’N BOOGJAGTER ONTDEK WEER DIE ROER
REAN STEENKAMP
Daar is twee soorte boogjagters. Die een soort begin deur eers net teiken te skiet en begin dan later jag, terwyl die ander soort reeds jag en dán besluit om die boog op te neem om sodoende hulle jagervaring uit te brei.
Baie jagters wat eers lank net met ’n geweer gejag het, sal jou beslis vertel van hulle eerste jagervaring met die boog. ’n Mens hoor egter selde van ’n ervare boogjagter wat jou vertel van sy eerste jag met ’n geweer, maar dis hoe dinge met my gewerk het. Na meer as twee dekades se jag met die boog, het ek onlangs my eerste groot bok met ’n moderne roer platgetrek.
HOE ALLES BEGIN HET
As jong knapie het ek elke va- kansie op ’n plaas naby Vaalwater deurgebring waar ek voëls met ’n windbuks geskiet het en ook later hase, tarentale en fisante met ’n .22-geweer. Alles is vir die pot gejag, want my tannie was ’n bobaaskok en kon van bykans enigiets wat ons geskiet het, ’n lekker dis voorberei.
Na skool het ek vir meer as ’n dekade en ’n half nie weer gejag nie, totdat ’n goeie vriend my aan boogskiet bekend gestel het. Die natuurlike gevolg daarvan was dat ons met die pyl en boog begin jag het. Hoe dan anders? Wat is die nut daarvan om goed boog te kan skiet, indien jy nie iets daarmee kan jag nie? Vir baie jare daarna het ons bokke met stok- en kragboë bekruip, voorgesit of uit ’n boomstoel en skuiling geskiet.
So ’n paar jaar gelede het die swartkruitgogga my gebyt en het ek ’n swartkruitgeweer aangeskaf. Toe my groepering klein begin word het, moes ek net met dié voorlaaier jag. Die ervaring was soortgelyk aan boogjag, aangesien ’n mens ook redelik naby aan jou prooi moes kom omdat jy met oop visiere skiet.
Met ’n moderne slotaksiegeweer met ’n teleskoop het ek baie jare gelede laas gejag. ’n Goeie vriend het egter gesorg dat dié situasie verander.
Twee jaar gelede het Nicky Niehaus my genooi om op hul plaas, Nottingham, te jag. Die plaas is in die Kalahari-bosveld, naby Mareetsane – ’n pragtige deel van ons land. Hy het my ’n rooihartbees gegee om met die boog plat te trek. Nicky se plan was dat ek dit met ’n gekromde (tradisionele) boog moes skiet. Om dit te doen is egter moeiliker as wat die meeste mense dink. Tydens dié naweek het ons ’n paar keer rooihartbeeste bekruip, maar het elke keer verbrou, of die wind het gedraai en die diere het weggehardloop.
Wanneer ’n mens met ’n tradisionele boog jag, moet jy liefs naby aan die dier kom voor jy skiet – verkieslik 15treë ofminder. ’n Rooihartbees is ’n wakker dier en om só naby aan een te kom, sit nie sommer in elke man se broek nie.
Was dit nie vir my jongste dogter, Karla, nie, het ons met leë hande na Pretoria teruggekeer. Karla, wat toe 13 jaar oud was, het ’n vlakvark suksesvol met ’n kruisboog gejag.
’N GEWEERJAG WINK
Vroeër vanjaar het ons weer by Nicky gaan kuier. My vriend, Johan Smit wou graag ’n rooihartbees met sy .308 plattrek en ek het net saamgery om uit die stad weg te kom. Karla, my vriend, Viktor Kühn en sy jagmaat, Waldo (16), asook Johan se seuns Michael (10) en Ivan (20) en sy neef Ruan Els (22) was saam. Ons het ons tente in
een van die krale op die plaas opgeslaan en daardie aand om die kampvuur die volgende dag se jag beplan. Johan sou op die aangrensende jagplaas ’n rooihartbees jag terwyl die ander jagters op Nicky se plaas sou skiet wat hulle raakloop – enigiets van ’n fisant tot ’n duiker.
Vroeg die volgende oggend het Nicky egter besluit dit is tyd dat ek die beloofde bok skiet en hy het daarop aangedring dat die jag met sy geweer gedoen word. Hy het dié geweer van sy oupa geërf, wat dit op sy beurt by sý pa geërf het. Dit was dus oorspronklik sy oupagrootjie se geweer – ’n 7x57 Mauser wat in 1936 gebou is. Nicky het niks aan die geweer verander nie, maar wel ’n teleskoop laat monteer. Ons het die magasyn met 140gr Impala-patrone volgemaak.
