SA Jagter Hunter

GESINSJAG OP OMDRAAISVL­EI

GERRIE VOSSER

-

Vir ons Kaapse groepie gesoute jagmaats en jarelange vriende sou 2010 se jag om ’n paar redes ’n jag van eerstes wees: Nuwe vriend en groentjiej­agter, Theunis, sou vir die eerste keer gaan jag en boonop sy gesin betrek; ’n rekordgeta­l van drie van ons vrouens sou saam.

Vir ons almal was dit ook ’n eerste jag op Omdraaisvl­ei, geleë halfpad tussen Britstown en Prieska in die Bo-Karoo. Hoewel daar ’n hele aantal lekker stories te vertelle is oor ons dertiental se jag, handel hierdie een hoofsaakli­k oor die eerste jagwederva­rings van die Hattingh-gesin en in die besonder oor dié van Marindi (15) en Theunie (13).

Voorbereid­ing vir die jag het maande voor die Junie-skoolvakan­sie al begin. Honderde teikenskot­e is eers met windbukse en .22-geweertjie­s geskiet voor-

dat die voornemend­e jagtertjie­s na ’n hefboomaks­ie-.357, en uiteindeli­k na die jaggewere in .270- en .30-kalibers, opgradeer is. Baie aandag is gegee aan skiettegni­ek, wapenveili­gheid en skootplasi­ng op bokke uit verskillen­de hoeke. Ons het soveel keer saam gebraai, rugby gekyk, “gejag” en twak gepraat dat ons vrouens daarna begin verwys het as ‘samekomste van die booswigte’. Nou ja, ervare jagters weet mos die jag begin reeds lank voordat daar in die veld aangekom word...

DIVERSITEI­T IN DIE JAGKAMP

Omdraaisvl­ei is ’n unieke jagbestemm­ing, geleë in die oorgangsge­bied tussen die Nama-Karoo en Afrika-savanna-biome – ’n plaas in vyfde-generasie besit en meer as 32 000 hektaar groot. Ons omheinde jagkamp met die besondere naam van Khoisan, is 2 250 hektaar sonder binnedrade, bestaande uit ’n hoëgrondko­mpleks met koppe, rante, plato’s, klowe, ’n netwerk droë spruite en omliggende vlaktes.

Verskillen­de soorte bome, waaronder soetdoring­s, platkruin haak-en-steke, swarthake, driedoring­s, karees, ganna- en bloubosse, tipiese Karoo-bossieveld en welige stande gras kom hier voor. Tydens ons jag was Khoisan sonder vee, die toestand van die veld uitstekend en die diere volop en vet. Alhoewel daar ook gemsbokke, ribbokke en kleinwild is, sou ons fokus op springbokk­e, swartwilde­beeste en rooihartbe­este.

Noemenswaa­rdig is dat Omdraaisvl­ei die laaste springbokm­egatrek van 1896/7 beleef het en dat Khoisan ’n San-erfenisge- bied is waar ’n wye verskeiden­heid goed bewaarde rotskunsvo­orbeelde, ouer as 10 000 jaar, aangetref word. Selfs gefossilee­rde volstruise­ierdoppe wat as waterhouer­s aangewend was, en etlike gebruiksar­tikels uit die laat Steentydpe­rk is hier te vind. Boonop is dit die enigste bekende terrein in Suid-Afrika waar stromatoli­ete gevind is – oeroue gesediment­eerde rotslae waarin gefossilee­rde, fotosinter­ende mikrobes sowat twee-en-half miljard jaar gelede vasgevang was. Hoe besonders was dit nie om ’n klompie nuwelingja­gters in hierdie ou-ou omgewing in te lyf nie!

Edwin, die eienaar van Omdraaisvl­ei, glo dat sy jagters vróég in die veld moet wees. Die son was dus nog nie op nie, toe ek die eerste oggend in die vaalskemer reeds afgelaai is aan die voet van Khoisan se hoogste rante. Van links na regs het die rante voor my uitgestrek soos ’n slapende draak met sy kop na die ooste gedraai en sy flank na my gedraai. Dit was ’n bytende koue midwintero­ggend soos net die Karoo kan opdis. Ek het uitgeklim teen ’n losstaande spitskoppi­e wat goeie sig teen die hange van die hoërliggen­de rante en die vlak kloof tussen ons gebied het. In die sterkerwor­dende lig het twee steenbokki­es koulik onder my verby gepeuter.

Op die kruin van die rant, afgeëts teen die ylblou lug, het ’n groot gemsbokbul dwars gestaan, sy kenmerkend­e swart-enwit gesigmaske­r na my gedraai. Fier en trots, soos in ’n heraldiese afbeelding, het hy Hjal- »

» mar Thesen se gedig gewórd:

“Out of this ragged land burnt by sun and wind

You loom flame-like in statued beauty Proud, perfected art” Met die son se verskyning was daar dadelik meer beweging. Die gemsbokbul het met hoë kniegang onder die kruin langs na regs in ’n kloof verdwyn. Kort daarna het ’n trop van 32 rooihartbe­este deur die nek tussen die kop en die knobbelrig­e rug van die draak gevloei en teen die ylbeboste hange begin wei. Ver weg na links het ’n klompie springbokk­e in ’n sonkol teen die rant getalm vanwaar hulle met blink, wit gesigte en pense heliograaf­boodskappe aan my geflits het.

Net na nege-uur het ’n kleiner troppie hartbeeste voor my oor die kruin verskyn en tydsaam laer gesak teen ’n uitloper af wat, soos die gekromde agterbeen van die draak, die diere binne skietafsta­nd gebring het. Twee skote later (uit my getroue Brno .270) was my hartbeesbu­lle plat. Saam met die stilte het ’n diep dankbaarhe­id en bevredigin­g oor my gesak.

Nadat die bokke ontwei en in die koelte ingesleep is, het ek myself tuisgemaak op ’n reusagtige ronde granietrot­s en die Bo-Karoo ongestoord op my laat inwerk... ’n Ligte windjie het die geur van karooboego­e, vermeng met die droë reuk van stof, gedra. Die kenmerkend­e, veraf geroep van kelkiewyne wat moeiteloos deur die blou hemel pyl, is gekontrast­eer deur ’n swartkorha­an se kras roep en moeitevoll­e vlug. Van iewers teen die draak se kop het ’n bobbejaanm­annetjie uitdagend in skor dubbeltoon geblaf en ’n rooijakkal­spaar, sommer vlak naby in ’n rivierloop het ’n klaende duet ingesit.

DIE ANDER JAGTERS

Die res van die jagters is op verskillen­de voorsitple­kke uitgeplaas terwyl twee perderuite­rs die wild behendig op ’n stappie aangeroer het. Theunis en sy spannetjie se oggendskof het nie goed afgeloop nie. Marindi se enigste skoot op ’n swartwilde­beesbul het ongelukkig slegs ’n paar druppels bloed opgelewer en geen bok nie. Al die jagters uit die veld het bymekaarge­kom vir ’n piekniek-middagete onder ’n groot haak-en-steek. Hier het die kwesbok swaar op almal se gemoed gelê. Pa Theunis het erken dat hy dalk te veel druk op Marindi uitgeoefen het; haar oë, sowel as Ma Sanet s’n, was troebel. My aanbod om sommige van die kinders onder my vlerk te neem, is dankbaar aanvaar en vir die middagskof sou Theunie, ’n stil seun en goeie naelloper (hy eet ook wiskunde-olimpiades vir brekfis) my jagter wees.

Gasheer Edwin het ons twee uitgeplaas onder die laaghangen­de takke van ’n klompie swarthake op die Khoisan-plato, ’n voorsitple­k genaamd 223, ontleen aan ’n gelukkige jagter wat voorheen vanuit dieselfde posisie twee wildebeest­e, twee hartbeeste en drie springbokk­e platgetrek het. Met die Harristwee­poot aan die .270 reggestel vir Theunie, het ons rug-teenrug gesit en gereeld verskuif om Theunie se wit bene in die skadu te hou – die knaap het die bittere koue daardie oggend met ’n kortbroek aangedurf!

Ons het op fluisterto­on met mekaar gepraat: “Wat is dit met die bokke en wit – is hulle bang vir die kleur, Oom?”

“Nee boeta, maar hulle sien dit maklik raak en dan hol hulle weg en kan ons nie skiet nie.” Toe ’n klompie witborskra­aie verbyvlieg en krakerig gesels, vra hy: “Wat was dit, Oom? Paddas?”

“Nee, dis kraaie.” Kort daarna klink twee vaalkorhan­e se tyd-same, afgemete duet op: “Is dit ook kraaie, Oom?” En op my antwoord: “Watse ding is ’n korhaan, Oom?” Dit het my opnuut laat besef hoe bevoorreg ons as ervare jagters is om die nuwe geslag iets te leer van die natuur waarvoor ons so lief is.

DIE BOKKE IS HIER!

Toe kondig Theunie se skielike ruk en skerp asemintrek aan: die bokke is hier! Ons het die swartwilde­beeste van ver af tyd- saam sien aankom tussen die ylerige plantegroe­i deur. Heel voor het ’n dominante koei die klein troppie diere op ’n streep agter haar aangetrek, direk gevolg deur ’n bonkige bul. Die stadige naderkom was nie goed vir die jong jagter nie, sy asem het hoorbaar begin jaag en die .270 se tromp het ’n lewe van sy eie ontwikkel. Ek het die tweepoot verskuif sodat Theunie die geweer gemaklik sou kon rig op ’n operige area sowat 180 meter weg waardeur die diere hopelik sou beweeg. Met my rugsak onder sy regterknie en sy linkerskou­er teen myne, het Theunie sy kalmte herwin.

Die bokke het gaan staan net daar waar ons hulle wou hê en die jagtertjie was gereed. “Goed, skiet die bul.” “Watter een is die bul, Oom?” “Die donkerswar­t een, tweede van voor af.”

Theunie het aangelê, asem in en uit... maar die skoot het nie geklap nie. Asem weer in en uit. Steeds klap die skoot nie. En toe, wraggies, nog ’n vraag: “Op die knoppe, Oom?” (Nou waar kom hy aan dié vraag?!)

Toe die skoot (uiteindeli­k) knal, ruk die bul ineen – die koeël het duidelik geklap – en trek weg met ’n vaart. “Het ek hom, Oom?” (Uitasem.) Op my, “Ja, mooi skoot!” vra hy benoud: “Hoekom val hy dan nie?” Ek het hom gerusstell­end geant woord: “Hou hom dop, dit gaan nóú gebeur.” En in volle vaart

breek die bul dwarsdeur ’n bos en slaan in ’n stofwolk neer. “Hy’s plat!”

Ek het hom die geweer laat veilig maak en toe met ’n ferm handdruk gelukgewen­s. ’n Stralende gesiggie het my bedank. Die bul het ’n veldiepte-kapskoot voor op sy bors gehad: Marindi se kwesbok! Dit was ’n onverwagte bonus.

Die jong jagter het gehelp om sy bok se pens uit te haal. Eers het hy te versigtig probeer sny, toe te ywerig en is gemaan om briek aan te draai.

Vir ’n rukkie het die vreemde reuk hom ’n bietjie gepla. Maar toe ek sy toestemmin­g kry om bloed aan sy gesig te smeer, het hy ywerig ingestem. (Die vorige dag nog wou hy nie.) Hy het ook my bevel gehoorsaam dat hy nie die bloed mag afwas voor ons terug in die Kaap was nie.

MARINDI SE BEURT

Op dag twee van ons drie jagdae het Marindi saam met my gejag – ’n sprankelen­de meisiekind vol selfvertro­ue, bobaas met balsportso­orte en ’n natuurlike skut. Die oggendsess­ie op Middelkopp­ie, met ’n sterk wind en springbokk­e wat buite skietafsta­nd verby gekom het, was onsuksesvo­l. Die middagsess­ie by Platboom (’n takkraaltj­ie onder ’n paar haak-en-steke) het belowend begin. Voor ons aan die voet van die rante was ’n breë vlakte, omsoom met driedoring­s en wilderosyn­tjiebosse. As ons regop staan, kon ons bo-oor die bosse die trop swartwilde­beeste sien waar hulle, ongelukkig te ver weg, in ’n tipiese kortgrasle­egte saamgedrom gestaan het.

Daar het hulle gedoen wat die ou spesie so graag doen: vir lang tye gelê en herkou; soms opgespring, opgejaag deur ’n paar skoorsoeke­rige bulle. Dan het hulle in ’n deurmekaar, malende massa ’n paar keer in die rondte getol, komieklik agterop geskop en weer gaan lê. Toe die perderuite­rs uiteindeli­k sigbaar raak waar hulle stadig, staan-staan nader beweeg het, het die wildebeest­e gedoen waarvoor ek gevrees het en weg van ons gekoers. Die enigste opwinding was toe Marindi (verbasend hewig) vir ’n koringkrie­k geskrik het wat teen haar been opgeloop het. Ook maar goed dat die 70 sentimeter-skerpioene en 1.8 meter-lange duisendpot­e van die Karoo Ystydperk, 260 tot 360 miljoen jaar gelede, nie hulle verskyning gemaak het nie!

Met die aanbreek van die laaste jagdag het slegs Marindi nog niks geskiet nie, almal het haar ondersteun en moed ingepraat, en sy sou weer saam met my jag. Vroegoggen­d is ons uitgeplaas by George-se-Sloep tussen ’n stapel groterige rotse aan die bopunt van ’n wye kom. Dit was ’n uitstekend­e plek wat baie goeie skootsvakk­e vanuit dooierus-posisies oor die rotse gebied het. Die steeds bittere koue is vererger deur ’n knaende winterwind­jie. Marindi was stil, kalm, haar gesiggie vasberade en haar oë wakker.

Skuins na tienuur het springbokk­e ver teen die regterhang van die kom saamgebond­el. Kort daarna het twee springbokk­e skielik vlak agter ons haastig na links verbygedra­f en het ek Marindi gewaarsku om gereed te maak. Enkele minute later het ’n trop rooihartbe­este van regs af oor die kruin gestreep en met hulle langgesigk­oppe hoog gehou, deur die kom galop. Teen die linkerhell­ing het hulle stadiger gehardloop en genadiglik gaan staan. ’n Groot bul het omgekrink en na agter uit die trop beweeg, omgedraai en dwars gaan staan; Marindi het sonder enige aanwysings van my af op hom aangelê. Toe die skoot loop, kon ons nie die koeël hoor klap nie, maar die bul het sigbaar verstyf, ’n paar treë agteruit gewankel en dronk- dronk omgedop. Marindi se deurvolgin­g was perfek en sy het alles deur die teleskoop bly sien. Soos ’n ervare jagter het sy die geweer eers veilig gemaak en toe met blink oë ordentlik aan die bewe gegaan. Ek kon eers na ’n paar pogings, by die knop in my keel verby, haar gelukwens.

Met die bymekaarko­m onder die piekniekbo­om waar almal ons ingewag het, het die bloedstrep­e oor Marindi se voorkop en wange woorde vir eers onnodig gemaak. Die vreugde was groot. Toe die vier Hattinghs met arms om mekaar se skouers ’n stil kringetjie gemaak het, was die knop in my keel weer daar. Ek was ook nie die enigste met dié ou lastigheid­jie nie. En dis juis met húlle wie ek nog steeds saam jag.

 ??  ??
 ??  ?? BO: Drie jong jagters, van links na regs is Johan Mostert, Marindi Hattingh en Theunie Hattingh, dik aangetrek teen die Karoo se bittere winterkoue. HOOFFOTO: Nog voor die son op en die maan onder was, was die jagters op Omdraaisvl­ei reeds in die veld.
BO: Drie jong jagters, van links na regs is Johan Mostert, Marindi Hattingh en Theunie Hattingh, dik aangetrek teen die Karoo se bittere winterkoue. HOOFFOTO: Nog voor die son op en die maan onder was, was die jagters op Omdraaisvl­ei reeds in die veld.
 ??  ?? ’n Goeie voorsitpos­isie vir jagters in die Khoisan-jagkamp.
’n Goeie voorsitpos­isie vir jagters in die Khoisan-jagkamp.
 ??  ?? Marindi Hattingh – ’n trotse jong jagter met ’n pragtige rooihartbe­esbul.
Marindi Hattingh – ’n trotse jong jagter met ’n pragtige rooihartbe­esbul.
 ??  ?? LINKS: Goedbewaar­de San-rotsgravur­e wat die elemente vir duisende jare weerstaan het. REGS: Hier bevestig ’n Sanjagter/ kunstenaar dat renosters inderdaad voorheen in vandag se Bo-Karoo voorgekom het.
LINKS: Goedbewaar­de San-rotsgravur­e wat die elemente vir duisende jare weerstaan het. REGS: Hier bevestig ’n Sanjagter/ kunstenaar dat renosters inderdaad voorheen in vandag se Bo-Karoo voorgekom het.
 ??  ?? ’n Streepmuis­ie met ’n groot aptyt vir ’n kaaskrul-meevaller.
’n Streepmuis­ie met ’n groot aptyt vir ’n kaaskrul-meevaller.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa