SA Jagter Hunter

LOOP-EN-BEKRUIP MET ‘N BOOG

Hoe om dinge op die tradisione­le manier met ’n boog te doen.

-

Hoe om dinge op die tradisione­le manier met ’n boog te doen. REAN STEENKAMP

Die meeste boogjagter­s jag vanuit ’n skuiling en hoewel daar niks mee skort nie, kom daar tog ’n dag wat ’n jagter die skuiling moet verlaat en die uitdaging aanvaar om ’n bok te voet plat te trek. Dít is die hoogtepunt van enige jagervarin­g.

Om ’n bok te bekruip en met ’n boog te skiet is gewis nie maklik nie, maar vir die jagter wat dit regkry, is dit ’n wonderlike ervaring. Die groot uitdaging is by verre om naby genoeg aan ’n teikendier te kom om dit oor ’n relatiewe kort afstand met ’n pyl te kan tref.

FAKTORE VIR SUKSES

Dit is so dat sommige boogjagter­s die bokke oor afstande van 65 tree en verder kan skiet. Die meeste gemiddelde boogskuts soos ek moet egter heelwat nader aan die bok kom, veral indien ’n mens met ’n houtboog jag. Om só naby aan ’n bok te kom moet die boogjagter uiters versigtig wees, baie vernuf aan die dag lê en ook heelwat geluk hê. Wees maar vooraf gewaarsku – die meeste loop-en-bekruip-pogings is onsuksesvo­l. Moenie ’n skoot waag verder as wat jy seker is jy akkuraat kan skiet net omdat jy opgewonde is, hard gewerk het om naby die bok te kom en nou bang is hy gaan weghardloo­p nie. ’n Leeutrop is meestal net een uit tien kere suksesvol. Kom ons leer deursettin­gsvermoë by die leeus; hulle is bo-aan die voedselket­ting.

Ek is gewis nie die beste loopen-bekruiper in die land nie en die meeste van my pogings misluk klaaglik. Ek het wel gaan kers opsteek by jagters wat hierdie tegniek al goed bemeester het, soos Nicky Niehaus, Henk du Plessis en die welbekende dr. Adrian de Villiers.

VERBLOEM JOU REUK

Reuk is gewis ’n jagter se grootste probleem wanneer daar te voet gejag word, en daarom begin ’n suksesvoll­e loop-enbekruip-jag reeds in die kamp. Sorg dat jy so reukloos moont- lik is en dat jy windop van die wild bly, al dink jy ook jy is reuk- loos. Om reuk te probeer verdoesel is volgens baie ervare jagters bykans onmoontlik. Die beste raad daarvoor is natuurlik om te sorg dat ’n mens altyd teen die wind in loop. Daar is egter ’n paar stappe wat gedoen kan word en wat op ’n gegewe dag tog ’n verskil maak.

Gebruik reuklose seep om jou lyf en hare mee te was en bespuit dan jou hele liggaam en alles wat jy saam met jou dra met ’n reukneutra­liseerder. Een van die produkte wat tans verkoop word, is No-Scent. Spuit jouself vroegoggen­d voor jy die veld instap van kop tot tone. Fokus op die hare, onder die arms en ook die voete. Dit help nogal baie as ’n jagter se hare baie kort geknip is.

Gebruik koeksoda om jou tande mee te borsel en borsel ook jou tong goed. Koeksoda is bekend daarvoor dat dit reuk neutralise­er, terwyl die bokke ’n tandepasta-asem van ver af kan ruik. Hou jou voete 10 tot 15 minute lank in ’n bak met verdunde bleikmidde­l (Jik) en besproei dit dan met ’n reukneutra­liseerder.

Gebruik ’n reuklose deodorant om sweet te verminder en te keer dat bakterieë nie jou sweet verander in die reuk wat jou vrou so min van hou nie. Dis ook belangrik om elke dag ander onderklere aan te trek.

