IN MY VISIER
Daar is sommige reuke en sekere goed wat, as jy hulle sien, onmiddellik goeie herinneringe bring.
Die reuk van rooibostee, byvoorbeeld, laat my elke keer aan my oorlede ouma Kowie Botes van Kakamas dink. In haar nederige huisie langs die grootvoor met die waterwiel het sy altyd vir ons rooibostee gemaak. Ek onthou ’n goedkoop geel-enrooi plastiektafeldoek en Ouma se stoel, ’n rooie, wat altyd op ’n spesifieke plek langs die klein kombuistafel gestaan het.
Moerkoffie laat my aan Grootkoos, my pa, dink. Hy het net Voortrekkerkoffie gedrink. Toe ons uit Suidwes Kakamas toe trek, vind hy uit dis nêrens te koop op die dorp nie, ook nie in Upington nie. Toe gaan koop Grootkoos ’n vrag koffie in Windhoek se Model Super Market (die enigste kruidenierswinkel waar hy gekoop het) en kom stoor die Voortrekkerkoffie in sy studeerkamer op Kakamas.
Tortelduiwe bring ma Lenie terug. Dit was haar geliefde verevriendjies. Duiwe simboliseer vrede en liefde en dis waarvan ma Lenie se hart vol was. Hierdie mooihart-vrou het altyd die goeie in elke mens probeer raaksien. Wanneer ander gekritiseer het, het sy iets opbouends probeer sê.
Die gedagte aan ma Lenie laat my iets anders onthou... Die groen blikkies waarin Lyle’s Golden Syrup verkoop is. Met daardie gouestroop het ek op Dordabis grootgeword. Daar was niks lekkerder as ’n fris sny van ma Lenie se boerbrood nie... goed beplak met botter en gouestroop! Dit, naas vleis, was my stapelvoedsel.
Dié groen blikkies met stroop is steeds beskikbaar en daar is altyd een in ons huis. Maar gouestroop was nie al wat ek uit daardie blikkies geëet het nie. Ma Lenie het my hart verstaan. Soms het sy vir my slap mieliepap gemaak, met baie botter en suiker daarin geroer, en in só ’n blikkie geskep. Met die dekseltjie styf op, het ek dit in ’n ou rugsak-tipe skooltas gedra van ouboet Johan (Jamie het ons hom genoem – na Jamie Uys). Dan het ek met my rugsak en blikkie pap en my houtgeweer die kameeldoringveld, wat dig rondom Dordabis groei, ingevaar. En al het ek nooit vreeslik ver van ons huis gedwaal nie, was dit die begin van my jagpad. Rooibekfisante het sommer naby die huis gewei, streepmuise en meerkatte was volop en natuurlik ’n groot verskeidenheid voëlspesies.
Met skoolgaande ouderdom het ek ’n Diana-windbuks begin dra, verder van die huis af gedwaal en mettertyd die blikkies Lyle’s Golden Syrup-pap ontgroei, maar ek het tussen die kameeldorings bly jag.
Ek het my verstand tussen hierdie bome gekry en sien ek enige kameeldoring herinner dit my dadelik aan Dordabis en my sorgvrye kleinseuntjiejare. Voor ons huis het ’n spesifieke kameeldoring gestaan waaronder Grootkoos se blou Chev-bakkie (hy het verskeie blou Chev-bakkies besit) byna elke aand geslaap het – heel dikwels met pa se Lee-Enfield .303 dwars voor die sitplek op die kajuitvloer.
Hoe ouer ek word, hoe meer kuier ek op gister se spore. Miskien moet ek weer ’n slag ’n Lyle’s Golden Syrup-blikkie, gevul met mieliepap, in my rugsak sit en Grootkoos se .303 oor my skouer swaai. Dis tyd dat die Lee-Enfield weer die jagveld proe.
Gaan diep gerus van julle onthou-goed op. Dis juwele wat blinkwit skitter en wat jou sal dra as jy sukkel om 2019 se spoor te vat.
Mooi loop!