VRA VIR KASSIE
DEEL 19 Is my geweerkruit nog bruikbaar?
Ek kry dikwels vrae van mense wat probeer vasstel of die kruit wat hulle lank gelede gekoop en gestoor het nog bruikbaar sal wees. Hierdie kommer is deesdae nogal relevant omdat die ou strydros, Somchem, se produkte nie gereeld beskikbaar is nie. Handlaaiers is vertroud met hul Somchem-ladings en wil nie vreemde (duurder) dryfmiddels gebruik nie en dan word blikke dryfmiddel “uit die solder gehaal” of by vriende “oorgeneem”.
Sonder om die kruit na laboratoriums te stuur vir toetse, is daar tog ’n paar dinge wat die handlaaier kan doen om te voorkom dat sy kruit se che- miese eienskappe verander. As hy twyfel oor die soort kruit wat in die houer of blik is, is daar ook ’n paar maniere om vas te stel watter tipe dit wel is. Kom ons kyk na ’n paar algemene vrae van lesers.
VRAAG:
Behalwe vir die wetlike bepalings, wat behoort ’n mens nog in gedagte te hou wanneer jy dryfmiddel bêre?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
As die wetlike beperkings, saam met die vervaardiger se instruksies mooi geïnterpreteer word, kan jy eintlik nie verkeerd gaan nie. (“Keep in a safe and cool, dry place, out of the reach of children, in the absence of volatile fluids, gases, etc, etc…..”). Die wet bepaal verder dat “safe” vertolk moet word as dat dit toegesluit moet wees.
Daar is ’n paar dinge wat ek graag wil onderstreep ter versterking van die bêrevoorskrifte. Moenie die kruit uit die oorspronklike houer haal en dit in ’n ander houer bêre of met ander van dieselfde soort meng nie. Elke lot het eiesoortige eienskappe en as jy dit verander, of in ’n ander blik gooi, weet jy later nie wat regtig in die blik is nie. Dan sukkel jy met ladings wat altyd goed gewerk het, of jy weet nie meer wat die amptelike verjaardag (lees vervaldag) van die kruit is nie. Tweedens moet die kruit nie gebêre word in plekke wat warmer is as kamertemperatuur nie, omdat veral Somchem se dryf middels temperatuur sensitief is.
Die eienskappe van sommige kruitsoorte, soos Somchem se enkelbasis-dryfmiddels, herstel redelik goed nadat dit weer afgekoel het, maar dubbel basiskruit soorte word gewoonlik meer vlugtig. Maak veral seker dat die blik se kante nie raak aan die wande van die plek waar dit staan nie, want dan verhoog die geleide hitte die degenerasieeffek van die kruit. Neem in ag waar warmwaterpype geplaas is, asook skoorstene en enige ander geïnduseerde hittebronne.
Temperature bo 25 °C kan die chemiese eienskappe van dryfmiddels verander, wat dan onvoorspelbare prestasie tot gevolg het en boonop die rakleeftyd van die dryfmiddel verkort met ongeveer 35% vir elke 10 °C hoër as 25 °C. Hou hierdie eienskap gerus ook ingedagte vir die bêre en blootstelling van ammunisie.
Wanneer ’n blik kruit se seël gebreek word, probeer om die blik weer so vinnig moontlik te seël om die blootstelling aan die atmosfeer so kort as moontlik te hou. Kruit wat reeds oopgemaak is, presteer baie keer glad nie soos die vervaardiger dit op die blik of in laaidata aandui nie. Let op na die humiditeit van die bêreplek en hou dit onder beheer met dehidreer maatreëls. Humiditeit laat blikke roes, wat weer ander nadele inhou.
Laastens, die wet bepaal dat kruit toegesluit moet wees. Dit bepaal NIE dat die kruit in ’n kluis moet wees nie. Inteendeel, die wetgewer verbied ons om bomme te maak, en as druk vasgekeer word in ’n beperkte ruimte wat dig sluit, soos in sommige kluise, kan ’n bomeffek veroorsaak word in geval van ’n brand.
VRAAG:
Ek het blikke dryfmiddel wat ek op verskillende tye gekoop het of by vriende oorgeneem het.
Sommige van hierdie houers was oopgemaak en van die kruit gebruik, terwyl enkeles nog geseël was. Hoe kan ek weet of die dryfmiddel nog veilig en bruikbaar is?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Die wetstoepasser mag begin wonder hoeveel dryfmiddel jy bymekaargemaak het, want ons moet onthou dat daar spesifieke bepalings is oor die hoeveelheid dryfmiddel wat in wapeneienaars se besit mag wees. Hoewel hierdie opmerking eerder by die voorafgaande vraag inpas, dink ek dit behoort die eerste oorweging by die berg van kruit te wees.
Dit ter syde gestel, is dit baie belangrik om te let op die amptelike vervaldatum wat die vervaardiger op die houer aangebring het. Daardie datum is bepalend vir wanneer die vervaardigers e regsaanspreeklikheid ophou, gegewe die eienaar van die kruit aan die voorgeskrewe berging s-en hantering svereistes voldoen. Ten spyte van die vervaldatum van die betrokke lot dryfmiddel, maak dit die kruit nie onbruikbaar nie. Die risiko verskuif net na die gebruiker wat die besluit neem om dit ná die tegniese vervaldatum te benut. Indien jy wel besluit om voort te gaan met die gebruik daarvan, moet jy onthou dat enige negatiewe gevolge eerstens voor die gebruiker se deur gelê gaan word.
Baie keer is die kruit se vervaldatum nie bekend nie of jy wonder oor die kommerlose gebruik daarvan. In sulke gevalle moet die handlaaier homself afvra of die kruit wel onder ‘gesonde’ toestande gebêre was terwyl dit onder sy sorg was en dan die besluit neem. ’n Tweede toets is die sogenaamde “reuktoets”. Wanneer ’n nuwe blik kruit oopgemaak word, sal die gebruiker vind dat die kruit ’n “soet” reuk het. Wanneer die chemiese struktuur van kruit egter begin afbreek, gee die kruit ’n irriterende suur geur af. ’n Verandering in reuk dui gewoonlik op ’n verandering in die chemiese elemente se struktuur, wat dan die gedrag van die kruit (onder meer die brandspoed) onvoorspelbaar kan maak. As jy twyfel kan jy die reuk van die kruit met dié in ’n nuwe blik vergelyk en as daar enigsins ’n ‘ongesonde’ geur is, moet dit nie gebruik word nie.
Hierdie is glad nie ’n wetenskaplike toets nie, maar is bepalend genoeg sodat die handlaaier kan besluit om eerder die veilige roete neem. Onthou egter dat die chemiese samestelling van onderskeie vervaardigers se produkte kan verskil en dat slegs produkte deur dieselfde vervaardiger tydens die reuktoets met mekaar vergelyk moet word.
’n Derde aanduiding van kruit wat bederf mag wees, is wanneer die blik waarin dit geberg word roesplekke het. Dit is ’n besliste aanduiding van degenerasie wanneer die kruit aan die oksidasieproses blootgestel is. Hierdie waarnemings word gewoonlik deur die “reuktoets” bevestig.
’n Vierde manier om die kruit se bruikbaarheid te beoordeel, is om ’n proeflading daarvan te maak en dit af te vuur om ’n vergelyking te tref met hoe dit tevore presteer het. Verminder hierdie proeflading met 3% van jou normale lading en laai drie patrone. Doen dan ’n berekening om die verwagte spoed te verkry, deur van die TL-faktortegniek gebruik te maak. As die skootprestasie dan nie aan die verwagting voldoen nie, deurdat die spoed nie met die berekende spoed korreleer nie en veral as dit hoër i sen die trompsnelheid verspreiding( ex trem esp re ad) hoog is, moenie verder risiko’s neem nie en raak ontslae van die kruit.
Die laaste metode is om advies van buite in te win, onder andere van die vervaardiger. Pas egter op vir die advies van leke... Onthou die prys vir die besluit word deur jouself betaal.
Dit gebeur soms dat mense my mening wil hoor oor dryfmiddel wat goed en korrek gebêre is, maar wat reeds voor die jaar 2000 vervaardig is. Die antwoord daarop is redelik eenvoudig; as daar ’n vervaldatum op die blik aangebring is, rus die onus op die handlaaier wat dit wil gebruik. Indien die houer nie van ’n vervaldatum voorsien is nie, probeer onthou wanneer die kruit gekoop is en tel tien jaar by daardie datum. Die meeste vervaardigers dui ’n vervaldatum van tussen 10 en 12 jaar vanaf die vervaardiging s datum aan as die tydperk waarin die dryfmiddel met veiligheid kan gebruik word – onderhewig natuurlik aan hanterings- en berging s voorwaardes.
Hierdeur wil ek glad nie te kenne gee dat “verouderde” kruit nie gebruik kan word nie. Die spreekwoord sê dat as die kalf in die put is, moet jy hom uithaal. Onthou egter dat net jy alleen aanspreeklik is indien jy buite die vervaardiger se aanbevelings beweeg. Vra jouself die vraag af: IS DIT DIE RISIKO WERD?
VRAAG:
Ek het dryfmiddel wat ek nie meer nodig het nie en waarvan die vervaldatum reeds verstryk het. Hoe kan ek op ’n veilige manier daarvan ontslae raak?
KASSIE SE KOMMENTAAR:
Die een ding wat jy NIE moet doen nie, is om dit aan jou broer, vriend of kennis aan te bied. Die beste manier om daarvan ontslae te raak, is om dit in klein hoeveelhede van nie meer as 500 gram nie, te verbrand. Versprei dit in dun rytjies in ’n chevronpatroon, van nie dikker as 10mm, wyer as 50mm en langer as 300mm elk nie. Los ’n spasie van 300mm tussen die verskillende rye dryfmiddel. Die rye kan met dun strepies kruit (wat as lonte dien) verbind word, minstens 10 meter weg van die naaste brandbare materiaal. MOENIE DIT DAN DIREK AAN DIE BRAND STEEK NIE. Lei ’n dun strepie van die dryfmiddel weg van die naaste rytjie wat verbrand moet word, soos ’n lont wat na plofstof toe lei. Steek dan die punt van die strepie (lont) aan die brand en staan tien treë terug.
BAIE SPEEL, maar onthou, VEILIG SPEEL! * Kassie kan gekontak word by Dave Sheer se winkel in Montana, Pretoria by 010-300-1222, of kassie@davesheer.com