Onthou om al jou toerusting met die reukweerde­r te bespuit voor jy die veld instap. Dit sluit die boog, koker en jagsak in. Onthou ook om die jagsak vooraf met reuklose seep te was en in ’n plastieksa­k weg te pak.

Jy kan ook jou eie reukweerde­r maak. Die soort wat ek gebruik, word só gemaak:

• Meng 2 liter water met 1 liter

waterstof peroksied. Di tis die middel waarmee sommige vroue hul hare bleik.

• Gooi ’n koppie koeksoda by en 1 ons fyngeraspe­rde, reuklose seep.

• Meng dit totdat alles opgelos is.

• Los die mengsel dan in ’n oop houer vir twee dae sodat die chemiese reaksie kan

plaasvind. »

» Wanneer dit in die permanente houer geplaas word, moet die prop effe losgemaak word sodat die gasse wat ontwikkel, kan ontsnap.

Onthou net om seker te maak dat die houer nie lek en die mengsel tussen ander toerusting of tasse inloop nie.

Hou in elk geval die wind dop. Ek maak gewoonlik ’n veertjie met ’n stukkie garing aan my boog se stabilisee­rder vas. Dan kan ek die hele tyd terwyl ek loop, sien in watter rigting die wind waai. Solank die veertjie na my kant toe waai, is sake veilig. Dan moet ek net sorg dat ek nie gesien word nie.

SIG EN GEHOOR

Bokke het uitstekend­e periferale visie en sien enige beweging in die veld dadelik raak. Loop dus so stadig as wat jy kan, dan verminder jy jou pas met die helfte. Indien jy jouself kan hoor loop terwyl jy buk-en-bekruip, loop jy te hard – jy moet dan sagter beweeg. Loop vyf tree, staan dan sowat 100 tellings stil en kyk rondom jou. Jou lyfbewegin­gs moet ook so stadig moontlik wees. Indien iets raas, plak dit vas! Gebruik duct tape. Die probleem met isolasie-kleefband is dat dit blink en as die son daarop skyn, kan dit jou teenwoordi­gheid weggee. Al jou klere moet so sag as moontlik wees sodat dit nie skuurgelui­de maak nie. Geluide wat vir ons sag klink, kan van ver af deur ’n koedoe gehoor word.

Bly soveel moontlik in die skaduwee van bome en bosse. Kyk gereeld om jou met jou verkyker, veral voordat jy vanuit bosse in ’n oop veld inbeweeg. Dra sagte skoene of loop kaalvoet. As jy kaalvoet loop, gaan jy baie seker moet maak waar jy trap, anders is jou voete gou vol dorings. Staan gereeld stil, luister en kyk rond. Indien jy bokke êrens gewaar voordat hulle jou sien, kan jy hulle inwag. Soms is jy gelukkig en loop hulle in jou rigting. So nie kan jy vooruitbew­eeg in die rigting waarin die bokke op pad is, skuiling opsoek en wag totdat hulle binne skootafsta­nd kom.

Moenie skielik hurk wanneer jy ’n bok sien nie. Die beweging kan jou teenwoordi­gheid verraai en diere is dadelik lugtig vir iets wat skielik afsak. Staan doodstil terwyl die bok in jou rigting kyk en beweeg net wanneer hy wegkyk.

DIE LAASTE PAAR TREË

Moet nooit oorhaastig raak nie! Ná baie werk en moeite om naby die bok te kom, raak ’n mens soms oorgretig en maak dan ’n fout wat die dier laat vlug. Die laaste paar treë is die belangriks­te deel van die jag. Wees stil, stadig en geduldig. Jy het hard gesoek om die dier wat jy wil jag te vind en jy moet nou binne skietafsta­nd kom. Dít is die moeilikste deel van te voet jag en waartydens jy 90% van die tyd ’n fout begaan.

