BOSPOS
Sê jou sê E-pos na marisa.beeton@media24.com
WENBRIEF HONDELIEFHEBBERS
Ek skryf na aanleiding van die Dooierus- rubriek deur Herman Jonker, getiteld, “’ n Hond? Natuurlik” wat in die Junie-uitgawe van SA JAGTER/HUNTER verskyn het. Ek wil net so ’n klein lansie vir die “hondeliefhebbers” breek.
Ek het ook my hele lewe lank geglo ’n hond is ’n hond en ek stem heelhartig saam met Herman. In my jonger dae was dit ook maar: “Voert, Moer!” en “Dié kant toe met jou!” en so af en toe ’n skop onder die gat. My hond het ook ’n “publieke” naam gehad en baie ander roepname wat nie juis hier genoem kan word nie.
Nou vir die lansie wat ek wil breek... As ’n mens hier oor die sewentig jaar oud geword het, en die leëhuis-sindroom vat jou nou soos Covid-19, dan raak jou hond jou héle lewe. Hy verander in jou kind, jou lewensmaat en beste vriend. Hy is dan die een met die troetelnaam, “Oubaas se honne” en met hóm deel jy al jou sorge, hartseer, vreugde en geheime, én jy is verseker dat hy nie sal uitpraat nie.
Ek glo darem steeds dat jy nie vir hom moet klere aantrek nie, maar hy/sy moet baie liefde kry. (Vergewe maar ons oumense.) PIERRE ROSSOUW
Pierre wen die R1 000-geskenkbewys van Safari Outdoor
SAJWV SE 100-JARIGE GEDENKBOEK
Vandag lees ek in die SAJWV se jongste nuusbrief weer van die gedenkboek wat in druk is. Iets om na uit te sien. My betaling is betyds gemaak.
Tydens die Covid-19-inperkings is my vrou verwoed besig om kaste en boekrakke op te ruim. Kort-kort stop sy my ’n boks met papiere, tydskrifte, ensovoorts in die hand en sê: “Dis jou goed! Soek dit deur en gooi soveel moontlik weg.”
Toe ek deur ’n klomp goed kyk, kom ek op die 50 Jaar Gedenkuitgawe van die SAJWV uit. Ek blaai nuuskierig daardeur. Nie lank nie, of ek sit vasgenael en lees aan die spannende jagstories. Veral die verhaal van Dhlulamithi, Die Reus Onder Reuse deur dr. LJ Potgieter. Dit het my so gevange gehou dat ek nie kon ophou voor ek die spannende einde gelees het nie. Dhlulamithi – die olifant wat “groter as die bome was”.
Dit is die verhaal van ’n jagter wat sy geweer moes weggooi en boomklim... en toe hy later ’n skoot kon inkry, toe...? Maar ek wil nie die verhaal vertel nie. Miskien kan dit weer geplaas word.
As die nuwe gedenkboek soveel interessante leesstof bevat, is daar baie om na uit te sien. HILKO LUBBINGE
HERINNERINGE AAN ’N JAGMAAT
Ons was in Swartwater vir ons jaarlikse jag, maar hierdie keer was dit anders... stiller, kouer en verseker harder. Dalk omdat jy nie meer daar was om vir ons kampbeddens te reël of saam met ons om die vuur te kuier nie?
Ons hoor jou beeste was blinkvet op die veiling en dat almal verbaas was om te hoor dit was Dominee s’n en nie een of ander vooraanstaande boer s’n nie. Miskien het hulle sulke goeie pryse gehaal omdat dit “heilige koeie” was. Aan die ander kant kon dit nie wees nie, want jy het gewoonlik al die heilige koeie geslag. Ons mis jou, Vriend!
Ds. Wimpie Jordt was vir 31 jaar predikant van Koedoesrand, op Swartwater in Limpopo. Hy was ’n legende in die Bosveld. Sy groot liefde vir “God se tuin” was aansteeklik. Wimpie se skielike dood op 27 Maart 2019 het ’n groot leemte gelaat binne sy gesin, die gemeente en in die gemeenskap. FRITZ SNYMAN EN ROELF OPPERMAN
KOOP PLAASLIK
Ons almal ken die term, local is lekker, maar voor ek iets oor die local goed wil sê, wil ek dit net eers baie duidelik stel dat ek geensins ’n probleem het met ingevoerde wapens nie. Ek self het ’n CZ .22 Magnum, Winchester .375 H&H en ’n ou .303.
Ek het vir 28 jaar lank met ’n .30-06 Parker-Hale gejag en toe besluit dis tyd vir iets nuuts. Ek het in talle winkels gaan soek, maar kon nie “vatplek kry” aan die ingevoerde wapens nie. Dus het ek later na plaaslike produkte begin kyk en so by Wildman in Ermelo beland. Die plan was om vir my ’n Musgrave te laat bou. Daar aangekom, is ek en my vrou vriendelik ontvang en toe is ons na die fabriek toe. Daar het hulle ons gewys hoe die Musgraves gebou word en ek kon my eie kolf uitsoek. Nadat die papierwerk afgehandel is, is ons terug Pretoria toe, twee maande gewag vir my lisensie, toe weer Ermelo toe om my geweer te gaan haal. Terug by die huis het ek ’n Zeiss Duralyt-teleskoop op my Musgrave 6.5x55 gemonteer. Na ’n paar besoeke aan die skietbaan waartydens ek verskillende ladings getoets het, het ek die resultate gekry wat ek verwag het – ’n vyfskoot-groepering van 9mm op 100m geskiet.
Ek is uiters tevrede met die Musgrave, nou moet die lockdown net verbykom want ek is opgewonde om my geweer in Namibië se vlaktes te gaan toets met Hornady se 129gr InterBond-koeëls.
So, as julle manne weer gewere wil aankoop, kyk gerus na plaaslike produkte, want local is beslis lekker.
Naskrif: Die mense van Wildman het my nie gevra om iets oor die Musgrave te skryf nie. Ek doen dit net omdat ek baie tevrede is met die geweer. LEON MYBURGH *( Brief verkort – Red)