DOOIERUS – 'N DRAAI MET DIE LIG
Ek is nie skaam om dit te erken nie: Ek is met die maan gepla. Veral as sy so smeulend volrond en oranje oor die horison loer. Maar so mal soos ek oor die volmaan is, net so dankbaar is ek vir ’n skraal sekeltjie. Want dis met donkermaan dat Die Lig tot sy reg kom.
Dis hoe ons die stuk toerusting sommer kortweg noem: Die Lig, want hy staan sentraal tot alles wanneer ons met hom werk. Gee aan Die Lig. Laat sak Die Lig. Lig meer links. Lig dié kant of daai kant.
Die skemerwêreld van die soeklig is anders as die bekende omgewing van die dag. Net so is nagskiet ook ’n hele ander ding as jag. Fair chase is dit glad nie. Fair chance ook nie, ingeval jy ’n verskil tussen die twee sou wou vind. Dobbel is dit wel, want jy moet op die regte tyd op die regte plek wees om die regte oog te vang met die lig. Dis ’n soektog, net soos jag, en dit verg bedrewenheid om ’n doodskoot te trek, net soos jag. Maklik om te verwar derhalwe, maar jag in die ware respekvolle sin van die woord? Nie in my boek nie.
Daarvoor het ek darem al te veel ’n kruis getrek op twee blink oë wat blind geanker staan of soek-soek aanstrompel. Jy smokkel ’n dier se kop mos heel met daai lig. Al wat jy dan nog hoef te doen, is raak skiet.
En tog hoor jy mense sê hulle gaan jag as hulle eintlik bedoel hulle gaan nagskiet met ’n lig. Wat seker te verstane is, want deesdae word alles waarby die dood van ’n dier en ’n vuurwapen betrokke is, jag genoem. Of jy nou in ’n kraal of uit ’n helikopter of van ’n kilometer weg af skiet, mense praat van ‘jag’.
Hoe dit ook al sy, nagskiet is nie ’n nuwe ding nie. Selfs in die dae van die lantern was dit al ’n taktiek van wildstropers en Langplaasskieters. In baie gevalle is dit nog steeds ’n onwettige jagmetode, maar dit skrik mense skynbaar nie af nie. “Kom ons gaan ry ’n draai met die lig,” sal iemand voorstel na ’n braai, of wanneer ’n paar verveelde outjies lus kry vir ’n bietjie aksie.
As daar gewere saamgaan, kan dinge so ’n slag lelik raak. Benewens die wettigheidsaspek raak so ’n uitstappie soms ’n moordtog waar geskiet word op enigiets. Kleinwild loop deur en ook diere soos muishondjies, grou- en swartpootkatte, erdvarke, ystervarke en bakoorjakkalse.
Maar Die Lig het nogtans sy plek. Tydens nagoes is ’n soeklig byvoorbeeld onontbeerlik. Hierdie oesmetode is ’n noodsaaklike been van wildbestuur, een wat die vermindering van getalle effektief en met relatief min steurnis moontlik maak. Ook met probleemdierbeheer is Die Lig ’n sleutel tot sukses. En dan is daar natuurlik ’n draai ry met Die Lig – sonder wapens – sommer net om te kyk wat in die nag in die veld aangaan.
Só ’n nagrit is ’n wonderlike ervaring. Dis die ‘Huisgenoot onthul’ van die veld – voyeurisme op sy natuurlikste. Allerhande donkerstreke wat ’n mens andersins nooit sou sien nie, word blootgelê in die helder ligstraal. Die aard van die toneel – ’n verligte kol geraam in donkerte – gee selfs ’n televisiegevoel aan die kyker. En dan lyk die viervoetakteurs boonop asof hulle toneel speel as hulle so selfbewus en stokkerig beweeg. Maar tog is dit eg; lewende 3D op die hoef as’t ware.
Dit kan egter ook bedrieglik wees. In die wisselende spel van lig en skadu lyk die omgewing heel anders as in die dag. Jy’s gedisoriënteerd en plekke vertoon vreemd. Dinge is nader. Of verder. Suid in plaas van noord. Of selfs heel onherkenbaar.
Die lekker van so ’n nagrit is natuurlik dat jy kans kry om diere en hul gedrag deeglik van nader te bekyk. Hulle word geanker deur die lig en gee jou meer tyd as bedags. Jy sien ook diere wat jy selde in die dag sou raakloop. Muskeljaatkat, rooikat, krimpvarkie, ystervark, erd- vark, bosvark, ietermagog, sivet en dies meer: In die straal van die lig kry jy geleentheid om hierdie skugter naglopers mooi te bekyk.
Jy leer later selfs om diere aan hul oë te eien. Die aarselende groen ogies van ’n steenbok. Jakkalsdraf se sien jou/sien jou nie. Die malende flikkers van ’n klompie rooibokke. Die hoë oë van koedoes. ’n Nagapie se bonsende helder pierings. Die dowwe glinster van ’n naguiltjie op die grond.
As jy die volle waarde uit so ’n ervaring wil kry, moet die man agter die lig egter sy storie ken. Kyk waar jy lig, moenie lig waar jy kyk nie, is tradisioneel die raad, want anders kan niemand saamkyk nie. Swaai die lig egalig van negeuur links tot drie-uur regs en maak seker jy kam ook die hange en duike deur.
’n Ongeduldige drywer kan net so ’n irritasie wees soos ’n rukkerige ligman. Die bestuurder moet stadig ry en weet waar om te talm en wanneer om te stop as hy sy passasiers ’n aangename ervaring wil gee.
En dan is daar natuurlik die koue om mee rekening te hou. Op ’n wintersaand kruip die koue in jou are in. Die hand wat die lig swaai, al is dit met ’n dik handskoen, voel later soos ’n lewelose prostese. Die ure glip verby maar tog wil niemand gaan slaap nie, want wie weet wat wag dalk in die volgende swaai van Die Lig?!
Kyk waar jy lig, moenie lig waar jy kyk nie, is tradisioneel die raad...