’n 7x57 Mauser het ’n besonderse plek in my hart. Nie weens die geweer se ballistiese eienskappe nie, maar bloot omdat dit dié roer is waarmee die Boere in die Anglo-Boereoorlog die Britte aangevat het. Ek was opgewonde. Hoewel ek gewoonlik boog skiet, neem ek darem nog gereeld die een of ander geweer in die hand en is my groeperings meestal nie te vrot nie. Ons skiet ook gereeld met die windbuks, die voorlaaier of ’n kruisboog. Die windbuks en die kruisboog help my om ingeoefen te bly om met ’n teleskoop te skiet.
Na ’n paar oefenskote was Nicky tevrede dat ek die kol kon tref en ons het die veld ingevaar om na ’n rooihartbees te soek. Nicky ken gelukkig die plaas baie goed en weet waar dié diere loop. Dit is ’n pragtige plaas met kameeldorings, blinkblaarwag-’n-bietjies, rosyntjiebosse en matoppies.
HARTBEESTE IS VINNIG EN SKERP
Die rooihartbees is volgens sommige mense die tweede vinnigste bok in Afrika. Die vinnigste is die tsessebe. (Die Amerikaanse gaffelbok of pronghorn is glo die vinnigste bok op aarde). Die rooihartbees is rats, vinnig en aangepas om in ’n droë klimaat te woon. Dit behoort tot die subfamilie Alcelaphinae, wat die naasverwante blou- en swartwildebees, bontebok, blesbok, tsessebe en Lichtenstein-hartbees insluit.
Ons het die eerste troppie hartbeeste raakgeloop in ’n gebied wat oortrek is met jong, skouerhoogte kameeldoringboompies. Dié deel van die plaas is ’n ou saailand en dié bome het maar onlangs daar begin groei. Ons teikentrop was ’n bultroppie wat bestaan uit diere van verskillende ouderdomme. Nicky het voor geloop en ek kort op sy hakke – stadig, van bos tot bos en so stil as wat moontlik is in ’n area waar die grond met baie droë takkies en blare bedek is. Die wind het egter gedraai en die bulle het ons geruik en met ’n ritmiese draffie, tiperend van dié spesie, laat spaander. Rooihartbeeste sien nie te wonderlik nie, maar hul reuk- en gehoor is gewis baie goed.
Daarna het ons ’n gemengde trop hartbeeste raakgeloop. Kort ná ons hulle begin bekruip het, het hulle ook onrustig geraak en verder weggedraf. Nicky het nie moed verloor nie en ons het die trop vanuit ’n ander rigting benader. Tree vir stadige tree het ons nader beweeg. Ons het in die skaduwees probeer bly en die hele tyd ’n bos tussen ons en die diere probeer hou.
Die hartbeeste het weer onraad gemerk en begin wegdraf, maar een koei het bly staan. Omdat hartbeesbulle én -koeie horings het, moet ’n jagter seker maak van die dier se geslag voor die skoot klap. Die koeie se horings is gewoonlik dunner en die vroulike diere is slanker gebou as die bulle. By die bulle is die penisknoop ook dikwels sigbaar. Nicky ken dié spesie goed en hy het dadelik geweet wat voor ons staan. Watter geslag die dier was, het nie vir my saak gemaak nie. ’n Bul met groot horings het ’n bekoring vir elke jagter en ek sou graag een wou skiet, maar ’n koei se vleis is sag- ter en geuriger en ’n aanwins vir ’n vleisjagter soos ek. Nicky het die afstand op 110 meter gemeet en ek het oor sy skouer na die dier aangelê. Toe die skoot klap, het die hartbees ’n paar treë weggedraf en onder ’n jong kameeldoringboom gaan staan. My moed het in my skoene gesak, want ek het gehoop die bok sou in haar spore neerval. Toe dit nie gebeur nie, het ek verwag dat sy enige oomblik in volle vaart sou weghardloop. Sy het egter nie, want my eerste skoot het goed getref. Ons het ’n bietjie nader gestap en ek het haar ’n genadeskoot in die nek gegee.
BESONDERSE ERVARING
Vir my was dié geweerjag ’n besonderse ervaring. Ek het weereens besef dat ’n boer en sy roer onafskeidbaar is en hoewel ek grootliks ’n boogjagter sal bly, gaan ek in die toekoms gewis weer met ’n geweer jag. Elke wapen het sy eie bekoring en uitdagings. Ons as jagters moet onthou dat ons nie boogjagters, geweerjagters of wat ook al is nie, maar bloot net jagters. Indien ons saamstaan en jag in die algemeen bevorder, staan ons ’n kans teen die anti-jagters se aanslag.
Johan het tydens die jag twee rooihartbeeste met sy .308 platgetrek, Viktor het ’n duiker met sy houtboog geskiet, terwyl Karla en Waldo onderskeidelik ’n fisant en ’n haas geskiet het. Dit was dus in meer as net een opsig ’n suksesvolle jag en ’n heerlike ervaring.