BOSPOS – SÊ JOU SÊ
LANGAFSTANDVERSKILLE EN LEKKER JAG
Ek wil as ’n buitestaander ook ’n (laaste) stuiwer in die armbeurs gooi... (Janus Westraat, Francois van Emmenes en Michael Maritz se skrywes oor langafstandjag in die vier vorige uitgawes van SA JAGTER/HUNTER verwys.) Oor jag, die volgende:
“Die waarheid is, my vriend Adam het my eenkeer, nou reeds jare gelede al, vertel van hoe hy as kind gedroom het om eendag sy eie gewere te hê sodat hy in die veld kan gaan stap met sy geweer oor die skouer, en as hy ’n bokkie vir die pot in die veld sou raakloop, hom kon jag en hom opvreet as hy sou wil – ’n kind in Afrika se droom om in die Afrika-bosveld te gaan jag. Of jy nou iets skiet of nie, om net daar te kan wees en onder ’n witgatboom se skadu ’n ruskansie te kan vat, as jy sou wou...”
Omdat ek my met hierdie woorde kon vereenselwig, het dit veroorsaak dat ek met kinderlike opgewondenheid na elke jagseisoen uitsien. Wat ’n grootse voorreg om saam met my vriende op ’n jagtog te gaan en die sorge van die lewe effe opsy te druk, al is dit net vir ’n paar dae elke jaar.
Die annerdag sê ’n jafel vir my dat hy nie met ’n geweer jag nie (hy ag dit oneties), maar met ’n boog en pyl op die tradisionele manier. Ek vra hom toe met watse boog hy jag en sy antwoord was toe die een of ander composite- boog met pyle wat skerp lem-agtige titaniumpunte het. En altyd nog dink ek eintlik net ’n boesmanboog is tradisioneel (sekerlik my fout).
Janus en Francois, hoekom persoonlik raak? Kom ons gaan jag iewers volgende jaar saam en bespreek julle perspektiewe oor ’n koffietjie met kondens- melk uit ’n blikbeker op ’n koue wintersoggend of oor ’n glasie om die kampvuur. Ek sal nie op die draad sit nie, want ek is seker ek gaan hier en daar van julle verskil, maar ons gaan oor die meeste dinge saamstem – daarvan is ek oortuig.
Die een se brief wen vir hom Tarzan-skoene en die ander kry ’n hemp. Dalk kry ek die funky bypassende onderbroek! Ek dink julle het beide raakpunte. Ons kan ure lank oor maniere van jag debatteer en ons sal seer sekerlik altyd bly verskil. Ook ek het opinies en my eie persepsies oor dinge. Byvoorbeeld dink ek elkeen behoort met ’n shocking pienk T-hemp te gaan jag terwyl jy wind-op na Old Spice ruik sodat die bokke ’n billike kans kan kry (cum granu salis). Wat sou julle daarvan sê?
Ons wil almal die greenies ’n ding of twee vertel van hoe behoorlik en hoe eties ons eintlik jag. Ek moes eenkeer vir ’n spul biltongetende anti-jagters verduidelik hoekom ek ’n kameelperd moes jag. (Wat ’n nagmerrie.) Uiteindelik gaan dit oor die doel en die middele wat jy gebruik, nie waar nie?
Oom Frik kan nie meer in die veld loop nie, daarom stuur hy sy seuns om wild vir die pot te gaan jag. Oom Piet is ook ietwat kruppel, maar kies om vanuit ’n gemakstoel agter op ’n bakkie sy bok self te skiet. Wat is reg en wat is nou verkeerd? Dis die gesindheid in mense wat hulle sal kwalifiseer as jagter óf skieter óf wildstroper. In jou hart weet jy dat jy ’n jagter is en hoe en hoekom jy jag.
Kom ons kry iets opbouends om oor te praat soos: Is daar nie dalk meriete daarin dat boere hulle pryse volgens die gewig van die bok moet aanpas nie? Sal dit nie bevorderend wees dat die kleiner, swakker diere meer gereeld gejag word in plaas daarvan om die goeie bloedlyne uit te skiet nie?
Ten slotte: “If your father’s anything, he is civilized in his heart. Marksmanship’s a gift of God, a talent – oh, you have to practice to make it perfect, but shootin’s different from playing the piano or the like. I think maybe he put his gun down when he realized that God gave him an unfair advantage over most living things. I guess he decided he wouldn’t shoot till he had to, and he had to today.” Uit To Kill a Mockingbird (Harper Lee). TERSIUS BASSON * Tersius wen die R1 000-geskenkbewys van Safari Outdoor
WAT ADVERTEER ONS?
Nou die anderdag maak ek my hangkas oop, en my kamoefleerklere (jagklere) trek my aandag. Toe wonder ek: Is dit dié kamoefleerdrag se doel om gebruik te word in die jagveld of is dit wegkruipklere? Is dit dalk vir party mense dieselfde as toordokterdoepa (vir kleingelowiges) wat mense onsigbaar maak sodat ander mense nie hulle swak gedrag kan raaksien nie? Want sien, ek is bevoorreg om self op ’n plaas te bly waar wild gejag word, boonop in ’n provinsie waar baie jagplase is. Dus sien ek baie van hierdie mense wat wegraakklere dra wanneer hulle by ’n vulstasie stop vir brandstof of om daar vir ander jagmaats te wag.
Maar ek weet nie of ek dalk heldersiende is nie, maar volgens my is ek maar ’n normale mens wat normaal sien en waarneem... Ek sien as daardie ouens met hulle kamoefleerdrag uit die voertuig klim, val hulle amper uit so dors het die pad hulle gemaak. Dalk het die baie gepraat oor jag hulle kele so droog gemaak, want hulle kan nie vinnig genoeg ontslae raak van die leë drankbottels nie, om plek te maak vir die volgende kas agterop die bakkie. En dan staan hulle daar so wag-wag en drink-drink tot die pelle kom of tot die tenk vol is dat hulle kan vortgaan.
So mense, as ons jagveld toe gaan, los ons nie dalk baie skietgoed vir die greenies en antigeweermense om ons te kruisig nie? Dink mooi oor wat jy adverteer en watse spoor jy langs die pad los: Daardie kamoefleerdrag maak jou nie onsigbaar nie; inteendeel: dit trek baie aandag. Ja, daar is jagters wat met gewone klere ook reis om te gaan jag, maar hulle vestig nie soveel aandag op hulself as die manne met bosklere nie. Kamoefleermanne verteenwoordig alle jagters en moet daarom verantwoordelik in die openbaar optree.
Groete en lekker jag.
BAIE DANKIE
Ek soek nog die regte woorde om Koos en sy span vir die plasing van my artikel (’ n Special op ’n special) te bedank, want as hulle met my storie klaar is, is dit net baie meer as die vaal ou storie wat ek ingestuur het. (’ n Baie beskeie Johan – Red.)
Ek is dankbaar vir die twee Dovetail-patroonboksies wat ek van Rudi en Lizelle Louw ontvang het. Ek heg ’n foto van my pragtige houtboksies aan. Kontak hulle gerus by 083-257-4041. JOHAN VERWEY