DOOIERUS – DWALINGE: IS JY IN DIE OOMBLIK?
Wat gaan deur jou kop as jy in die veld loop? Vroegoggend is dit gewoonlik afwagting, veral as dit die eerste dag van ’n jag is. Jy loop hiperwakker, bewus van die tekstuur van die geweerkolf se ruitwerk onder jou vingers en die geur van elke bossie wat kneus onder jou stewelsool. Elke keer as ’n blaartjie ritsel, hou jy asem op en in elke bos se skadu soek jou oë die buitelyne van ’n bok.
In terme van deelname is dit ’n goeie plek om te wees: In die ‘ zone’, soos adrenalienverslaafdes dit noem.
Namate die dag sy loop neem begin die rustigheid van die natuur jou egter uitlok om te ontspan. Teen middag, wanneer die son die adrenalien uit jou senuwees gebak het en die aanvanklike opwinding al getaan het, is jy glad nie meer so gefokus op wat rondom jou aangaan nie. Om die waarheid te sê, jy vang jouself kort-kort dat jy loop en dagdroom.
Wat ’n verraderlike set van die brein om sy eienaar so koelbloedig uit die oomblik weg te steel! Want rondom jou lewe dit, op soveel vlakke. Jy bevind jou vry op jou twee voete in ’n gawe van wonderlike natuur. En jy self is deel van die proses, tegelyk ’n rat in die groter geheel en ’n aktiewe nemer van sy deel.
Dit sal ’n verlies wees as die jagter elke oomblik nie ten volle met sy sintuie beleef nie. Want eintlik is dit ons sintuigsensors wat bepaal hoe ons dinge ervaar en vertolk. Wat sien ek? Wat hoor ek? Wat voel ek? Wat proe ek? Wat ruik ek? Dit is hierdie gewaarwordinge wat ervarings vir ons inkleur en ons ten volle in die oomblik plaas.
Ongelukkig is ons sintuie ’n skrale skaduwee van dié waarmee ons oorspronklik toegerus was. ’n Lewe oorlaai met helder ligte, beweging, lawaai en ander oordadige prikkels het hulle sodanig afgestomp dat ons deesdae meer en meer hulpmiddels inspan, eerder as om ons eie sensors fyner in te stel.
Presies hoe oordonderend die stimuli van ons moderne lewe geraak het, het ek besef toe ek op ’n stadium lang tye in ’n boskamp in die wildernis deurgebring het. In die tropiese bos was alles in skakerings van groen, grys of bruin en die enigste harde geluide was die knalle van ’n donderstorm of die bulderstem van ’n kwaai olifant. Die vlammetjie van ’n kers of lantern het genoeg lig gemaak en die fluistering van my kookvuur was my geselskap.
Sonder dat ek dit besef het, het my sintuie gaandeweg aangepas by hierdie subtiele omstandighede. En wanneer ek dan na ses weke weer in ’n dorp gekom het, het ek skielik besef hoe oordadig ons eintlik lewe. Die bont, besige, lawaaierige tonele wat my oral begroet het, het my amper oorweldig. Dit was nogal onaangenaam en dit het elke keer ’n paar dae geneem voor ek weer kon aanpas.
Dit is egter nie net dagdromery wat ons sintuie afskakel en ons teenwoordigheid ontvoer tydens ’n jag nie. Daar is ook ander dwalinge wat die jagter kan verhoed om ten volle in die oomblik te wees.
Iets soos stres byvoorbeeld, want met die gejaagde lewe wat ons deesdae lei (of eerder ly) is dit nie maklik om sommer net af te sluit en te fokus op die sintuiglike oomblik nie. Stres en bekommernis het vir baie van ons ’n gewoonte geraak en dis seker te verstane dat ’n mens se gedagtes terugbeur na ’n bewebestaan in diens van krediteure en keisers. Dit is egter ’n wrede ironie as dit wat jy juis van probeer wegkom, jou vrede ook in die veld kom steel.
Verwant hieraan is prestasieangs of frustrasie as dinge in die jagveld nie so voorspoedig gaan soos wat jy gehoop het nie.
Weereens is dit die kompeterende aard van ons daaglikse bestaan wat hiervoor verantwoordelik is. Die jagter wat deel raak van die natuur en die tempo en inherente wispelturigheid daarvan aanvaar, sal hom nie laat ontstel deur onrealistiese verwagtinge of die vals waarde van ego nie.
Soms is dit speelgoed wat verhoed dat die jagter elke oomblik ten volle beleef. Party mense probeer mos om die oomblik met een of ander stukkie apparaat vas te vang of te meet, eerder as om die ervaring self in reële terme te geniet. Ander isoleer hulself weer sodanig agter motorruite, donkerbrille, oormowwe en handskoene dat hulle afgesluit word van wat daar buite aangaan.
Miskien is dit juis ons eie ‘verbeteringe’ wat dit moontlik gemaak het om afgesluit te kan raak van die hartklop van die bos. Toe die jagveld nog wild was kon jy immers nie loop en droom nie; jy moes jou oë oophou vir gevaar, want jou eie nerf was ook op die spyskaart. Daar was ook nie professionele gidse wat bokke vir jou opgespoor en uitgewys het nie en jy het nie veel meer hulpmiddels as jou voete en jou sintuie gehad nie.
Deesdae is dit dikwels verspot maklik om ’n bok te gaan skiet maar ons moet onsself ook afvra of ’n opgediste ervaring werklik vervullend is.
Geluk is baie dinge, maar dit is in die eerste plek in die oomblik. In die hier en nou; binne jou en rondom jou. As jy jou tyd in die veld ten volle wil geniet en waardeer, wees teenwoordig!
Toe die jagveld nog wild was kon jy immers nie loop en droom nie; jy moes jou oë oophou vir gevaar, want jou eie nerf was ook op die spyskaart.