IN MY VISIER
En so sak die son oor nog ’n jaar... een wat gekenmerk is deur vele dramas. Vir baie is die Springbokke se dramatiese vertonings ’n groot kopseer. Die een Saterdag veroorsaak hulle euforie onder ondersteuners, net om jou die volgende week skuins teen die grond moedeloos moerig, befoeterd te maak. Sulke wipplankvertonings is sleg vir die gesondheid en ek dink sterk daaraan om die Bokke vir aanspreeklikheid te dagvaar.
Maar eintlik is die sooibrand wat Rassie-hulle ’n mens gee kleingeld in vergelyking met ander dramas. In sekere dele van ons land knel die droogte steeds. Die brandstofprys laat jou nou tweemaal dink voor jy die motorsleutel draai (dis nogal jammer, Pretoria was elke Desember so lekker stil as al die Valies by die see is). Ek wil nie eens daaraan dink hoe die arme saaien ander boere wat groot hoeveelhede brandstof móét ge- bruik se onkostes gestyg het nie. Vervoermaatskappye is net so in die knyp.
Van boere gepraat... 2018 was ook die jaar waarin die swaard van grondonteiening voor hulle, én alle Suid-Afrikaners met besitreg, se deure kom lê is. Hoe gaan dit ons land in die toekoms beïnvloed? En misdaad? En plaasmoorde? Watter plaasmoorde? Ons eie president sê dan daar bestaan nie so iets nie en hy is tog ’n eerbare man (of so sê hulle).
Dít was seker een van die bitterste pille om te sluk in 2018. Om te sien hoe dié man sonder om te blik of te bloos die geweld teen ons boere ontken.
Met al dié kopsere is ek Vaderdankiebly vir jag en skiet. Dis ’n ontvlugting van die daaglikse dramas wat dwing om jou kortasem te maak van moedeloosheid. As ek terugdink aan die afgelope jaar en sekere jagte in herinnering roep, skyn die son deur die newels en is ek steeds dankbaar dat ek hier in Afrika mag woon.
Dit was warm, die bos kraakdroog en ek was seker die groot koedoebul wat voor ons in die ruie bos gewei het, sou ons enige oomblik hoor... maar ons geluk het gehou. Die 180gr-koeël het hom tussen die oog en oor getref sonder dat hy ooit van ons teenwoordigheid bewus was.
Maande later in die Moordenaarskaroo het ek vroegaand sit en kyk hoe die skemer nader skuifel, lui rokies van my soetdoringvuur voel-voel die donker begin verken en sterre, skynbaar skaars ’n armlengte weg, vriendelik knipoog. Die vroegaand het ’n karos van volmaaktheid oor die K’roo getrek.
Ek onthou die winter se byt toe ek ’n paar maande later in die Bo-Karoo vroegoggend langs ’n swarthaakbos gekniel het, klappertand van die koue en ’n bietjie bokkoors. Voor my het ’n handjievol gemsbokke en twee springbokke witpens in die wintersonstaan en bak. Met die .270 Win oor die skietstokke het ek gewag dat die een springbok ’n tree of twee vorentoe gee en my ’n oop skoot bied.
Blouwildebeeste het my laat swoeg hierdie jaar. Die hitte, stof steekvlieë, droë keel, ’n steil berg en uitputting het my laat wonder waarop ek myself so mors. Maar die aand langs die kampvuur was ek dankbaar dat ek Afrika kon ervaar.
Ek onthou die vroeë oggendmis oor ’n vleiland in KwaZuluNatal en toe die wit sluiers lig, hoe ’n rietbokram asof uit die niet verskyn het om oor sy koninkryk te staar...
Dink ’n bietjie en droom ’n bietjie weg van al die land se probleme af. Droom veld, droom skaaprib op ’n kameeldoringvuur en sterk swart koffie op klappertandoggende. Droom ’n springbok in die môreson of ’n koedoebul se skor blaf in ’n boskloof. Droom jag.
Ten spyte van als is daar steeds iets om oor te glimlag. SA JAGTER/HUNTER wens elke leser ’n geseënde Feestyd toe en ’n propvol jagseisoen in 2019.
Mooi loop!