BOSVELDFISANT, BABER, BOSBOK EN BRULPADDA!
GERRIE VOSSER
In my grootwordwêreld in die Marico-bosveld het seuns net skoene gedra wanneer hulle kerk toe gegaan het en ons voetsole was net so taai soos ons swart maats s’n. Streepsuiker as tugvorm was nie onwettig nie en ons werk op die plaas is nie as kinderarbeid beskou nie. Die eelte in ons handpalms was so hard soos dié van ons pa’s, en net soos ons pa’s was ons versot op jag.
Maar destyds het niemand geweet dat rooikeelbosveldfisante Francolinus swainsonii heet, of dat ’n besnorde been- kopbaber se eintlike naam Clarias gariepinus is nie. Ons was ook onbewus daarvan dat die skugter-skelm bosbokke se grênd naam Tragelaphus scriptus sylvaticus is of dat daar in die Skotse Hooglande iets was soos ’n McNab-kompetisie.
Nie dat ons weens ons on- kunde slegter daaraan toe was nie. Tog sou dit vir my beter gewees het as ek meer van die brulpadda Pyxicephalus adspersus geweet het. Soos byvoorbeeld dat dit ons grootste padda is wat maklik 2kg kan weeg en ’n lengte van 24cm haal; dat hy twee skerp, tandagtige beenuit-
groeisels in sy onderkake het, en dat, wanneer hulle na die eerste lentereëns uit hulle diep ondergrondse kokonne te voorskyn kom, hulle rasend honger is en vir enigiemand kans sien...
’N OU BEKENDE
In 1967 het die Bosveld uitbundig gereageer op vroeë lentereëns en tydens die Oktober-skoolvakansie was die bome reeds uitgedos in skakerings van groen. Weerskante van die kronkelende Maricorivier was golwende lae rante oortrek met plate swarthaakbosse vol ronde vaalwit blommetjies wat gelyk het soos ’n indaba van wyse ou gryskopmanne.
Dries en ek was in ons vroeë tienerjare en een mooi oggend, geklee in ons ou kakiekortbroeke en kortmouhemde, het ons kaalkop en kaalvoet voetgeslaan rivier toe om babers te vang. Soos altyd het ons ketties om ons nekke gehang en in elkeen se broeksak was ’n handvol ‘koeëls’ – stukkies ⅜”-sagtestaalbewapening wat met ’n industriële guillotine na maat gesny was. Dit was dodelike kettie-ammunisie. Dries het ’n lang stok gedra waaraan ’n skelpienk plastieksak voor aan die punt vasgeknoop was. Binne die sak was ’n bondel goed ryp, onwelriekende skaapderms wat onweerstaanbare aas vir babers was. Oor my skouer het ek ’n verweerde bamboesvisstok met ’n antieke houtkatrol gedra en in my een hand ’n bliktrommeltjie met hoeke en sinkers.
’n Entjie van die rivier af was daar langs die voetpad ’n ou miershoop wat dig begroei was met dwerghaak-en-steek-bosse, wilde rosyntjies en katsterte. Vanuit hierdie bosse het die skel territoriale roep van ’n bosveldfisant luid opgeklink. Ek en Dries het dié ou haan goed geken. Hy het ál ons vorige pogings om hom in die pot te kry, ontduik deur skelm te verdwyn sonder om ooit op te vlieg. Nou het hy kortstondig op ’n lae tak verskyn, sy rooi keel opgepof en ons krassend uitgeskel voordat hy na veiligheid afgewip het waar ons hom in die boskasie kon hoor rondskarrel.
Ek en my maat het gestop en kajuitraad gehou. Dit sou hierdie keer ’n ander plan verg as vorige pogings. Ons het besluit dat Dries binne sig van die miershoop sou bly sit en die sak vol aas bo sy kop heen en weer swaai om die fisant se aandag te hou. Ek moes dan met ’n wye draai ons prooi van agter bekruip om hom met die kettie onder skoot te kry. So gesê, so gedaan. Alles het goed verloop totdat ek in ’n vlak slootjie 20 meter vanaf die miershoop, met my kettie gelaai en gereed in my hande, tot stilstand gedwing was. Tussen my en ons teiken was daar ’n oop area. Ek kon nie nader nie. Skaakmat. Dries het naderhand my penarie opgemerk en inisiatief geneem. Met ’n bloedstollende gil het hy opgespring en die miershoop gestormloop. Dinge het daarna baie vinnig gebeur.
Die fisant het sy roep midskree ingesluk, uit die bosse die lug in ontplof en met klappende vlerke oor my geboog. Die skoot met my kettie was instinktief en sonder om eintlik te mik – ’n vinnige terugtrek en laat los. Dit was beloon met ’n resultaat net so skouspelagtig as wat dit onverdiend was. Die stukkie staal het hoorbaar getref, vere het bruin teen die blou lug gewarrel, die fisant het met ’n geknakte nek uit die lug geval en die aarde agter my met ’n plofgeluid getref. My mond het oopgehang. Wat ’n gelukskoot!
Dries se mond was ook oop soos hy, steeds al jillende, nader storm terwyl hy die stok triomfantlik bo sy kop op en af pomp. Iets wat hy eerder nie moes gedoen het nie, want die plastieksak het geskeur en terstond die slymerige inhoud daarvan met ’n slurpgeluid oor hom uitgestort. Hy het hygend na sy asem gesnak; nog iets wat hy eerder nie moes gedoen het nie, nie met die klomp derms om sy kop gedrapeer nie. Wat volgende gebeur het, is nie iets wat ’n mens in ’n tydskrif kan beskryf nie...
WEER OP KOERS
’n Ruk later het ons aanbeweeg. Ek voor en Dries met ’n kaal bolyf buite reukafstand heelwat verder agtertoe. Die derms, wat hy sonder my hulp van homself moes afstroop, was saamgebondel in sy vuil hemp. Die pienk plastieksak het die gees gegee en die aas was heelwat minder.
Met die aankoms by ons ge- kose plek teen die rivier – ’n lang, diep poel water – kon Dries sy mond uitspoel en homself skoon was. Dít het sy gemoedelikheid herstel. Aan die einde van die winter het sediment in die stilstaande rivier voldoende uitgesak sodat die water semi-deursigtig was. Ons het die visstok gereed gekry deur ’n groot hoek aan die lyn vas te maak en ’n bondeltjie derms daarom te woel. Genoeg lyn is van die ou katrol afgerol en op ’n skoon kol sand in ’n wye ovaal geplaas. Toe is die hoek met ’n onderarmbeweging ’n ent weg in die poel gegooi is. Ons het in die koelte van ’n groot soetdoring stelling ingeneem sodat ons skadu’s nie op die water sou val nie. Dries was eerste aan die beurt om die visstok te beman.
Dit was nie lank nie of ’n baber het op sy kenmerkende grypen-laat-spaanderwyse die aas gevat. Dries, wat sy regterhandpalm teen die tollende katrol se rand gedruk het om ’n kraaines te verhoed, het die vis kans gegee om goed spoed op te tel. Toe lig hy die stok se punt sodat die baber kan begin speel, maar dit was eerder ’n geval van probeer speel, want die ou katrol het min hulp gebied teen die vis se vegvermoë. Sommer gou was dit nodig om die katrol, waarop daar in elk geval nie veel lyn was nie, vas te hou en met die gekromde stok teen die rivier se valsbank uit te stap en só sonder seremonie die baber uit te trek. Die proses en sukses is herhaal en teen die tyd wat ons aas op was, het ’n goeie vangs van sewe babers op klam modder in die koelte gelê – vinnig gedood deur die werwelkolom by die breë kop met my knipmes af te sny.
Op pad terug het Dries by »
Die fisant het sy roep mid-skree ingesluk, uit die bosse die lug in ontplof en met klappende vlerke oor my geboog.
» ’n vlak pannetjie water aan die voet van ’n rantjie die babers se binnegoed uitgehaal en hulle skoon gespoel om die vrag ligter te maak. Tuis het ons die visse om die beurt aan hul onderkake opgehang, die taai vel net onder hul koppe losgesny en met ’n draadtang afgestroop. Daarna is die babers netjies in filette gesny.
BOSBOK SE BEURT
Laatmiddag het ek en Dries teruggekoers rivier toe. Hierdie keer met ’ n ou oopvisier-.303 Lee Enfield in die hoop om ’n bosbok raak te loop. Ons het reeds geweet ons kanse was goed om een onder skoot te kry, want dis die tyd van die dag wanneer hierdie ruigtebewoners lief is om aan die rand van die bos in die oper dele te wei. Met hoedens op ons koppe om die blink van ons gesigte ietwat te verberg, ’n sakkende son in ons blaaie en ’n ligte windjie skuins van voor, het ons ’n entjie weg van die rivieroewerbos onder die takke van ’n taaibos ingeskuif.