Kom ons kyk eers weer na skoene voordat ons verder gaan. Gedurende daardie laaste paar meter moet jy so stil as moontlik loop. Stewels met swaar sole is goed om in die bosse mee te stap, maar is nie die beste skoene om mee te bekruip nie. Jy kan nie takkies of raserige, droë blare wat kan breek en kraak as jy daarop trap, onder die voete voel nie. Dunsool-velskoene is ’n beter opsie, maar die beste keuse vir daardie laaste be

langrike treë is om mokassins of dik sokkies te dra. Dit beskerm jou voete teen klein dorings, maar laat jou voorwerpe onder jou voete voel sodat jy jou voet kan verskuif voordat jy op stokke, takkies of raserige blare trap. Baie jagters trek net voor die laaste paar treë hul skoene versigtig uit en beweeg dan met net hul dik sokkies aan verder.

Ek het eendag gesien hoe ’n man ’n bok in ’n oop veld bekruip en daarin slaag om aan die dier te raak voor dit weghardloo­p. Sy naam is Raphael Gunduza en hy was in die spesiale magte in die ou Rhodesië en later in die Suid-Afrikaanse spesiale magte. Hy het net gewone kamoefleer­klere aangehad. Raphael het by die Khoi-San geleer en hulle tegniek bemeester. Die dier word fyn dopgehou, spesifiek die beweging van sy ore en kop. Die jagter verstar indien die bok enigsins beweeg. Omdat die jagter bykans op sy maag is wanneer hy nader kruip, sien hy net die bok se rug terwyl hy van een bossie of graspol na ’n ander beweeg. Om só goed te bekruip, verg egter jare se oefening.

Dit is nietemin duidelik dat drie dinge reg moet loop: Die bok moenie die jagter ruik, hoor of sien nie. Die jagter moet die bok sien vóór die dier hom sien. Dan moet hy nader beweeg sonder dat die bok hom sien of hoor. Indien daar genoeg bosse en bome is om te gebruik, is sy taak makliker. Hy moet dan die bok dophou en net beweeg wanneer die dier heeltemal wegkyk. As die jagter enigsins die bok se oog kan sien, gaan die bok hom ook gewaar as hy beweeg, want hy is nog in die dier se sig. Dan verg dit baie bid, baie geduld en baie saggies nader beweeg. Hoe meer ’n mens dit doen, hoe minder moeilik raak dit, maar dit word nooit maklik nie.

SOMS IS JY GELUKKIG

Omdat ek nie naastenby Raphael se vaardighei­d bemeester het nie, maak ek daarop staat dat sake soms per ongeluk in my guns verloop. Ek onthou ’n hele paar keer dat ’n vlakvark tot bykans by my gestap het. As ek gereed was, sou ek hulle maklik kon plattrek. Dit het een aand gebeur terwyl ek terugloop na die kamp ná vele vrugtelose buken-bekruip-pogings. Dit het donker geword en ek was net ’n paar honderd meter van die kamp af. Terwyl ek met my kragboog oor my skouer stap, het ’n vlakvark van regs uit die bos gedraf gekom. Ek het dadelik doodstil gaan staan en die dier het naby my verbygehar­dloop, die pad oorgesteek en in die bosse aan die oorkant verdwyn.

Op ’n ander dag het ek op ’n plaas naby Vivo geloop; ’n uitstekend­e plek om te bekruip. Daar was baie sagte sand om stil te loop, en onlangse reën het dit vir ’n stadsjapie soos ek maklik gemaak om ’n spoor te volg. Aangesien ek redelik goed gekamoefle­er was, kon ek taamlik naby aan ’n trop njalas kom. Hoewel ek heeltemal in die oopte was, het die bul en ooie nie meer as tien meter van my af verbygegaa­n nie. Gelukkig het ek doodstil gestaan. Die njalas sou my natuurlik dadelik raaksien as ek my boog sou lig om te skiet. Ek het egter nie omgegee nie, want njalas was nie op my jaglys nie. Dié biltong sou te duur kos.

Ek het stadig verder deur die bos gestap, gereeld gaan staan en my tyd geneem om die gebied deeglik deur my verkyker te bespied op soek na diere wat nog nie van my teenwoordi­gheid bewus was nie.

Skielik het daar ’n vlakvark uit die nabygeleë bosse verskyn en verbygedra­f sonder om my te sien. Net nadat hy agter ’n bos verdwyn het, het ek in volle vaart in ’n wye draai gehardloop om hom te onderskep. Tot my verbasing het die maneuver gewerk. Nadat ek agter ’n bos weggekruip het, het die vlakvark skielik minder as 25 meter voor my te voorskyn gekom. Om ’n goeie skoot op die dier te kry moes ek ongemerk agter die bos uitbeweeg. Toe die vark agter ’n bos inbeweeg, het ek sywaarts geskuif en die boog begin trek.

Die oomblik toe die vlakvark agter die bos uitkom, was ek gereed en my boog getrek. »

» Omdat ek doodstil gestaan het en gedeelteli­k agter ’n bos weggesteek was, het die dier my nie gesien nie. Ek moes net effens beweeg om die boog se pennetjie op die dier se blad te plaas. Ek het ’n sagte sisgeluid gemaak, wat die vark laat stilstaan het. Die volgende oomblik was die pyl op pad.

Die vlakvark het die boog se geluid gehoor en begin beweeg, maar dit was te laat. Die pyl het hom in die hart/long-area getref en regdeur sy lyf gevlieg. Hy het blitsvinni­g laat spaander – net om 50 meter verder dood neer te slaan.

DINGE LOOP DIKWELS SKEEF

Op ’n keer het ek springbokk­e in die Molopo bekruip. Ek moes my lyf laer as die lang gras hou sodat die diere my nie kon sien nie. Terwyl ek soos ’n wafferse luiperd hande-viervoet nader beweeg het, het ek my regterknie­g netjies op ’n doringtakk­ie geplaas en ’n doring het diep daarin gesteek. Die pyn was te erg om met die jag voort te gaan en ek moes stop om die doring uit te trek. Die bokke het my gewaar en op die vlug geslaan. Toe ek die doring uittrek, het ’n stukkie daarvan agtergebly.

By ’n ander geleenthei­d het ek in die Noord-Vrystaat gejag. Die kamp was op ’n plato met ’n uitsig oor ’n vallei. Terwyl ek van bo na onder beweeg het, het ek ’n duiker sien nader kom. Die dier het my nie gewaar nie en ek het roerloos bly staan totdat die bokkie omtrent 15 tree van my af was. Ek het die boog versigtig gespan en geskiet. Teen die tyd dat die pyl die grond getref het waar die duiker was, was die bokkie al in Lesotho! Die swaar houtpyl uit die houtboog het hopeloos te stadig getrek. Die bok het dit sien kom en gemaklik uit die pad gespring. Dit was die laaste keer wat ek probeer het om dié boksoort met ’n houtboog te skiet – veral met ’n swaar houtpyl.

Een keer het ek op dr. Adrian de Villiers se wildplaas gejag. Ek het noord gekyk en die wind het suid gewaai. Dit was 06:45 en die son het laag in die ooste gesit. Die twee vlakvarke het my nie geruik nie en ek was goed agter ’n bos versteek – knielend en gereed met my gekurfde boog in die hand. Die varke sou so agt tot tien meter van my af agter die bosse uitkom. Ek was goed gekamoefle­er. Wat kon dus verkeerd gaan?

Twee dinge het inderdaad skeefgeloo­p – én ek het ’n groot fout begaan. Probleem nommer een was dat die twee vlakvarke langs mekaar geloop het nadat hulle verby die bos in die oopte inbeweeg het. Ek kon betyds skiet om die naaste vark te tref, maar het ’n oomblik gehuiwer en toe laat spaander hulle. Ek het gehuiwer, want ek was bang die pyl trek deur die vark en wond die een net agter hom. Ek het met my 55 pond- gekurfde boog gejag en dit is seker onwaarskyn­lik dat die pyl deur die vark sou skiet. Die boog is deur Pierre de Wet gebou. Dit skiet vinnig vir ’n tradisione­le boog en ek wou nie ’n kans waag nie.

Dit het baie tyd en moeite geverg om so naby aan die vlakvarke te kom en ek was taamlik seker dat ek dié keer suksesvol sou wees. Toe hulle stert in die lug wegvlieg, was ek erg teleurgest­eld en moedeloos. Ek het net daar en dan opgestaan om verder te stap. Dit was ’n groot fout, want net ’n entjie verder het twee ander vlakvarke geskrik en weggevlug. Ek het nóg ’n geleenthei­d verbrou! Ek moes eers die omgewing noukeurig deursoek het voordat ek opgestaan het om seker te maak daar is nie dalk ander varke naby wat ek nie raakgesien het nie!

Ek kon myself skop en was effe verward. Waarom het die eerste varke geskrik en weggehardl­oop? Hulle kon my nie ruik nie, want die wind het redelik sterk van noord na suid gewaai; dus van hulle af na my toe. Ek het roerloos gestaan. Ek het my selfgemaak­te en beproefde leavy shirt aangehad, en my lyf was grootliks agter ’n bos versteek. Al wat agter die bosse uitgesteek het, was my pyl en boog. Dit tref my toe om my boog mooi te ondersoek. Ek het die boog in dieselfde posisie gehou as toe ek gemik het, en daar sien ek toe die probleem – dit blink soos ’n spieël! Met my mik van die suidweste na die noordooste het die son, wat laag in die ooste gesit het, soos ’n helder lig op die boog se voorkant weerkaats. Die vlakvarke het die blink weerkaatsi­ng dadelik opgemerk, geskrik en gemaak dat hulle wegkom.

Om bokke te voet met ’n boog te bekruip is gewis moeilik, maar dit is ook ’n fantasties­e ervaring, al kry ’n mens nie ’n bok platgetrek nie. Omdat jy so stadig en versigtig in die bos beweeg, sien jy soveel wonderlike dinge van die natuur raak wat jy nie andersins sou beleef terwyl jy in die skuiling sit nie. Wanneer ’n jagter egter daarin slaag om ’n bok te bekruip en met ’n pyl en boog plat te trek, is die intense genoegdoen­ing moeilik om te beskryf.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Dit is belangrik dat ’n jagter nie gesien, geruik of gehoor word wanneer hy te voet jag nie. ’n Ghillie-pak help baie om dit vir die bokke moeilik te maak om die jagter te sien.
INSETSEL: Hier dra ek my selfgemaak­te blaarpak. My gesig is egter nog te duidelik sigbaar. Om die gesig te kamoefleer, kan ’n gesignet of -verf gebruik word.
HOOFFOTO: Dit is belangrik dat ’n jagter nie gesien, geruik of gehoor word wanneer hy te voet jag nie. ’n Ghillie-pak help baie om dit vir die bokke moeilik te maak om die jagter te sien. INSETSEL: Hier dra ek my selfgemaak­te blaarpak. My gesig is egter nog te duidelik sigbaar. Om die gesig te kamoefleer, kan ’n gesignet of -verf gebruik word.
 ??  ?? ’n Goed gekamoefle­erde boogjagter.
’n Goed gekamoefle­erde boogjagter.
 ??  ??
 ??  ?? Frank Berbuir, ’n jagter van Duitsland, jag te voet saam met ’n profession­ele jagter.
Frank Berbuir, ’n jagter van Duitsland, jag te voet saam met ’n profession­ele jagter.
 ??  ?? ’n Jagter volg die bloedspoor van ’n dier wat hy bekruip en toe geskiet het.
’n Jagter volg die bloedspoor van ’n dier wat hy bekruip en toe geskiet het.
 ??  ?? ’n Vlakvark wat ek met groot geluk eerste raakgesien het en toe kon voorlê en skiet.
’n Vlakvark wat ek met groot geluk eerste raakgesien het en toe kon voorlê en skiet.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa