VOORSITJAG IN DIE BO-KAROO
LEONARD POWELL
Dis jagtyd in die BoKaroo, die manne wil graag snellerdruk, grond onder hul voete voel en die reuk van karoobossies ruik. So sit ons toe af na Hanover in die Noord-Kaap waar Bo Karoo Hunting Safaris gesetel is...
Die nuwe dag was nog besig om weg te kruip onder die koue nagkombers van die Karoo toe ons opstaan en regmaak vir ontbyt. Boeretroos, vrugtesap, plaatkoekies, springboktongetjies, gebraaide lewer, lewerkoekies en kerriesult, tesame met heerlike vars brood (om nie eens te praat van die ingelegde, stroopsoet, groenvye nie) was op die spyskaart. Karoogasvryheid op sy heel beste.
Later, op die skietbaan, het ons seker gemaak dat die papierteiken en staalghong op 200 meter raakgeskiet word sodat die gewere reg is vir die Karoo se oop vlaktes.
Tussen ons manne was daar ’n Sauer in 7mm Remington Magnum, ’n .223 Ruger M77 Mk II, ’n .270 met ’n Lothar Walther-loop en Sako-aksie, ’n .308 Musgrave Lytteltonaksiegeweer met ’n Neilson Sonic-klankdemper op en ’n .243 CZ 550. Drie perderuiters met Basoetoeponies sou die bokke vir ons roer. Dié ponies is ’n kleinerige sterk perderas, geskik vir werk in bergstreke met hoë hoogtes en harde, moeilike terrein. Voor dit egter kon gebeur moes die skuts eers luister terwyl die professionele jagter, Pieter du Toit, duidelikheid gee oor die nodige veiligheidsmaatreëls, algemene reëls en veilige skootsvakke.
Die volgende instruksies is duidelik aan ons deurgegee:
Elke skut skiet net in sy aangewese skootsvak. Hy moet op sy plek bly en mag onder geen omstandighede rondloop nie.
Wees op die uitkyk na die per-
deruiters wanneer geskiet word en moenie in hul rigting skiet nie. Skuts mag ook nie in die rigting van openbare paaie, wonings, ander skuts of enige voertuig skiet nie.
Kwesbokke moet onmiddellik verklaar word – daarna begin al die perderuiters en jagvoertuie na die kwesbok soek. Wanneer die trop springbokke by ’n skut verbykom en daar is ’n gekweste bok in die trop, moet dié eerste geskiet word.
Kyk waar jou bok geval het na ’n doodskoot om herwinning te vergemaklik.
Die skuts sou só uitgeplaas word dat geeneen ’n ander kon raakskiet nie. Hulle het toegesien dat daar rantjies of selfs ’n berg tussen die onderskeie skuts was. Pieter het dit duidelik gemaak die mikpunt is om ’n derde volwasse ouer ramme, ’n derde ooie en ’n derde jong ramme te skiet. Geen drank is in die jagveld of by enige voorsitarea toegelaat nie.
DIE VOORSITJAG BEGIN
Die natuurlike plantegroei soos bome, bosse of sommer miershope het die skuilings in die 500ha-bergkamp gevorm. Almal was opgewonde met die aflaaislag en sommiges wat saam voorgesit het, het ’n skietstoel gedeel. Ek het ook driepootskietstokke, ’n x-bag en selfs ’n BOG-POD opgemerk – alles om die skuts te help om dooierus te vat en die bokkoors so ietwat te demp. ’n Skietstoel is ’n boer-maak-’n-plan-staalstruktuur met ’n lekker gemaklike sitplek en verstelbare skietrus. Die hele struktuur kan gerieflik in die rondte draai met die skut se geweer wat vorentoe en agtertoe, asook op en af kan verstel. Dooierus sal die skut verseker kan vat.
Met die geweermanne afgelaai, het die perderuiters rustig deur die kamp begin beweeg om die bokke te roer sodat hul binne skietafstand van die jagters kon kom. Die trop van nagenoeg 100 het sommer gou opgebreek en ’n klomp bokke het links om die berg gemik, verby ’n paar bloukraanvoëls, min wetend dat daar ’n roer sit en wag.
Die eerste bok het in die verbykom geval met ’n netjiese nekskoot (op 205 meter soos gesien deur die 6.5-20x50 Vortex Viperteleskoop). Dié trop het toe ook opgebreek en sommige van die bokke het tot naby aan ’n bos gehardloop waar nog ’n skut gelê het. Nóg ’n bok het daar op 60m geval toe die .308 se 168gr PMP-patroon sy teiken netjies op die blad tref. Afstande is sekuur met ’n Bushnell 580 Sportafstandsmeter gelees.
Daarna het die bokke terug gedraai en weer die oop vlaktes in gehardloop waar hul gou agtergekom het dat die oop veld met sy kapokbos, oftewel die Kaapse sneeubossie, glad nie goeie skuiling bied nie. Die .270 met sy 8.5-25x50 Leupold VX3 LR-teleskoop en 150gr Sierra GameKing-patrone het ’n bars- hou geskiet... Na die skoot het die bokke uitmekaar gespat, maar die perderuiters het ’n paar terug gekeer na die bergrant se kant toe.
Daar, hoog teen die rant het ’n skut gesit, gewapen met sy UltraOptic 8x42-verkyker en »
» Nikon 6x20-afstandsmeter. Sou die springbokke óm die berg beweeg na ’n enkele geweerskoot, het dié skut geweet dat die trop in sy rigting op pad was. Na sy raakskoot het die bokke die verte in verkas en agter ’n trop blesbokke gaan staan. Die skut kon deur sy verkyker duidelik die jong bokkies van die groteres onderskei. Hy het ook gesien dat die groot 13”ram al klaar uitgeskiet was...
Toe die trop weer begin beweeg, het hulle koers gekies na ’n plek waar hulle tussen twee rantjies deur kon gaan na ’n ander deel van die kamp. Daar was egter ook ’n skut. Die droë bos reg agter hom het sy silhoeët mooi gebreek sodat dit moeilik was om hom raak te sien. Die bokke het in enkel gelid nader gedraf waar die .30-06 CZ 550 op sy Harris-tweepoot reg was vir aksie. Toe die bokke hoog teen die oorkantste rant gaan staan, het die 4-12x50 Leupold VX2 se kruishaar sy merk op ’n ram se nekbasis gevind. Met die druk van die sneller het die springbok in sy spore neergesak. Die 165gr Hornady GMX het sy werk goed gedoen. Toe die skoot bulder, het die res van die trop deur die poort na vryheid gehardloop...
LAFENIS IN DIE KAROOHITTE
Soos wat die tyd aangestap en die son gestyg het, het dit warm geraak. Voorsit is ’n jagmetode wat geduld vereis. Die bokke gaan nie elke vyf minute by jou kom draai nie. Gelukkig het ons lekker kospakkies ontvang. Daarin was ’n gekookte eier wat in sy eie maalvleisjassie toegedraai was, tesame met tuisgemaakte toebroodjies, sjokolade, ’n lemoen, ’n blikkie koeldrank en ’n bottel water. Dankbaar vir dié lafenis, het die jagters tyd gekry om die Karoobossiewêreld te geniet. Hier is medisynebossies soos die ankerkaroo, kapokbos (ook bekend as die wilderoosmaryn of sneeubossie) wat gebruik kan word vir hoes, verkoue, maagkwale en die ontspan van spiere.
Deel van dié rykdom is vaalkaroo- of bitterskaapbossie wat baie lyk soos ’n uitgegroeide ankerkaroo. En ook koggelmandervoet, ’n houterige dwergstruikie, wat gebruik word vir skaap- en bokvoer. Daar was baie verskillende karoobossies en struike, maar ’n paar bly tog uitstaan, soos die ghwarriebos, ganna en voëltjie-kan-nie-sit-nie, elk met hul eie kenmerkende geure. Selfs gryskopmossies pluk geurige takkies vir die bou van neste wat uitgevoer word met die kapokbos se wit dons.
Met die geur van verskeie Karooplante en die kenmerkende gefluit en vlerkgeklap van die hoëveldse klappertjies in die agtergrond, het die skut se dagdrome geskuif na die realiteit by die aanskoue van ’n paar witborskraaie wat op ’n lugstroom ry. Hulle het ook maar gesoek na iets om te aas tussen die Karooklippe en struike. Daar was grysruglewerikke en Kaapse kapokvoëls in die nabyheid en in die verte ’n paar bloukorhane wat koes-koes deur die Karooveld gewei het.
’n Rooiribbok het in die berg gefluit waar hy gestaan en kyk het. Dit was verseker nie die skelm ou springbokram waarvan ons vertel is wat so fluit nie. Hy was skynbaar die einste springbokram wat geweet het waar die beste gras in die berg groei, weg van die Karoovlakte se bossies en vingergras, weg van jagters met hul gewere... ’n groot, ou bok. ’n Bok wat oorlewing goed ken.
TERUG BY DIE WERKLIKHEID
Die skut het twee opeenvolgende geweerskote in die verte gehoor. Die bokke was nie meer ver nie. Toe hulle onder die rant se kop tot stilstand kom, het die Leupold se kruishaar agter die eerste bok se regterblad vasgesuig en die skoot het geloop. Daarna was dit die .30-06 se beurt om te bulder en
nóg twee jonger bokke het witpens bo gelê. Hierdie drie is op 25, 30 en 130 meter geskiet.
Die middagson het al water getrek, toe werk die Nissanbakkie nog hard om die bokke by die slagkamp uit te bring. Die voorsitspan het baie goed gedoen en hulle kwota vir die jag bereik. Altesaam 26 springbokke is platgetrek. Daar was ook geen kwesbokke nie en die manne was tevrede en dankbaar. Die laaste bokke se binnegoed is gou verwyder en op ’n waentjie gelaai om later by die slagkamer afgelaai te word waar hulle sorgvuldig met skoon, lopende water gewas en toe afgeslag is. Daardie aand by die vuurherd het die manne gesmul aan heerlike Karoodisse en koesterkosgeure soos gebakte soetpatatwielietjies met kaneel, gebakte blomkool met kaassous, Karoolamsvleis, gebakte wildsvleis, wildspastei bedien saam met heel, gebakte boontjies en fetakaas, gebakte aartappels, rys, pastaslaai, kerriewortels, beetslaai op sy beste en gesogte Kaapse wyn van diep uit die kelder. Onder die Suiderkruis in die helder hemelruim het die laaste aandluggie koud gedraai en die vlamme hoog gestaan. Die manne het tot laatnag gesels oor die dag se voorsitjag.
Karoobokke is nie so groot soos Kalaharibokke nie en die groter ramme wat ons geskiet het se karkasse het die skaal op so 17kg getrek. Soos vooraf gereël, is die jaggroep se vleis netjies opgesny en sorgvuldig vakuumverpak. Met gemoedsrus het ons vroegoggend die lang pad huis toe aangedurf.
Bo Karoo Hunting Safaris is ’n jagonderneming wat nie net voorsiening maak vir kwaliteitverblyf en egte Karoo-etes nie, maar wat ook voorsitjagte baie suksesvol kan aanbied vir groepe van tot soveel as 20 jagters. Pa-en-seuns/dogtersgroepe is welkom en so ook korporatiewe jaggroepe. Hierdie is ’n veilige en professionele onderneming wat diens van hoogstaande gehalte lewer.