Die Maricorivier maak hier ’n wye boog wat ons goeie skootsvakke van sowat 100 meter elk na weerskante gebied het. Roerloos het ons ons onderskeie areas dopgehou in afwagting dat ’n bosbok sou verskyn. Net voor die son ondergaan, het ’n troppie blouape teen die rivier verbygetrek. Ek en Dries het ons asems opgehou en gehoop dat die apies ons nie sou sien en ons teenwoordigheid met hulle kenmerkende “kgabo!”-alarmkrete weggee nie.
Pas nadat die laaste apie verdwyn het, het Dries langs my verstyf en met sy ken beduie na waar ’n bosbokram, sjokoladebruin en met sy kenmerkende krom rug, stadig in ’n oop kolletjie inbeweeg het. Dit was in my skootsvak en soos ons vooraf ooreengekom het, was dit dus my skoot. Stadig het ek die ou geweer gelig, ’n patroon reeds in die kamer maar met die slagpenveer ontspan. Ek het oor my knieë aangelê voordat ek die plat ronde knop aan die agterkant van die grendel sag teruggetrek en die wapen gespan het. Die gloed van die ondergaande son agter my het ’n duidelike aanlêprentjie op die donker bok gebied. Na die eindelose lang voortrek het ek meer druk op die sneller toegepas totdat die skoot geknal en die geelkoperbeslaande kolf skerp teen my skouer teruggeskop het. Toe die geweerloop weer terugsak na die horisontale posisie, was daar geen teken van die bok nie. Kort daarna het ’n effense stofwolk verskyn waar hy gestaan het, en kon ons hom hoor skop – die skoot was raak!
Ons het vinnig vorentoe gedraf en die laaste entjie versigtig nader gestap, die oorgehaalde .303 aan my skouer en Dries skuins agter my. ’n Gewonde bosbok is niemand se speelmaat nie. Net toe ons die ram kon sien, het hy ’n laaste keer verstyf en die lig in sy oë het verdof... Dit was verby. Ons aanvanklike bruisende vreugde het vir die eerste keer, en dus nog vreemd vir ons as jong jagters, omgesit in ’n stil bedeesdheid toe ons die pragtige dier met sy draaihorings met die skerp punte betrag het.
Na ’n rukkie was dit die pragmatiese Dries wat, toe hy die bok wou bloei, besef het dat hy my knipmes by die waterpannetjie laat lê het, daar waar hy die babers se binnegoed verwyder het.
PARMANTIGE PADDA
Al geselsende het ons saamsaam teruggedraf na die pan om my mes te gaan haal. Met ons aankoms daar het nog ’n nuwe vreemdheid ons begroet: Die vlakwater het plek-plek krioel van brulpaddas waarvan daar vroeër die dag geen teken was nie. Waar ons die babers skoongemaak het, het ’n nog vreemder gesig ons begroet. Op die binnegoed was ’n besondere groot brulpadda besig om derms ywerig met sy voorpote in sy wye bek te druk en af te wurg. Hy het gedeeltelik op my knipmes gesit. Toe ek my mes wou vat, het die ou hom vererg, homself nog groter opgeblaas, sy lyf op kort beentjies regop geruk en dreigend met ’n oop bek komieklik na my toe gehop. Geamuseerd deur sy parmantigheid, het ek my vinger voor sy neus gewaai, waarop hy in ’n oogwenk vorentoe ge- spring en my vinger pynlik beetgekry het. Voordat ek kon reageer, het hy al kouende dieper gebyt en my vinger soos ’n wafferse bulhond verbete heen-enweer geruk. Die skerp pyn het my met ’n gil laat terugsteier, my hand swaaiend deur die lug om die verwoede miniatuurmonster van my af te kry. Die bloed het geloop terwyl ek tot my skande gehol het om van die gevaar weg te kom. Hierdie keer was dit Dries se beurt om lekker te lag...
Op hierdie unieke dag het ek onwetend, met bosveldfisant, baber en bosbok, ’n MaricoMcNab verwerf. Boonop moes ek eerstehands ervaar dat selfs ’n jagter moet ligloop vir (van alle dinge) ’n blêssitse brulpadda! Ek haal aan: “[Beware] the amphibious frog: comic looking predator, lion of the mud.” – Out of the African Ark, deur David en Guy Butler.