TEKORT
MELLIES
Die begrip ‘tekort’ is een wat ons in Suid-Afrika goed verstaan. Tekort aan ekonomiese groei, elektrisiteit, basiese dienste, eerlike burgers, goedkoop jagte...
Jagtoerusting, meer spesifiek roere en die glas wat hierdie gereedskap afrond, het deesdae ten spyte van hoë pryse en gevorderde tegnologie, meer tekorte as in die verlede toe biltongdrade en vrieskaste gekreun het na ’n jagseisoen se sukses.
Dertig jaar gelede het ek ’n jagroer leer ken met donker, blougrys metaaldele, ’n houtkolf met netjiese ruitwerk aan die greep en voorlaai en ’n swart pypie bo-op die aksie wat lees: “Bisley Delux, 4x32”. Gewoond aan ’n enkelskoot-oopvisier BSA .22-geweertjie het ek gedink hierdie is ’n droomkombinasie vir ver skiet, ongeag die kaliber, net omdat ek die teiken so duidelik kon sien deur die teleskoop. Die oom wat die teleskopie ingestel het, het my vermoede bevestig en kon vinnig drie skote deur ’n bierbot
teldoppie jaag op 100m.
Hout het egter een groot tekort en dis die vermoë om, soos baie persone, ’n oorvloed vog te absorbeer en sodoende skeef te trek en van persoonlikheid te verander. Soveel so dat dit ’n koeël op ’n heel ander plek kan laat land as tydens die vorige seisoen.
TOPTOERUSTING DIE ANTWOORD?
Met tyd het hierdie tekort wapenvervaardigers laat besluit om “plastiekkolwe” die lig te laat sien. Pikswart van kleur. Dié manne het toe ook besluit om silwerkleurige vlekvrye staal te gebruik om mooi by die swartjaskolf te pas. Bemarkers het die sintetiese, blinklooproere (wat in tenks water vertoon is by wapenskoue) voorgehou as sogenaamd “bullet proof`” te wees. Nat, droog, warm, koud, sneeu of stof. Noem maar op, die “all weather”- roere is altyd in staat om akkurate skote na ’n teiken te stuur ongeag dit wat Moeder Natuur opdis.
Dit was ook gedurende hierdie tyd dat jagters se sig baie agteruit begin gaan het. Teleskope met vaste 4x- of 6x-vergroting moes plek maak vir ’n sogenaamde “variable” in 3-9x40 wat vir bosveld én vlaktejag aangewend kan word. Selfs 4-12x50-teleskope is aangeskaf en het met tyd die norm eerder as die uitsondering geword. Met nuwe bliksemstraal-magnums wat waterpas skiet en teleskope van12x-vergroting of baie groter, is 400m-kopskote vanaf voertuie so algemeen soos sand in die Sahara.
Daardie plastiekkolwe wat erger kan buig as ’n skeerder oor ’n merino-ooi, is gou-gou vervang deur produkte van veselglas. Veselglas met ’n “bedding block” waarop die aksie rus en “pillars” vir die aksieskroewe, beide van aluminium. Die kolf moet ’n “palm swell”- greep hê en geverf wees dat dit lyk soos ’n “spider web”. Kortdop-magnums is gebore, wat jy in korter aksies wat ligter is, kan gebruik. Ook brand hulle minder kruit en die beter (korter) verbrandingskolom binne die kort, vet dop verbeter akkuraatheid.
Teleskope se verstellingmeganismes vir hoogte het syfertjies of kleurkodes aan die buitekant sodat jy blitsvinnig vir afstand kan stel – geen hoogteaanpassing (hoër mik) met die kruishaar alleen, is meer nodig vir koeëlval nie. Afstande na wildsbokke toe kry jy presies deur middel van ’n afstandmeter wat soos ’n goeie vriend heeltyd aan jou sy is en indien jy hom stil genoeg hou, nie leuens vertel soos die res van die geselskap wat raai-raai speel oor die verstelling wat jy moet gebruik vir die skoot nie.
Die laaste klompie jare klink manne wat roere besit ook soos ’n klomp motorwerktuigkundiges as hulle gesels. Daar word van “chassis” gepraat wat verander moet word en “drop-ins” wat “ge-inlet” is vir jou fabrikaat roer.
Treklengtes, asook die wangstukke van kolwe kan verstel, want teleskope met 50mm of selfs 56mm se “objective” lense vir maksimum ligdeurlaat is te groot om laag gemonteer te word. Teleskope met ’n derde verstelknop aan die linkerkant vir parallaks wat die 24x-vergroting moet bystaan, is algemeen. Saam met die parallaks word hoogte en rigting verstel vir elke afstand en bok, dat dit klink soos ’n bosveldfisant se krrrrr, krrrr, krrrr op ’n wintersoggend. As alternatief tot eksterne verstelknoppe is ’n reeks kruishare met ekstra afmikmerkies beskikbaar om te kompenseer vir koeëlval.
Dan is daar nog allerlei selfoontoepassings wat verstellings en aanpassings vanaf jou slimfoon kan gee. Terugvoering wat jy kan gebruik vir daardie kopskootjie op 450m. Lope raak al langer, minimum 30”, want lengte is gelyk aan spoed en advertensieborde langs die N1 wys dat spoed doodmaak.
En dan is daar natuurlik die moderne era se geheime wapen vir doodskote uit die boeke – ballistiese koëffisiënt, of kortweg sommer BC, vir dié van ons wat Ingels magtig is. BC is koeëls se vermoë om, op pad na die teiken toe, minder deur eksterne fak- »
» tore beïnvloed te word. Die koeëls van alle jagkalibers móét deesdae oor ’n goeie BC beskik, anders waai die wind die koeël maklik tot op die plaas langsaan.
GEMIDDELDE AFSTAND EN SPOED
Kom ons kyk egter met ’n meer realistiese oog na jag. Gesoute jagters en skieters is dit eens dat die gemiddelde afstand waarop bokke seisoen na seisoen suksesvol gejag word, minder as 200 meter is. Nader aan 180m eintlik, as ons wil hare kloof, soos ons doen wanneer jagtoerusting ter sprake is. Dit sluit in, voorsitjagte in die Karoo, jag in die Oos-Kaap se klowe en ook die Vrystaat se grasvlaktes.
Daar is wel uitsonderings soos die manne wat langafstandjag beoefen en ghongs raakskiet tot op 1 000m. Hulle gebruik uit noodsaak baie gesofistikeerde toerusting. Ook jakkalsjagters wat veeboere bystaan en dikwels in minder aangename omstandighede reg deur die nag moet jag. Ek haal my hoed af vir hierdie manne en dames se skietvermoë, toerusting en doelgerigte oefening. Maar vir die meeste van ons gewone manne is daardie gemiddelde jagafstand van ongeveer 200m belangrik.
Met juis die gemiddelde jagafstand, matige terugskop, prys en beskikbaarheid van komponente in ag geneem, skaf ek ’n jagroer in .308 Winchester aan. Dis een van die gewildste kalibers wêreldwyd. ’n Swarovski Z3 4-12x50 met kersboom-tipe kruishaar het die kort, vet jagroertjie met sy 20”-loop afgerond. Buks is in staat om 150gr Nosler Ballistic Tips/AccuBonds of soortgelyke koeëls van dieselfde gewig teen 2 730vps te lanseer, terwyl hy peusel aan 42.5gr IMR3031. Daardie koeëlspoed is te stadig volgens sommige “kenners”, die koeël loop amper in trurat.
BO-GEMIDDELDE RESULTATE
Tog het ek en Buks sedert ons saam begin jag het, klein, medium en groot wildsbokke suksesvol platgetrek – enigiets van rooibok tot eland en soos genoem, is die gemiddelde jagafstand onder 200m.
Sien die tabel hieronder. ’n .308-jagkoeël van 150gr se windskuif word daarin vergelyk met dié van koeëls in .284” (7mm) en .264” (6.5mm). Beide laasgenoemdes het hoër BC’s as die .308-koeël. Uit hierdie tabel se inligting is dit egter baie duidelik dat die .308-koeël met sy laer BC nie veel slegter af is as kalibers wat bekend is vir hul sogenaamde hoë BC-koeëls nie, altans nie op die normale gemiddelde jagafstande nie. Die menslike fout is in elk geval baie groter as die paar sentimeter wat jy wen met hoë snelhede en/of hoë BC-koeëls.
Ek probeer nie sê dat ’n .308 Win of enige ander standaardkaliber die alfa en omega vir jag is nie. Selfs die duurste pasmaak- of fabrieksgeweer met ’n optiese meesterstuk en akkurate handgelaaide ammunisie kan nie opmaak vir onvoldoende voorbereiding nie. Wat is die eintlike oorsaak wat raakskote in die jagveld verhoed? ’n Roer met ’n 20”-loop, koeëls met lae BC’s of lae koeëlspoed? Of is die huidige gemiddelde jagafstand volgens jou vermoëns die groot tekort?
Moet jy nie dalk net beter voorberei (meer tyd op die skietbaan deurbring) of op korter afstande probeer skiet in plaas daarvan om meer geld op duur toerusting te spandeer nie?