SKIETNEK SE ROOIRIBBOK
ANDRÉ GERBER
My kollega, Ferdi de Bruyn het ’n nuwe mens uit die Karoo teruggekom. Hy het ons kom bederf met ribbokwors wat met skaapvleis gemeng is. Vir maande het hy daarna uitgesien om sy eerste ribbok by sy oom, Jannie Moolman, tussen Middelburg en Graaff-Reinet te gaan soek en noudat hy terug was, het sy oë geblink.
Hy het vertel van sneeu en skoon lug, van die ribbok en, om alles te kroon, van hom en Lorissa se verlowing daar onder die Renosterberg. “Gaan, man. Gaan Karoo toe en gaan druk jou kop ook in die roombak. Gaan na die waters van vrede en loop drink van die koue fonteine onder die hange van die Noordoos-Kaapse berge.”
En hy was reg. Dit was nodig om ’n slag uit die kookpot van die noorde weg te breek en behoorlik te gaan asemhaal. So is ons toe vort na oom David en
tannie Ellen Alberts se plaas, Springfield, op die Skietnekpad tussen Steynsburg en Middelburg. My sussie Adri en haar man Daniël van Abu Dhabi het ons daar ontmoet. En nes ons kleintyd op Springfield se werf gespeel het, was dit nou ons kinders se beurt om rondom die ou plaashuis te baljaar. Daniël het nog nie voorheen ’n ribbok geskiet nie, so ons twee is die eerste oggend saam die werf uit, gewere oor die skouers, in ’n noordelike rigting. Ek het my Sako 7x64 gebruik, gelaai met 140gr Nosler Ballistic Tip-koeëls teen ’n snelheid van 2 950vps, terwyl Daniël my .308 Rough- tech Sako, gelaai met 150gr Hornady SST’s, geleen het.
LAASJAAR SE RIBBOKJAG
Die vorige paar jaar het dit maar gesukkel met die ribbokke. Na vele probeerslae kon ek net nie ’n skoot op ’n ribbok kry nie. Op die laaste oggend van die vorige jaar se jag het ek ’n alleenloperram net onder die kruin van ’n steil rant onder die hoë berg (Spitskop) met my verkyker opgespoor. Ek was onder in die skoot van die kloof, wat vir my ’n stywe klim sou beteken om naby die ram te kom.
Ribbokgetalle van die Noordoos-Karoo het oor die laaste paar jare kwaai gedaal en niemand kan hulle vinger op die rede daarvoor lê nie. Dalk was dit die verwoestende droogte van die laaste vyf jaar? Ander manne reken weer dis weens groter ongediertegetalle. Oom David het ’n paar jaar gelede sy skaapboerdery na beesboerdery omgeskakel wat beteken dat hulle nie meer so aktief rooikatte probeer beheer nie.
In die veld het ek afgekom op ’n hele paar ribbokkarkasse wat deur rooikatte gevang is. Hoe dit ook al sy, die ribbokgetal- »
» le was af. Dus sou dit raadsaam wees om die ou uitskot- of alleenloperramme te teiken. Dis egter makliker gesê as gedaan. Ek het so effe grieperig gevoel, maar besluit om die ram onder skoot te probeer kry.
’n Droë sloot in die kloof het my tot buite sig van die ram gebring voordat ek berg-op begin swaai het. Ek het gehoop om verby die ram te kan klim tot op die kruin en hom dan van bo en van agter af te bekruip. Uitasem en natgesweet daar aangekom, het ek versigtig, handeviervoet oor die kruin geklouter en gehoop om die ram vlak voor my te sien staan. Maar die ribbok was weg. ’n Beweging links van my het my aandag getrek en ek het instinktief met my geweer bo-oor my rugsak gaan lê. Die ram het plankdwars gestaan, op dieselfde hoogte as ek en sowat 150m weg. Dit was ’n ou alleenloper met stomp horings met dik basisse, die ideale bok om te skiet. Met die kruishaar net agter sy blad was ek reg om te skiet, maar daar was ’n probleem. Die ram was in die buurman se veld! Terwyl ek die ram bekruip het, het hy oor die jakkalsproefdraad gespring.
Ons het mekaar vir ’n paar oomblikke lank aangestaar voor die ram met ’n paar spronge in Spitskop se rigting verdwyn het. Die berg het my gebreek. Daardie nag het ’n griep met kouekoors my beetgepak wat my vir ’n week lank platgetrek het.
WEER TERUG IN RIBBOKWÊRELD
Ek moet bieg dat ek dié jaar skrikkerig was vir die berg. Ek was onfiks en het gereken dat die berg my weer bloedneus sou gee. Daarom is ek en Daniël noordwaarts na die platter dele van die plaas. Hier kom ribbokke plek-plek in meer toegank- liker dolerietkoppies voor.
Ons het so byna ’n goeie ram onder skoot gekry, maar die wind het ons verklap... ’n Ram en ’n ooi het hul posisie weggegee deur op die luglyn van ’n koppie te staan waar ons maklik hulle silhoeëtte kon sien. Dit was egter moeilik om nader aan hulle te kom – daar was weinig dekking om hul van voor af te benader en die wind was verkeerd om die koppie van agter af uit te klim. Ons het gevolglik besluit om tot in ’n kloof onder die koppie te loop en dan daar te besluit wat om volgende te doen.
Ons kon die ribbokke van onder af teen die koppie op bekruip (wat ’n steil skoot na bo sou beteken). Die wind was reg vir so ’n plan, maar die ribbokke het met die 11uur-oggendson agter hulle gestaan. Daniël sou reg in die son in moes skiet. Ons is dus gedwing om die koppie van agter af uit te klim, met die wete dat die ribbokke ons reuk sou optel. Hopelik sou ons wel ’n skietkans kry.
Bo-op die koppie aangekom, het die ooi vir ’n oomblik stil gestaan voordat sy teen die wind in gevlug het. Die ram was reeds 150m verder wind-af in die kloof in en het net vir ’n sekonde gaan staan voor hy kloof-uit is en oor die horison verdwyn het.
DIE WIND DWING ONS BERG TOE
Ons wou later die middag weer in die platter dele jag, maar die weer het ons planne gesnoeker. ’n Koue front uit die weste het inbeweeg, gepaardgaande met hewige winde en snerpende koue. Met die stormsterk winde sou ’n mens beswaarlik ’n skoot verder as 100m kon waag. Ons enigste opsie was berg toe waar die meer beskutte hange ons dalk ’n beter kans op ’n skoot sou gee.
Springfield se suidelike gebergtes strek oos-wes en vorm ’n waterskeiding waar waters noord van die berg afdreineer na die Oranjerivier sowat 50km weg. Afloopwaters suid van die berg beweeg af in die Visrivier se dreineringstelsel. Die basis van die rante is omtrent 1 500 tot 1 600m bo seespieël en styg op 2 100m tot by ’n skerp ysterklippiek, genaamd Spitskop. Op Springfield vorm dié berg ’n amfiteater met verskeie groot klowe wat tot in die Suurbergspruit strek. Ons het die bakkie onder in die kom gelos en die eerste ribbokke onder ’n ysterkliprif (’n skuiling uit die wind uit) gewaar.
Ons moes weer kies of ons hulle van onder af sou aandurf, of eerder aan die verkeerde kant van die wind hulle van bo af sou opjaag. Nes vroeër die oggend het die ribbokke ’n uitstekende plek gekies as skuiling. Van onder af sou ons ’n baie steil skoot teen die middagson hê. Van bo af sou die wind ons weggee, maar dit sou die beste opsie wees. Na meer as twee ure se klim en klouter was ons op die berg se kruin en in posisie bokant die ribbokke se lêplek. Maar ons hoop dat ons hulle daar sou aantref was puur verniet – daar was geen teken van die ribbokke nie.
Al met die berg se kontoer langs het ons dieper in die amfiteater inbeweeg. Laatmiddag het ons ’n troppie opgespoor aan die bokant van ’n kom waar twee rante bymekaar kom. ’n Ram en drie ooie het op 300m staan en wei. Die wind het in dié deel van die kloof straf gewaai en geen kans op ’n skoot gebied nie. Ek het ’n paar jaar tevore bykans op dieselfde plek sleg drooggemaak. In baie sterk wind het ek met ’n 275m-skoot ’n ram se voorbeen afgeskiet en ons moes toe ons pointers (honde) by die werf gaan haal om die ram op te spoor. Ek was nie van plan om weer dieselfde fout te maak nie. So ons moes nader aan die bokke beweeg, maar daar was net geen manier om dit ongesiens te doen nie.
Die hele kloof was al in skaduwee gehul toe ons besluit om maar sit-sit-so nader te kruip. Op 275m het hulle ons gewaar en soos ons nader beweeg, het hulle versigtig dieselfde afstand tussen ons behou. Teen skemertyd het die ribbokke besluit die speletjie is verby en het al met die hang langs dieper die berg in gehardloop. ’n Groter ram (bokant die trop) wat ons nie voorheen raakgesien het nie, het vir ’n paar oomblikke stil gestaan, maar die wind het te veel gepla om te kan skiet en hy het in die berg verdwyn.
Ons jag was verby. Onder in die kloof het ons “afgesaal” om te rus en water te drink toe Daniël amper verstik soos hy wild na die oorkant van die sloot beduie. ’n Ou alleenloperram het op 100m die ideale skietkans gebied, maar ons was te stadig. Hy het skril gefluit en laat spat... Nóg ’n bloutjie.
Daniël-hulle het die volgende oggend vertrek sonder dat hy ’n bok geskiet het. Dit was snerpend koud, die maksimum slegs 3 ˚C. Ek het heeldag saam met die kroos om die kaggel gekuier, maar teen laatmiddag besluit om die ou alleenloperram vir oulaas te gaan soek.
DIE OU ALLEENLOPER
Ek het aan die bokant van die kloof, waar ons hom laas gesien het, al teen die wind in dieper die berg ingeloop. By die kloof se nek het ek omgedraai en vrede gemaak dat ek nie ’n ribbok sou skiet nie. Ek is saam met die wind bakkie toe. Waar die kloof begin oopmaak naby die Suurbergkom het ek gestop om ’n selfoonfoto van die area te neem toe ’n beweging bokant my my oog vang.
’n Ram het agter ’n besembos uitbeweeg. Hy was 175m ver. Ek het versigtig my lê gekry met die Sako bo-oor my rugsak. Die ram was onrustig en het omgedraai en gemik om oor die hang se neus te verdwyn. Iets het hom egter laat talm... Hy het skuins weg van my af gestaan toe die 140gr-koeël hom by die basis van die nek tref.
Dit was al diepskemer en daar was beswaarlik tyd vir foto’s, want ek moes die ram uit die berg kry. Ek is sukkel-sukkel berg-af terwyl die koue en donker oor my en die ram toevou.
Naby die bakkie het ’n ribbok êrens uit die donker gefluit. Ek was moeg, maar gelukkig, my jag was uiteindelik suksesvol.