SOMS HUIL ’N MENS OOR ALLES
Weereens lees ek die rubriek Moeders van Afrika deur Herman Jonker ( Dooierus, SA JAGTER/HUNTER, Augustus 2020).
Dit vat my terug op ver paaie toe ek nog ’n knapie van so 11 jaar oud was. Die pa’s van daardie tyd het geglo dat ’n seun van jongs af moet kan bewys van watter staal hy gemaak is. Hierdie was een so voorval: Soms moes ons die trekdiere (muile en perde) in die veld gaan haal, as daar geploeg moet word. Op dié dag was daar donderweer in die lug en ná skool het ek die opdrag gekry om die perd te vat en die diere te gaan soek en af te bring na die opvangkamp. My ma het my pa gewaarsku dat die weer my gaan vang terwyl ek in die veld is. Sy antwoord was: “As hy sy gat roer sal hy voor die weer uitsak al by die huis wees”. Ek het my baie dapper gehou en my ma verseker dat ek gou sal maak.
Nodeloos om te sê, ek was nie betyds nie. Die weer het oor my uitgesak met volle bliksem- en donderslae en ek moes skuiling soek. As kind was ek maar oningelig en het onder ’n groot kameeldoring gaan staan. Daar het ek ook my arms om die ou skurwe stam geslaan. Ek weet nie hoekom nie, seker maar gedink hoe nader aan die stam hoe minder sal die elemente my bykom, maar dit het die vrees bietjie gedemp. ’n Donderslag met ’n verblindende bliksemstraal het die randjie so ongeveer 100 treë van my af getref en die kruitreuk het my neus gebrand. Dit het gevoel asof daar duisende naaldprikkels deur my liggaam skiet. Ek het die boom gelos en die saal van die perd gestroop, op my knieë gaan staan met my kop op die grond en die saal oor my kop gesit en toe begin huil. Eers het ek gehuil van bangheid en toe sommer ook van die pyn in my niere waarvan ek niemand nog vertel het nie. Ek het gehuil oor al die kere wat ek vals beskuldig is, ek het gehuil oor die onverdiende pakke slae wat ek gekry het, ek het gehuil omdat almal gedink het ek is dapper waar ek ook maar net ’n ou bang seuntjie was, ek het gehuil omdat ek nie vir Liewe Jesus mag vra om my te beskerm nie aangesien dit nog nie slaaptyd was nie en nog nie tyd was om te bid nie. nie Daar was so baie waaroor ek gehuil het dat ek later nie meer geweet het waaroor ek eintlik huil nie. Gelukkig het Liewe Jesus sonder dat ek hom gevra het, my beskerm.
Ek stem dus saam met Herman. Soms huil jy sommer oor ’n klomp dinge tegelyk. Op dié wyse raak jou gemoed weer baie kalm.
Covid-19 het duidelik sy merk gelaat op sakeondernemings. En een van die bedrywe wat veral hard geslaan is, is die drukmedia. Dit het gelei tot groot veranderinge by Media24 wat onder meer beteken het dat sekere tydskrifte toegemaak is, ander gaan voort as digitale publikasies en sommiges se uitgawes word verminder.
SA JAGTER/HUNTER is ook geraak deur hierdie veranderinge. Na besprekings tussen Media24 en die direksie van SA Hunt Publishing (Edms) Bpk het die Raad van SA Jagters ingestem tot Media24 se voorgestelde veranderinge om sodoende die tydskrif te behou en steeds lewensvatbaar te bedryf.
Die volgende is dus van toepassing op SA JAGTER/HUNTER: 1. Pleks van elke maand sal daar agt uitgawes per jaar verskyn. Sekere uitgawes gaan twee-in-een uitgawes wees, met meer afdelings, ’n groter verskeidenheid artikels en vars nuwe skrywers, om waarde te gee vir die verhoogde prys per eksemplaar.
2. Die jaarlikse prys vir die tydskrif sal nie verhoog nie, maar die afsonderlike eksemplare sal effens meer kos as voorheen.
3. Die huidige redakteur, Johan van Wyk, sal die tydskrif se inhoud en produksie op kontrakbasis hanteer.
4. Die twee-in-een uitgawes van die tydskrif sal langer op winkelrakke beskikbaar wees.
Die seisoenale verskyning van sebras in die Sambalala-area van die Zambezi-streek (voorheen die Caprivi- streek) in Namibië was vir lank onverklaarbaar. Sebras het gedurende die wintermaande onverwags hulle verskyning in dié gebied gemaak, maar dit was eers in 2012 dat kenners met behulp van halsbande toegerus met radiosenders agter die kap van die byl begin kom het.
Die navorsers was verstom om uit te vind dat die sebratroppe elke jaar vroeg in Desember direk suid begin beweeg het in die rigting van die Nxai-panne in BBotswanawn. DieDi sebrasr heth hier- hi r in slegs twee weke afgelê – amper 20km per dag!
Die migrasie terug na die banke van die Chobe-rivier neem gewoonlik langer en die sebras volg dan ook ’n minder direkte roete, wat aandui dat hulle van beskikbare water en weiding
Die aantal sebras wat jaarliks op hierdie wyse migreer word op ongeveer 10 000 diere geskat. Dis heelwat minder diere as wat aan die Serengeti-migrasie deelneem, maar die totale afstand van ongeveer 500km wat hulle aflê maak hierdie een van die verste migrasies op aarde.
Ek is siek. Nee, darem nog nie Covid-19 nie, maar ’n ander siek, een wat my vasbyt beproef in hierdie tyd van inkerkering.
Daarom dat ek so jeuk, nee, kriewel, om weer ’n slag die pad te vat. Om my rug te draai op die knellende metropolis en die wye ooptes van die hinterland te gaan opsoek.
Ja, ek wil bakkie pak, nie eens baie goed saamneem nie, en net ry. Bo-oor Du Toitskloof hierdie keer, en nie die deur die stink gat wat hulle deur die berg geboor het nie. Verby Rawsonville se gemanikuurde wingerde en De Doorns se herfslappies, op teen die ou Heks se kronkels, en uit op die eindlose ylte van die Karoo.
By Touwsrivier se vulstasie sal ek verbyhou, Laingsburg se Shell ook (ek boikot Shell al twaalf jaar oor hulle verbintenis met fracking) en eerder by die koöperasiepompe gaan diesel ingooi. Daar is die kans beter dat ek straks aan die gesels kan raak met iemand wat hierdie wêreld aan sy vel ken en sy stories en geheime kan uitlê. Die groot vulstasies met hulle konstante stroom vreemdelinge is mos maar soos malls: Sonder siel.
Iewers op die langpad van die dood tussen Laingsburg en Beaufort, daar waar ’n mens Trapsuutjieberg se silhoeët van ver af kan sien, sal ek die rommelbelynde slagaar van die lorries agterlaat en afdraai, die skoonheid in. Miskien Seweweekspoort se kant toe, of deur Prins Albert aan die Swartberg se voet. Of miskien sal ek eerder noord wil swenk, deur die Moordenaarskaroo of die Koup.
Stofpaaie, daardie. Skoon paaie wat deur rantjies kronkel, met dassies wat oor die klippe skarrel en kraaie wat jou aanpraat. Hier en daar ’n droë loop met ’n stowwerige bruggie wat op sy dag wit geverf was, dan weer ’n stuk barre bossievlak waar nog ou ystertelefoonpale staan en jy die lyne kan hoor sing as jy jou oor teen die paal hou. Hulle sing van lief en leed en blou-blou lug en onbeperkte ruimte, en somers en winters wat ineenvloei in tydlose ewigheid.
Ek sal kort-kort stilhou, ja, om uit te klim en sonder masker die vrye vars asem te ervaar. Waar ’n windpomp langs ’n brakdeurkraakte dammetjie staan en kreun, sal ek deur die draad klim, die slikkerigheid eenkant toe vee en die Karoo se sout medisyne op my tong proe. Hoër op in die vlak sal ’n paar dwalende Dorpers miskien blêr en op die oorkantste wal van die dam sal ’n janfiskaal my wantrouig sit en dophou, asof hy weet ek oortree.
Soos ek ry sal ek kyk na die name op die plaasbordjies en wonder oor die lief en leed van die mense wat daar bly. Daar sal werwe wees, yl gespikkel oor die landskap, elkeen met ’n peperboom. Party sal netjies wees, die hekke haaks en vars geverf, met ’n tuin by die opstal wat getuig van lewe. By ander sal die geboue verlate staan, met muurkalk wat skilfer en net spoke en verwaaide mossieneste op die stoepe.
En dan sal ek die wye Karoo ook aan my lyf wil voel, op iemand wat verstaan se plaas. Ek sal vir my ’n vuurtjie van soetdoringtakke en kriebos maak êrens in ’n beskutte lopie en my ingrawe met my rug gerieflik teen ’n wal. Daar sal ek sit en luister na die jakkals en die uil en die eggo’s van die stilte, en kans kry om rustig met myself te gesels oor dinge wat lankal al moes uitgepraat gewees het.
Later, as die maan begin oorstaan en ’n muishond al die tjopbeentjies kom haal wat ek oor my skouer gegooi het, sal ek vir my ’n holte in die sand krap en ’n kooi maak met al wat warm ding is. Daar sal ek my inwurm en vir die sterre lê en kyk terwyl die ysigheid kil-kil oor die leegtes nader sluip.
In die nag, met die stilte wat my wakker gil, sal ek teësinnig uit my warm lêplek wikkel om ’n paar takke in die kole te stoot en aan te blaas, en dan sommer ook ’n straaltjie gaan bydra tot ’n gannabos se dors. Dan sal ek weer in my nes kruip en insluimer met die sagte lek van die vlamme wat my sus.
Dagbreek, as die koue vir oulaas sy naels probeer inslaan, sal ek my stewels aantrek en die vuurtjie weer aan die gang kry vir die koffieketel. Daarna, sommer nog sterk skemer, wil ek ’n rant uitstap in die vroeglig, tot op sy kruin, en daar gaan sit om die geboorte van ’n douvars dag ongestoord te beleef.
Daar tussen die klippe wil ek die lig sien groei en my verkyk aan die verlatenheid en verluister aan die vreedsaamheid. Oudergewoonte sal ek seker die wasem van die verkyker se lense vryf met my serp se punt en die veld stadig sit en deurkam vir wit pensies in die oggendlig. As ek springbokkies gewaar sal ek natuurlik kyk hoe die luggie roer en ’n plan prakseer om by hulle uit te kom om straks ’n patroon in die loop te kan stoot, maar waarskynlik sal ek sommer net daar bly sit en my eerder net inleef in die groot vrede.
Vrede, ja. Dit is wat ek soek. Dit sal my genees. Die vrede van die veld. Want op die oomblik is ek tot boordens toe siek van die knaende gekla en gestry en baklei en die wetteloosheid en geweld en rassisme en vernietigingspolitiek van ’n siek, siek land.
Daar tussen die klippe wil ek die lig sien groei en my verkyk aan die verlatenheid en verluister aan die vreedsaamheid.