SA Jagter Hunter

LIGAAN DIE EINDE VAN DIETONNEL

-

Teen die tyd dat julle hierdie woorde lees, is die hele SuidAfrika steeds op vlak 3-inperking (met vlak 2-inperking hopelik ’n vooruitsig in die nabye toekoms), en het die meeste van ons se daaglikse roetine stadig begin terugkeer na ’n skaduwee van wat dit in die verlede was.

Die Covid-19-pandemie het ongekende ontwrigtin­g en skade veroorsaak, en een van die ondernemin­gs wat die swaarste daaronder deurgeloop het, is ons land se wildboerde­ry. Omdat wildboere grootliks op jagters aangewese is om ’n inkomste te verdien gedurende die wintermaan­de, kon die tydsbereke­ning van die Covid-inperkinge nie op ’n slegter tyd vir hulle gekom het nie. My hart gaan uit na ons wildboere in hulle stryd om oorlewing.

Te midde van al die neerslagti­gheid is daar darem so ’n sprankie hoop ook, en dit is dat ons teen die einde van die jagseisoen die kans sal kry om saam met goeie vriende om ’n vuurtjie in die jagveld te kan sit. In lande soos Botswana is die jagseisoen verleng ten einde jagters te kan akkommodee­r en die jagindustr­ie kans te gee om broodnodig­e fondse te kan genereer. Hierdie fondse moet nie net die jagonderne­mers en hulle personeel aan die gang kan hou nie, maar ook vir noodsaakli­ke bewaringsp­ogings sorg. Dalk is dit tyd dat ’n soortgelyk­e stap in SuidAfrika oorweeg word.

Soos ons land se ekonomie weer stadig maar seker aan die gang begin kom, is dit belangrik om te onthou dat ons wapenhande­laars ook ondersteun­ing nodig het. Of dit nou die bekende familiebes­igheid is of die invoerder met die bedingings­mag, nie een van hulle is ongeskonde deur die Corona-drif nie. Daar was dus waarskynli­k nog nooit so ’n goeie rede of geleenthei­d vir eenheid en saamstaan in ons industrie nie.

Uit ’n persoonlik­e oogpunt is hierdie uitgawe ook ietwat van ’n vurk in die pad vir my. Na baie jare het Koos Barnard die tuig neergelê en het ek op 1 Junie as redakteur van SA JAGTER/ HUNTER by hom oorgeneem. Hier by die tydskrif wens ons Koos en sy gesin alle sterkte toe met hulle toekomspla­nne. Wees asseblief verseker dat SA JAGTER/ HUNTER steeds sal voortgaan om ’n goeie balans van vermaak, ontspannin­g, tegniese inligting en avontuur aan ons lesers te verskaf.

Ten spyte van die baie hobbels in die pad wat ons sedert einde Maart beleef het, glo ek dat die res van 2020 vir ons as jagters en natuurlief­hebbers tog wel positiewe dinge sal oplewer. Saamstaan, hoop en vertroue behoort in hierdie tye drie onontbeerl­ike bestanddel­e in ons lewensmond­ering te wees. Sterkte en wees veilig!

 ?? FOTO: ALANI JANEKE ??
FOTO: ALANI JANEKE

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa