SA Jagter Hunter

VEILIG DEUR DIE HINDERNISS­E!

Stadig oor die klippe as jy ’n hindernis moet oorsteek.

-

Stadig oor die klippe as jy ’n hindernis moet oorsteek.

PIETER GAYBBA

Daar is ’n goue reël wat alle 4x4-skole wêreldwyd vir hulle studente leer: “So stadig as moontlik, so vinnig as nodig, behou momentum.” Daarmee saam is daar ’n paar reëls wat jou hierdie jagseisoen uit die moeilikhei­d gaan hou as jy dit wel toepas.

As jy nie die plaas ken nie, stop die voertuig voor jy oor ’n hindernis ry. Loop dan oor die hindernis om jou lyn en roete te bepaal. Op dié wyse kan jy oor die hindernis kom met die kleinste risiko van gevaar of skade aan die voertuig.

Moenie die koppelaar laat gly nie; gebruik eerder ’n laer rat sodat die voertuig stadig oor die hindernis beweeg. Skakel eerder vroeër oor na 4x4-laespoedbe­stek as wat jy ’n hindernis binnegaan, vassit en dan eers wil oorskakel. In sand en modder is dit fataal en sal jy maar die herwinning­span moet inroep.

As die wiele op die grond bly, het jy traksie. Sodra ’n wiel egter tol, het jy traksie verloor. Haal jou voet van die versneller af tot die wiel weer vasbyt en ry dan deur. Moenie versnel nie, want dan maak jy dit net erger.

Gebruik ’n gids om jou presies oor ’n hindernis te lei; dit kan baie skade voorkom. As jy in ’n onbekende stuk veld inbeweeg, laat ’n gids voor loop om gate, klippe en ander hinderniss­e uit te wys. Dis baie belangrik dat jy en jou navigator mekaar verstaan. Dit is dus ’n goeie idee om vooraf handseine uit te werk.

STOL TEEN ’N OPDRAANDE

Wat maak jy as jy per ongeluk in die verkeerde rat teen ’n hang uitry en die voertuig stol? Menige voertuig het al gerol omdat die herwinning­sproses verkeerd hanteer is. Daar is egter ’n paar stappe om in so ’n geval te volg.

Trap die rem onmiddelli­k vas en moenie die koppelaar trap nie. Die ratkas help op daardie stadium om die voertuig stil te hou. Trek nou die handrem op en skakel dan so gou moontlik trurat in lae bestek. Maak nou die handrem los en los die voetrem stadig. Onthou om nie die koppelaar te trap nie. Laat toe dat die voertuig teen die kompressie van die enjin rem. Dieselvoer­tuie sal waarskynli­k stil bly staan omdat die kompressie baie hoër is as in petrolvoer­tuie.

Maak seker dat jy weet wat agter jou is en draai dan die ontsteking­skakelaar om die enjin aan te skakel. Die voertuig sal dan teen enjinremmi­ng teen die bult afbeweeg en jy sal baie goeie beheer daaroor hê sonder dat dit gly. Los klippe kan baie maklik die voertuig onder remming laat gly en dit onbeheerba­ar maak.

STEIL AFDRAANDES

Wanneer jy teen ’n afdraande afry en dit is redelik steil, kies eerste rat in laespoed-bestek, los die koppelaar en laat die voertuig teen kompressie teen die afdraande afgaan. Dit sal sodoende keer dat die wiele gly en jy sal volkome beheer hê tot jy onder is. Moet asseblief onder geen omstandigh­ede die kop- »

»pelaar trap nie. Indien dit nodig is om te rem, pas kadansremm­ing toe deur die rem herhaaldel­ik vinnig te pomp.

Wanneer jy teen skuinstes ry, sit altyd regop in jou sitplek. As jy teen die helling lê, voel dit altyd erger as wat dit is. Die slim mense sê dat as jou agterwêrel­d die sitplek se kussing kou, jy nog 5 grade grasie het voor die voertuig sal oorhel. Indien jy voel dat die voertuig wil oorhel, gaan so vinnig as moontlik teen die afdraande af. Behou altyd momentum.

PAK KLIPPE REG AAN

Klipperige terrein kan baie skade veroorsaak as dit nie reg aangepak word nie. Maak seker dat jy jou voertuig se grondvryho­ogte ken en oor die klip sal kan beweeg sonder dat die onderstel of ewenaarhul­sels daarteen gaan stamp. Laer banddruk kan die bande beter traksie op die klippe gee. Dit kan help om die impak te absorbeer, maar met té sagte bande kan die sywand maklik skade kry. Die bande moet dus nie te hard wees nie, maar ook nie te sag nie.

VERMY MODDER

Probeer modder vermy, maar as dit nie anders kan nie, hiermee ’n paar wenke wat kan help. Hou die banddruk hoër in diep modder sodat die bande deur die modder sny en beter traksie kan verkry. Op sagte modder moet jy egter die banddruk laer maak sodat die bande oor die modder kan dryf.

Dis baie belangrik om te onthou dat momentum in modder ’n groot rol speel. Behou dus jou spoed, moenie versnel nie, maar moet ook nie rem nie.

WATERKRUIS­INGS

Waterkruis­ings is gevaarlik en moet met groot omsigtighe­id aangepak word. Maak seker jy weet jou voertuig kan deur die diepte van die water ry. Maak ook seker jy weet waar jy by die hindernis gaan uitry.

Wanneer jy die waterkruis­ing binnegaan, doen dit stadig in tweede rat, laespoedbe­stek, en behou momentum. Laat die voertuig ’n boeggolf voor sy neus veroorsaak – dit het tot gevolg dat die watervlak agter die boeggolf laer is, wat kan keer dat die enjin water inkry.

Maak ook seker dat jy die oppervlak onder die water ken, byvoorbeel­d water, sand of modder. Indien moontlik, ontkoppel die waaierband as jou voertuig met ’n vaste waaier toegerus is.

Sodra jy die hindernis verlaat het, kyk dat daar geen opdrifsels onder die voertuig vassit nie en dat daar nie water in die ewenaars of ratkas en oordra-ratkas ingekom het nie. Maak ook weer die waaierband stywer indien jy dit verslap het.

DONGAS EN SLOTE

Wanneer jy dongas en slote voor jou het, probeer om albei

die wiele in die sloot te plaas en sodoende te verhoed dat die voertuig aan die een kant oplig.

Sit die wiele op die hoogste punte as jy oor ’n sloot beweeg om só te keer dat die voertuig teen ’n helling ry. Wees altyd bedag daarop dat die voertuig in die sloot kan gly en dit kan skade aan die bak veroorsaak, of selfs kan vassit.

AXLE TWISTERS

Met axle twisters is dit belangrik om te verseker dat jou voertuig genoeg wielveerbe­weging op die as het om deur die hindernis te gaan. As jou voertuig nie toegerus is met ewenaarslo­tte nie, gebruik ’n bietjie meer momentum.

Hou die momentum op eerste rat, laespoed-bestek. Sodra jy die hindernis ingaan, haal jou voet van die versneller af en versnel dan weer versigtig sodra die voorwiele die hindernis klim. Hou ’n bepaalde lyn en gebruik die stuur so min moontlik.

RY SÓ IN SAND

Banddruk is die belangriks­te faktor wanneer daar in sand bestuur word. Deur die banddruk te laat sak, maak jy die band se voetspoor groter sodat die band as’t ware op die sand dryf.

Moenie skerp draai nie – dit kan die voertuig tot stilstand bring en selfs die band van die velling afdruk. Moet ook nie in sand rem nie, maar indien dit wel nodig is, moet dit ’n ligte rem-aksie wees. As jy rem, word ’n sandwal voor die band gevorm en sukkel die voertuig om daaroor te kom wanneer jy weer wil wegtrek.

Wanneer jy in sand bestuur, hou jou spoed egalig om op die sand te dryf deur die regte versnellin­g en krag te gebruik. Indien jy teen ’n duin afbeweeg, MOENIE rem trap nie! Kies eerder die regte ratverhoud­ing om die voertuig te rem. Indien jy rem sou trap, kan die voertuig dwars draai en tuimel. Moet ook nie teen die skuinste van ’n duin opry nie.

Helaas, om alles te lees is een ding, maar om dit te doen is ’n ander. Daar is egter een troos, naamlik dat jy altyd uit jou foute leer. Hou by die basiese beginsels en jy sal dan heel anderkant uitkom én jou bokke sal bakkie ry. Lekker jag tot volgende keer!

 ??  ?? Waterkruis­ing in die Groot-Letabarivi­er.
Waterkruis­ing in die Groot-Letabarivi­er.
 ??  ?? BO EN LINKS ONDER: Steil op- en afdraandes het al die einde van menige 4x4-voertuie beteken as die bestuurder nie by die basiese tegnieke hou nie.
BO EN LINKS ONDER: Steil op- en afdraandes het al die einde van menige 4x4-voertuie beteken as die bestuurder nie by die basiese tegnieke hou nie.
 ??  ?? Om deur modder te ry verg ’n spesiale tegniek. Dis veral belangrik om ’n konstante spoed te hou.
Om deur modder te ry verg ’n spesiale tegniek. Dis veral belangrik om ’n konstante spoed te hou.
 ??  ?? Indien moontlik, kry iemand om voor die voertuig te loop as jy oor ’n hindernis ry.
Indien moontlik, kry iemand om voor die voertuig te loop as jy oor ’n hindernis ry.
 ??  ?? BO: Banddruk is ’n kritieke faktor as ’n sandhinder­nis oorgesteek moet word. HOOFFOTO: ’n Tipiese bospaadjie met vele versteekte hinderniss­e soos klippe.
BO: Banddruk is ’n kritieke faktor as ’n sandhinder­nis oorgesteek moet word. HOOFFOTO: ’n Tipiese bospaadjie met vele versteekte hinderniss­e soos klippe.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa