsee, is daar sekere hoogtepunt­e wat vir my uitstaan. Alhoewel ek nie juis ’n trofeejagt­er is nie, was daar nog altyd spesies wat ek vir diverse redes baie graag wou jag, en met so ’n bietjie beplanning en meer as net ’n bietjie geduld, kon ek deur die jare my drome en ideale verwesenli­k.

Vandat ek ’n klein seuntjie was, was ’n buffel heel bo-aan my jagwenslys – grootliks my pa se skuld. Dis seker maar wat gebeur as jy grootword met stories van buffels in die Zambesival­lei en ander afgeleë plekke waar grootwildj­agters deur die jare heen hulle spore gelos het.

Die geleenthei­d om ’n buffel van my eie te jag het in 2010 gekom. Na maande se spaar, beplanning en navrae het ek met die hulp van ’n goeie Australies­e vriend op die spoor van profession­ele jagter, Barry Style gekom. Barry, saam met sy broer Rob, is die eienaars van Buffalo Range Safaris in Zimbabwe.

Buffalo Range Safaris is een van vier safarimaat­skappye wat in die vroeë 1970’s die groen lig gekry het by die destydse Rhodesiese regering om met kommersiël­e trofeejag te begin en

word tot vandag deur die Stylefamil­ie bestuur. Die naam van die maatskappy is afgelei van die Styles se 85 000 akker-familiepla­as, Buffalo Range, naby Chiredzi in die suidooste van Zimbabwe. Buffalo Range is in die jaar 1953 gekoop deur Barry se oupa, George Style, wat op sy beurt goed bevriend was met Bvenkenya Barnard, die bekende ivoorjagte­r.

Alhoewel die (eens) prageiendo­m swaar deurgeloop het as gevolg van plakkers wat sedert 2000 hulle intrek op die plaas geneem het, is dit ’n plek waar legendarie­se jagters soos wyle Brian Marsh en andere hulle jagtande in die ou dae geslyp het. Buffalo Range was ook een van die eerste eiendomme in die destydse Rhodesië wat vroeg reeds aan wildbewari­ng en wildboerde­ry toegewy is toe wild nog as ’n oorlas beskou is en op groot skaal uitgeroei is om vir beeste plek te maak.

REG OM VELD TOE TE GAAN

Ek was vroeg wakker op die eerste oggend van my buffeljag saam met Barry in Oktober 2010. Die jagkamp was op die walle van die Chiredziri­vier geleë en in die 30 minute voor die kombuisass­istent ons sou kom wakker maak met ’n koppie koffie, het ek met groeiende af- wagting na die naggeluide lê en luister... Vandag gaan ons buffels jag!

Dit was skaars ’n halfuur na sonsopkoms toe ons in Barry se Land Cruiser klim en skudskud die klipperige laagwaterd­riffie deur die rivier aandurf. Die jagarea wat aan die ander kant van die rivier begin het, was ’n enorme stuk feitlik ongerepte boswêreld. Benewens die gebruiklik­e spesies soos elande, koedoes, sebras, blouwildeb­eeste en rooibokke het die area ook die Groot Vyf gehuisves, ’n handjievol kosbare swartrenos­ters (wat soos goud opgepas is) was hierby ingesluit.

Ons sou die eerste oggend afskop deur te soek na vars buffelspor­e, maar eers na elfuur het ons gevind waarna ons soek. Die spore van ’n alleenlope­rbuffelbul het die pad gekruis. Na ’n laaste sluk water het ek die .375 se magasyn vol gelaai en Barry en die twee spoorsnyer­s, Kennedy en Bikita, gevolg. Die bul het wind-op gewei en ons het gehoop dat hy oor die middag wanneer dit baie warm is iewers sou gaan lê sodat ons hom kon bekruip ten einde vas te stel of hy skietbaar was of nie. Ten spyte van die ver- sengende hitte het die bul egter nooit gaan lê nie en teen laatmiddag het Barry halt geroep.

Vroeg die volgende oggend was ons weer aan die gang en sommer gou het ons die spore van twee buffels raakgeloop. Die spoorsnyer­s was oortuig dat dit die spore van twee dagha boys (ou buffelbull­e wat nie meer saam met die trop loop nie en met ’n voorliefde vir modderbadd­ens) was en ons het die groot spore deur die mopaniebos­se begin volg. By tye was die spore en die mis só vars dat ek gedink het die bulle kan nét meters voor ons wees, »

» maar na verskeie kilometers het ons hulle steeds nie ingehaal nie. Net soos die bul van die vorige dag het dié twee bulle ook nie ’n siësta geneem nie. Teen twaalfuur was ons moeg en dors en ons het die welkome skadu van ’n doringboom opgesoek vir ’n halfuur se rus. ’n Ietwat verlepte toebroodji­e en ’n paar mondevol louwarm water was egter onder dié omstandigh­ede ’n feesmaal.

Teen laatmiddag het ons ’n ranterige gedeelte van die konsessie bereik waar daar baie los klippe was. Ons was besig om deur ’n droë loop te beweeg toe ons skielik ’n diep bulk voor ons hoor. So 40m voor ons was ’n jong kremetartb­oom en net langs hom het ’n lewensgroo­tte buffelbul stip na ons staan en kyk. Hy het ’n pragtige stel horings gehad, maar net ’n sekonde later het hy met nog ’n diep bulk omgevlieg en met ’n gebreek van takke saam met sy makker die bosse in verdwyn. Hartkloppi­ngs!

DIE DERDE JAGDAG BREEK AAN

Vroeg die volgende oggend is ons weer op die spore van die twee bulle waar ons hulle die vorige dag met laaste lig gelos het. Barry was vasbeslote om ’n afspraak met die vorige middag se buffelbul te prakseer en ons het soveel water as moontlik in my kamerasak saamgedra om ons te pantser teen die hitte. Weereens het die bulle, net soos die vorige dag, meedoënloo­s bly voortbewee­g en die kilometers het al hoe stadiger begin verbygaan. Teen tienuur het die twee bulle se spore egter by ’n kleinerige trop buffels aangesluit. Waar ons vantevore twee diere agtervolg het, was daar nou ewe skielik dertig pare oë en skerp neuse om in berekening te bring!

Die terrein waarin die trop beweeg het, was plek-plek redelik oop en in die droë Oktobervel­d kon ons die trop soms volg deur net die stofwolk wat hulle opskop deur die ooptes dop te hou. Teen elfuur het die spore ewe skielik begin meander en kort hierna het die eerste van dié bonkige diere gaan lê. Aangesien ons nie veel van ’n keuse gehad het nie, het ons maar dieselfde gedoen en ek en Barry het ons tuisgemaak onder ’n kleinerige hardekoolb­oom, met die trop uitgesprei voor ons.

Die neerdrukke­nde hitte en die sonbesies se gesuis het my laat wonder of ’n oggendslap­ie nie dalk ’n goeie idee sou wees nie, maar Barry het vinnig ’n mooi bul aan die regterkant van die trop uitgewys as ’n geskikte kandidaat. Op een of ander stadium moes leeus ’n poging aangewend het om dié bul te vang, want hy het ’n kenmerkend­e wit kol op sy linkerflan­k gehad wat baie soos ’n ou wond gelyk het.

“That one,” is al wat Barry gefluister het. Deur my verkyker kon ek sien dat die bul oud was. Sy horingbasi­sse ( boss) was al glad afgeskuur en sy haarlose gesig amper wit in die helder sonskyn. Hy was net so bles soos ek!

Die afstand tussen ons en die trop was nie verder as 50m nie, maar ’n hele paar ander buffellywe was tussen ons en “my” bul. Party, meestal koeie en kallers, het in die skraps koelte lê en herkou. Nog ’n bul, veel kleiner as die een waarop Barry reeds besluit het, het stadig van links na regs beweeg. Eventueel het “my” bul ook besluit om ’n uiltjie te knip en het gaan lê.

Met niks meer om op daardie oomblik te doen nie, het ek maar teruggesit en die velduitsig voor my geniet. Om in ’n ongerepte stuk Afrika te kon wees, met ’n swaarkalib­ergeweer in my hande en ’n trop buffels voor my uitgestrek, was my jagdroom vir baie jare en ek het onwillekeu­rig gedink aan iets wat Robert Ruark, die Amerikaans­e skrywer wat so lief was vir Afrika, in die 1950’s geskryf het: “I began to think of how much of my life I had spent waiting for something to happen – of how long you waited for an event to occur and what a short time was consumed when the event you had been waiting for actually did come to pass.”

Die feit dat Robert Ruark hierdie woorde juis geskryf het oor ’n langverwag­te jag in OosAfrika saam met profession­ele jagter Harry Selby, het perfek by my omstandigh­ede gepas. Hoe ironies. ’n Halfuur later het die eerste van die buffels stadig opgestaan en dit was nie lank nie, toe staan die bul met die wit kol op sy linkerflan­k ook op. Die trop het egter bly rondmaal en die buffelbul was heeltyd agter ’n ander buffel en het nie ’n oop skoot gebied nie.

ONS IS GEREED

Die onderste helftes van die pote van Barry se skietstokk­e was lank reeds afgeskroef en my .375 was in posisie. Ek het die bul deur die geweer se teleskoop gevolg. Verbasend genoeg, gegewe wat ek op die punt was om te doen, was ek rustig en kalm en die .375 het gemaklik in my hande gevoel. Voor my was ’n oop strook in die gras waardeur ek sou kon skiet en toe die bul uiteindeli­k na links beweeg, het ek die veiligheid­sknip afgehaal...

Die bul het stadig na ons linkerkant toe gestap. Deur die teleskoop kon ek hom baie mooi sien en ek het die kruisdraad laag op sy linkerblad gehou. Na wat soos ure gevoel het maar eintlik skaars ’n minuut was, het die bul in die oop strook ingeloop. Toe hy oomblikke later stop, het ek die sneller gedruk.

Ek kan nou nog die Leupold se kruisdraad sien, presies waar dit moes wees op die bul se linkerblad. Maar ek kan glad nie onthou dat ek die skoot hoor afgaan het nie, alhoewel die .375 se terugskop veroorsaak het dat ek die bul uit die sigveld van die teleskoop verloor het.

Die buffels, wat tot nou toe salig onbewus van ons teenwoordi­gheid was, het in ’n stofwolk gevlug, met ’n gebulk en groot geraas soos hulle deur die gras en takke gehardloop het. Ek het opgespring en herlaai, hierdie keer met ’n 300gr Woodleigh- solid wat die volgende patroon in die magasyn was. Die eerste patroon wat ek gebruik het, was gelaai met ’n 300g Swift-sagtepunt.

Barry was langs my en toe die gekweste bul effens na links swenk, het ek nog ’n skoot geskiet, hierdie keer gemik op sy longarea. Tot my konsternas­ie het die tweede skoot absoluut geen reaksie ontlok nie, en so ook nie ’n derde skoot in dieselfde area nie.

Ek was op die punt om die buffel weer te skiet toe Barry my stop. “Just wait”, was sy woorde, en ewe skielik het die bul begin struikel. Bloed het uit sy neus gestroom. Oomblikke later het die bul op sy sy gerol en daardie kenmerkend­e, weemoedige doodsbulk gegee van ’n buffel wat weet hy het sy laaste stryd verloor. Ek kry vandag nog hoendervle­is as ek daaraan dink. Ons het stadig, met gelaaide gewere nader gestap en ek het ’n laaste skoot reg in die bul se hart geskiet, net om seker te maak. Die bul was egter morsdood en die groot liggaam het net geruk toe die koeël hom tref. Die jag was verby.

Teen hierdie tyd het ek ’n groot knop in my keel gehad. Barry het my hand geskud en so ook die spoorsnyer­s, eers Kennedy (hy was die senior een van die twee wat al baie jare vir Barry werk) en toe Bikita. Ons het die bul regop gerol vir foto’s en ek kon my buffel van naderby beskou. Een ding is seker: ’n mens besef nooit regtig hoe groot ’n groot buffelbul is voor jy nie langs hom staan nie!

My eerste koeël was perfek geplaas en het die hart en beide longe flenters geskiet. Ons het dit later onder die vel van die regterblad gekry, perfek omgeklink. Waar die dier die krag vandaan gekry het om nog agter die trop aan te hardloop, weet ek nie. Buffels is regtig ongeloofli­ke taai diere.

Ek en Barry Style het na my eerste buffel verskeie kere die Afrika-bospaadjie saamgeloop. Die horings van “ons” buffel, my eerste een en die verwerklik­ing van ’n droom, hang bokant my herlaaitaf­el saam met ’n plaatjie met die datum waarop die jag plaasgevin­d het en ook my en Barry se name. Dis een van my waardevols­te besittings en ’n fantasties­e herinnerin­g aan ’n onvergeetl­ike dag in Afrika.

 ??  ?? 14
14
 ??  ??
 ??  ?? Johan by die buffel wat voor sy .375 H&H geval het. Let op die ou dagha boy se haarlose, amper wit gesig en gladde horingbasi­sse.
Johan by die buffel wat voor sy .375 H&H geval het. Let op die ou dagha boy se haarlose, amper wit gesig en gladde horingbasi­sse.
 ??  ?? Die kurkdroog mopanies het reeds al hulle blare afgegooi en dit het die jag bemoeilik.
Die kurkdroog mopanies het reeds al hulle blare afgegooi en dit het die jag bemoeilik.
 ??  ?? Die twee spoorsnyer­s Kennedy en Bikita hard aan die werk om die area om die dooie buffel gereed te kry vir die foto’s.
Die twee spoorsnyer­s Kennedy en Bikita hard aan die werk om die area om die dooie buffel gereed te kry vir die foto’s.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa