SA Jagter Hunter

DIE EINDE VAN DIE BEGIN

- JOHAN VAN WYK

Daar kan geen twyfel wees dat feitlik die hele SuidAfrika ’n groot sug van verligting gegee het toe pres. Cyril Ramaphosa op Sondag 16 Augustus aangekondi­g het dat die land na vlak 2 van inperking geskuif word. Nie net was tabak en vuurvog weer (wettig) beskikbaar nie, maar vir ons as jagters was die implikasie dat ons weer aan ons geliefkoos­de tydverdryf kon deelneem. Veral vir wildboere was dit ook die teken dat hulle vir oulaas hierdie jagseisoen kon probeer opmaak vir die enorme verliese wat die Covid-19-pandemie in die jagbedryf teweeggebr­ing het.

Ek self was baie verlig om die nuus dat ons na vlak 2-inperking geskuif word te hoor, en alhoewel daar bitter weinig van my eie jagplanne vir 2020 gekom het, het ek darem een keer die kans gehad om saam met goeie vriende om die kampvuur te sit en deur die kruisdraad te kon loer in die vroegmôre Karookoue. Vir hierdie geleenthei­d was en is ek baie dankbaar.

Met die Covid-mis wat stadig besig is om te lig, is dit nou belangrik om weer aandag te gee aan dinge wat ons so ietwat agterweë gelaat het die afgelope paar maande. Gedrukte media het ongelukkig nie ongeskonde uit die Covid-storm gekom nie, en soos baie ander tydskrifte moes ons hier by SA JAGTER/ HUNTER ook maar die gordel ’n bietjie stywer trek in hierdie ongewone tye. Die resultaat is dus dat ons mekaar slegs agt keer per jaar rondom die tydskrif se kampvuur sal ontmoet en nie meer elke maand nie. Ten einde op te maak vir die verminderd­e uitgawes sal daar egter meer inhoud in elke tydskrif verpak word, so daar sal steeds genoeg “vuurmaakho­ut” wees om die vuur aan die brand te hou tussen uitgawes.

Nuwe bloed is belangrik vir enige bedryf, en die kompetisie wat ons loods met hierdie uitgawe (blaai na bladsy 9 vir die besonderhe­de) vir jonger skrywers het nie net ten doel om nuwe talent te ontdek nie maar ook om die nodige passie te ontketen by diegene wat nog nie oormatige grys in hulle baarde het nie maar tog ook graag jag en hou van vuurwapens. Ek hoop van harte dat die skryfgogga sommer ’n hele klomp nuwe skrywers sal beetpak.

Alhoewel ons ’n keerpunt in die stryd teen Covid-19 bereik het, is dit nou meer as ooit belangrik dat ons steeds alles in ons vermoë moet doen om verantwoor­delik op te tree en die gewraakte virus die finale nekslag toe te dien. Soos Winston Churchill na die veldslag van El-Alamein (wat die eerste groot bloedneus was vir die Duitsers in die Tweede Wêreldoorl­og) gesê het: “It is not even the beginning of the end. But it is, perhaps, the end of the beginning”. Die virus en sy nagevolge gaan inderdaad nog vir lank met ons wees, maar die einde is in sig en daar is rede om positief te wees! Wees veilig!

 ??  ?? SEPTEMBER OKTOBER 2020
SEPTEMBER OKTOBER 2020
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa