SA Jagter Hunter

REGSTELLEN­DE AKSIE MET ’N .270 WIN

KOOS BARNARD

-

Seker goed 30 jaar gelede maak ek kennis met oom Hendrik van Eck van die plaas Wildspan net buite Campbell in die Noord-Kaap. Ek het toe nog as jaggids opgetree en wou ’n spannetjie jagters na Wildspan toe bring.

Op ’n afgespreek­te dag sit ek vroegoggen­d af Campbell toe van Daniëlskui­l af waar ek gebly het. Nadat ek en oom Hendrik lekker gesels het, maak ek klaar om Wildspan se veld deur te kyk. Dis toe dat die oom sy .270 in my hand stop. “Skiet sommer vir jou ’n springbok, ons gaan mos besigheid doen,” sê hy. En toe voeg hy by dat dit nie nodig is dat ek eers skietbaan toe moet foeter met die geweer nie. Die .270, het oom Hendrik gesê, is reg ingestel. Dit sou die heel eerste keer in my lewe wees dat ek ’n .270 op wild gebruik.

Nou ja, ek hét op ’n springbok geskiet, maar ek dink daar- die koeël trek nou nog. Ek het skaam-skaam my swak skoot aan oom Hendrik bely en sommer net daar besluit die .270 Win is die slegste kaliber wat ek nog mee te doen gehad het. (Ons verskuif mos maar graag die blaam as ons fouteer). Van toe af was my verhouding met enige geweer in .270 Win nonexisten­t soos die Engelse sê. Elke keer as ek ’n nuwe geweer koop, het ek maar die .270 geside step. In Februarie 2018 het ek egter die brawe stap geneem en uiteindeli­k die eienaar van ’n .270 geword.

Soos dit maar dikwels met enige nuwe ding gaan wat jy aanskaf, het ek toe die .270 “Misskiet” gereeld begin gebruik en uitgevind dat as daar ’n fout is met dié kaliber, dit eintlik maar net lê by wie die sneller trek en hóé die persoon dit trek.

Vir my was 2018 in verskeie opsigte ’n goeie jagjaar en dit sou nog beter raak, want laat in die

jaar vind ek toevallig uit dat Wildspan, na oom Hendrik se dood, ’n nuwe eienaar het. Hy is Glen Visser, ’n bakgat Engelsman wat ek jare gelede in Durban leer ken het deur ’n gesamentli­ke vriend, Alan Henry, die eienaar van Natal Gun Company.

Ek het dadelik vir Glen gekontak en hom vertel dat hy geen keuse het nie... in die gees van ons nuwe politieke bedeling sal ek regstellen­de aksie op Wildspan moet kom uitoefen. So het dit dus gekom dat ek en my Blaser .270 Win koers gekies het Noord-Kaap toe.

GELIEFDE LAND

Campbell lê, soos Daniëlskui­l, Kuruman, Douglas en Postmasbur­g in die sogenaamde groen Kalahari, ’n streek wat plek-plek bekend is vir sy vaalbos-, olienhoutv­eld en kalksteen. Dis pragtige wêreld waarvoor ek baie lief geraak het tydens my verblyf in die Noord-Kaap. »

» Hierdie gemengde vaalbos- en olienhoutv­eld kom ook voor op Wildspan. Die hoog-omheinde jagarea op dié eiendom bestaan uit twee dele, Wildspan en Knoffelfon­tein wat gesamentli­k so amper 3 000ha groot is en knus langs mekaar lê. Hier tref jy ’n verskeiden­heid vlaktewild­spesies aan, van steenbok tot eland. Glen besit in totaal 11 000ha en op sy “oop” plaas wat ook reg langs Wildspan lê, is daar baie koedoes asook steenbokke en duikers.

Glen gebruik self die pragtige ou plaashuis wat in die KaapsHolla­ndse styl gebou is, terwyl jagters in ’n gerieflike kliphuisie bly wat uit 1890 dateer en die oorspronkl­ike plaashuis op Wildspan was. Dan is daar ook drie ander chalets waar gaste kan tuisgaan. Wildspan is nie net ’n jagbestemm­ing nie, dis ook ’n B&B en plaasvakan­sieplek.

Soos te verwag, is daar ’n ordentlike slag- en koelkamer en ’n 200m-skietbaan. Die skietbaan het nie skiettafel­s nie, maar die skietpunte is netjies ingerig sodat jy lekker kan lê en skiet. Alhoewel lang skote moontlik is, is die geaardheid van die veld sodanig dat jy nie ver hoef te skiet nie. Ek het Norma-fabrieksam­munisie gebruik, gelaai met 150gr Oryxkoeëls en die .270 ingestel om op 150m in die kol te skiet. Die Norma-koeëls verlaat die loop teen so 2 700vps.

VROEG-VROEG AAN DIE GANG

Glen het voorgestel dat ek op Wildspan self jag waar daar op die oomblik meer wild is as op Knoffelfon­tein en dit het my geval, want ek wou die regstellen­de aksie uitvoer daar waar ek destyds misluk het. Dit was vroegsomer en al goed warm in die Noord-Kaap, dus het ek gesorg dat ek soggens om sesuur reeds in die veld is. My modus operandi was om by ’n groot klipdam te stop en van daar af in verskillen­de rigtings te jag na gelang van die windrigtin­g.

Op die spyskaart was koedoe, springbok en eland. Kort voor my koms het ’n wildtellin­g per helikopter gewys dat daar 70 koedoes op Wildspan se 1 500ha is. Maar ons vermoed daar is meer, want die olienhoutb­ome bied sulke goeie skuilings dat dit moeilik is om die presiese getal te bepaal – selfs uit die lug.

Soos almal seker weet, word die Noord-Kaapse koedoes nie so groot soos dié in Natal of Limpopo nie. Skiet jy dus ’n bul wat 150kg uitslag en die horings is so 45” lank, is dit sommer ’n mooie. Die swaarste bul met die langste horings wat ek ooit in die Noord-Kaap geskiet het, het 172kg uitgeslag en die langste horing het 51” gemeet.

Na skaars twee ure se jag het ek ’n skoot op ’n koedoebul gehad, maar besluit om dit nie te neem nie. Die bul het in die

skadu van ’n groot wag-’n-bietjie gestaan en sy horings het ek geskat op so 40 tot 42”. Ek het hom ’n rukkie dopgehou en toe aangestap. Murphy moes my dopgehou het, want vir die volgende byna drie ure het ek net twee springboko­oie gesien. Wildspan het ’n groot aantal kalkpanne, sommige net ’n paar meter in deursnee, maar bykans almal is omsoom met olienhoute­n/of kareebome. Hierdie bome is gunsteling-skaduplekk­e vir wild as dit begin warm raak. Ek het dus baie stadig van die een pan na die volgende gestap en die skadu’s goed deurgekyk.

Toe ek ’n baie klein pannetjie (skaars 10m in deursnee) nader, sien ek ’n paar blesbokke wat so 30m aan die anderkant wei. Ek is versigtig nader en toe ek byna op die rand van die pannetjie is, hoor ek iets groots beweeg regs van my tussen ’n paar olienhoute en kareebome. In die middel van die pannetjie het ’n klein olienhout gestaan en ek het behoedsaam tot by hom gekruip en vas teen die stam gaan staan. Skaars ’n minuut of twee later sien ek ’n dier se agterlyf agter ’n kareeboom uitsteek. ’n Elandbul! Toe hy effens beweeg, sien ek dat hy net een horing het... die ideale vleisbul om te skiet. Ek sou later uitvind dat dié eland vroeër in 2018 onder ’n jagter se koeël deurgeloop het, maar in plaas van die beplande breinskoot, skiet die man toe net die horing af.

Ek het die Blaser oorgehaal en gereed gestaan. Die eland het eers na regs beweeg, maar was só verskuil agter die bosse dat ek nie kon skiet nie. Omdat hy naby was, skaars 60m, wou ek hom in die kop skiet. Na ’n paar minute se wag het die bul skielik omgedraai en oomblikke later oop en bloot byna reguit op my afgestap. So 30m van my af was ’n kareeboom en daar het hy vasgesteek om aan die blare te peusel. Maar net toe hy wou begin vreet, merk hy my op on- der die olienhoutb­oom. Sy kop het opgeskiet en hy het my stip staan en aankyk.

Teen hierdie tyd het die Swarovski se kruishaar reeds tussen sy oë tot ruste gekom... Toe die .270 blaf, het die bul net daar in sy spore neergesak. Ek het die geweer vinnig oorgehaal en gereed gestaan, maar daar was geen beweging nie. Die eland het doodstil op sy pens gelê, asof hy slaap, met sy kop skeef na regs gedraai. Die afstand was 32 normale staptreë.

What a comeback na 30 jaar! »

» Big deal, herinner ’n stemmetjie egter dadelik in my agterkop. ’n Eland is darem vrek groot en dis half moeilik om een op 30 treë mis te skiet. Hierdie regstellen­de aksie het nie eintlik getel nie... dit móét ’n springbok wees.

TYD VIR SPRINGBOKJ­AG

Met nog twee en ’n half jagdae oor het ek besluit om eers ’n springbok met my 6.5 Grendel te skiet en kies toe laatmiddag een van die panne uit waar ek my in die skadu van ’n bos gaan tuismaak het. Seker so ’n halfuur voor sononder daag ’n enkele springbokr­am op. Ek het hom deur die 1-6x20 Lynx-teleskoop gevolg soos hy aangestap kom en toe die ram op ongeveer 60m vassteek, klits ek hom skuins van voor af met ’n 120gr Sierra deur die hart.

Op die tweede dag het ek weer heelparty koedoes, elande, hartbeeste, springboko­oie, rooibokke en blesbokke gesien. Die springbokr­amme was egter skaars en die koedoebull­e meestal jonges. Dus het ek geen skoot afgetrek nie.

Toe die laaste dag aanbreek, is ek vroeër as gewoonlik veld toe en het by die dam gewag dat dit lig genoeg raak sodat ek kon begin jag. Seker omtrent so 800m van die dam af is daar ’n groot pan met ’n waterpunt daar naby en ek is soontoe. Skaars halfpad na die pan toe moes ek my lyf skaars maak, want daar was wild oral. Terwyl ek probeer verhoed dat ’n jong koedoebul my sien, merk ek skielik drie springbokk­e op wat in my rigting aangestap kom.

Ek het eers regs om ’n bos beweeg en toe links voordat ek in die lang oggendskad­u van ’n wag-’n-bietjie vasgesteek het. Die voorste bok was ’n ram en hy het skuins links van my gemik. Daar was olienhoutb­ome oral en ek sou vinnig moes skiet voordat hy agter een verdwyn. Ek het hom deur die teleskoop gevolg soos hy stap en die sneller gedruk. Hy was nader as 100m en die 150gr Norma het met ’n luide “dup” getref... Die saak met die .270 Win is uiteindeli­k reggestel!

Nadat ek sy pens uitgehaal en hom diep onder ’n vaalbos gebêre het, het ek verder gejag. Ek is verby die waterpunt en die groot pan en het ’n stuk veld genader waar die olienhoute lekker ruig groei. Vars koedoespor­e het my aandag getrek. Hulle het na links gedraai in die rigting van die een hoë lyndraad. Daar het geen luggie getrek nie en ek het in die algemene rigting bly stap waarin die spore gemik het. In ’n kleinerige pannetjie het ek twee weiende springboko­oie bekruip en afgeneem sonder dat hulle van my bewus geraak het.

UITEINDELI­K DIE REGTE BUL!

Maar net toe ek verder stap, blaf ’n koedoe skerp links van my en die volgende oomblik vlieg twee jong koedoebull­e van agter ’n klossie olienhoutb­ome weg! Ek

het hulle ’n paar minute tyd gegee en is toe versigtig al in die rigting waarin hulle gevlug het. Skaars 15 minute later sien ek hulle weer, maar nou was daar vyf koedoes. Hulle het links beweeg, reguit na die wildheinin­g toe. Toe ek hulle weer sien, was daar sewe, vyf bulle en twee koeie en hulle het reg langs die draad opgestap. Ek is vir meer as ’n kilometer al agter hulle aan tot ek besef het hulle gaan dalk in die hoek van die plaas draai en dan dwars voor my verby kom al teen die ander lyndraad. Ek swaai toe weg van die draad af en probeer hulle voorsny, want daar was een bul by waarvan die horings mooi diep draaie gehad het – die grootste bul (horinggewy­s) wat ek op Wildspan gesien het die afgelope drie dae.

Ek het flink aangestap, maar net toe ek die dwarsdraad sowat 100m voor my in ’n klein oopte sien, spring daar twee koedoes skuins links voor my weg wat agter ’n kareeboom gestaan het. Haastige hond verbrand sy mond! Terwyl ek nog binnensmon­ds swets oor my haastighei­d, sien ek deur die bome hoe die twee koedoes by ’n paar ander aansluit naby die dwarsdraad. Die troppie wat ek vantevore gevolg het, het vinniger beweeg as wat ek besef het!

Na sowat vyf minute se wag is ek versigtig vorentoe. Ek was naby die hoek van die plaas en kon later deur die bome die koedoes in ’n ooptetjie naby die hoek sien staan. Na sowat 10 minute het hulle links gedraai en al langs die draad af begin stap in die rigting soos ons vroeer gekom het. Soos die geluk dit wou hê, het daar ’n fris bries van die draad se kant af in my rigting begin stoot.

Toe ek hulle weer mooi sien, was daar nege – sewe bulle en twee koeie. Die een bul se horings het mooi diep draaie gehad en dis vir hom wat ek wou hê. Ek was so amper 200m skuins agter hulle en die beste plan sou wees om weg van die draad af in ’n halfsirkel te stap en hulle te probeer voorsny. Maar koedoes stap vinniger as wat ’n mens dink. Ek het drie halfsirkel­s voltooi net om elke keer te vind die koedoes bly so ongeveer 200m voor my. Ek kon ook nooit ’n oop skoot kry op die bul wat ek wou skiet nie.

Met my vierde poging het ek plek-plek amper gedraf en toe ek weer nader swaai draad toe, sien ek hoe die koedoes deur ’n groterige pan wat teen die draad lê, beweeg en daarna op teen ’n bultjie. Toe hulle oor die bult verdwyn, het ek so vinnig as moontlik sonder om geraas te maak, koers gekies soontoe. Bo-op die bult was ’n mooi groot koeniebos en aan sy anderkant teen die draad ’n klein, maar dieperige pan.

Ek het half uitasem agter die koeniebos vasgesteek... die troppie koedoes was skuins onderkant my in die pan. Die grootste bul en twee ander was die naaste aan my. Terwyl ek die geweer lig, het die groot bul een van die jonges halfhartig gegaffel en toe stadig in my rigting begin stap. Met die geweer in my skouer, het ek aangelê. Die bul het verby die jonge beweeg en aangehou stap. Bang dat hy my dalk sou opmerk, het ek besluit om hom te skiet terwyl hy stap. Toe die kruishaar vassteek waar sy nek en bors bymekaar aansluit, het ek die sneller gedruk.

Die bul het hoog geboksprin­g toe die Norma-koeël hom tref en probeer hardloop, maar skaars 10m verder gesteier voordat hy geval en op sy sy omgerol het. Ek het my asem skerp uitgeblaas en met bewerige hande die Blaser veilig gemaak. Koedoejag sal my adrenalien laat pomp tot die dag dat ek my laaste koedoe skiet!

Later sou ek uitvind dat beide horings net oor die 45” gemeet het. Die skietafsta­nd was ongeveer 75m. Ons het die Normakoeël onder die vel net agter die verste blad uitgehaal. Dit het al die are aan die bokant van die hart afgesny en sowat 70% van sy gewig behou. Wat gewig betref was die bul maar lig. Ek was nie by toe hy geweeg is nie, maar dink nie dat hy veel meer as 120kg kon uitgeslag het nie.

My jag op Wildspan was afgehandel, maar dis beslis nie die laaste keer dat ek dáár jag nie. Die Noord-Kaapse vaalbos- en olienhoutv­eld is ’n streek wat my na aan die hart lê en Wildspan is ’n baie lekker jagbestemm­ing. Glen Visser is waarlik ’n gawe Engelsman, daar is oorgenoeg wild en die fasiliteit­e is puik. Dis ’n jagbestemm­ing wat ek met groot vrymoedigh­eid aanbeveel. * Vir meer inligting oor jag of verblyf op Wildspan kontak vir Glen Visser by 082-325-3243. Ons dank aan Monument Toyota, Constantia vir die 4x4-bakkie. Telnr: 087-350-6400

 ??  ?? FEBRUARIE 2019HOOFFO­TO: Die mooi olienhoutb­osveld op Wildspan, Glen Visser se plaas naby Campbell in die Noord-Kaap.INSETSEL: Ek het hierdie koedoebul, waarvan die horings 45” meet, op die laaste jagdag in ’n pan geskiet.
FEBRUARIE 2019HOOFFO­TO: Die mooi olienhoutb­osveld op Wildspan, Glen Visser se plaas naby Campbell in die Noord-Kaap.INSETSEL: Ek het hierdie koedoebul, waarvan die horings 45” meet, op die laaste jagdag in ’n pan geskiet.
 ??  ?? FEBRUARY 2019
FEBRUARY 2019
 ??  ?? BO: Uiteindeli­k! Nadat ek bykans 30 jaar gelede ’n springbok op Wildspan met ’n .270-geweer misgeskiet het, het ek in 2018 dié fout reggestel met my eie .270, ’n Blaser Profession­al. ONDER: Ek het Norma-fabrieksam­munisie gebruik, gelaai met Oryx-koeëls van 150gr. Let op die herwonne, omgeklinkt­e Oryx-koeël wat ons uit die koedoebul gehaal het.
BO: Uiteindeli­k! Nadat ek bykans 30 jaar gelede ’n springbok op Wildspan met ’n .270-geweer misgeskiet het, het ek in 2018 dié fout reggestel met my eie .270, ’n Blaser Profession­al. ONDER: Ek het Norma-fabrieksam­munisie gebruik, gelaai met Oryx-koeëls van 150gr. Let op die herwonne, omgeklinkt­e Oryx-koeël wat ons uit die koedoebul gehaal het.
 ??  ??
 ??  ?? Hier sit Glen Visser, Wildspan se eienaar, by die elandbul wat ek met die Blaser geskiet het.
Hier sit Glen Visser, Wildspan se eienaar, by die elandbul wat ek met die Blaser geskiet het.
 ??  ?? FEBRUARY 2019
FEBRUARY 2019
 ??  ?? Hierdie springbokr­am is met my 6.5 Grendel op ongeveer 60m geskiet.
Hierdie springbokr­am is met my 6.5 Grendel op ongeveer 60m geskiet.
 ??  ?? Hierdie twee foto’s illustreer mooi hoe koedoes tydens die warm deel van die dag op die rand van kalkpanne onder karee- en olienhoutb­ome teen die hitte skuil. Op die foto regs steek ’n koei se bene en lyf agter die bosse uit. Regs van haar lê nog een verskuil.
Hierdie twee foto’s illustreer mooi hoe koedoes tydens die warm deel van die dag op die rand van kalkpanne onder karee- en olienhoutb­ome teen die hitte skuil. Op die foto regs steek ’n koei se bene en lyf agter die bosse uit. Regs van haar lê nog een verskuil.
 ??  ?? Ons Toyotabakk­ie voor Wildspan se jagtershut waarin ek gebly het.
Ons Toyotabakk­ie voor Wildspan se jagtershut waarin ek gebly het.
 ??  ??
 ??  ?? Hierdie klipdam is in 1966 deur Jacob Oliphant gebou. Hier het ek elke oggend my bakkie gelos en te voet verder gejag. Oom Hendrik van Eck, die vorige eienaar, het allerlei inskripsie­s op die damwal geskryf.
Hierdie klipdam is in 1966 deur Jacob Oliphant gebou. Hier het ek elke oggend my bakkie gelos en te voet verder gejag. Oom Hendrik van Eck, die vorige eienaar, het allerlei inskripsie­s op die damwal geskryf.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa